Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ja, jy kan geluk vind

Ja, jy kan geluk vind

Ja, jy kan geluk vind

GELUK—ware, blywende geluk—is soms moeilik om te vind. Dit is veral so omdat baie mense in hulle naarstige soeke na geluk op die verkeerde plekke soek. As hulle maar net ’n vertroude en bekwame vriend gehad het wat hulle in die regte rigting kon lei!

Die Bybel is ’n bron van hierdie noodsaaklike leiding. Kyk na net een van die boeke daarin—Psalms. Hierdie boek is ’n versameling van 150 gewyde liedere tot lof van Jehovah God, waarvan omtrent die helfte deur koning Dawid van eertydse Israel geskryf is. Maar iets wat belangriker as die identiteit van die skrywers is, is die wete dat hierdie boek onder inspirasie van die mensdom se grootste Vriend, Jehovah, geskryf is. Ons kan derhalwe seker wees dat dit goddelike leiding bevat wat ons tot voordeel kan strek en dat dit wys hoe ons geluk kan vind.

Die skrywers van die Psalms was seker dat geluk voortspruit uit ’n goeie verhouding met God. “Gelukkig is die man wat Jehovah vrees”, het die psalmis geskryf (Psalm 112:1). Geen menseverhouding, geen materiële besitting en geen persoonlike prestasie kan die geluk verskaf wat diegene ervaar wat deel is van “die volk wie se God Jehovah is” nie (Psalm 144:15). Die lewe van talle hedendaagse knegte van God getuig hiervan.

Susanne, wat in haar vroeë veertigerjare is, is een voorbeeld. a Sy het gesê: “Vandag sluit baie mense by sekere groepe aan om gemeenskaplike doelwitte te bereik of om gemeenskaplike belange te bevorder. Maar hulle beskou selde elkeen in die groep as ’n vriend. Met Jehovah se volk is dit anders. Ons liefde vir Jehovah laat ons geneentheid vir mekaar voel. Ons voel tuis onder God se volk, ongeag waar ons ons bevind. Hierdie eenheid verryk ons lewe in groot mate. Wie anders kan sê dat hulle vriende uit heeltemal verskillende stande en agtergronde het, asook uit die grootste verskeidenheid nasies? Ek kan met my hele hart sê dat dit geluk meebring om deel te wees van Jehovah se volk.”

Maree, wat in Skotland gebore is, het ook uitgevind dat ’n goeie verhouding met Jehovah onontbeerlik is as ’n mens geluk wil vind. “Voordat ek Bybelwaarheid geleer het”, het sy vertel, “het ek dit geniet om na gruwelrolprente te kyk. Maar saans kon ek nie aan die slaap raak sonder om ’n kruis in my hand vas te hou om spoke en vampiere, waaroor baie van die rolprente gehandel het, te verjaag nie. Toe ek egter die waarheid geleer het en opgehou het om na sulke rolprente te kyk, het my verhouding met Jehovah dit vir my moontlik gemaak om sonder vrees te gaan slaap, gelukkig dat ek ’n God dien wat kragtiger is as demone of denkbeeldige vampiere.”

Vertroue op Jehovah lei tot geluk

Ons het geen rede om te twyfel aan die Skepper se almag en onbeperkte wysheid nie. Met die wete dat hy ten volle op Jehovah kon vertrou en Hom sy toevlug kon maak, het Dawid geskryf: “Gelukkig is die man wat Jehovah sy vertroue gemaak het.”—Psalm 40:4.

Maria het gesê: “In Spanje sowel as elders het ek ondervind dat sake vir ons die beste afloop as ons dinge op Jehovah se manier doen, selfs as ons gevoelens en emosies ons in ’n ander rigting wil stuur. Dit lei tot geluk, want Jehovah se manier is altyd die beste manier.”

