Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind ware verligting

Vind ware verligting

Vind ware verligting

DIT was 18 Desember 1810. Die son het begin ondergaan. In ’n stormagtige see naby die suidooskus van Skotland het die Britse Vloot se fregat HMS Pallas van koers af geraak. Die digte duisternis en hewige sneeuvlae het dit vir die bemanning al hoe moeiliker gemaak om die bakens te sien wat hulle nodig gehad het om hulle skip na veiligheid te stuur. Stel jou hulle verligting voor toe hulle uiteindelik ligte sien en die skip in daardie rigting stuur! Ongelukkig was dit nie die ligte wat hulle nodig gehad het nie. Dit was in werklikheid die vure van werkers naby die kus. Die Pallas het op die rotse geloop en is heeltemal verwoes. Elf matrose het verdrink. Wat ’n tragedie!

In die geval van die Pallas was dit ’n fout wat tot rampspoed gelei het. Maar by ander geleenthede het matrose voor ’n selfs groter gevaar te staan gekom—misleidende ligbakens. Sulke ligte is opgestel om skepe op rotsagtige strande te laat loop sodat die wrakke geplunder kon word, volgens die boek Wrecks, Wreckers and Rescuers.

‘Heilige geskrifte wat jou tot redding kan lei’

In jou soeke na verligting kom jy te staan voor soortgelyke gevare as dié waaraan daardie matrose blootgestel was. Jy reageer dalk op misleidende inligting, of jy kan selfs ’n slagoffer van doelbewuste bedrog word. Albei van hierdie situasies kan tot tragedie lei. Wat kan jy doen om jou te beskerm? Maak seker dat jou bron van verligting geloofwaardig en betroubaar is. Hierdie tydskrif is al meer as 125 jaar lank ’n voorstander van God se geïnspireerde Woord, die Bybel, as die betroubaarste bron van verligting omdat dit “heilige geskrifte [bevat] wat die krag het om jou wys te maak en jou tot redding te lei”.—2 Timoteus 3:15-17, New English Bible.

Voordat jy vertroue in die Bybel kan stel as ’n betroubare lig om jou te lei, is dit natuurlik net redelik dat jy eers die redes ondersoek waarom jy dit kan vertrou (Psalm 119:105; Spreuke 14:15). Skryf gerus aan die uitgewers van hierdie tydskrif om inligting te verkry wat al gehelp het om miljoene te oortuig dat die Bybel waarlik deur God geïnspireer is. Lees byvoorbeeld die brosjure ’n Boek vir alle mense. a Dit bevat baie inligting wat toon dat die Bybel akkuraat, eg en geïnspireer is.

Grondwaarhede

Wat is dan van die grondwaarhede wat hierdie “heilige geskrifte” bevat? Kyk na die volgende voorbeelde.

Daar is een almagtige God en Skepper wat alles gemaak het (Genesis 1:1). Ons bestaan slegs omdat ‘God alles geskep het’ en ons die lewe gegee het (Openbaring 4:11). Daarom verdien hy alleen ons aanbidding. Die Skepper is die oorspronklike Bron van alle verligting (Psalm 36:9; Jesaja 30:20, 21; 48:17, 18). Hy het ’n persoonlike naam wat hy wil hê ons moet gebruik (Eksodus 3:15). Daardie naam, wat in Hebreeuse karakters geskryf en as JHWH getranslitereer word, verskyn ongeveer 7 000 keer in die Bybel. Dit word al dekades lank in Afrikaans gebruik in die vorm “Jehova(h)”.—Psalm 83:18.

Jehovah het mans en vroue gemaak om vir ewig in Paradystoestande hier op die aarde te lewe. Hy het mense geskep met geestelike eienskappe wat met syne ooreenstem. Hy het hulle talente en vermoëns gegee wat hulle in staat sou stel om eindelose, bevredigende menselewe op die aarde te geniet (Genesis 1:26-28). Dit was nooit sy voorneme dat die aarde ’n soort toetsterrein vir mans en vroue moes wees nie—’n trapklip na lewe as ’n geespersoon in die hemel, asof hulle alleenlik daar ’n verhouding met God kan geniet.

Daar was geen boosheid in God se menseskepping nie. Boosheid het slegs ontstaan toe party van God se skepsele—mense- sowel as geesskepsele—hulle keusevryheid misbruik het en teen God in opstand gekom het (Deuteronomium 32:5). Ons eerste ouers het hulle die reg toegeëien om self te besluit wat goed en wat kwaad is (Genesis 2:17; 3:1-5). Dit het die dood oor die mensegesin gebring (Genesis 3:19; Romeine 5:12). Om die geskille te besleg wat weens die opstand ontstaan het, het Jehovah besluit om goddeloosheid tydelik toe te laat. Maar sy voorneme met die aarde en die mensegesin het nie verander nie (Jesaja 45:18). Mans en vroue sal nog vir ewig in Paradystoestande op ’n gereinigde aarde lewe.—Matteus 6:10; Openbaring 21:1-5.

Jesus Christus is nie God die Almagtige nie, maar die Seun van God. Jesus Christus het sy volgelinge geleer om te bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Hy het nooit beweer dat hy gelyk is aan God nie. Hy het eerder gesê: “Die Vader is groter as ek.”—Johannes 14:28.

