Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind tevredenheid deur Bybelbeginsels toe te pas

Vind tevredenheid deur Bybelbeginsels toe te pas

Vind tevredenheid deur Bybelbeginsels toe te pas

JY HET ongetwyfeld al ’n kat gesien wat opgekrul lê en spin—’n toonbeeld van tevredenheid. Hoe lekker sal dit tog wees om so op te krul en dieselfde tevredenheid te geniet! Maar vir baie is tevredenheid moeilik om te vind, en dit is van korte duur. Waarom is dit so?

Omdat ons dikwels foute begaan weens ons onvolmaaktheid en omdat ons die tekortkominge van ander moet verduur. Verder lewe ons in die tydperk wat die Bybel “die laaste dae” noem en gekenmerk word deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5). Selfs al het ons kosbare herinneringe van die tevredenheid wat ons as kinders geniet het, voel die meeste van ons nou die volle impak van hierdie “kritieke tye”. Is dit moontlik om vandag tevredenheid te vind?

Let op dat hierdie kritieke tye volgens die Skrif nie onmoontlik nie, maar moeilik sal wees om deur te kom. Ons kan dit die hoof bied as ons Bybelbeginsels toepas. Ons sal dalk nie altyd ons probleme oplos nie, maar ons sal ’n mate van tevredenheid vind. Kom ons kyk na drie van hierdie beginsels.

Behou ’n realistiese beskouing

As ons tevredenheid wil vind, moet ons ’n realistiese beskouing van ons eie beperkings en dié van ander behou. In sy brief aan die Romeine sê die apostel Paulus: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Baie fasette van Jehovah se heerlikheid is ver bo ons begrip. Een voorbeeld hiervan is die eenvoudige feit wat in Genesis 1:31 genoem word: “God [het] alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed.” Wanneer Jehovah ook al terugkyk op wat hy gedoen het, kan hy altyd sê: “Dit was baie goed.” Geen mens kan dit altyd sê nie. Om ons beperkings te erken, is die eerste stap tot tevredenheid. Daar is egter meer by betrokke. Ons moet Jehovah se beskouing van die saak verstaan en aanvaar.

Die Griekse woord wat met “sonde” vertaal word, kom van ’n grondwoord wat “om die teiken te mis” beteken (Romeine 3:9, voetnoot in NW). Ons kan dit so verduidelik: Stel jou iemand voor wat graag ’n prys wil wen deur ’n teiken met ’n pyl raak te skiet. Hy het drie pyle tot sy beskikking. Hy skiet die eerste een af en mis die teiken met ’n meter. Hy mik beter met die tweede pyl, maar mis nogtans die teiken met 30 sentimeter. Met groot konsentrasie skiet hy die laaste pyl af en mis die teiken met net 2 sentimeter. Dit was so naby, maar dit was mis.

Ons is almal soos daardie teleurgestelde boogskutter. Soms lyk dit of ons ‘die teiken ver mis’. Ander kere kom ons naby, maar ons mis nog steeds die teiken. Ons voel gefrustreerd omdat ons so hard probeer het, maar dit nog steeds nie goed genoeg was nie. Kom ons keer nou terug na die boogskutter.

Hy draai stadig om, moedeloos omdat hy so graag daardie prys wou hê. Skielik roep die man in beheer hom terug, oorhandig ’n prys aan hom en sê: “Ek wil dit vir jou gee omdat ek van jou hou, en ek het gesien hoe hard jy probeer het.” Die boogskutter is oorstelp van vreugde!

Oorstelp van vreugde! Dit is hoe elkeen sal voel wat van God “die gawe” van ewige lewe in volmaaktheid ontvang (Romeine 6:23). Daarna sal alles wat hulle doen, goed wees—hulle sal nooit weer die teiken mis nie. Hulle sal volkome tevrede wees. As ons in die tussentyd hierdie beskouing in gedagte hou, sal ons beter voel oor onsself en diegene om ons.

Besef dat dinge tyd neem

Dit is ’n feit dat alles tyd neem. Maar het jy al opgelet hoe moeilik dit is om tevrede te bly wanneer dit voel asof iets waarvoor jy wag, langer neem as wat jy gedink het of wanneer ’n onaangename situasie voortsleep? Sommige kon nietemin in sulke situasies hulle tevredenheid behou. Kyk na Jesus se voorbeeld.

