Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soeke na verligting

Die soeke na verligting

Die soeke na verligting

“ONKUNDE is nooit beter as kennis nie”, het Laura Fermi, vrou van die beroemde fisikus Enrico Fermi, gesê. Party stem moontlik nie hiermee saam nie en voer aan dat wat ’n mens nie weet nie, jou nie sal seermaak nie. Die meeste mense meen egter dat die stelling waar is, nie net op die gebied van wetenskaplike navorsing nie, maar ook op ander gebiede van die lewe. Onkunde, in die sin van ’n gebrek aan kennis van die ware toedrag van sake, het baie mense eeue lank in intellektuele, sedelike en geestelike duisternis laat rondtas.—Efesiërs 4:18.

Om dié rede soek denkende mense na verligting. Hulle wil weet waarom ons hier is en waarheen ons op pad is. Hulle soeke het hulle in talle verskillende rigtings gelei. Kom ons kyk kortliks na ’n paar hiervan.

Deur godsdiens?

Volgens Boeddhistiese oorlewering was Siddharta Gautama, die stigter van Boeddhisme, diep verontrus oor menselyding en die dood. Hy het Hindoe-godsdiensonderrigters gevra om hom te help om “die weg van waarheid” te vind. Party het joga en uiterste selfonthouding aanbeveel. Gautama het uiteindelik ’n proses van intense persoonlike meditasie as die weg tot ware verligting gekies.

Ander het breinwysigende middels in hulle soeke na verligting gebruik. Vandag beskou lidmate van die Amerikaanse Indianekerk byvoorbeeld pejote—’n kaktus wat ’n hallusinogeniese bestanddeel bevat—as ’n “openbaarder van verborge kennis”.

Die 18de-eeuse Franse filosoof Jean-Jacques Rousseau het geglo dat enige opregte soeker ’n persoonlike geestelike openbaring van God af kan ontvang. Hoe? Deur te luister na “wat God vir die hart sê”. Dan sal jou gevoel oor dingedit wat jou emosies en gewete jou vertel—“’n betroubaarder gids in hierdie ontsaglike doolhof van menslike opvattings” word, het Rousseau gesê.—History of Western Philosophy.

Deur die krag van die rede?

Baie van Rousseau se tydgenote het skerp verskil met daardie soort godsdienstige benadering. ’n Mede-Fransman, Voltaire, was byvoorbeeld van mening dat godsdiens mense beslis nie verlig nie, maar hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik was dat Europa eeue lank in onkunde, bygelowigheid en onverdraagsaamheid gedompel is gedurende die tydperk wat party geskiedkundiges die Donker Eeue noem.

Voltaire het ’n lid van ’n Europese rasionalistiese beweging geword wat as die Verligting bekend gestaan het. Die aanhangers daarvan het teruggekeer tot die idees van die eertydse Grieke—naamlik dat die menslike rede en wetenskaplike navorsing die sleutels tot ware verligting is. ’n Ander lid van die rasionalistiese beweging, Bernard de Fontenelle, was van mening dat die menslike rede op sigself die mensdom sou lei tot “’n eeu wat by die dag al hoe meer verlig sal word sodat alle vorige eeue in vergelyking daarmee in die duisternis sal verdwyn”.—Encyclopædia Britannica.

Dit is maar net ’n paar van die talle teenstrydige idees oor hoe verligting gevind kan word. Is daar werklik ’n ‘betroubare gids’ wat ons kan help in ons soeke na waarheid? Let op wat die volgende artikel oor die betroubare bron van verligting sê.

[Prente op bladsy 3]

Gautama (Boeddha), Rousseau en Voltaire het verskillende rigtings gevolg in hulle soeke na verligting