Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense, kies om Jehovah te dien

Jongmense, kies om Jehovah te dien

Jongmense, kies om Jehovah te dien

“Kies . . . vandag vir julle wie julle sal dien.”—JOSUA 24:15.

1, 2. Watter verkeerde soorte doop is in die Christendom beoefen?

 “LAAT [kinders] Christene word wanneer hulle in staat is om Christus te ken.” ’n Skrywer met die naam Tertullianus het hierdie woorde aan die einde van die tweede eeu G.J. geskryf. Hy het beswaar gemaak teen kinderdoop, ’n gebruik wat in sy dag in die afvallige Christendom begin posvat het. In stryd met Tertullianus en die Bybel het die kerkvader Augustinus beweer dat doop die smet van die erfsonde verwyder en dat babas wat ongedoop sterf, verdoem is. Daardie opvatting het die gebruik om babas so gou as moontlik ná hulle geboorte te doop, bevorder.

2 Baie hoofstroomkerke van die Christendom doop nog steeds pasgebore babas. Daarbenewens het heersers en godsdiensleiers van sogenaamd Christelike nasies deur die geskiedenis heen verowerde “heidene” verplig om gedoop te word. Maar kinderdoop en gedwonge doop van volwassenes het geen grondslag in die Bybel nie.

Vandag geen outomatiese toewyding nie

3, 4. Wat kan kinders van toegewyde ouers help om hulle vrywillig toe te wy?

3 Die Bybel toon dat God jong kinders as heilig beskou, al is net een van hulle ouers ’n getroue Christen (1 Korintiërs 7:14). Maak dit sulke kinders toegewyde knegte van Jehovah? Nee. Kinders wat grootgemaak word deur ouers wat aan Jehovah toegewy is, ontvang egter opleiding wat daardie kinders kan help om hulle vrywillig aan Jehovah toe te wy. Wyse koning Salomo het geskryf: “Bewaar, o my seun, die gebod van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie. . . . Wanneer jy rondloop, sal dit jou lei; wanneer jy gaan lê, sal dit oor jou wag hou; en wanneer jy wakker geword het, sal dit al sy aandag aan jou gee. Want die gebod is ’n lamp en die wet is ’n lig, en die teregwysings van dissipline is die weg van die lewe.”—Spreuke 6:20-23.

4 Die leiding van Christenouers kan ’n beskerming wees vir jongmense, mits hulle bereid is om dit te volg. Salomo het ook gesê: “’n Wyse seun maak ’n vader bly, en ’n dwase seun is die droefheid van sy moeder.” “Jy, o my seun, hoor en word wys, en lei jou hart voort op die weg” (Spreuke 10:1; 23:19). Ja, as julle as jongmense wil baat vind by ouerlike opleiding, moet julle raad en dissipline gewilliglik aanneem. Julle is nie wys gebore nie, maar julle kan ‘wys word’ en “die weg van die lewe” vrywillig volg.

Wat is verstandsregulering?

5. Watter raad het Paulus aan kinders en aan vaders gegee?

5 Die apostel Paulus het geskryf: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly.’ En vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:1-4.

6, 7. Wat behels dit om kinders in die “verstandsregulering van Jehovah” groot te maak, en waarom beteken dit nie dat ouers hulle kinders ten onregte beïnvloed nie?

6 Kan daar gesê word dat Christenouers hulle kinders ten onregte beïnvloed as hulle hulle in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” grootmaak? Nee. Wie kan ouers kritiseer as hulle hulle kinders leer wat hulle dink reg en sedelik voordelig is? Ateïste word nie gekritiseer as hulle hulle kinders leer dat God nie bestaan nie. Rooms-Katolieke voel verplig om hulle kinders in die Katolieke geloof groot te maak, en hulle word selde gekritiseer as hulle dit probeer doen. Net so moet Jehovah se Getuies nie daarvan beskuldig word dat hulle hulle kinders se verstand manipuleer wanneer hulle hulle grootmaak om Jehovah se denke oor grondwaarhede en sedelike beginsels aan te neem nie.

