Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Groei onder Uganda se veelsoortige bevolking

Groei onder Uganda se veelsoortige bevolking

Groei onder Uganda se veelsoortige bevolking

UGANDA, wat tussen die twee arms van Oos-Afrika se Groot Skeurvallei en op die ewenaar geleë is, is geseën met merkwaardige prag. Dit het soveel afwisselende natuurtonele, welige plantegroei en interessante dierelewe. Aangesien dit op die groot Afrika-plato lê, het dit ’n matige klimaat en ’n fassinerende, heuwelagtige landskap wat oor honderde kilometers strek.

Daar is min lande wat, soos Uganda, gletsers sowel as tropiese dele in ’n klein gebied het. Dit strek van die sneeubedekte pieke van die Maanberge, die Ruwenzori-gebergte, in die weste, tot die halfdroë streek in die ooste. Olifante, buffels en leeus kom op die vlaktes voor. Die berge en digte woude voorsien blyplek aan gorillas, sjimpansees en meer as 1 000 voëlspesies. ’n Groot deel van die vasteland van Afrika word deur droogte en hongersnood geteister, maar Uganda is geseën met riviere en mere, soos die Victoria-meer, die wêreld se tweede grootste varswatermeer. Die Victoria-meer se noordelike uitloop vloei in die Nylrivier in. Dit is geen wonder dat Winston Churchill na hierdie land verwys het as “die pêrel van Afrika” nie!

“Die pêrel” glinster vandag

Uganda se vernaamste aantrekkingskrag is egter sy mense—vriendelike, gasvrye mense van verskillende agtergronde. Hierdie oorwegend “Christelike” land kan beskryf word as ’n smeltkroes van baie etniese groepe en kulture. Hierdie verskillende groepe mense kan selfs vandag aan hulle tradisies en kleredrag uitgeken kan word.

In onlangser tye reageer al hoe meer Ugandese gunstig op die goeie nuus van die Bybel oor die tyd wanneer daar wêreldwyd blywende vrede sal wees (Psalm 37:11; Openbaring 21:4). Dit is ’n uitdaging om almal met hierdie boodskap te bereik, in ’n land wat omtrent so groot soos Groot-Brittanje is.

Van ’n klein begin toe die eerste plaaslike inwoner in 1955 as ’n toegewyde Getuie van Jehovah in die Victoria-meer gedoop is, het “die kleine” uiteindelik in 1992 ’n duisend geword. Sedertdien was daar bestendige groei. Dit is in ooreenstemming met God se bemoedigende woorde: “Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.”—Jesaja 60:22.

Taalgrense word oorkom

Engels is die amptelike taal en word algemeen gebruik, veral in onderwys, maar dit is nie die moedertaal van die meeste Ugandese nie. In ’n poging om mense met die goeie nuus te bereik, gebruik Jehovah se Getuies dus ook ander vername tale. Dit is nodig omdat meer as 80 persent van die land se 25 miljoen mense in landelike gebiede of in klein dorpies woon, waar mense hoofsaaklik hulle moedertaal in hulle daaglikse gesprekke gebruik. Om hierdie taalgroepe te bereik en in mense se geestelike behoeftes te voorsien, verg groot inspanning.

Jehovah se Getuies probeer nietemin in hierdie behoeftes voorsien deur vir mense in hulle eie taal te getuig en Bybellektuur in ’n verskeidenheid tale beskikbaar te stel. By die takkantoor in die hoofstad, Kampala, is daar vertaalspanne vir vier taalgroepe: Acholi, Lhukonzo, Luganda en Runyankore. Daarbenewens het Christelike byeenkomste wat landwyd in verskeie tale gehou is, uitstekende bywoningsyfers gehad, meer as dubbel die getal Getuies van Jehovah. Dit toon duidelik dat pogings om verskeie taalgroepe te bereik, tot vinnige geestelike groei bydra. Maar dit is nie al nie.

Pioniers neem die voortou met die werk

Gemeentes ondersteun met vreugde jaarlikse kampanjes van omtrent drie maande, waartydens afgesonderde gebiede gedek word (Handelinge 16:9). Al hoe meer ywerige jong pioniers, of voltydse bedienaars, neem die voortou met hierdie werk. Hulle reis na afgeleë gebiede waar die goeie nuus, in sommige gevalle, nog nooit tevore gehoor is nie.

Twee Getuies het drie maande lank as spesiale pioniers in Bushenyi, ’n klein dorpie in die weste van Uganda, gaan dien. Hulle het saam met die enigste Getuie van Jehovah in hierdie gebied aan die predikingswerk deelgeneem en gehelp om Christelike vergaderinge te reël. Binne ’n maand het die twee pioniers gereelde Bybelbesprekings gehad met 40 mense, waarvan 17 die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het. Die pioniers vertel: “Sommige by wie ons die brosjure Wat vereis God van ons? a gelaat het, het ’n paar dae later na ons huis toe gekom met velle papier waarop hulle die antwoorde neergeskryf het op die vrae in die brosjure. Hulle wou weet of hulle antwoorde reg is.” Vandag is daar ’n gemeente met sy eie Koninkryksaal in hierdie dorp.

Twee pioniers het na ’n gebied in die weste van Uganda gereis waar die goeie nuus nog nooit verkondig is nie. Hulle het geskryf: “Mense dors werklik na Bybelwaarheid. In die drie maande wat ons al hier is, kon ons 86 Bybelstudies begin en hou.” ’n Getuie-groep is kort voor lank amptelik in hierdie gebied gevorm.

Ander ywerige werkers in die veld

Onder die ywerige pioniers is daar sommige wat al ’n aantal jare dien. Voordat Patrick een van Jehovah se Getuies geword het, het hy die klarinet in die lugmagorkes gespeel tydens die bewind van die Ugandese heerser Idi Amin. Ses maande ná Patrick se doop in 1983 het hy die voltydse diens betree. Vandag is hy ’n reisende opsiener, wat gemeentes besoek en aanmoedig.

