Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volharding bring vreugde mee

Volharding bring vreugde mee

Lewensverhaal

Volharding bring vreugde mee

SOOS VERTEL DEUR MÁRIO ROCHA DE SOUZA

“Dit is onwaarskynlik dat mnr. Rocha ’n operasie sal oorleef.” Ondanks hierdie sombere voorspelling deur ’n dokter, lewe ek vandag nog, sowat 20 jaar later, en dien ek as ’n voltydse prediker van Jehovah se Getuies. Wat het my gehelp om al hierdie jare te volhard?

EK HET my kinderdae deurgebring op ’n plaas naby Santo Estêvão, ’n dorpie in die staat Bahia, in Noordoos-Brasilië. Toe ek sewe was, het ek my pa met plaaswerk begin help. Hy het my elke dag ná skool ’n werkie gegee om te doen. Mettertyd het hy, wanneer hy vir sake na Salvador, die staat se hoofstad, gegaan het, die plaas onder my toesig gelaat.

Ons het nie elektrisiteit, lopende water of die geriewe wat vandag algemeen is, gehad nie, maar ons was gelukkig. Ek het met ’n vlieër gespeel of met die speelgoedkarretjies wat ek en my maatjies van hout gemaak het. Ek het ook in godsdienstige optogte die klarinet gespeel. Ek het by die plaaslike kerk in die koor gesing, en dit is daar dat ek ’n boek getiteld História Sagrada (Heilige geskiedenis) gesien het, wat my nuuskierigheid in die Bybel geprikkel het.

In 1932, toe ek 20 was, is die noordooste van Brasilië deur ’n hewige, langdurige droogte geteister. Ons beeste het gevrek, en die oeste het misluk, en daarom het ek na Salvador getrek, waar ek werk gekry het as ’n trembestuurder. Later het ek ’n huis gehuur en ons gesin gebring om by my te kom woon. My pa is in 1944 oorlede, en ek moes vir my ma, agt susters en drie broers sorg.

Van trembestuurder tot evangeliedienaar

Een van die eerste dinge wat ek gedoen het toe ek in Salvador aangekom het, was om ’n Bybel te koop. Nadat ek ’n paar jaar lank die Baptistekerk bygewoon het, het ek vriende gemaak met Durval, wat ook ’n trembestuurder was. Ek en Durval het dikwels lang besprekings oor die Bybel gehad. Op ’n dag het hy vir my die boekie Waar is die dode? a gegee. Hoewel ek geglo het dat die mens ’n onsterflike siel het, was ek nuuskierig genoeg om die Bybeltekste wat in die boekie aangehaal is, na te slaan. Tot my verbasing het die Bybel bevestig dat die siel wat sondig, sal sterf.—Esegiël 18:4.

Toe Durval my belangstelling sien, het hy Antônio Andrade, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, gevra om my by my huis te besoek. Ná sy derde besoek het Antônio my genooi om Bybelleringe saam met hom aan ander te verkondig. Nadat hy by die eerste twee deure gepraat het, het hy gesê: “Nou is dit jou beurt.” Ek was doodbang, maar tot my vreugde het een gesin aandagtig geluister en die twee boeke geneem wat ek aangebied het. Tot vandag toe ervaar ek dieselfde gevoel van vreugde wanneer ek iemand ontmoet wat in Bybelwaarheid belangstel.

Ek is op 19 April 1943, die dag van die herdenking van Christus se dood daardie jaar, in die Atlantiese Oseaan naby Salvador gedoop. Omdat daar nie genoeg ervare Christenmanne was nie, is ek aangestel om die groep Getuies te help wat bymekaargekom het in broer Andrade se huis, in een van die nou straatjies wat die boonste en die onderste deel van die stad Salvador met mekaar verbind.

Vroeë teenstand

Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-45) was ons Christelike bedrywighede ongewild. Sommige amptenare het gedink dat ons Noord-Amerikaanse spioene is omdat die meeste van ons publikasies van die Verenigde State af gekom het. Gevolglik is ons dikwels in hegtenis geneem en ondervra. Wanneer ’n Getuie nie van die veldbediening af teruggekeer het nie, het ons aangeneem dat hy in hegtenis geneem is en het ons na die polisiestasie gegaan om te reël dat hy vrygelaat word.

