Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Sorg vir hierdie wingerdstok”!

“Sorg vir hierdie wingerdstok”!

“Sorg vir hierdie wingerdstok”!

DIE 12 verkenners het deur die lengte en breedte van die Beloofde Land gegaan. Moses het vir hulle gesê om inligting in te win oor die inwoners en om van die opbrengs van die land terug te bring. Wat het hulle aandag in die besonder getrek? Nie ver van Hebron af nie, het hulle ’n wingerd gevind waarvan die druiwe so groot was dat twee verkenners een tros moes dra. Die oes was so indrukwekkend dat die verkenners die vrugbare gebied “die Eskolstroomvallei”, of die “Druiwetros”-stroomvallei, genoem het.—Numeri 13:21-24; voetnoot in NW.

Gedurende die 19de eeu het ’n besoeker aan Palestina gesê: “Eskol, of Druiwevallei, . . . is nog steeds oortrek van wingerdstokke, en die druiwe is die beste en die grootste in Palestina.” Hoewel die wingerdstokke van Eskol van die beste was, het ’n groot deel van Palestina in Bybeltye druiwe van goeie gehalte gelewer. Egiptiese verslae toon dat die Farao’s wyn uit Kanaän ingevoer het.

“Die rotsagtige heuwelhange [van Palestina], met hulle ligte gruisgrond en sonnige dele, die warm somers en die vinnige afvloei van die winterreëns, werk alles saam om dit by uitstek ’n land van wingerdstokke te maak”, verduidelik die boek The Natural History of the Bible. Jesaja het getoon dat party uitsoekgebiede tot duisend wingerdstokke gehad het.—Jesaja 7:23.

“’n Land van wingerdstokke”

Moses het vir die nasie Israel gesê dat hulle ’n land van “wingerdstokke en vye en granate” sou bewoon (Deuteronomium 8:8). Volgens die Baker Encyclopedia of Bible Plants “was wingerdstokke so volop in eertydse Palestina dat druiwepitte gevind is in feitlik al die gebiede waar opgrawings gedoen is”. Die wingerdstokke van die Beloofde Land was so vrugbaar dat, selfs in die jaar 607 v.G.J. toe Nebukadnesar se leërs Juda verwoes het, “’n baie groot hoeveelheid wyn en somervrugte ingesamel” is deur die mense wat in die land oorgebly het.—Jeremia 40:12; 52:16.

Om wyn van goeie gehalte te produseer, moes Israelitiese boere hulle wingerdstokke goed versorg. Die boek Jesaja beskryf hoe ’n tipiese Israelitiese wingerdarbeider ’n stuk grond teen ’n heuwelhang omspit en enige groot klippe daaruit verwyder voordat hy sy “uitgesoekte rooi wingerdstok” plant. Daarna het hy dalk met die klippe wat hy uit die grond gehaal het, ’n klipmuur daarom gebou. Hierdie muur sou help om sy wingerd te beskerm teen beeste wat dit kon vertrap en ook ’n mate van beskerming bied teen jakkalse, wildevarke en diewe. Hy het dalk ook ’n wynpers uitgekap en ’n klein toring gebou wat as ’n koel verblyfplek kon dien gedurende die oestyd wanneer die wingerdstokke ekstra beskerming nodig gehad het. Ná al hierdie voorbereidingswerk kon hy ’n goeie druiweoes verwag.—Jesaja 5:1, 2. a

Om ’n goeie oes te verseker, het die wynboer die wingerdstok gereeld gesnoei om dit vrugbaarder te maak en die grond geskoffel om onkruid en doringbosse daaruit te hou. Hy sou dalk die wingerd gedurende die somermaande natgooi as die lentereën nie genoeg vog voorsien het nie.—Jesaja 5:6; 18:5; 27:2-4.

Die tyd vir die druiweoes aan die einde van die somer was ’n tyd van groot blydskap (Jesaja 16:10). Drie psalms het ’n opskrif wat die frase “op die Gittit” insluit (Psalm 8, 81 en 84). Hierdie musiekterm waarvan die betekenis onseker is, word in die Septuagint-vertaling met “wynperse” weergegee en dui moontlik daarop dat die Israeliete hierdie psalms gedurende die druiweoestyd gesing het. Hoewel die druiwe hoofsaaklik gekweek is om wyn te maak, het die Israeliete ook vars druiwe geëet of dit gedroog as rosyne, waarvan hulle dalk koeke gemaak het.—2 Samuel 6:19; 1 Kronieke 16:3.

