Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle is in God se uitverkore nasie gebore

Hulle is in God se uitverkore nasie gebore

Hulle is in God se uitverkore nasie gebore

“Vir jou het Jehovah jou God uitgekies om sy volk te word.”—DEUTERONOMIUM 7:6.

1, 2. Watter magtige dade het Jehovah ten behoewe van sy volk verrig, en in watter verhouding het die Israeliete met God getree?

 IN 1513 v.G.J. het Jehovah sy knegte op die aarde in ’n nuwe verhouding met hom laat kom. Daardie jaar het hy ’n wêreldmoondheid verneder en die Israeliete uit slawerny verlos. Sodoende het hy hulle Redder en Eienaar geword. Voordat God opgetree het, het hy vir Moses gesê: “Sê vir die kinders van Israel: ‘Ek is Jehovah, en ek sal julle beslis onder die las van die Egiptenaars uitlei en julle van hulle slawerny verlos, en ek sal julle inderdaad terugeis met ’n uitgestrekte arm en met groot strafgerigte. En ek sal julle beslis as my volk aanneem, en ek sal inderdaad julle God wees.’”—Eksodus 6:6, 7, voetnote in NW; Eks 15:1-7, 11.

2 Kort ná hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in ’n verbondsverhouding met hulle God, Jehovah, getree. Jehovah sou voortaan ’n georganiseerde volk, ’n nasie, op die aarde hê eerder as om met individue, families of stamgroepe te handel (Eksodus 19:5, 6; 24:7). Hy het sy volk van wette voorsien wat hulle maatskaplike orde en, nog belangriker, hulle aanbidding gereguleer het. Moses het vir hulle gesê: “Watter groot nasie het gode wat so naby hulle is soos Jehovah ons God elke keer wanneer ons hom aanroep? En watter groot nasie het sulke regverdige voorskrifte en regterlike beslissings soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”—Deuteronomium 4:7, 8.

In ’n nasie van getuies gebore

3, 4. Wat was ’n belangrike rede vir Israel se bestaan as ’n nasie?

3 Eeue later het Jehovah die Israeliete deur sy profeet Jesaja herinner aan ’n belangrike rede vir hulle bestaan as ’n nasie. Jesaja het gesê: “Só het Jehovah gesê, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: ‘Moenie bang wees nie, want ek het jou teruggekoop. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is myne. Want ek is Jehovah jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. . . . Bring my seuns van ver af, en my dogters van die einde van die aarde af, almal wat na my naam genoem word en wat ek tot my heerlikheid geskep het, wat ek geformeer het, ja, wat ek gemaak het. Julle is my getuies’, sê Jehovah, ‘ja, my kneg wat ek uitverkies het, . . . die volk wat ek vir my geformeer het, sodat hulle my lof sal verkondig.’”—Jesaja 43:1, 3, 6, 7, 10, 21.

4 As ’n volk wat na Jehovah se naam genoem is, sou die Israeliete voor die nasies dien as getuies van sy soewereiniteit. Hulle sou ’n volk wees wat ‘tot Jehovah se heerlikheid geskep is’. Hulle moes ‘Jehovah se lof verkondig’, sy wonderlike reddingsdade oorvertel en sodoende sy heilige naam verheerlik. Kortom, hulle moes ’n nasie van getuies vir Jehovah wees.

5. In watter opsigte was Israel ’n toegewyde nasie?

5 In die 11de eeu v.G.J. het koning Salomo te kenne gegee dat Jehovah Israel ’n afgesonderde nasie gemaak het. In ’n gebed tot Jehovah het hy gesê: “U het hulle afgesonder as u erfdeel uit al die volke van die aarde” (1 Konings 8:53). Individuele Israeliete het ook ’n spesiale verhouding met Jehovah gehad. Vroeër het Moses vir hulle gesê: “Julle is kinders van Jehovah julle God. . . . Want jy is ’n heilige volk vir Jehovah jou God” (Deuteronomium 14:1, 2). Dit was dus nie vir jong Israeliete nodig om hulle lewe aan Jehovah toe te wy nie. Hulle is gebore as lede van God se toegewyde volk (Psalm 79:13; 95:7). Elke nuwe geslag is onderrig in die wette van Jehovah en was verplig om dit te gehoorsaam op grond van die verbond wat Israel met Jehovah verbind het.—Deuteronomium 11:18, 19.