In Augustus 1943 het Adolphe Messmer, ’n Duitse Getuie, in Salvador aangekom om ons eerste byeenkoms te help organiseer. Nadat toestemming van die owerheid verkry is om die byeenkoms te hou, is die openbare toespraak “Vryheid in die nuwe wêreld” in plaaslike koerante geadverteer, en plakkate is in winkelvensters en aan die kante van trems vertoon. Maar op die tweede dag van die byeenkoms het ’n polisieman ons ingelig dat ons lisensie om te vergader, teruggetrek is. Die aartsbiskop van Salvador het druk op die polisiehoof uitgeoefen om ons byeenkoms te kanselleer. Maar die volgende April het ons uiteindelik toestemming gekry om die openbare toespraak te hou wat ons geadverteer het.

’n Doelwit om na te streef

In 1946 het ek ’n uitnodiging ontvang om die “Blye Nasies”- Teokratiese Byeenkoms in die stad São Paulo by te woon. Die kaptein van ’n vragskip in Salvador het ’n groep van ons toegelaat om op sy skip te reis as ons op die dek sou slaap. Ondanks ’n storm waartydens ons almal seesiek was, het ons ná vier dae op see veilig by Rio de Janeiro aangekom. Getuies in Rio het ons in hulle huise verwelkom om ’n paar dae te rus voordat ons per trein verder gereis het. ’n Klein groepie wat baniere met die woorde “Welkom Jehovah se Getuies” gedra het, het ons verwelkom toe ons trein in São Paulo aangekom het.

Kort nadat ons na Salvador teruggekeer het, het ek met Harry Black, ’n sendeling van die Verenigde State, gesels oor my begeerte om ’n pionier te word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Harry het my daaraan herinner dat ek gesinsverantwoordelikhede het en my aangeraai om geduldig te wees. Uiteindelik, teen Junie 1952, was my broers en susters finansieel onafhanklik, en ek het ’n pioniertoewysing ontvang na ’n klein gemeente in Ilhéus, 210 kilometer suid van Salvador aan die kus.

’n Milde voorsiening

Die volgende jaar is ek na Jequié gestuur, ’n groot dorp in die binneland waar daar geen Getuies was nie. Die eerste persoon wat ek besoek het, was die plaaslike priester. Hy het verduidelik dat die dorp aan hom behoort en het my verbied om daar te preek. Hy het die gemeentelede gewaarsku teen ’n “valse profeet” wat daar aangekom het en het spioene in die dorp geplaas om my bedrywighede dop te hou. Nietemin het ek daardie dag meer as 90 stukke Bybellektuur versprei en vier Bybelstudies begin. Twee jaar later het Jequié sy eie Koninkryksaal gehad, met 36 Getuies! Vandag is daar agt gemeentes en omtrent 700 Getuies in Jequié.

Gedurende my eerste maande in Jequié, het ek ’n klein kamertjie in die buitewyke van die dorp gehuur. Toe het ek Miguel Vaz de Oliveira ontmoet, die eienaar van die Sudoeste-hotel, een van die beste hotelle in Jequié. Miguel het ’n Bybelstudie aanvaar en daarop aangedring dat ek in ’n kamer in sy hotel intrek. Miguel en sy vrou het later Getuies geword.

Nog ’n gelukkige herinnering aan my dae in Jequié is van Luiz Cotrim, ’n hoërskoolonderwyser met wie ek die Bybel gestudeer het. Luiz het aangebied om my te help om my kennis van Portugees en wiskunde te verbeter. Ek het maar net laerskoolopleiding gehad, en daarom het ek sy aanbod geredelik aanvaar. Daardie lesse ná Luiz se weeklikse Bybelstudie het gehelp om my voor te berei vir die bykomende voorregte wat ek kort daarna van Jehovah se organisasie ontvang het.

