Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hoe lief het ek u wet tog!”

“Hoe lief het ek u wet tog!”

“Hoe lief het ek u wet tog!”

“Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.”—PSALM 119:97.

1, 2. (a) In watter situasie het die geïnspireerde skrywer van Psalm 119 hom bevind? (b) Hoe het hy gereageer, en waarom?

 DIE skrywer van Psalm 119 het ’n swaar beproewing deurgemaak. Vermetele vyande wat God se wet verontagsaam het, het hom bespot en hom met leuens beswadder. Vorste het teen hom beraadslaag en hom vervolg. Die goddeloses het hom omring, en sy lewe was selfs in gevaar. Dit alles het hom “slapeloos van droefheid” gemaak (Psalm 119:9, 23, 28, 51, 61, 69, 85, 87, 161). Ten spyte van hierdie beproewing het die psalmis gesing: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.”—Psalm 119:97.

2 Jy kan tereg vra: “Hoe kon God se wet vir die psalmis ’n bron van verkwikking en vertroosting wees?” Wat hom onderskraag het, was sy vertroue dat Jehovah in hom belangstel. Sy kennis van die liefdevolle voorsienings van daardie wet het die psalmis gelukkig gemaak ondanks die ontberinge wat sy teenstanders oor hom gebring het. Hy het besef dat Jehovah goed gehandel het met hom. Daarbenewens het die toepassing van die raad in God se wet die psalmis wyser gemaak as sy vyande en hom selfs in die lewe gehou. Gehoorsaamheid aan die wet het hom vrede en ’n goeie gewete gegee.—Psalm 119:1, 9, 65, 93, 98, 165.

3. Waarom is dit vandag vir Christene ’n uitdaging om volgens goddelike standaarde te lewe?

3 Party van God se hedendaagse knegte ondergaan ook strawwe toetse van hulle geloof. Ons kom miskien nie voor ’n lewensgevaarlike krisis te staan soos die psalmis nie, maar ons lewe wel in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”. Baie mense met wie ons daagliks in aanraking kom, het geen liefde vir geestelike waardes nie—hulle doelwitte is egosentries en materialisties, hulle gesindheid verwaand en oneerbiedig (2 Timoteus 3:1-5). Jong Christene kom gereeld te staan voor dinge wat hulle sedelike integriteit bedreig. In so ’n milieu kan dit moeilik wees om ons liefde te behou vir Jehovah en vir wat reg is. Hoe kan ons ons beskerm?

4. Hoe het die psalmis waardering vir God se wet getoon, en moet Christene dit ook doen?

4 Wat die psalmis gehelp het om standvastig te bly ondanks die druk wat hy ondervind het, was die feit dat hy tyd daaraan gewy het om God se wet met waardering aandagtig te bestudeer. So het hy dit leer liefkry. Feitlik elke vers van Psalm 119 meld dan ook die een of ander faset van Jehovah se wet. a Christene is vandag nie onder die Mosaïese Wet, wat God aan die eertydse nasie Israel gegee het nie (Kolossense 2:14). Maar die beginsels wat in daardie Wet voorkom, is van blywende waarde. Hierdie beginsels was ’n vertroosting vir die psalmis, en dit kan eweneens ’n vertroosting wees vir God se knegte wat worstel om die probleme van die hedendaagse lewe die hoof te bied.

5. Watter aspekte van die Mosaïese Wet gaan ons bespreek?

5 Kom ons kyk watter aanmoediging ons kan kry uit net drie aspekte van die Mosaïese Wet: die Sabbatsreëling, die voorsiening om oesoorblyfsels in te samel en die gebod teen hebsug. In elke geval sal ons vind dat insig in die beginsels agter hierdie wette noodsaaklik is as ons die uitdagings wat ons tye kenmerk, die hoof wil bied.

Bevrediging van ons geestelike behoefte

6. Watter basiese behoeftes het alle mense?

6 Die mens is geskep met ’n aantal behoeftes. Kos, drank en huisvesting is byvoorbeeld noodsaaklik as iemand fisies gesond wil bly. Maar die mens moet ook na sy “geestelike behoefte” omsien. Hy sal nie werklik gelukkig wees tensy hy dit doen nie (Matteus 5:3). Jehovah het die bevrediging van hierdie inherente behoefte so belangrik geag dat hy sy volk beveel het om hulle normale bedrywighede elke week ’n hele dag lank te onderbreek sodat hulle aandag kon skenk aan geestelike sake.