Andreas, ’n Christen- ouer man wat in verskeie Europese lande gedien het, weet ook uit persoonlike ondervinding dat ons ons vertroue in Jehovah kan stel. Hy het gesê: “My ouer broer, wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as ek het nie, het gedurende my jeug ’n groot invloed op my gehad en my aangespoor om ’n loopbaan te volg wat finansiële voordele inhou. Hy was baie teleurgesteld toe ek die voltydse bediening betree het en nie my vertroue gestel het in die sogenaamde sekuriteit wat sekulêre pensioenskemas bied nie. Gedurende my voltydse diens het ek nog nooit gebrek gely nie, en ek het seëninge ervaar waarvan ander maar net kan droom.”

In 1993 is Felix genooi om te help met die uitbreiding by die fasiliteite van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Selters, Duitsland. Toe die werk voltooi is, is hy genooi om ’n permanente lid van die Bethelgesin daar te word. Sy reaksie? “Ek het die uitnodiging aanvaar al het ek bedenkinge gehad. Maar noudat ek al amper tien jaar hier is, is ek daarvan oortuig dat Jehovah my gebede verhoor het. Hy weet wat die beste vir my is. Deur my volle vertroue in hom te stel en toe te laat dat hy my lei, gee ek hom ’n geleentheid om vir my te wys wat hy wil hê ek moet doen.”

Susanne, wat vroeër gemeld is, wou as ’n voltydse bedienaar, ’n pionier, dien, maar sy het gesukkel om deeltydse werk te kry. Nadat sy ’n jaar gewag het vir so ’n werk, het sy met vertroue in Jehovah opgetree. Sy het vertel: “Ek het my aansoekvorm ingegee om as ’n gewone pionier te dien. Ek het genoeg gespaar om my gewone uitgawes vir sowat ’n maand te dek. En wat ’n dramatiese maand was dit tog! My bediening was ’n bron van groot vreugde, maar keer op keer was my aansoek om ’n betrekking onsuksesvol. Soos Jehovah egter belowe het, het hy my nie in die steek gelaat nie. Op die laaste dag van die maand het ek werk gekry. Toe het ek geweet dat ek werklik op Jehovah kan vertrou! Hierdie eerste ondervinding in die voltydse diens het bygedra tot ’n lonende en gelukkige lewe.”

Aanvaar goddelike raad—dit bevorder geluk

Koning Dawid het ’n paar ernstige foute begaan. Soms het hy wyse raad nodig gehad. Is ons net so gewillig soos Dawid om raad en onderrigting te aanvaar?

Aida, van Frankryk, het eenkeer besef dat sy ’n ernstige fout begaan het. Sy het vertel: “Wat vir my die belangrikste was, was om my verhouding met Jehovah te herstel. Niks anders het saak gemaak nie.” Sy het die Christen- ouer manne om hulp genader. Nou, na meer as 14 jaar in die voltydse bediening, sê sy: “Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah my oortreding vergewe het!”

As ons ontvanklik is vir goddelike raad, kan dit ons daarvan weerhou om in die eerste plek ’n fout te maak. Judith het verduidelik: “Toe ek 20 was, het ek verlief geraak op ’n Duitse kollega wat sy bes gedoen het om my te beïndruk. Hy was ’n gerespekteerde man, het ’n uitstekende loopbaan gehad en was reeds getroud! Ek het besef dat ek moes kies of ek gehoorsaam sou wees aan Jehovah se wette of my rug heeltemal op Hom sou draai. Ek het my ouers in my vertroue geneem. My pa het nie doekies omgedraai toe hy my herinner het aan wat Jehovah van my verwag nie. Hy het baie reguit met my gepraat—dit was net wat ek nodig gehad het! Nietemin het my hart ’n skuiwergat probeer vind. My ma het weke lank saans met my gepraat oor hoe belangrik en lewensreddend God se wette is. Ek is so dankbaar dat my hart geleidelik na Jehovah teruggebring is. Om deur hom gedissiplineer en onderrig te word, het vir my groot geluk gebring—talle lonende jare in die voltydse bediening en ’n goeie Christenhuweliksmaat, wat my liefhet en Jehovah heelhartig liefhet.”