Voordat Jesus aarde toe gekom het, was hy ’n toonbeeld van gehoorsaamheid in die hemel. Dit was egter hier op aarde dat hy “gehoorsaamheid geleer” het. Hoe? “Uit die dinge wat hy gely het.” Hy het voorheen lyding gesien, maar hy het dit nooit self ondervind nie. Toe hy op aarde was, veral vanaf sy doop in die Jordaan tot met sy dood by Golgota, het hy talle beproewende situasies ondervind. Ons ken nie al die besonderhede van hoe Jesus in hierdie opsig “tot volmaaktheid gebring” is nie, maar ons weet wel dat die proses tyd geneem het.—Hebreërs 5:8, 9.

Jesus was suksesvol omdat hy gepeins het oor “die vreugde wat hom voorgehou is”, die beloning vir sy getrouheid (Hebreërs 12:2). Hy het nietemin met tye “smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane . . . [aan God] opgedra” (Hebreërs 5:7). Ons bid dalk soms op dieselfde manier. Hoe beskou Jehovah dit? Dieselfde vers toon dat Jehovah Jesus “verhoor” het. God sal ons ook verhoor. Waarom?

Want Jehovah ken ons beperkings, en hy help ons. Elke mens kan net soveel verduur. In Benin, Afrika, sê die mense: “In te veel water sal selfs die paddas uiteindelik verdrink.” Jehovah weet beter as ons wanneer ons nie nog sal kan verduur nie. Hy voorsien op liefdevolle wyse “barmhartigheid . . . en onverdiende goedhartigheid . . . vir hulp op die regte tyd” (Hebreërs 4:16). Hy het dit vir Jesus gedoen, en hy sal dit vir tallose ander ook doen. Kyk hoe Monika dit ondervind het.

Monika het grootgeword as ’n sorgvrye, lewenslustige persoon met ’n opgeruimde geaardheid. In 1968, terwyl sy nog in haar vroeë twintigerjare was, was sy geskok om uit te vind dat sy veelvuldige sklerose het, ’n siekte wat gewoonlik tot gedeeltelike verlamming lei. Dit het haar lewe geheel en al verander en het groot aanpassings in haar voltydse diens vereis. Monika het besef dat dit ’n lang, uitgerekte proses sou wees. Sestien jaar later het sy gesê: “My siekte is nog steeds ongeneeslik en sal heel waarskynlik so bly totdat God se nuwe stelsel van dinge alles nuut maak.” Sy het erken dat dit nie maklik is nie: “Hoewel my vriende sê dat ek my sonnige geaardheid behou het en nog net so opgeruimd soos altyd is, . . . weet my naaste vriende dat ek soms lank en bitterlik huil.”

Sy het egter gesê: “Ek het geleer om geduldig te wees en my oor die geringste teken van verbetering te verheug. My persoonlike verhouding met Jehovah is versterk omdat ek gesien het hoe hulpeloos die mens in sy stryd teen siekte is. Net Jehovah kan algehele genesing teweegbring.” Met Jehovah se hulp het Monika haar tevredenheid behou en kan sy nou terugkyk op meer as 40 jaar van voltydse diens.

Situasies soos Monika s’n is weliswaar nie maklik nie. Maar jy sal beslis groter tevredenheid hê as jy besef dat sekere dinge langer kan neem as wat ’n mens verwag. Soos Monika, kan jy ook seker wees dat Jehovah “hulp op die regte tyd” sal voorsien.

Moenie vergelyk nie—Stel redelike doelwitte

Jy is ’n individu. Daar is niemand wat presies soos jy is nie. ’n Gesegde in Gun, ’n Afrikataal, druk hierdie gedagte op ’n eenvoudige manier uit: “Die vingers is nie almal ewe lank nie.” Dit sal onsinnig wees om die een vinger met ’n ander te vergelyk. Jy sal nie wil hê dat Jehovah jou met iemand anders vergelyk nie, en hy sal ook nooit nie. Mense is egter baie geneig om vergelykings te tref, en dit kan hulle van hulle tevredenheid beroof. Let op hoe Jesus dit op kragtige wyse toegelig het, soos ons in Matteus 20:1-16 lees.

