Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom het sekere natuurlike geslagtelike funksies ’n mens volgens die Mosaïese Wet “onrein” gemaak?

God het geslagsomgang voorsien vir die voortplanting van die mens sowel as die genot van egpare (Genesis 1:28; Spreuke 5:15-18). In hoofstukke 12 en 15 van Levitikus vind ons egter uitvoerige wette in verband met onreinheid weens saadstorting, menstruasie en kindergeboorte (Levitikus 12:1-6; 15:16-24). Hierdie wette wat aan eertydse Israel gegee is, het ’n gesonde lewenswyse bevorder, verhewe sedelike waardes gehandhaaf en die heiligheid van bloed sowel as die behoefte aan versoening vir sondes beklemtoon.

Die vereistes van die Mosaïese Wet in verband met geslagtelike funksies het onder andere die algemene gesondheid van die Israelitiese gemeenskap bevorder. Die boek The Bible and Modern Medicine sê: “Gehoorsaamheid aan die verbod op geslagsomgang vir ’n voorgeskrewe tydperk tydens die menstruasiesiklus was ’n doeltreffende manier om sekere geslagsiektes te voorkom . . . en was beslis ook ’n beskerming teen die ontstaan en ontwikkeling van sekere servikskankers.” Hierdie wette het God se volk beskerm teen siektes wat dalk vir hulle onbekend was of wat hulle nie kon diagnoseer nie. Goeie seksuele higiëne het ’n nasie wat God met ’n belofte van vermeerdering en voorspoed geseën het, vrugbaarder gemaak (Genesis 15:5; 22:17). Die emosionele gesondheid van God se volk was ook daarby betrokke. Deur hierdie wette te gehoorsaam, het mans en vroue geleer om geslagsdrange te beteuel.

Die belangrikste kwessie in verband met die soort onreinheid wat weens geslagtelike funksies ontstaan het, was egter bloedvloeiing of die verlies van bloed. Jehovah se wette oor bloed het nie net by die Israeliete die heiligheid van bloed ingeprent nie, maar ook die spesiale rol wat bloed in die aanbidding van Jehovah speel, naamlik in offerandes en versoening vir sondes.—Levitikus 17:11; Deuteronomium 12:23, 24, 27.

Die Wet se uitvoerige vereistes wat hierdie kwessie betref, hou dus ten nouste verband met menslike onvolmaaktheid. Die Israeliete het geweet dat Adam en Eva—nadat hulle gesondig het—nie volmaakte kinders kon voortbring nie. Al hulle nakomelinge sou die gevolge dra van oorgeërfde sonde—onvolmaaktheid en die dood (Romeine 5:12). Gevolglik kon ouers net onvolmaakte en sondige lewe oordra, al is die menslike geslagsorgane oorspronklik ontwerp om volmaakte lewe oor te dra deur middel van die huweliksreëling.

Die Wet se vereistes in verband met reiniging sou die Israeliete dus nie net herinner aan hulle oorgeërfde sondigheid nie, maar ook aan die behoefte aan ’n losprysoffer om sondes te bedek en menslike volmaaktheid te herstel. Die diereofferandes wat hulle gebring het, het nie aan daardie doel beantwoord nie (Hebreërs 10:3, 4). Die doel van die Mosaïese Wet was om hulle na Christus te lei en hulle te help om te verstaan dat ware vergifnis net moontlik was deur middel van Jesus se volmaakte menseoffer, wat vir getroue mense die weg tot die ewige lewe baan.—Galasiërs 3:24; Hebreërs 9:13, 14.