Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verwaarloos, mishandel en bejaard

Verwaarloos, mishandel en bejaard

Verwaarloos, mishandel en bejaard

TERWYL ’n nagwag sy rondtes gedoen het, het hy afgekom op ’n afgryslike toneel waarop hy nie voorbereid was nie. Daar, net buite ’n luukse woonkompleks, het twee lewelose liggame gelê—die van ’n bejaarde egpaar wat uit hulle woonstelvenster op die sewende verdieping gespring het. Hoewel hulle selfmoord skokkend was, was die rede daarvoor selfs ontstellender. ’n Nota in die man se sak het gesê: “Ons beëindig ons lewe omdat ons seun en skoondogter ons voortdurend mishandel en teister.”

Die besonderhede van dié verhaal is dalk ongewoon, maar die onderliggende probleem is ontstellend algemeen. Trouens, in feitlik elke wêrelddeel word bejaardes sleg behandel. Let op die volgende:

• In een studie het 4 persent van Kanadese senior burgers gesê dat hulle mishandel of uitgebuit word—gewoonlik deur ’n familielid. Maar baie bejaardes is te skaam of te bang om oor hulle benarde situasie te praat. Die ware syfer is dalk nader aan 10 persent, sê kenners.

• “Die Indiese nasie, wat skynbaar hegte familiebande het, is besig om te verbrokkel omdat al hoe meer bejaardes deur hulle kinders verstoot word”, berig die tydskrif India Today.

• Volgens beskikbare skattings “is tussen 1 en 2 miljoen Amerikaners van 65 jaar of ouer al seergemaak, uitgebuit of op ander maniere mishandel deur iemand op wie hulle staatgemaak het vir versorging of beskerming”, sê die Nasionale Sentrum rakende die Mishandeling van Bejaardes. ’n Adjunkdistriksprokureur in San Diego, Kalifornië, noem die mishandeling van bejaardes “een van die ernstigste kwessies waarmee die wetstoepassingsowerhede vandag te kampe het”. Hy voeg by: “Ek kan sien hoe die probleem oor die volgende paar jaar gaan vererger.”

• In Canterbury, Nieu-Seeland, neem kommer toe dat bejaardes misbruik word deur familielede—veral dié met dwelm-, alkohol- of dobbelprobleme. Die aantal aangemelde gevalle van bejaardes in Canterbury wat mishandel is, het drasties gestyg van 65 in 2002 tot 107 in 2003. Die bestuurshoof van ’n agentskap wat gestig is om sulke mishandeling te voorkom, sê dat hierdie syfer dalk net die “puntjie van die ysberg” verteenwoordig.

• Volgens Japan se Federasie van Balieverenigings “moet bejaarde slagoffers selfs meer aandag ontvang as slagoffers van kindermishandeling of ander gesinsgeweld”, berig The Japan Times. Waarom? Een rede, sê die Times, is dat “die mishandeling van bejaardes, in vergelyking met kindermishandeling of huweliksgeweld, dikwels langer neem om aan die lig te kom, deels omdat bejaardes verantwoordelik voel vir die feit dat dit hulle kinders is wat so gewelddadig optree, en ook omdat die plaaslike en regeringsamptenare tot dusver nie aan die probleem aandag geskenk het nie”.

Hierdie paar voorbeelde van wat regoor die wêreld gebeur, laat hierdie vrae ontstaan: Waarom word soveel bejaardes verwaarloos en sleg behandel? Is daar enige hoop dat sake sal verbeter? Watter vertroosting is daar vir die bejaardes?