Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Betroubare gids tot geluk

’n Betroubare gids tot geluk

’n Betroubare gids tot geluk

“DIE strewe na Geluk” is ’n basiese mensereg. Dit was die beskouing van die opstellers van die Onafhanklikheidsverklaring van die Verenigde State van Amerika. Maar om ’n doel na te streef, is nie dieselfde as om dit te bereik nie. Talle jongmense streef loopbane in die vermaaklikheids- en sportwêreld na, maar van hoeveel weet jy wat werklik die sukses behaal het wat hulle so begeer het? “Jy sal waarskynlik nie die paal haal nie”, sê ’n beroemde sanger wat vertroud is met die stryd om ’n suksesvolle musikant te word.

As dit is hoe jy oor die strewe na geluk voel, is daar vir jou goeie rede om moed te skep. As jy geluk op die regte manier nastreef, sal jy dit vind. Waarom kan ons so sê? Die vorige artikel het verwys na “die gelukkige God”, Jehovah (1 Timoteus 1:11). In die Bybel voorsien God leiding sodat jou strewe na geluk nie in teleurstelling eindig nie. Jehovah kan jou help om algemene oorsake van droefheid te oorkom. Kyk byvoorbeeld na die vertroosting wat hy jou bied wanneer ’n geliefde sterf.

Wanneer ’n geliefde sterf

Kan enigiets goeds oor die dood gesê word? Die dood skeur ouers weg van kinders en kinders van ouers. Dit skei intieme vriende en laat hegte gemeenskappe onveilig voel. Wanneer die dood toeslaan, kan ’n gelukkige gesin deur droefheid oorweldig word.

Niemand hoef jou te vertel dat die dood ’n tragedie is nie. Sommige mense ontken egter hierdie werklikheid en beeld die dood as ’n seën uit. Let op wat gebeur het nadat die orkaan Katrina die Golf van Mexiko in Augustus 2005 getref het. By die begrafnis van een slagoffer het die predikant gesê: “Katrina het hom nie doodgemaak nie. God het hom huis toe geroep.” By ’n ander geleentheid het ’n welmenende hospitaalklerk vir ’n dogter gesê om nie bekommerd te wees nie, want God het haar ma hemel toe geneem. Die dogter het uitgeroep: “Hoekom, hoekom moes hy haar van my af wegneem?”

Dit is duidelik dat sulke wanopvattings oor die dooies dikwels nie die bedroefdes vertroos nie. Waarom nie? Omdat hierdie idees nie die waarheid omtrent die dood verteenwoordig nie. Nog erger, dit beeld God uit as iemand wat geliefdes op ’n verskriklike, pynlike wyse van familie en vriende af wegruk. God word nie as ’n bron van vertroosting uitgebeeld nie, maar eerder as ’n skurk in die tragedie van die dood. Maar God se Woord vertel ons die waarheid omtrent die dood.

Die Bybel noem die dood ’n vyand. Dit vergelyk die dood met ’n koning wat oor die mensdom heers (Romeine 5:17; 1 Korintiërs 15:26). Die dood is so ’n magtige vyand dat geen mens daarteen kan standhou nie, en elke geliefde wat sterf, is net nog een van die dood se tallose slagoffers. Hierdie Bybelwaarheid toon duidelik waarom ons droefheid en ’n gevoel van hulpeloosheid ervaar wanneer ’n geliefde sterf. Dit bevestig dat hierdie gevoelens normaal is. Maar gebruik God wel die vyand, die dood, om ons geliefdes hemel toe te neem? Laat die Bybel hierdie vraag beantwoord.

Prediker 9:5, 10 sê: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks . . . Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie.” Wat is Sjeool? Dit is die gemeenskaplike graf van die mensdom waarheen mense gaan wanneer hulle sterf. In die graf is die dooies heeltemal onbedrywig, hulle kan glad nie beweeg, voel of dink nie. Dit is asof hulle diep slaap. a Die Bybel toon dus duidelik dat God nie ons afgestorwe dierbares neem om saam met hom in die hemel te wees nie. Weens die gevolge van die dood is hulle leweloos in die graf.

