Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die beste slot wat ek my kon voorstel”

“Die beste slot wat ek my kon voorstel”

“Die beste slot wat ek my kon voorstel”

’N HOËRSKOOLONDERWYSER in Spanje het geskryf: “Jehovah se Getuies openbaar al meer as honderd jaar lank ware eenheid, onberispelike eerlikheid en, bowenal, onwankelbare geloof.” Wat het hierdie onderwyser—’n selferkende ateïs—beweeg om so iets te sê?

Dit het alles begin toe Noemí, ’n hoërskoolleerling en een van Jehovah se Getuies, ’n opstel moes skryf as deel van die eindeksamen van haar skoolloopbaan. Sy het besluit om te skryf oor die tema: “Die pers driehoeke onder die Nazi-bewind.”

Waarom het sy daardie tema gekies? Noemí verduidelik: “Aangesien ’n onderwyser my werk sou nasien, het ek gedink dat ek van hierdie geleentheid gebruik kon maak om vir hom te getuig. Die verhaal van hoe Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland by hulle beginsels gebly het, het my hart geraak. Ek was daarvan oortuig dat dit ander ook sou beïndruk.”

Noemí se werk het ’n impak op baie meer mense gehad as wat sy haar ooit sou kon voorstel. Op 5 Oktober 2002 het haar opstel ’n prys gewen in ’n landwye kompetisie vir navorsing oor wetenskap en die geesteswetenskappe. Die pryse vir hierdie kompetisie word toegeken deur ’n paneel beoordelaars, wat bestaan uit 20 akademici van toonaangewende Spaanse universiteite.

Noemí het haar toekenning van Pilar del Castillo, die Spaanse minister van onderwys, ontvang. Noemí het die geleentheid aangegryp om die minister die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault te gee. Die minister het die geskenk geredelik aanvaar.

In Noemí se tuisdorp Manresa het die plaaslike koerant ’n berig geskryf oor haar akademiese prestasie en ’n oorsig gegee van die inhoud van haar opstel. Intussen het haar skoolhoof haar gevra vir ’n kopie van haar werk sodat dit ingesluit kon word in ’n program om die hoërskool se 75ste herdenking te vier.

“Dit is die beste slot wat ek my kon voorstel vir my hoërskoolloopbaan”, sê Noemí. “Ek was so bly toe ek die woorde gelees het wat my onderwyser, mnr. Jorge Tomás Calot, as deel van sy inleiding tot my verslag geskryf het:

“‘Ek is ’n ateïs, maar ek sou graag heeltemal oortuig wou wees van die bestaan van hierdie Opperwese, wat sy aanbidders besiel om die opregste “naasteliefde” te betoon.’”