Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het Jesus bedoel toe hy vir Nikodemus gesê het: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens”?—Johannes 3:13.

Op daardie stadium was Jesus op die aarde en het hy nog nie opgevaar, of teruggekeer, hemel toe nie. Maar wat ons omtrent Jesus en die konteks van sy woorde weet, kan ons help om sy punt te snap.

Jesus het “uit die hemel neergedaal” in die sin dat hy voorheen saam met sy Vader in die geesteryk was, maar op die vasgestelde tyd is die Seun se lewe na die baarmoeder van Maria oorgeplaas, waarna Jesus as ’n mens gebore is (Lukas 1:30-35; Galasiërs 4:4; Hebreërs 2:9, 14, 17). Jesus sou ná sy dood as ’n geesskepsel opgewek word en terugkeer om saam met Jehovah te wees. Jesus kon dus kort voordat hy om die lewe gebring is, bid: “Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was.”—Johannes 17:5; Romeine 6:4, 9; Hebreërs 9:24; 1 Petrus 3:18.

Toe Jesus met Nikodemus, ’n Fariseër en ’n leermeester in Israel, gepraat het, het Jesus nog nie teruggekeer hemel toe nie. Natuurlik het geen ander mens toe al gesterf en na die geesteryk, na die hemel, opgevaar nie. Jesus self het gesê dat Johannes die Doper sonder gelyke was as ’n profeet van God, maar dat “’n mindere in die koninkryk van die hemele . . . groter as hy” is (Matteus 11:11). En die apostel Petrus het verduidelik dat selfs die getroue koning Dawid gesterf het en nog in sy graf is; Dawid het nie in die hemel opgevaar nie (Handelinge 2:29, 34). Daar was ’n rede waarom diegene wat voor Jesus gesterf het, soos Dawid, Johannes die Doper en ander manne van geloof, nie hemel toe gegaan het nie. Hulle het gesterf voordat Jesus die weg ingewy het, of dit moontlik gemaak het, vir mense om tot hemelse lewe opgewek te word. Die apostel Paulus het geskryf dat Jesus, soos ’n voorloper, ‘’n nuwe en lewende weg ingewy het’ tot die hemel.—Hebreërs 6:19, 20; 9:24; 10:19, 20.

Aangesien Jesus op daardie stadium nog nie gesterf het en opgewek is nie, wat het hy dan bedoel toe hy vir Nikodemus gesê het: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens”? (Johannes 3:13). Kom ons kyk na die konteks, of na wat Jesus met Nikodemus bespreek het.

Toe daardie Joodse heerser in die nag na Jesus gekom het, het Jesus vir hom gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Hierop het Nikodemus gevra: ‘Hoe kan dit wees? Hoe kan ’n mens ’n tweede keer gebore word?’ Hy het hierdie goddelike leerstelling dat iemand in die Koninkryk van God kan wees, nie begryp nie. Was daar ’n manier waarop hy hiervan kon leer? Wel, nie uit ’n menslike oogpunt nie; daar was geen mens wat hom hiervan kon leer nie, want niemand was al in die hemel en dus in ’n posisie om enigiets te verduidelik oor hoe om in die Koninkryk te kom nie. Die enigste uitsondering was Jesus. Hy kon Nikodemus en ander onderrig omdat Hy uit die hemel neergedaal het en bevoeg was om mense omtrent hierdie dinge te leer.

Die vraag oor hierdie teks lig ’n waardevolle punt toe aangaande die bestudering van God se Woord. Dit is nie redelik om te struikel oor ’n teks net omdat dit lyk asof dit moeilik is om te verstaan nie. Wat die Bybel op een plek sê, moet in die lig van ander tekste beskou word en daarmee ooreenstem. Daarbenewens kan die konteks—wat die situasie was of wat bespreek is—ons dikwels help om ’n redelike, logiese betekenis te vind vir ’n verwarrende teks.