Vry om te kies

6. Watter keuse moes individuele Israeliete maak?

6 Hoewel die Israeliete in ’n toegewyde nasie gebore is, moes elkeen persoonlik besluit om God te dien. Voordat hulle in die Beloofde Land ingegaan het, het Moses vir hulle gesê: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat ek jou die lewe en die dood voorgehou het, die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef; want hy is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy in die land kan woon wat Jehovah aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om aan hulle te gee” (Deuteronomium 30:19, 20). Gevolglik moes die Israeliete as individue kies om Jehovah lief te hê, na sy stem te luister en hom aan te kleef. Aangesien die Israeliete wilsvryheid gehad het, sou hulle die gevolge van hulle keuse moes dra.—Deuteronomium 30:16-18.

7. Wat het ná die dood van Josua se geslag gebeur?

7 Die tydperk van die rigters lig die gevolge van getrouheid en ontrouheid goed toe. Net voor daardie tydperk het die Israeliete die goeie voorbeeld van Josua gevolg en is hulle geseën. “Die volk het Jehovah gedien al die dae van Josua en al die dae van die ouer manne wie se dae ná dié van Josua voortgeduur het en wat al Jehovah se groot werke gesien het wat hy vir Israel gedoen het.” Maar ’n ruk ná Josua se dood “het ’n ander geslag begin opstaan wat nie Jehovah of die werk wat hy vir Israel gedoen het, geken het nie. En die kinders van Israel het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah” (Rigters 2:7, 10, 11). Die opkomende, onervare geslag het blykbaar nie waardering gehad vir hulle erfenis as lede van ’n toegewyde volk, ten behoewe van wie hulle God, Jehovah, in die verlede magtige dade gedoen het nie.—Psalm 78:3-7, 10, 11.

Die nalewing van hulle toewyding

8, 9. (a) Watter reëling het die Israeliete die geleentheid gegee om te toon dat hulle hulle toewyding aan Jehovah naleef? (b) Wat het diegene wat vrywillige offers gebring het, vir hulle verkry?

8 Jehovah het sy volk geleenthede gegee om hulle toewyding as ’n nasie na te leef. Sy Wet het byvoorbeeld voorsiening gemaak vir ’n stelsel van offerandes waarvan party verpligtend was, terwyl ander vrywillig was (Hebreërs 8:3). Hierdie offerandes het brandoffers, graanoffers en gemeenskapsoffers ingesluit wat vrywillig was—gawes wat aan Jehovah gegee is om sy guns te wen en dankbaarheid te betoon.—Levitikus 7:11-13.

9 Daardie vrywillige offerandes het Jehovah behaag. Daar is van die brandoffer en van die graanoffer gesê dat dit “’n rustige geur aan Jehovah” was (Levitikus 1:9; 2:2). In die gemeenskapsoffer is die bloed en die vet van die dier aan Jehovah geoffer, terwyl die priesters en die persoon wat die offer gebring het, van die vleis geëet het. Dit was dus ’n simboliese maaltyd wat gedui het op ’n vreedsame verhouding met Jehovah. Die Wet het gesê: “En as julle ’n gemeenskapsoffer aan Jehovah offer, moet julle dit offer om goedkeuring vir julle te verkry” (Levitikus 19:5). Hoewel alle Israeliete as gevolg van hulle geboorte aan Jehovah toegewy was, het dié wat hulle toewyding betekenisvol gemaak het deur vrywillige offers te bring, ‘goedkeuring vir hulle verkry’, en hulle is ryklik geseën.—Maleagi 3:10.