7, 8. (a) Hoe het God ’n onderskeid getref tussen die Sabbat en ander dae? (b) Wat was die doel van die Sabbat?

7 Die Sabbatsreëling het die belangrikheid van geestelike strewes beklemtoon. Die eerste keer dat die woord “sabbat” in die Bybel voorkom, is in verband met die voorsiening van manna in die wildernis. Daar is vir die Israeliete gesê dat hulle hierdie wonderdadige brood op ses dae moes optel. Op die sesde dag moes hulle “brood vir twee dae” optel, want op die sewende dag sou niks voorsien word nie. Die sewende dag sou “’n heilige sabbat vir Jehovah” wees, waartydens elkeen op sy plek moes bly (Eksodus 16:13-30). Een van die Tien Gebooie het beveel dat hoegenaamd geen werk op die Sabbat gedoen moes word nie. Die dag was heilig. Die straf as dit nie onderhou is nie, was die dood.—Eksodus 20:8-11; Numeri 15:32-36.

8 Die Sabbatswet het Jehovah se besorgdheid oor die fisiese sowel as die geestelike welsyn van sy volk getoon. “Die sabbat het ter wille van die mens in aansyn gekom”, het Jesus gesê (Markus 2:27). Dit het die Israeliete nie net in staat gestel om te rus nie, maar hulle ook die geleentheid gegee om nader aan hulle Skepper te kom en liefde vir hom te toon (Deuteronomium 5:12). Hierdie dag is uitsluitlik aan geestelike belange gewy. Dit het gesinsaanbidding, gebed en bepeinsing van God se Wet ingesluit. Die reëling het die Israeliete beskerm sodat hulle nie al hulle tyd en energie vir materiële strewes gebruik nie. Die Sabbat het hulle daaraan herinner dat hulle verhouding met Jehovah die allerbelangrikste ding in hulle lewe is. Jesus het hierdie onveranderlike beginsel herhaal toe hy gesê het: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.’”—Matteus 4:4.

9. Watter les voorsien die Sabbatsreëling aan Christene?

9 Daar word nie meer van God se volk verwag om ’n letterlike sabbatsrus van 24 uur te hou nie, maar die Sabbatsreëling is nietemin veel meer as net van geskiedkundige belang (Kolossense 2:16). Is dit nie ’n herinnering dat ook ons voorkeur aan geestelike bedrywighede moet gee nie? Heilige belange moet nie deur materiële sorge of ontspanningsbedrywighede oorskadu word nie (Hebreërs 4:9, 10). Ons kan ons dus afvra: “Wat beklee die eerste plek in my lewe? Gee ek voorkeur aan studie, gebed, die bywoning van Christelike vergaderinge en die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk? Of verdring ander belange hierdie bedrywighede?” As ons geestelike sake eerste stel in ons lewe, verseker Jehovah ons dat ons nie die lewensbenodigdhede sal kortkom nie.—Matteus 6:24-33.

10. Hoe kan ons daarby baat vind as ons tyd aan geestelike sake wy?

10 Die tyd wat ons daaraan bestee om die Bybel en verwante publikasies te bestudeer sowel as om diep na te dink oor die boodskap daarin, kan ons help om nader aan Jehovah te kom (Jakobus 4:8). Susan, wat sowat 40 jaar gelede begin het om tyd opsy te sit vir gereelde Bybelstudie, erken dat dit aanvanklik nie ’n genot was nie. Sy het daarteen opgesien. Maar hoe meer sy gelees het, hoe meer het sy dit geniet. Nou mis sy haar persoonlike studie baie wanneer sy om die een of ander rede nie daarby kan uitkom nie. “Studie het my gehelp om Jehovah as ’n Vader te leer ken”, sê sy. “Ek kan hom vertrou, op hom staatmaak en hom vryelik in gebed nader. Dit is eintlik oorweldigend om te sien hoe lief Jehovah sy knegte het, hoeveel hy vir my persoonlik omgee en hoe hy ten behoewe van my opgetree het.” Watter groot vreugde kan ons tog ook smaak as ons gereeld in ons geestelike behoeftes voorsien!

