Haar geloof moedig ander aan
Haar geloof moedig ander aan
TOE Silvia in Desember 1992 gebore is, het sy na ’n blakend gesonde dogtertjie gelyk. Maar teen tweejarige ouderdom is Silvia met sistiese fibrose gediagnoseer, ’n ongeneeslike siekte wat verergerende asemhalings- en spysverteringsprobleme veroorsaak. Silvia se siekte vereis dat sy elke dag 36 pille drink, nebuleerders gebruik en fisioterapie ontvang. Aangesien haar longfunksie net 25 persent van die normale is, moet sy altyd aan ’n suurstoftoestel gekoppel wees, selfs wanneer sy uitgaan.
“Dit is eintlik verstommend om te sien hoe Silvia hierdie siekte verwerk”, sê Teresa, haar ma. “Danksy haar kennis van die Skrif het sy sterk geloof. Hierdie geloof help haar om haar droefheid en ongemak te hanteer. Sy dink altyd aan Jehovah se belofte van ’n nuwe wêreld, waar almal wat siek is, genees sal word” (Openbaring 21:4). Wanneer haar gesinslede soms mismoedig voel, beur Silvia se moedige glimlag hulle op. Sy sê vir haar ouers en haar broer: “Die lewe in die nuwe wêreld sal vergoed vir al die lyding wat ons nou deurmaak.”
Silvia praat gereeld met ander oor die goeie nuus van God se Woord, en die mense met wie sy praat, kan sien dat haar gesig geluk en vreugde uitstraal. Die lede van die Christengemeente in die Kanariese eilande waar sy vergaderinge bywoon, geniet haar kommentare en haar deelname. Silvia hou daarvan om ná elke vergadering met haar Christenbroers en -susters te gesels. Haar uitgaande, opgewekte persoonlikheid maak haar gelief by almal in die gemeente.
“Silvia leer ons ’n baie belangrike les”, sê haar pa, Antonio. “Al het ons probleme, is die lewe nog steeds ’n gawe van God, en ons moet dit waardeer.” Soos Silvia, sien al God se knegte—jonk en oud—gretig uit na die tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.
[Prent op bladsy 31]
Silvia lees ’n Bybelvers, terwyl haar ma die suurstoftoestel vashou