10. Hoe het Jehovah sy misnoeë in die dae van Jesaja en van Maleagi te kenne gegee?

10 Maar die toegewyde nasie Israel was dikwels ontrou aan Jehovah. Deur sy profeet Jesaja het Jehovah vir hulle gesê: “Jy het nie vir my die skape van jou heelbrandoffers gebring nie, en met jou offerandes het jy my nie verheerlik nie. Ek het jou nie gedwing om my met ’n gawe te dien nie” (Jesaja 43:23). Daarbenewens het offers wat nie gewillig en uit liefde gebring is nie, geen waarde in Jehovah se oë gehad nie. Byvoorbeeld, drie eeue ná Jesaja, in die dae van die profeet Maleagi, het die Israeliete diere geoffer wat gebreke gehad het. Gevolglik het Maleagi vir hulle gesê: “‘Ek het geen behae in julle nie’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘en in die offergawe uit julle hand het ek geen welgevalle nie.‘ . . . ‘Julle het iets gebring wat weggeruk is, en die kreupele en die sieke; ja, julle het dit as ’n gawe gebring. Kan ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem?’ het Jehovah gesê.”—Maleagi 1:10, 13; Amos 5:22.

Verwerp as ’n toegewyde nasie

11. Watter geleentheid het Israel gekry?

11 Toe die Israeliete ’n nasie geword het wat aan Jehovah toegewy is, het hy hulle belowe: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my. En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word” (Eksodus 19:5, 6). Die beloofde Messias sou in hulle midde verskyn en hulle die eerste geleentheid gee om lede van God se Koninkryksregering te word (Genesis 22:17, 18; 49:10; 2 Samuel 7:12, 16; Lukas 1:31-33; Romeine 9:4, 5). Maar die oorgrote meerderheid van die nasie Israel het nie hulle toewyding nageleef nie (Matteus 22:14). Hulle het die Messias verwerp en hom uiteindelik doodgemaak.—Handelinge 7:51-53.

12. Watter woorde van Jesus toon dat Israel as Jehovah se toegewyde nasie verwerp is?

12 ’n Paar dae voor Jesus se dood het hy vir die Joodse godsdiensleiers gesê: “Het julle nooit in die Skrif gelees nie: ‘Die steen wat die bouers verwerp het, is die een wat die hoofhoeksteen geword het. Jehovah het dit teweeggebring, en dit is wonderlik in ons oë’? Daarom sê ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:42, 43). Jesus het getoon dat Jehovah hulle verwerp het as ’n nasie wat aan Hom toegewy is, en het gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat.”—Matteus 23:37, 38.

’n Nuwe toegewyde nasie

13. Watter profetiese verklaring het Jehovah in die dae van Jeremia gedoen?

13 In die tyd van die profeet Jeremia het Jehovah iets nuuts in verband met sy volk voorspel. Ons lees: “‘Kyk! Daar kom dae’, is die woord van Jehovah, ‘en ek sal met die huis van Israel en met die huis van Juda ’n nuwe verbond sluit; nie soos die verbond wat ek met hulle voorvaders gesluit het op die dag toe ek hulle hand gevat het om hulle uit Egipteland uit te lei nie, “my verbond wat hulle verbreek het, hoewel ek hulle eggenoot-eienaar was”, is die woord van Jehovah.’ ‘Want dit is die verbond wat ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit’, is die woord van Jehovah. ‘Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word.’”—Jeremia 31:31-33.

14. Wanneer en op grond waarvan het Jehovah se nuwe toegewyde nasie in aansyn gekom? Identifiseer daardie nuwe nasie.

14 Die grondslag vir hierdie nuwe verbond is gelê toe Jesus in 33 G.J. gesterf en later die waarde van sy vergote bloed vir sy Vader aangebied het (Lukas 22:20; Hebreërs 9:15, 24-26). Met die uitstorting van die heilige gees op Pinkster 33 G.J. en die geboorte van ’n nuwe nasie, “die Israel van God”, het die nuwe verbond in werking getree (Galasiërs 6:16; Romeine 2:28, 29; 9:6; 11:25, 26). Die apostel Petrus het aan gesalfde Christene geskryf en gesê: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het. Want julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk” (1 Petrus 2:9, 10). Die spesiale verhouding tussen Jehovah en vleeslike Israel het tot ’n einde gekom. In 33 G.J. is Jehovah se guns verskuif van aardse Israel na geestelike Israel, die Christengemeente, ‘’n nasie wat die vrugte [van die Messiaanse Koninkryk] voortbring’.—Matteus 21:43.