7 Volgens die Theological Dictionary of the New Testament verwys die oorspronklike Griekse woord wat in Efesiërs 6:4 as “verstandsregulering” vertaal word, na ’n proses wat “probeer om die verstand reg te stel, om reg te maak wat verkeerd is, om die geestelike gesindheid te verbeter”. Gestel ’n jongmens verset hom teen die opleiding van sy ouers weens portuurdruk, die begeerte om die stroom te volg. Wie kan dan daarvan beskuldig word dat hulle skadelike druk uitoefen—die ouers of die portuurs? Indien laasgenoemdes op die jong persoon druk uitoefen om dwelms te gebruik, te veel te drink of by onsedelike gedrag betrokke te raak, moet die ouers dan gekritiseer word as hulle probeer om hulle kind se denke reg te stel en hom of haar te help om in te sien wat die gevolge van sulke gevaarlike gedrag is?

8. Wat was daarby betrokke om Timoteus te ‘oortuig om te glo’?

8 Die apostel Paulus het aan die jong man Timoteus geskryf: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus” (2 Timoteus 3:14, 15). Van Timoteus se vroeë kinderjare af het sy ma en ouma sy geloof in God stewig gegrond op kennis van die Heilige Skrif (Handelinge 16:1; 2 Timoteus 1:5). Later, toe hulle Christene geword het, het hulle Timoteus nie gedwing om te glo nie, maar hom “oortuig” deur middel van grondige redenasies wat op skriftuurlike kennis gebaseer is.

Jehovah nooi jou om te kies

9. (a) Watter gawe het Jehovah sy skepsele gegee, en waarom? (b) Hoe het God se enigverwekte Seun sy wilsvryheid gebruik?

9 Jehovah kon al sy skepsele soos robotte gemaak het, geprogrammeer om sy wil te doen en nie in staat om enigiets anders te doen nie. Pleks daarvan het hy hulle die gawe van wilsvryheid gegee. Ons God wil gewillige onderdane hê. Hy skep behae daarin wanneer hy sien dat sy skepsele, oud en jonk, hom uit liefde dien. Die beste voorbeeld van liefdevolle onderworpenheid aan God se wil is sy enigverwekte Seun, van wie Jehovah gesê het: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Hierdie eersgebore Seun het vir sy Vader gesê: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande.”—Psalm 40:8; Hebreërs 10:9, 10.

10. Wat is die grondslag vir aanneemlike diens aan Jehovah?

10 Jehovah verwag dat diegene wat hom onder die leiding van sy Seun dien, net so gewillig sal wees om hulle aan Sy wil te onderwerp. Die psalmis het die volgende profetiese woorde gesing: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag. In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Psalm 110:3). Jehovah se hele organisasie, die hemelse sowel as die aardse deel, funksioneer op grond van liefdevolle onderworpenheid aan God se wil.

11. Watter keuse moet jongmense maak wat deur toegewyde ouers grootgemaak is?

11 Jongmense, julle moet dus verstaan dat nóg julle ouers nóg die Christen- ouer manne in die gemeente julle gaan dwing om gedoop te word. Die begeerte om Jehovah te dien, moet uit julle hart kom. Josua van ouds het vir die Israeliete gesê: “Dien [Jehovah] in onberispelikheid en in waarheid . . . Kies . . . vandag vir julle wie julle sal dien” (Josua 24:14-22). Net so moet julle self kies om julle toe te wy aan Jehovah en julle lewe aan die uitvoering van sy wil te wy.

Aanvaar julle verantwoordelikheid

12. (a) Hoewel ouers hulle kinders kan oplei, wat kan hulle nie namens hulle doen nie? (b) Wanneer word ’n jongmens voor Jehovah verantwoordelik vir die keuses wat hy maak?