Jesus het hierdie waarheid bevestig nadat sy vriend Lasarus gesterf het. Jesus het die dood met slaap vergelyk. As Lasarus hemel toe gegaan het om met God die Almagtige te wees, sou dit nie goedhartig van Jesus gewees het om hom na die aarde terug te bring om uiteindelik weer te sterf nie. Die geïnspireerde verslag sê dat Jesus in ’n harde stem by die graf gesê het: “Lasarus, kom uit!” Die Bybel sê verder: “Die man wat dood was, het uitgekom.” Lasarus het weer begin lewe. Jesus het geweet dat Lasarus nooit die aarde verlaat het nie. Hy het leweloos in ’n graf gelê.—Johannes 11:11-14, 34, 38-44.

Hierdie gebeurtenis wat in die Bybel opgeteken is, help ons verstaan dat God nie die dood gebruik om mense van die aarde na die hemel oor te plaas nie. Die wete dat God nie die oorsaak van ons droefheid is nie, kan ons dus tot hom aantrek. Ons kan ook die vertroue hê dat hy ten volle begryp watter droefheid en skade die vyand die dood vir ons veroorsaak. En die Bybelwaarheid omtrent die toestand van die dooies bewys dat die dooies nie in ’n helse vuur of vaevuur ly nie, maar dat hulle leweloos in die graf is. Die herinnering aan ons geliefdes hoef dus nie bederf te word deur ’n weersin in God of vrees vir die onbekende nie. Wat meer is, Jehovah gee ons verdere vertroosting in die Bybel.

Hoop bring geluk mee

Die tekste wat ons bespreek het, gee ons hoop, ’n noodsaaklike deel van ware geluk. Die woord “hoop” soos dit in die Bybel gebruik word, impliseer die versekerde verwagting van iets goeds. Om te sien hoe hoop nou reeds geluk kan meebring, kan ons weer kyk na die verslag van hoe Jesus Lasarus opgewek het.

Daar is minstens twee redes waarom Jesus hierdie wonderwerk verrig het. Een rede was om die hartseer van Marta, Maria en bedroefde vriende weg te neem. Hulle kon weer eens die geselskap van hulle geliefde geniet. Maar Jesus het ’n tweede, belangriker rede aan Marta genoem: “Het ek nie vir jou gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien as jy glo nie?” (Johannes 11:40). The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips, vertaal die laaste frase as “die wonder van wat God kan doen”. Toe Jesus Lasarus opgewek het, het hy ’n voorskou gegee van wat Jehovah God in die toekoms kan en sal doen. Hier is nog besonderhede oor hierdie “wonder van wat God kan doen”.

In Johannes 5:28, 29 het Jesus gesê: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom.” Dit beteken dat al die dooies in Sjeool, insluitende ons geliefdes, weer sal lewe. Handelinge 24:15 vertel ons meer omtrent hierdie wonderlike gebeurtenis en sê dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees”. Selfs “die onregverdiges”, baie wat Jehovah nie geken en gedien het nie, sal dus in die toekoms ’n geleentheid hê om God se guns te verkry.

Waar sal hierdie opstanding plaasvind? Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” Dink aan wat dit beteken! Familie en vriende wat deur die dood geskei is, sal mekaar weer hier op die aarde sien. Wanneer jy dink aan die goeie tye wat jy kan geniet saam met dié wie se vriendskap eens vir jou kosbaar was, is dit net redelik dat jou hart sal oorloop van geluk.