Individuele toewyding

15. Watter doop het Petrus sy toehoorders op Pinksterdag 33 G.J. aangespoor om te ondergaan?

15 Ná Pinkster 33 G.J. moes elke persoon, hetsy Jood of nie-Jood, hom as ’n individu aan God toewy en “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop word (Matteus 28:19). a Op Pinkster het die apostel Petrus vir ontvanklike Jode en proseliete gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes, en julle sal die heilige gees as vrye gawe ontvang” (Handelinge 2:38). Hierdie Jode en proseliete moes, deur gedoop te word, toon dat hulle nie net hulle lewe aan Jehovah toegewy het nie, maar ook dat hulle Jesus aangeneem het as die middel waardeur Jehovah hulle sondes sou vergewe. Hulle moes hom erken as Jehovah se Hoëpriester en as hulle Leier, die Hoof van die Christengemeente.—Kolossense 1:13, 14, 18.

16. Hoe het mense met die regte gesindheid—Jode en nie-Jode—in Paulus se dag deel geword van geestelike Israel?

16 Jare later het die apostel Paulus gesê: “Ek [het] eers aan dié in Damaskus sowel as aan dié in Jerusalem en in die hele land van Judea en aan die nasies die boodskap gebring dat hulle berou moet hê en hulle tot God moet keer deur werke te doen wat by berou pas” (Handelinge 26:20). Nadat Paulus mense—Jode en nie-Jode—oortuig het dat Jesus die Christus, die Messias, is, het hy hulle gehelp om tot toewyding en doop te vorder (Handelinge 16:14, 15, 31-33; 17:3, 4; 18:8). Deur hulle tot God te keer, het hierdie nuwe dissipels lede van geestelike Israel geword.

17. Watter verseëlingswerk is byna voltooi, en watter ander werk gaan vinnig voort?

17 Vandag is die finale verseëling van die oorblywende geestelike Israeliete naby. Wanneer dit voltooi is, sal die “vier engele” wat die winde van verwoesting van “die groot verdrukking” terughou, beveel word om dit los te laat. Intussen gaan die insameling van die “groot menigte”, wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, vinnig voort. Hierdie “ander skape” kies uit vrye wil om geloof te beoefen in “die bloed van die Lam” en word gedoop as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah (Openbaring 7:1-4, 9-15; 22:17; Johannes 10:16; Matteus 28:19, 20). Onder hulle is baie jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is. As jy een van daardie jongmense is, sal jy daarin belangstel om die volgende artikel te lees.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring, 15 Mei 2003, bladsye 30-1.

Ter hersiening

• Waarom was dit nie vir jong Israeliete nodig om hulle as individue aan Jehovah toe te wy nie?

• Hoe kon die Israeliete toon dat hulle hulle toewyding naleef?

• Waarom het Jehovah Israel as sy toegewyde nasie verwerp, en hoe is dit vervang?

• Wat moes Jode sowel as nie-Jode van Pinkster 33 G.J. af doen om lede van geestelike Israel te word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Jong Israeliete is as lede van God se uitverkore nasie gebore

[Prent op bladsy 23]

Elke Israeliet moes self besluit om God te dien

[Prent op bladsy 23]

Vrywillige offers het Israeliete die geleentheid gegee om hulle liefde vir Jehovah te toon

[Prent op bladsy 25]

Ná Pinkster 33 G.J. moes Christus se volgelinge hulle as individue aan God toewy en dit deur doop simboliseer