12 Die tyd gaan kom wanneer julle as jongmense nie meer deur die getrouheid van julle ouers beskerm sal word nie (1 Korintiërs 7:14). Die dissipel Jakobus het geskryf: “As iemand . . . weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde” (Jakobus 4:17). Ouers kan God net so min namens hulle kinders dien as wat kinders God namens hulle ouers kan dien (Esegiël 18:20). Het jy omtrent Jehovah en sy voornemens geleer? Is jy oud genoeg om te verstaan wat jy geleer het en om ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek? Sou dit dan nie redelik wees om te dink dat God jou sal beskou as iemand wat kan besluit om hom te dien nie?

13. Watter vrae kan ongedoopte adolessente hulle gerus afvra?

13 Is jy ’n ongedoopte jongmens wat deur godvrugtige ouers grootgemaak word, Christelike vergaderinge bywoon en selfs aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelneem? Indien wel, vra jou eerlik af: ‘Waarom doen ek dit? Woon ek vergaderinge by en neem ek aan die predikingswerk deel omdat my ouers verwag dat ek dit doen of omdat ek Jehovah wil behaag?’ Het jy self seker gemaak wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God” is?—Romeine 12:2.

Waarom sou ’n mens doop uitstel?

14. Watter Bybelse voorbeelde toon dat doop nie onnodig uitgestel moet word nie?

14 “Wat verhinder my om gedoop te word?” Die Etiopiese man wat hierdie vraag aan die evangeliedienaar Filippus gestel het, het pas tevore geleer dat Jesus die Messias is. Maar die Etiopiër het genoeg kennis van die Skrif gehad om te besef dat hy sonder versuim in die openbaar moes bekend maak dat hy Jehovah van daardie tyd af as deel van die Christengemeente sou dien, en dit het hom groot vreugde verskaf (Handelinge 8:26-39). Net so het ’n vrou met die naam Lidia, wie se hart “wyd oopgemaak [is] om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het”, haar onmiddellik laat doop, sy en haar huisgesin (Handelinge 16:14, 15). Die tronkbewaarder in Filippi het eweneens na Paulus en Silas geluister terwyl hulle “die woord van Jehovah tot hom . . . gespreek” het, en “hy en sy huis is . . . dadelik gedoop” (Handelinge 16:25-34). Waarom sou jy dit dan uitstel om gedoop te word as jy ’n basiese kennis van Jehovah en sy voornemens het, opreg begeer om sy wil te doen, ’n goeie naam in die gemeente het, vergaderinge getrou bywoon en gereeld aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelneem?—Matteus 28:19, 20.

15, 16. (a) Watter verkeerde redenasie laat party jongmense dalk huiwer om gedoop te word? (b) Hoe kan toewyding en doop ’n beskerming vir jongmense wees?

15 Kan dit wees dat jy huiwer om hierdie belangrike stap te doen omdat jy bang is dat jy daarvoor aanspreeklik gehou sal word as jy by verkeerde gedrag betrokke sou raak? Indien wel, dink hieraan: Sal jy weier om aansoek te doen om ’n bestuurderslisensie net omdat jy bang is dat jy dalk eendag ’n ongeluk sal maak? Natuurlik nie! Jy moet ook nie huiwer om jou te laat doop as jy aan die vereistes daarvoor voldoen nie. Trouens, as jy jou lewe aan Jehovah toegewy het en ingestem het om sy wil te doen, sal jy kragtig gemotiveer wees om jou uiterste bes te doen om oortreding te vermy (Filippense 4:13). Jongmense, moet asseblief nie dink dat julle aanspreeklikheid vermy as julle dit uitstel om gedoop te word nie. Wanneer julle ’n verantwoordelike ouderdom bereik het, is julle aanspreeklik voor Jehovah vir die manier waarop julle optree, of julle nou gedoop is of nie.—Romeine 14:11, 12.