Margaret is in 1962 gedoop. Ondanks die feit dat sy in haar laat sewentigerjare is en ’n heupprobleem het wat haar beweeglikheid beperk, bestee sy sowat 70 uur per maand daaraan om haar bure van die Bybelse hoop te vertel. Sy stal die lektuur uit op ’n bankie buite haar huis en knoop gesprekke aan met enige verbygangers wat na die goeie nuus oor ’n vreedsame nuwe wêreld wil luister.

Simon, ’n boer van Oos-Uganda, het al 16 jaar lank na die waarheid gesoek toe hy in 1995 lektuur vind wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Wat hy gelees het, het by hom die begeerte gewek om meer uit te vind omtrent God se Koninkryk en Jehovah se wonderlike voorneme vir die aarde. Aangesien daar in Kamuli, waar Simon gewoon het, geen Getuies was nie, het hy ongeveer 140 kilometer na Kampala gereis om hulle te gaan soek. Vandag is daar ’n gemeente in sy dorpie.

“Ons is hier om te bly”

Soos die geval is in ander gebiede in Afrika, verwag baie mense dat ’n godsdiensgroep ’n behoorlike plek van aanbidding moet hê. Dit was vir sommige gemeentes van Jehovah se Getuies ’n skynbaar onoorkomelike probleem omdat hulle nie die finansiële middele gehad het om ’n gepaste Koninkryksaal te bou nie. Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar die broers was toe ’n versnelde program om Koninkryksale te bou, laat in 1999 wêreldwyd in werking gestel is nie. Gedurende die volgende vyf jaar is 40 nuwe Koninkryksale in Uganda voltooi. Vandag het amper al die gemeentes hulle eie beskeie maar geskikte Koninkryksaal. Die boodskap wat hierdie bouwerk aan plaaslike gemeenskappe oordra, is: “Ons is hier om te bly.” Dit het tot die vermeerdering bygedra.

’n Klein gemeente in Noord-Uganda het vergaderinge onder ’n paar blaarryke mangobome gehou. Toe hulle ’n erf kry, het sake vinnig gevorder. Die broers op die bouspan het saam met die plaaslike Getuies gewerk en ’n Koninkryksaal begin bou. Die werk het ’n bekende voormalige politikus in die gebied beïndruk. Hy het voorgestel dat hulle sy garage vir vergaderinge gebruik totdat die Koninkryksaal voltooi is. Hy het ook ’n Bybelstudie met een van die vrywilligers op die bouspan aanvaar. Nou is hy ’n ywerige gedoopte verkondiger, verheug om Jehovah in daardie pragtige nuwe Koninkryksaal te aanbid!

’n Messelaar was so beïndruk deur die vriendelikheid, liefde en samewerking wat hy by ’n bouprojek van ’n Koninkryksaal in die suidooste van die land gesien het, dat hy aangebied het om met die werk te help. Teen die einde van die projek het hy selfs ’n hele nag deurgewerk sodat die broers die Koninkryksaal die volgende oggend gereed kon hê vir die toewyding. Hy het gesê: “Julle is die enigstes wat mekaar waarlik liefhet, en nie net so sê nie.”

Belowende groei ondanks probleme

Noudat nuwe gebiede in Uganda gedek word, is daar ’n bestendige toename in die aantal Getuies, en baie belangstellendes assosieer met die gemeentes. ’n Sorgwekkende probleem is egter die groot aantal vlugtelinge wat in Uganda instroom. Burgeroorloë in aangrensende lande het Jehovah se knegte ook geraak. Getuies in vlugtelingkampe het merkwaardige vertroue in Jehovah getoon. ’n Voormalige hoë amptenaar van ’n nabygeleë land, wat voorheen die Getuies vervolg het toe hulle werk in daardie land verbied was, onthou die gerieflike lewenstyl wat hy geniet het. Nadat hy die Bybel in een van die vlugtelingkampe bestudeer het en ’n Getuie geword het, het hy gesê: “Materiële voorspoed en ’n hoë posisie in hierdie wêreld het geen werklike waarde nie. Al is ek nou arm en sieklik, is my lewe baie beter as ooit tevore. Ek ken Jehovah, en ek waardeer die voorreg van gebed. Hoewel ek ’n vaste hoop vir die toekoms het, weet ek waarom ons nog vandag probleme moet verduur. Ek ervaar dus nou ’n innerlike vrede soos wat ek nog nooit tevore ondervind het nie.”

Daar is al gesê dat ’n mens in die aand ’n stok in die vrugbare grond van Uganda kan steek en dat dit die volgende oggend wortels sal hê. Die geestelike groei wat in die land plaasvind, toon dat die geestelike grond ook baie vrugbaar is. Ons dank Jehovah God dat hy tyd toegelaat het sodat nog meer van Uganda se veelsoortige bevolking kan leer van sy Koninkryk. Jesus het gesê dat dit so kosbaar is soos ’n “pêrel van groot waarde”. Al hoe meer mense in Uganda besef dit.—Matteus 13:45, 46.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaarte op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SOEDAN

UGANDA

Nylrivier

Kamuli

Tororo

Kampala

Bushenyi

Victoria-meer

KENIA

TANZANIË

RWANDA

[Prent op bladsy 9]

Drie van die talle ywerige pionierbedienaars

[Prent op bladsy 10]

Patrick

[Prent op bladsy 10]

Margaret

[Prent op bladsy 10]

Simon

[Prent op bladsy 10]

Streekbyeenkoms in Tororo

[Foto-erkenning op bladsy 8]

Agtergrond: © Uganda Tourist Board