Jesus het gepraat van ’n “heer” wat werkers vir sy wingerd nodig gehad het. Hy het ’n paar werklose manne gekry en hulle “vroeg in die oggend”, waarskynlik om sesuur, gehuur. Hulle het ooreengekom om vir die gewone dagloon van daardie tyd te werk, een denarius vir ’n werksdag van 12 uur. Die manne was ongetwyfeld bly om werk te kry en boonop teen die gewone loon. Later het die heer nog groepe manne gekry wat werkloos was en hulle in die werk uitgestuur—om negeuur die oggend, twaalfuur, drie-uur en selfs so laat as vyfuur die middag. Nie een van hierdie groepe sou ’n volle werksdag werk nie. As loon het die heer hulle “wat billik is” belowe, en die werkers het ingestem.

Teen die einde van die dag het die heer vir sy opsigter gesê om die lone te betaal. Hy het beveel dat die werkers geroep moet word en dat diegene wat laaste gehuur is, eerste betaal moet word. Hulle het net ’n uur gewerk, maar verbasend genoeg het hulle die volle dagloon ontvang. Ons kan ons net die lewendige bespreking voorstel wat daarop gevolg het. Diegene wat die volle 12 uur gewerk het, het die gevolgtrekking gemaak dat hulle dienooreenkomstig meer sou kry. Maar hulle het dieselfde bedrag ontvang.

Wat was hulle reaksie? “Toe hulle dit ontvang, het hulle teen die huisheer begin murmureer en gesê: ‘Hierdie laastes het een uur gewerk; nogtans het u hulle gelykgemaak aan ons wat die las van die dag en die versengende hitte gedra het!’”

Die meester het egter ’n ander beskouing van sake gehad. Hy het hulle daarop gewys dat hulle ontvang het waaroor hulle ooreengekom het, niks minder nie. Wat die ander betref, hy het besluit om hulle ’n volle dagloon te gee, ongetwyfeld meer as wat hulle verwag het. In werklikheid het niemand minder ontvang as waaroor daar ooreengekom is nie; trouens, baie het meer ontvang as wat hulle verwag het. Die heer het dus ten slotte gevra: “Is dit my nie geoorloof om met my eie goed te doen wat ek wil nie?”

Maar sê nou die opsigter het die oorspronklike groep eerste betaal en hulle het onmiddellik weggegaan. Hulle sou tevrede gewees het. Die ontevredenheid het eers ontstaan toe hulle sien dat ander dieselfde loon vir minder werk ontvang het. Dit het hulle kwaad gemaak, in so ’n mate dat hulle teen die heer gemurmureer het, die een teenoor wie hulle aan die begin ongetwyfeld baie dankbaar was omdat hy hulle gehuur het.

Dit wys net wat gebeur wanneer ons vergelykings tref. As jy oor jou eie verhouding met Jehovah peins en waardering het vir hoe hy jou seën, sal jy tevrede wees. Moenie jou situasie met dié van ander vergelyk nie. As dit lyk of Jehovah besluit het om vir ander iets ekstra te doen, wees saam met hulle bly.

Daar is egter iets wat Jehovah van jou verwag. Wat is dit? Galasiërs 6:4 sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê.” Stel met ander woorde vir jou bereikbare doelwitte. Beplan wat jy redelikerwys kan doen, en voer dit dan deur. As die doelwit redelik is en jy dit bereik, sal jy “rede tot vreugde hê”. Jy sal tevredenheid ervaar.

Daar sal belonings wees

Die drie beginsels wat ons bespreek het, toon dat die toepassing van Bybelbeginsels inderdaad daartoe kan lei dat ons selfs in hierdie laaste dae en ten spyte van ons onvolmaaktheid tevredenheid kan vind. Jy kan in jou daaglikse Bybellees gerus op sulke beginsels let, of dit nou direk gemeld word of in vertellings en illustrasies opgesluit is.

As jy ontevrede begin voel, moet jy probeer vasstel wat die eintlike rede daarvoor is. Soek dan na beginsels wat jy kan toepas om die situasie reg te stel. Jy kan byvoorbeeld bladsye 110-11 van die boek “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” a nagaan. Daar word die boek Spreuke bespreek, en jy sal heelwat beginsels en raad vind wat onder 12 onderhofies aangegee word. Die Watch Tower Publications Index b en die Watchtower Library op CD-ROM c is uitstekende inligtingsbronne. As jy dit dikwels gebruik, sal jy bedrewe daarin raak om toepaslike beginsels op te spoor.

Die tyd kom nader wanneer Jehovah verdienstelikes die ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde sal gee. Hulle lewe sal met tevredenheid gevul word.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 12]

“Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23

[Lokteks op bladsy 13]

Jesus het “gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het”.—Hebreërs 5:8, 9

[Lokteks op bladsy 15]

“Hy [sal] net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4