Jehovah wil hê dat jy gelukkig moet wees

Ons het na twee maniere gekyk waarop Jehovah jou geluk kan vergroot ondanks jou probleme. Eerstens voorsien hy kennis en riglyne deur middel van die Bybel sodat jy teëspoed met welslae die hoof kan bied. Bybelraad help ons nie net om die droefheid te verwerk wat deur die dood veroorsaak word nie, maar ook om ekonomiese en gesondheidsprobleme die hoof te bied. Dit kan jou die krag gee om maatskaplike onregte en politieke onrus te verduur. En as jy die Bybel se riglyne in jou lewe toepas, kan dit jou help om ander persoonlike probleme te hanteer.

Tweedens verkry jy, deur ’n studie van die Bybel, ’n hoop wat baie beter is as enigiets wat die mensdom jou kan bied. Die opstanding van vriende en familie is deel van die hoop wat in die Bybel uiteengesit word. Openbaring 21:3, 4 gee meer besonderhede: “God self sal by [die mensdom] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Dit beteken dat enigiets in jou lewe wat vir jou droefheid veroorsaak, binnekort vir ewig tot die verlede sal behoort. Wat die Bybel belowe, sal bewaarheid word, en jy kan by die vervulling daarvan baat vind. Die blote wete dat beter tye voorlê, bring verligting mee. Die wete dat jy nie oneindige lyding ná die dood sal ervaar nie, is ’n rede om gelukkig te wees.

Ter toeligting: Etlike jare gelede het Maria gesien hoe haar man weens kanker ’n pynlike dood sterf. Sy het nog nie eers oor hierdie skok gekom nie toe sy en haar drie dogters hulle huis as gevolg van finansiële probleme verloor het. Twee jaar later het Maria uitgevind dat sy kanker het. Sy het twee groot operasies ondergaan en verduur elke dag hewige pyn. Ondanks hierdie probleme het sy so ’n positiewe uitkyk dat sy ander wil bemoedig. Hoe slaag sy daarin om gelukkig te bly?

Maria sê: Wanneer ek ’n probleem het, probeer ek om nie te veel aan myself te dink nie. Ek vermy dit om vrae te vra soos: ‘Waarom gebeur dit met my? Waarom moet ek so ly? Waarom het ek siek geword?’ Negatiewe denke verbruik energie. Ek gebruik eerder my energie om Jehovah te dien en ander te help. Dit maak my gelukkig.”

Watter rol speel hoop in Maria se lewe? Sy het haar hoop gevestig op die toekoms wanneer Jehovah siekte en ander probleme van die mensdom uit die weg sal ruim. Wanneer sy vir behandeling hospitaal toe gaan, praat sy oor hierdie hoop met ander kankerpasiënte wat moontlik neerslagtig is. Hoe belangrik is hoop vir Maria? Sy sê: “Ek dink dikwels aan wat die Bybel sê in Hebreërs 6:19, waar Paulus hoop beskryf as ’n anker vir die siel. Daarsonder sal ’n mens ronddryf soos ’n boot wat nie tydens ’n storm geanker is nie. Maar as jy vas is aan daardie anker, sal jy veilig wees ondanks die stormagtige probleme waarvoor jy te staan kom.” Hierdie “hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, . . . beloof het”, help Maria om gelukkig te bly. Dit kan dieselfde vir jou doen.—Titus 1:2.

Jy kan, deur middel van ’n studie van die Bybel, ware geluk vind ondanks jou probleme. Maar jy het moontlik vrae oor die praktiese aspekte hiervan. Jehovah se Getuies sal jou met graagte die skriftuurlike antwoorde toon wat jy moet hê om werklik gelukkig te wees. Terwyl jy wag op die vervulling van die hoop wat Jehovah bied, kan jy onder diegene wees wat soos volg beskryf word: “Verheuging en blydskap sal hulle verkry, en droefheid en gesug sal wegvlug.”—Jesaja 35:10.

[Voetnoot]

a Die Encyclopædia Britannica (2003) beskryf Sjeool as “’n plek waar daar nie pyn of genot, straf of beloning is nie”.

[Prent op bladsy 5]

Net Bybelwaarheid kan droefheid verlig

[Prent op bladsy 7]

Die Bybel se hoop van die opstanding kan tot geluk bydra