Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die haarhemp en geestelikheid

Die haarhemp en geestelikheid

Die haarhemp en geestelikheid

KONING LODEWYK IX van Frankryk het een gedra. Terwyl sir Thomas More as ’n jong man in die regte gestudeer het, het hy met behulp van syne etlike maande lank 19 of 20 uur per dag wakker gebly. Trouens, dit is bekend dat More die grootste deel van sy lewe een gedra het. En toe Thomas Becket, aartsbiskop van Kantelberg, in die Kantelberg-katedraal vermoor is, was hulle verbaas om een onder sy klere te vind. Wat het hierdie geskiedkundige persone in gemeen gehad? Hulle het hulle liggaam deur middel van ’n haarhemp gekasty.

Die haarhemp was ’n growwe kledingstuk van bokhaar wat teen die vel gedra is om die vel te irriteer en te skaaf en wat groot ongemak veroorsaak het. Dit het ook gou vol luise geraak. Thomas Becket het glo sy haarhemp, asook ’n broek van dieselfde materiaal, gedra totdat “dit gewemel het van die goggas”. Ná die 16de eeu is bokhaar soms vervang met fyn draad waarvan skerp punte na die liggaam gedraai was. So ’n hemp het selfs groter ongemak vir die draer veroorsaak.

Volgens een naslaanwerk was die doel van die haarhemp, soos met ander vorme van kastyding, om “die bandelose vlees in bedwang te hou en sodoende ’n meer geestelike gesindheid en lewenswyse te bevorder”. Dit was nie net askete wat die kledingstuk gedra het nie; dit is bekend dat niegeestelikes, onder andere diegene in magsposisies, dit ook gedra het. Daar is selfs vandag nog godsdiensordes wat hierdie gebruik beoefen.

Maak dit van jou ’n geestelike mens as jy ’n haarhemp dra of selfopgelegde liggaamlike ontberinge verduur? Nee, geestelikheid is nie afhanklik van sulke gebruike nie. Trouens, die apostel Paulus het hom uitgespreek teen “’n streng behandeling van die liggaam” (Kolossense 2:23). a Ware geestelikheid spruit eerder voort uit ’n soeke na die kennis van God deur sy Woord ywerig te bestudeer en daardie kennis in ’n mens se lewe toe te pas.

[Voetnoot]

a Vir ’n verdere bespreking van hierdie onderwerp, sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Is asketisme die sleutel tot wysheid?” in die Ontwaak! van 8 Oktober 1997.

[Foto-erkennings op bladsy 32]

Koning Lodewyk IX, bo: Uit die boek Great Men and Famous Women; Thomas Becket, middel: Uit die boek Ridpath’s History of the World (Dl. IV); Thomas More, onder: Uit die boek Heroes of the Reformation, 1904