’n Nuwe uitdaging

In 1956 het ek ’n brief ontvang wat my genooi het om na ons takkantoor, wat destyds in Rio de Janeiro was, te gaan vir opleiding as ’n kringopsiener, soos reisende bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Die opleidingskursus, wat ook deur agt ander bygewoon is, was ’n bietjie langer as ’n maand. Naby die einde daarvan het ek ’n toewysing in São Paulo ontvang, waaroor ek bedenkinge gehad het. Ek het my afgevra: ‘Wat gaan ek, ’n swart man, tussen al daardie Italianers doen? Sal hulle my aanvaar?’ b

By die eerste gemeente wat ek in die streek Santo Amaro besoek het, was dit vir my aanmoedigend om te sien dat die Koninkryksaal vol mede-Getuies en belangstellendes was. Wat my daarvan oortuig het dat my vrese ongegrond was, was dat al 97 in die gemeente daardie naweek saam met my aan die bediening deelgeneem het. ‘Hulle is werklik my broers’, het ek gedink. Dit was die hartlikheid van daardie dierbare broers en susters wat my die moed gegee het om in die reisende werk te volhard.

Donkies, perde en miervreters

Een van die grootste uitdagings waarvoor reisende opsieners in die vroeë dae te staan gekom het, was die lang reise om gemeentes en kleiner groepies Getuies in die platteland te besoek. In daardie plekke was openbare vervoer onbetroubaar of glad nie beskikbaar nie, en die meeste paaie was smal grondpaaie.

Sommige kringe het hierdie probleem oorkom deur ’n donkie of ’n perd te koop wat die kringopsiener kon gebruik. Baie Maandae het ek die perd of donkie opgesaal, my besittings daarop vasgebind en tot 12 uur lank na die volgende gemeente gery. In Santa Fé do Sul het die Getuies ’n donkie met die naam Dourado (Goue) gehad wat die pad na die studiegroepe in die plattelandse gebiede geken het. Dourado het gewoonlik by ’n plaashek gaan staan en geduldig gewag dat ek dit oopmaak. Ná die besoek het ek en Dourado voortgereis na die volgende groep.

Die gebrek aan ’n betroubare kommunikasiestelsel het ook die kringwerk ’n uitdaging gemaak. Byvoorbeeld, om ’n klein groepie Getuies te besoek wat op ’n plaas in die staat Mato Grosso vergader het, moes ek die Araguaia-rivier per boot oorsteek en ongeveer 25 kilometer deur die woud reis. Een keer het ek ’n brief gestuur om hierdie groep van my besoek in kennis te stel, maar die brief het blykbaar verlore geraak, aangesien niemand aan die oorkant van die rivier vir my gewag het nie. Dit was laatmiddag, en daarom het ek die eienaar van ’n klein kroeg gevra om my bagasie op te pas, en ek het met net my aktetas te voet verder gegaan.

Kort voor lank het die son begin ondergaan. Terwyl ek in die donker voortgestrompel het, het ek ’n miervreter hoor snork. Ek het gehoor dat ’n miervreter regop kan staan en ’n man met sy kragtige voorpote kan doodmaak. Wanneer enigiets dus ’n geluid in die onderbos gemaak het, het ek versigtig vorentoe getree terwyl ek my aktetas as ’n beskerming voor my gehou het. Nadat ek ure lank geloop het, het ek by ’n klein stroompie uitgekom. Ongelukkig kon ek nie in die donker sien dat daar ’n doringdraadheining op die oorkantse wal was nie. Ek kon die stroompie met een sprong oorsteek, maar toe land ek op die heining en sny my!

Ek het uiteindelik by die plaas aangekom en is deur blaffende honde begroet. Destyds het skaapdiewe dikwels snags toegeslaan, en daarom het ek my vinnig geïdentifiseer toe die deur oopgaan. Ek moes seker vreeslik gelyk het in my geskeurde, bloedbevlekte klere, maar die broers was bly om my te sien.