Jesus speel ’n noodsaaklike rol in die vervulling van God se voorneme. God het hom “as ’n lig in die wêreld [ingestuur], sodat elkeen wat geloof in [hom] stel, nie in die duisternis sal bly nie” (Johannes 12:46). Volgens die apostel Petrus “is daar geen redding in enigiemand anders nie” (Handelinge 4:12). Dit is omdat ons redding afhang van die kosbare bloed van Christus (1 Petrus 1:18, 19). Jesus Christus het sy lewe as ’n losprysoffer gegee om die mensdom los te koop van die sonde wat ons eerste ouers, Adam en Eva, oor die mensegesin gebring het (Matteus 20:28; 1 Timoteus 2:6). Jesus is ook deur God gebruik om Sy wil en voorneme te openbaar.—Johannes 8:12, 32, 46, 47; 14:6; Handelinge 26:23.

God het ’n hemelse Koninkryk, of regering, opgerig, wat bestaan uit Jesus Christus en dié wat uit die mensdom gekies is. Hierdie terugkerende tema kom deur die hele Bybel voor. God het aan hierdie regering die taak toevertrou om seker te maak dat sy wil op die aarde soos in die hemel gedoen word (Matteus 6:10). Dit was nie deel van God se oorspronklike voorneme dat enigeen uit die mensdom hemel toe gaan nie. Hulle tuiste moes die aarde wees. Maar ná die mens se sondeval het God hom iets nuuts voorgeneem. Hy het gereël om mense “uit elke stam en taal en volk en nasie” te kies om saam met Christus in ’n hemelse regering “as konings [te] heers” (Openbaring 5:9, 10). Hierdie Koninkryksregering sal binnekort alle vorme van menseheerskappy, wat soveel ellende en pyn vir die mensegesin veroorsaak het, “verbrysel en daar ’n einde aan maak”.—Daniël 2:44.

Die siel is sterflik. Hierdie fundamentele Bybelwaarheid verklaar baie omtrent die mens en sy lewensvooruitsigte. Dit ruim ook die wanopvatting en verkeerde inligting wat verwarring omtrent die toestand van die dooies veroorsaak het, uit die weg.

Die heel eerste boek van die Bybel sê vir ons: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Sien jy wat dit beteken? Die siel is nie ’n skimagtige wese wat binne-in die mens bestaan nie. Die mens het nie ’n siel nie. Hy is ’n siel—’n kombinasie van elemente wat in die “stof van die aarde” gevind word en ’n lewenskrag wat van God af kom. Die siel is nie onsterflik nie. Wanneer die mens sterf, sterf die siel.—Genesis 3:19; Prediker 9:5, 10.

Dié wat gesterf het, kan deur middel van ’n opstanding weer lewe. Wanneer God se tydelike toelating van goddeloosheid verby is, sal ‘almal wat in die gedenkgrafte is, Jesus se stem hoor en uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het, tot ’n opstanding van oordeel’ (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Die opstanding sal mense terugbring tot menselewe op ’n paradysaarde, die soort lewe wat God oorspronklik vir sy mensegesin in gedagte gehad het.

Ondersoek die Skrif sorgvuldig elke dag

Kan jy sien hoe kennis van sulke grondwaarhede jou kan help? In hierdie kritieke, stormagtige tye kan sulke kennis jou beskerm teen “die sogenaamde ‘kennis’” wat deur Satan die Duiwel versprei word. Hy gee voor dat hy “’n engel van lig” is, en sy agente doen hulle voor as “bedienaars van regverdigheid” (1 Timoteus 6:20; 2 Korintiërs 11:13-15). Juiste Bybelkennis kan jou beskerm teen sogenaamde verligting wat gegrond is op die filosofieë van die wêreld se “wyse en intellektuele mense”, wat “die woord van Jehovah verwerp” het.—Matteus 11:25; Jeremia 8:9.

Omdat daar in sy dag soveel misleidende leringe en filosofieë was, het die apostel Johannes eerste-eeuse Christene gewaarsku: “Moenie elke geïnspireerde uiting glo nie.” Hy het gesê: “Stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). Dink so daaraan. As jy ’n boodskap ontvang wat ’n verreikende uitwerking op jou lewe kan hê, sou jy dit sonder meer aanvaar net omdat dit lyk of dit uit ’n goeie bron kom? Natuurlik nie. Jy sal eers die bron van die boodskap ondersoek en die inhoud daarvan op die proef stel voordat jy daarop reageer.

Deur ’n geïnspireerde geskrewe verslag te voorsien wat grondwaarhede bevat, het God dit vir jou moontlik gemaak om juis dit te doen—om ‘seker te maak’ dat die ligte, of bakens, wat jy volg, betroubaar is (1 Tessalonisense 5:21). Edelmoedige mense in die eerste eeu is geprys omdat hulle “die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek” het om seker te maak dat die dinge wat hulle geleer het, werklik die waarheid was (Handelinge 17:11). Jy kan dieselfde doen. Laat toe dat die Bybel jou, soos “’n lamp wat in ’n donker plek skyn”, na veiligheid lei (2 Petrus 1:19-21). As jy dít doen, “sal [jy] die kennis van God vind”, wat ware verligting bring.—Spreuke 2:5.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 4]

God se Woord is soos ’n lamp

[Prent op bladsy 5]

Wat is God se naam?

[Prent op bladsy 5]

Wat hou die toekoms in vir die mensdom?

[Prent op bladsy 6]

Is Jesus God die Almagtige?

[Prent op bladsy 6]

Waar is die dooies?

[Prent op bladsy 7]

Die opstanding van die dooies is een van die grondwaarhede wat in die Bybel geleer word