God se wet oor die insameling van oesoorblyfsels

11. Wat het die reëling om oesoorblyfsels in te samel, behels?

11 ’n Tweede aspek van die Mosaïese Wet wat God se besorgdheid oor sy volk se welsyn weerspieël het, was die reg om oesoorblyfsels in te samel. Jehovah het beveel dat, wanneer ’n Israelitiese boer die opbrengs van sy land oes, die behoeftiges toegelaat moes word om in te samel wat die oeswerkers agtergelaat het. Boere moes nie die rande van hulle landerye heeltemal afoes nie, en ook moes hulle nie die oorblywende druiwe of olywe insamel nie. As graangerwe per ongeluk op die landerye agtergelaat is, moes iemand nie teruggaan om dit te gaan haal nie. Dit was ’n liefdevolle reëling ten behoewe van die armes, die inwonende vreemdelinge, die wese en die weduwees. Die insameling van oesoorblyfsels het weliswaar harde werk van hulle geverg, maar danksy dié reëling was dit nie vir hulle nodig om te bedel nie.—Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-22; Psalm 37:25.

12. Watter geleentheid het die reëling om oesoorblyfsels in te samel, aan boere gegee?

12 Die wet oor die insameling van oesoorblyfsels het nie bepaal hoeveel van die oes boere vir die behoeftiges moes laat agterbly nie. Dit het van hulle afgehang of die stroke ongesnyde graan om die rande van hulle landerye wyd of smal sou wees. So het die reëling mense geleer om vrygewig te wees. Dit het boere die geleentheid gegee om hulle waardering teenoor die Voorsiener van die oes te toon, aangesien die een wat “aan die arme guns betoon, [sy Maker] verheerlik” (Spreuke 14:31). Boas was iemand wat dit gedoen het. Hy het uit goedhartigheid seker gemaak dat Rut, ’n weduwee wat are in sy landerye opgetel het, baie graan kon insamel. Jehovah het Boas ryklik beloon vir sy vrygewigheid.—Rut 2:15, 16; 4:21, 22; Spreuke 19:17.

13. Wat leer die eertydse wet oor die insameling van oesoorblyfsels ons?

13 Die beginsel agter die wet oor die insameling van oesoorblyfsels het nie verander nie. Jehovah verwag van sy knegte om vrygewig te wees, veral teenoor die behoeftiges. Hoe vrygewiger ons is, hoe groter sal ons seëninge wees. “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee”, het Jesus gesê. “Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”—Lukas 6:38.

14, 15. Hoe kan ons vrygewigheid openbaar, en watter voordele hou dit in vir ons en vir dié aan wie ons hulp bied?

14 Die apostel Paulus het aanbeveel dat ons “aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Ons moet dus beslis daaroor besorg wees dat mede-Christene geestelike hulp ontvang wanneer hulle voor toetse van hulle geloof te staan kom. Maar het hulle miskien ook praktiese hulp nodig, byvoorbeeld om by die Koninkryksaal te kom of om hulle kruideniersware te koop? Is daar in julle gemeente enige bejaardes, siekes of persone wat aan die huis gekluister is wat ’n bemoedigende besoek of ’n helpende hand sal waardeer? As ons ’n poging aanwend om bewus te wees van sulke behoeftes, kan Jehovah ons gebruik om die gebede van ’n behoeftige te verhoor. Hoewel dit ’n Christelike verpligting is om na mekaar om te sien, strek dit ook die een wat die hulp voorsien, tot voordeel. Wanneer ons opregte liefde aan medeaanbidders betoon, verskaf dit ons groot vreugde en diepe bevrediging en bring dit vir ons Jehovah se goedkeuring mee.—Spreuke 15:29.

15 Nog ’n belangrike manier waarop Christene ’n onselfsugtige gesindheid toon, is deur hulle tyd en energie te gebruik om oor God se voornemens te praat (Matteus 28:19, 20). Enigiemand wat al die vreugde gesmaak het om iemand anders te help om te vorder tot die punt waar hy sy lewe aan Jehovah toewy, weet hoe waar Jesus se woorde is: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Waak teen hebsug

16, 17. Wat het die tiende gebod verbied, en waarom?

