Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe gelukkig is jy?

Hoe gelukkig is jy?

Hoe gelukkig is jy?

JA, JY kan jou gerus afvra: ‘Hoe gelukkig is ek?’ Sosioloë probeer hard om uit te vind hoe jy en ander sou antwoord, maar dit is nie ’n maklike taak nie. Om mense se geluk te meet, is soos om te probeer bepaal hoeveel liefde ’n man vir sy vrou het of hoeveel droefheid ’n dood in die gesin veroorsaak het. Emosies kan nie presies gemeet word nie. Wetenskaplikes erken nietemin ’n grondwaarheid: Alle mense het die vermoë om gelukkig te wees.

Ondanks hierdie ingebore vermoë om gelukkig te wees, het ernstige probleme ’n plaag van ongelukkigheid meegebring. Kyk na hierdie voorbeeld: In sommige stede is begraafplase vol weens vigsverwante sterftes. Die owerheid maak ouer grafte weer oop om mense te begrawe wat onlangs gesterf het. In dele van Afrika skep die vervaardiging van doodskiste baie werksgeleenthede. En ongeag waar jy woon, jy het al gesien dat daar min glimlagte is onder dié wat aan ’n ernstige siekte ly en dié wat familielede en vriende aan die dood afgestaan het.

Wat van plekke wat welvarender is? ’n Skielike wending in sake kan mense onverwags van finansiële sekuriteit beroof. In die Verenigde State moet baie afgetredenes weer gaan werk omdat hulle hulle pensioenvoordele verloor het. Mediese uitgawes verslind dikwels al die spaargeld wat ’n gesin het. “Jy sien hierdie mense inkom met groot uitgawes en gesondheidsprobleme, en dit breek jou hart”, sê een regsadviseur. “Dikwels moet jy vir hulle sê: ‘Jy gaan jou huis verloor.’” Maar wat van diegene wat hulle nie oor geld hoef te bekommer nie? Kan hulle ook deur ongelukkigheid geraak word?

Sommige mense is soos die welbekende komponis Richard Rodgers. Daar is van hom gesê: “Min mense het soveel genot aan soveel mense verskaf.” Hoewel sy liedjies tot die genot van ander bygedra het, het hy aan chroniese depressie gely. Hy het die twee doelwitte bereik wat baie mense nastreef—geld en roem—maar wat van geluk? ’n Biograaf het gesê: “[Rodgers] het buitengewoon suksesvol geword in sy werk, ’n bevoorregte lewe gelei en twee Pulitzerpryse gedeel. Hy was ook meestal ongelukkig en depressief.”

Soos jy moontlik al gesien het, is dit dikwels bedrieglik om op rykdom te vertrou vir geluk. ’n Finansiële verslaggewer vir The Globe and Mail van Toronto, Kanada, het die “eensaamheid en leegheid” beskryf wat baie welgesteldes ervaar. Volgens een finansiële adviseur “word die grondslag vir toekomstige hartseer dikwels gelê” wanneer ryk ouers hulle kinders oorlaai met geld en die dinge wat dit kan koop.

Bestaan daar enige vaste grondslag vir geluk?

’n Blomplant het goeie grond, water en die regte klimaat nodig om te floreer. Navorsers erken dat sekere omstandighede eweneens tot geluk bydra. Dit sluit in goeie fisiese gesondheid; bevredigende werk; voldoende voedsel, verblyf en klere; die bevrediging van ’n persoon se skeppingsdrang; en ware vriende.

Jy sal moontlik nie die uitwerking betwis wat hierdie toestande op ’n persoon se vooruitsigte vir geluk het nie. Maar daar is ’n belangriker faktor. Dit is kennis van “die gelukkige God”, wie se naam Jehovah is (1 Timoteus 1:11). Hoe help hierdie kennis? Wel, Jehovah is ons Skepper en hy het ons die vermoë gegee om gelukkig te wees. Logieserwys weet hy wat ons waarlik gelukkig kan maak. Die volgende artikel beskryf hoe hy mense na ’n lewe van blywende geluk lei, ongeag waar hulle woon of wat hulle omstandighede is.

[Prent op bladsy 4]

Soos ’n blomplant, het geluk die regte omstandighede nodig om te groei

[Foto-erkenning op bladsy 3]

© Gideon Mendel/CORBIS