16 Talle Getuies regoor die wêreld meen dat hulle besluit om gedoop te word toe hulle nog jonk was, hulle grootliks gehelp het. Neem ’n 23-jarige Getuie in Wes-Europa as voorbeeld. Hy voel dat die feit dat hy op 13 gedoop is, hom aangespoor het om versigtig te wees dat hy nie meegesleur word deur “die begeertes wat eie is aan die jeug” nie (2 Timoteus 2:22). Van kleins af het hy hom dit ten doel gestel om ’n voltydse bedienaar te word. Vandag is hy bly om by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies te dien. Ryk seëninge wag op alle jongmense wat kies om Jehovah te dien, en dit geld ook vir jou.

17. Op watter gebiede is dit nodig om voort te gaan om te begryp wat “die wil van Jehovah” is?

17 Toewyding en doop dui die begin aan van ’n lewe waarin ons Jehovah se wil in ag neem in alles wat ons doen. Om ons toewyding na te leef, beteken dat ons ‘tyd moet uitkoop’. Hoe doen ons dit? Deur tyd te neem wat ons andersins vir vrugtelose bedrywighede sou gebruik het en dit te wy aan ernstige Bybelstudie, gereelde vergaderingbywoning en die grootste moontlike aandeel aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk” (Efesiërs 5:15, 16; Matteus 24:14). Ons toewyding aan Jehovah en ons begeerte om sy wil te doen, het ’n goeie uitwerking op alle aspekte van ons lewe, met inbegrip van die manier waarop ons ontspan, ons eet- en drinkgewoontes en die soort musiek waarna ons luister. Kies dus die soort ontspanning wat jy tot in alle ewigheid sal kan geniet. Derduisende gelukkige jong Getuies sal vir jou sê dat daar baie heilsame dinge is om te geniet terwyl jy binne die perke van “die wil van Jehovah” bly.—Efesiërs 5:17-19.

“Ons sal saam met julle gaan”

18. Watter vraag behoort jongmense hulle af te vra?

18 Van 1513 v.G.J. af tot Pinkster 33 G.J. het Jehovah ’n georganiseerde volk op die aarde gehad wat hy uitgekies het om hom te aanbid en sy getuies te wees (Jesaja 43:12). Jong Israeliete is in daardie nasie gebore. Sedert Pinkster het Jehovah ’n nuwe “nasie” op die aarde, geestelike Israel, “’n volk vir sy naam” (1 Petrus 2:9, 10; Handelinge 15:14; Galasiërs 6:16). Die apostel Paulus sê dat Christus vir homself “’n volk [gereinig het] wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke” (Titus 2:14). Jongmense, dit staan julle vry om self vas te stel waar daardie volk gevind kan word. Wie maak vandag “die regverdige nasie [uit] wat getroue gedrag handhaaf”, in ooreenstemming met Bybelbeginsels lewe, as getroue Getuies vir Jehovah optree en verkondig dat sy Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is? (Jesaja 26:2-4). Kyk na die kerke van die Christendom en ander godsdienste en vergelyk hulle gedrag met wat die Bybel van die ware knegte van God vereis.

19. Waarvan het miljoene mense regoor die wêreld oortuig geraak?

19 Miljoene mense regoor die wêreld, wat baie jongmense insluit, het oortuig geraak dat die gesalfde oorblyfsel van Jehovah se Getuies hierdie “regverdige nasie” is. Hulle sê vir hierdie geestelike Israeliete: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Ons hoop van harte dat julle as jongmense sal besluit om julle plek onder God se volk in te neem en sodoende “die lewe [te] kies”—ewige lewe in Jehovah se nuwe wêreld.—Deuteronomium 30:15-20; 2 Petrus 3:11-13.

Ter hersiening

• Wat behels verstandsregulering?

• Watter soort diens is vir Jehovah aanneemlik?

• Voor watter keuse staan alle jongmense wat deur toegewyde ouers grootgemaak is?

• Waarom moet doop nie onnodig uitgestel word nie?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 26]

Na wie sal jy luister?

[Prent op bladsy 28]

Hoe kan toewyding en doop ’n beskerming vir jou wees?

[Prent op bladsy 29]

Wat verhinder jou om gedoop te word?