Die wingerdstok van Israel

Die Bybel beskryf God se volk ’n hele paar keer as ’n wingerdstok—’n gepaste metafoor, aangesien die wingerdstok vir Israeliete so belangrik was. In Psalm 80 het Asaf die nasie Israel vergelyk met ’n wingerdstok wat Jehovah in Kanaän geplant het. Die land is skoongemaak sodat die wingerdstok van Israel kon wortelskiet en goed kon groei. Maar met verloop van jare het die beskermende mure omgeval. Die nasie het nie meer op Jehovah vertrou nie, en hy het sy beskerming van hulle onttrek. Soos ’n wildevark wat ’n wingerd verwoes, het vyandige nasies Israel se rykdom bly plunder. Asaf het gebid dat Jehovah die nasie sou help sodat dit tot sy vorige heerlikheid herstel kon word. “Sorg vir hierdie wingerdstok”, het hy gesmeek.—Psalm 80:8-15.

Jesaja het “die huis van Israel” vergelyk met ’n wingerd wat geleidelik “wilde druiwe”, of “vrot bessies”, gedra het (Jesaja 5:2, 7; voetnoot in NW). Wilde druiwe is baie kleiner as gekweekte druiwe en het baie min vleis, want die pitte vul byna die hele druif. Wilde druiwe kan nie geëet word of gebruik word om wyn te maak nie en is dus ’n gepaste simbool van die afvallige nasie wat wetteloosheid in plaas van regverdigheid as vrugte voortgebring het. Die Landbouer aan wie die wingerdstok behoort het, was nie verantwoordelik vir hierdie waardelose vrugte nie. Jehovah het alles in sy vermoë gedoen om die nasie vrugbaar te maak. “Wat kan daar nog vir my wingerd gedoen word wat ek nie reeds daarin gedoen het nie?” het hy gevra.—Jesaja 5:4.

Aangesien die wingerdstok van Israel onvrugbaar was, het Jehovah hulle gewaarsku dat hy die beskermende muur wat hy rondom sy volk gebou het, sou afbreek. Hy sou nie meer sy figuurlike wingerdstok snoei of die grond daarvan skoffel nie. Die lentereën waarvan die oes afhanklik was, sou nie kom nie, en dorings en onkruid sou die wingerd oorgroei.—Jesaja 5:5, 6.

Moses het voorspel dat Israel se afvalligheid selfs hulle letterlike wingerde sou laat verwelk. “Wingerde sal jy plant en beslis bewerk, maar jy sal geen wyn drink en niks insamel nie, want die wurm sal dit opeet” (Deuteronomium 28:39). ’n Wingerdstok kan binne dae verwelk as ’n wurm in die hoofstam kom en dit van binne af wegvreet.—Jesaja 24:7.

“Die ware wingerdstok”

Jehovah het letterlike Israel met ’n wingerdstok vergelyk, en Jesus het ’n soortgelyke metafoor gebruik. Gedurende die Laaste Avondmaal, soos baie dit noem, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer” (Johannes 15:1). Jesus het sy dissipels vergelyk met die lote van die wingerdstok. Soos die lote van ’n letterlike wingerdstok hulle krag van die hoofstam kry, moet Christus se dissipels in eenheid met hom wees. “Sonder my kan julle hoegenaamd niks doen nie”, het Jesus gesê (Johannes 15:5). Boere kweek ’n wingerdstok vir die vrug daarvan, en Jehovah verwag van sy volk om geestelike vrug voort te bring. Dit behaag en verheerlik God, die Landbouer aan wie die wingerdstok behoort.—Johannes 15:8.