Ondanks die ontberinge was dit wonderlike tye. Ek het die lang reise te perd of te voet geniet en het soms onder skadubome gerus, na die sang van voëls geluister en jakkalse dopgehou wat ek op daardie verlate paaie teëgekom het. Nog ’n bron van vreugde was die wete dat my besoeke mense werklik gehelp het. Baie het vir my geskryf en hulle dankbaarheid uitgespreek. Ander het my persoonlik bedank wanneer ons mekaar by byeenkomste gesien het. Watter genot het dit my tog verskaf om te sien hoe mense persoonlike probleme oorkom en geestelik vooruitgang maak!

Uiteindelik kry ek ’n helper

Gedurende daardie jare in die reisende werk was ek dikwels alleen, en dit het my geleer om op Jehovah te vertrou as “my groot rots en my vesting” (Psalm 18:2). Ek het ook besef dat die feit dat ek ongetroud was, my toegelaat het om my onverdeelde aandag aan Koninkryksbelange te gee.

In 1978 het ek ’n pioniersuster ontmoet met die naam Júlia Takahasji. Sy het ’n goeie werk as ’n verpleegster in ’n groot hospitaal in São Paulo opgegee sodat sy kon dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Die Christen- ouer manne wat haar geken het, was vol lof oor haar geestelike eienskappe en vaardighede as ’n pionier. My besluit om ná soveel jare te trou, was natuurlik ’n verrassing vir sommige. Een goeie vriend kon dit nie glo nie, en hy het my ’n bul van sowat 300 kilogram belowe as ek werklik sou trou. Ons het daardie bul by ons troue op 1 Julie 1978 gebraai.

Volharding ondanks swak gesondheid

Júlia het by my aangesluit in die reisende werk, en oor die volgende agt jaar het ons saam gemeentes in die suide en suidooste van Brasilië besoek. Dit is toe dat ek hartprobleme begin kry het. Ek het twee keer flou geword terwyl ek in die predikingswerk met huisbewoners gesels het. Weens my beperkings het ons ’n toewysing aanvaar as spesiale pioniers in Birigüi, in die staat São Paulo.

Op hierdie stadium het die Getuies in Birigüi aangebied om my per motor na ’n dokter in Goiânia te neem, sowat 500 kilometer daarvandaan. Toe my toestand gestabiliseer het, het ek ’n operasie ondergaan om ’n pasaangeër te laat inplant. Dit was sowat 20 jaar gelede. Ondanks nog twee hartoperasies is ek nog steeds bedrywig in die dissipelmaakwerk. Soos so baie ander lojale Christenvroue, was Júlia nog altyd ’n bron van krag en aanmoediging.

Hoewel gesondheidsprobleme my bedrywighede beperk het en my soms ontmoedig, kan ek nog steeds pionier. Ek herinner my daaraan dat Jehovah ons nooit ’n lewe van maanskyn en rose in hierdie ou stelsel belowe het nie. As die apostel Paulus en ander getroue eertydse Christene moes volhard, waarom moet dinge vir ons enigsins anders wees?—Handelinge 14:22.

Ek het onlangs weer afgekom op die eerste Bybel wat ek in die 1930’s gekry het. Op die binneblad het ek 350 geskryf—die aantal Koninkryksverkondigers in Brasilië toe ek in 1943 Christelike vergaderinge begin bywoon het. Dit is ongelooflik dat daar nou heelwat meer as 600 000 Getuies in Brasilië is. Wat ’n voorreg was dit tog om ’n klein aandeel in hierdie groei te kon hê! Jehovah het my beslis geseën vir my volharding. Soos die psalmis, kan ek sê: “Jehovah het iets groots gedoen deur wat hy met ons gedoen het. Ons het vreugdevol geword.”—Psalm 126:3.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Bykans 1 000 000 Italiaanse immigrante het hulle tussen 1870 en 1920 in São Paulo gevestig.

[Prent op bladsy 9]

Getuies adverteer die openbare toespraak by die eerste byeenkoms in die stad Salvador, 1943

[Prent op bladsy 10]

Getuies kom in São Paulo aan vir die “Blye Nasies”-Byeenkoms, 1946

[Prente op bladsy 10, 11]

In die reisende werk gedurende die laat 1950’s

[Prent op bladsy 12]

Saam met my vrou, Júlia