16 Die derde aspek van God se Wet aan Israel wat ons gaan bespreek, is die tiende gebod, wat hebsug verbied het. Die Wet het gesê: “Jy mag nie jou medemens se huis begeer nie. Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie, en ook nie sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy esel of enigiets wat aan jou medemens behoort nie” (Eksodus 20:17). Geen mens kon toesien dat so ’n gebod uitgevoer word nie, aangesien niemand harte kan lees nie. Maar hierdie gebod het die Wet verhef tot ’n hoër vlak as dié van menslike geregtigheid. Dit het elke Israeliet daarvan bewus gemaak dat hy regstreeks aanspreeklik is teenoor Jehovah, wat die neigings van die hart kan lees (1 Samuel 16:7). Daarbenewens het hierdie gebod deurgedring tot die kern van talle ongeoorloofde dade.—Jakobus 1:14.

17 Die wet teen hebsug het God se volk aangespoor om materialisme, gierigheid en klagtes oor hulle lot in die lewe te vermy. Dit het hulle ook beskerm teen die versoeking om hulle skuldig te maak aan diefstal of onsedelikheid. Daar sal altyd mense wees met materiële besittings wat ons bewonder of wat op die een of ander manier blykbaar suksesvoller is as ons. As ons nie ons denke in sulke situasies beheer nie, kan ons ongelukkig raak en ander beny. Volgens die Bybel is hebsug ’n blyk van “’n afgekeurde geestestoestand”. Ons is baie beter af daarsonder.—Romeine 1:28-30.

18. Watter gees heers in die wêreld van vandag, en watter negatiewe gevolge kan dit hê?

18 Die heersende gees in die wêreld van vandag bevorder materialisme en wedywering. Deur middel van advertensies wek die handelswêreld begeertes vir nuwe produkte en dra dit dikwels die gedagte oor dat ons nie gelukkig sal wees tensy ons dit bekom nie. Dit is presies die soort gees wat Jehovah se Wet veroordeel het. Iets wat hiermee verband hou, is die begeerte om ten alle koste vooruitgang in die lewe te maak en om rykdom te vergaar. Die apostel Paulus het gewaarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.

19, 20. (a) Watter dinge is werklik waardevol vir iemand wat Jehovah se wet liefhet? (b) Waaroor sal die volgende artikel handel?

19 Dié wat God se wet liefhet, besef watter gevare ’n materialistiese gees inhou en word daarteen beskerm. Die psalmis het byvoorbeeld tot Jehovah gebid: “Neig my hart tot u herinneringe en nie tot gewin nie. Die wet van u mond is goed vir my, beter as duisende stukke goud en silwer” (Psalm 119:36, 72). As ons oortuig is dat hierdie woorde waar is, sal dit ons help om die nodige balans te behou sodat ons die strik van materialisme, gierigheid en onvergenoegdheid met ons lot in die lewe kan vermy. “Godvrugtige toegewydheid”, nie die ophoping van besittings nie, is die sleutel tot die grootste moontlike gewin.—1 Timoteus 6:6.

20 Die beginsels agter die Wet wat Jehovah aan die eertydse nasie Israel gegee het, is net so waardevol in ons moeilike tye as toe Jehovah hierdie Wet aan Moses gegee het. Hoe meer ons hierdie beginsels in ons lewe toepas, hoe meer sal ons dit waardeer, hoe liewer sal ons dit kry en hoe gelukkiger sal ons wees. Die Wet bevat talle waardevolle lesse vir ons, en ons vind duidelike herinneringe aan die waarde daarvan in die lewe en ondervindinge van Bybelkarakters. Ons sal ’n paar hiervan in die volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a Van die 176 verse van hierdie psalm is daar net 4 wat nie Jehovah se gebooie, regterlike beslissings, wet, bevele, voorskrifte, herinneringe, woorde, insettinge of weë meld nie.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het die skrywer van Psalm 119 Jehovah se wet liefgehad?

• Wat kan Christene uit die Sabbatsreëling leer?

• Van watter blywende waarde is God se wet oor die insameling van oesoorblyfsels?

• Hoe beskerm die gebod teen hebsug ons?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Wat het die Sabbatswet beklemtoon?

[Prent op bladsy 23]

Wat leer ons uit die wet oor die insameling van oesoorblyfsels?