Hierdie ondervindinge benadruk beslis Dawid se woorde: “Gelukkig is hy wie se opstandigheid vergewe word, wie se sonde bedek word. Gelukkig is die mens aan wie Jehovah die oortreding nie toereken nie.”—Psalm 32:1, 2.

Geluk weens bedagsaamheid teenoor ander

“Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe”, het Dawid geskryf. Hy het verder gesê: “In die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. Jehovah sal hom bewaar en hom in die lewe hou. Hy sal gelukkig genoem word” (Psalm 41:1, 2). Die liefdevolle bedagsaamheid wat Dawid getoon het teenoor Mefiboset, die gebreklike seun van Dawid se geliefde vriend Jonatan, is ’n voorbeeld van die regte gesindheid teenoor geringes.—2 Samuel 9:1-13.

Marlies, wat al 47 jaar lank ’n sendeling is, het die voorreg om die predikingswerk te doen onder mense wat uit gevaargebiede in Afrika, Asië en Oos-Europa moes vlug. Sy het gesê: “Hulle het baie probleme en voel oor die algemeen dat hulle nie ten volle aanvaar word nie, dat daar in werklikheid teen hulle gediskrimineer word. Om sulke mense te help, verskaf altyd geluk.”

Marina, wat in haar vroeë veertigerjare is, het geskryf: “Ek is ongetroud, en daarom weet ek wat dit beteken as ander jou onderskraag. Dit beweeg my om mense aan te moedig deur hulle te bel of briewe aan hulle te skryf. Baie het hulle waardering uitgespreek. Dit verskaf my vreugde om ander te help.”

Dimitar, wat in sy middeltwintigerjare is, het gesê: “My ma het my alleen grootgemaak. Toe ek ’n jong seun was, was ek gelukkig om ’n Gemeentelike Boekstudieopsiener te hê wat my elke week saamgeneem het om my in die bediening op te lei. Ek is tot vandag toe dankbaar dat hy nie moed opgegee het met my nie. Ek weet dit was nie altyd maklik om my te motiveer nie.” Uit dankbaarheid vir die hulp wat hy eens ontvang het, help Dimitar nou ander: “Ek probeer om ten minste een keer per maand ’n jong persoon asook ’n bejaarde persoon saam met my in die veldbediening te neem.”

Die boek Psalms noem ook ander dinge wat tot geluk bydra. Een is die belangrikheid daarvan om eerder op Jehovah se krag staat te maak as op jouself: “Gelukkig is die mense wie se sterkte in [Jehovah] is.”—Psalm 84:5.

Corinna kan haar hiermee vereenselwig. Sy het na ’n land getrek waar daar baie hulp in die bediening nodig is. “Ek het voor die uitdaging van ’n nuwe taal, ’n nuwe kultuur en ’n nuwe denkwyse te staan gekom. Dit het gevoel asof ek op ’n ander planeet is. Die gedagte dat ek die predikingswerk in ’n vreemde omgewing moes doen, het my keel laat toetrek. Ek het Jehovah gevra om my te help, en dit was sy krag wat my in staat gestel het om heeldag lank in afgesonderde gebied te getuig. Mettertyd het dit vir my na die natuurlikste ding op aarde gevoel. Ek het baie Bybelstudies begin, en ek vind nog steeds baat by hierdie ondervinding. Ek het geleer dat ons met Jehovah se krag selfs skynbaar onoorkomelike struikelblokke te bowe kan kom.”

Ja, verskeie faktore dra by tot geluk, soos om vriendskap met God en met sy knegte op te bou, ten volle op Jehovah te vertrou, sy goddelike raad te aanvaar en bedagsaam teenoor ander te wees. Deur in Jehovah se weë te wandel en sy wette te gehoorsaam, kan ons gelukkig wees terwyl ons sy guns geniet.—Psalm 89:15; 106:3; 112:1; 128:1, 2.

[Voetnoot]

a Party name is verander.

[Prent op bladsy 12]

Maria

[Prent op bladsy 13]

Maree

[Prent op bladsy 13]

Susanne en Andreas

[Prent op bladsy 15]

Corinna

[Prent op bladsy 15]

Dimitar