’n Letterlike wingerdstok se vrugbaarheid hang daarvan af dat dit gesnoei en skoongemaak word, en Jesus verwys na albei hierdie werksaamhede. ’n Wingerdarbeider sal dalk die wingerdstok twee keer per jaar snoei om die meeste vrugte te kry. Gedurende die wintermaande kan heelwat van die wingerdstok weggesnoei word. Die landbouer verwyder die meeste van die vorige jaar se groei. Hy sal waarskynlik drie of vier hooflote aan die stam los, met een of twee ranke aan elkeen van hierdie lote. Hierdie jong ranke, wat die vorige jaar se groei verteenwoordig, sal gedurende die volgende somer die vrugdraende lote word. Laastens, wanneer die wingerdarbeider dit klaar gesnoei het, verbrand hy die lote wat afgesnoei is.

Jesus beskryf hierdie intense snoeiproses soos volg: “As iemand nie in eenheid met my bly nie, word hy as ’n loot uitgegooi en verdroog; en die mense maak daardie lote bymekaar en werp hulle in die vuur, en hulle word verbrand” (Johannes 15:6). Hoewel die wingerdstok op hierdie stadium lyk of dit geen lote het nie, vind nog ’n selektiewe snoeiproses in die lente plaas.

“Elke loot in my wat nie vrug dra nie, neem hy weg”, het Jesus gesê (Johannes 15:2). Dit kan na ’n latere snoeiproses verwys, nadat die wingerdstok heelwat nuwe lote gekry het en die klein trossies druiwe duidelik gesien kan word. Die wingerdarbeider ondersoek elke nuwe loot sorgvuldig om te sien watter van hulle vrug dra en watter nie. As die lote wat geen vrug dra nie, aan die wingerdstok gelos word, sal dit voortgaan om voedingstowwe en water uit die stam te onttrek. Daarom snoei die wingerdarbeider hierdie vrugtelose lote af sodat die voeding van die wingerdstok net na die vrugdraende lote gaan.

Laastens verwys Jesus na die skoonmaakproses. “Elkeen wat vrug dra, maak hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra”, verduidelik hy (Johannes 15:2). Nadat die vrugtelose lote verwyder is, ondersoek die wingerdarbeider sorgvuldig elke loot wat vrug dra. Na aan die basis van die vrugdraende loot vind hy gewoonlik klein, nuwe uitloopsels wat ook verwyder moet word. As dit toegelaat word om te groei, sal dit vog uit die wingerdstok trek wat andersins noodsaaklike vog vir die druiwe kon voorsien het. Van die groot blare sal dalk ook verwyder word om die jong druiwe meer blootstelling aan sonlig te gee. Dit alles is nuttige stappe om die vrugbare lote te help om ’n oorvloed vrugte te dra.

‘Bly veel vrug dra’

Die figuurlike lote van “die ware wingerdstok” stel gesalfde Christene voor. Maar die “ander skape” moet ook bewys dat hulle Christus se produktiewe dissipels is (Johannes 10:16). Hulle kan ook “veel vrug” dra en hulle hemelse Vader verheerlik (Johannes 15:5, 8). Jesus se illustrasie van die ware wingerdstok herinner ons dat redding daarvan afhang dat ons in eenheid met Christus bly en goeie geestelike vrug dra. Jesus het gesê: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly.”—Johannes 15:10.

In die dae van Sagaria het God ’n getroue oorblyfsel van Israeliete beloof dat die land weer eens “die saad van vrede sal [geniet]; die wingerdstok sal sy vrug gee, en die aarde sal sy opbrengs lewer” (Sagaria 8:12). Die wingerdstok word ook gebruik om die vrede te beskryf wat God se volk gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal geniet. Miga het voorspel: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”—Miga 4:4.

[Voetnoot]

a Volgens die Encyclopaedia Judaica het Israelitiese landbouers wingerdstokke verkies wat rooiswart druiwe gedra het en as sorek bekend gestaan het, die soort wingerdstok waarna Jesaja 5:2 blykbaar verwys het. Hierdie druiwe het ’n soet rooiwyn gelewer.

[Prent op bladsy 18]

’n Wingerdstok wat kort tevore verwelk het

[Prent op bladsy 18]

Wintersnoei

[Prent op bladsy 18]

Afgesnoeide lote word verbrand