Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vrees van God—“dissipline tot wysheid”

Die vrees van God—“dissipline tot wysheid”

Die vrees van God—“Dissipline tot wysheid”

WARE wysheid het ’n groot feesmaal gereël. Sy het “haar dienaresse uitgestuur, sodat sy bo-op die hoogtes van die stad kan uitroep: ‘Wie onervare is, laat hom hierheen uitdraai.’ Wie nie ’n verstandige hart het nie—sy het vir hom gesê: ‘Kom, eet my brood en drink saam van die wyn wat ek gemeng het. Verlaat die onervarenes en bly lewe, en wandel reguit op die weg van begrip.’”—Spreuke 9:1-6.

’n Feesmaal by die tafel van wysheid lei nooit tot enigiets slegs of skadeliks nie. As ’n mens na die goddelike wysheid luister wat in die geïnspireerde spreuke gevind word en die dissipline daarvan aanvaar, sal dit net goeie resultate hê. Die wyse woorde wat in Spreuke 15:16-33 opgeteken is, is geen uitsondering nie. a Wanneer ons gehoor gee aan die raad van hierdie bondige gesegdes, kan dit ons help om met minder tevrede te wees, om progressief te wees en om die lewe te geniet. Dit kan ons ook help om goeie besluite te maak en kan ons in staat stel om op die weg na die lewe te bly.

Wanneer dit beter is om minder te hê

“’n Bietjie in die vrees van Jehovah is beter as ’n oorvloedige voorraad en verwarring daarby”, sê koning Salomo van eertydse Israel (Spreuke 15:16). Dit is dwaas om die Skepper te ignoreer en die najaging van materiële besittings die hoofdoel in die lewe te maak. So ’n lewe is vol uitputtende strewes en baie bekommernisse. Wat ’n jammerte sou dit tog wees om op jou oudag te besef dat jou hele lewe leeg en sinloos was! Dit is beslis nie wys om baie besittings en “verwarring” daarby te versamel nie. Hoeveel beter is dit tog om die geheim van tevredenheid te leer en daarvolgens te lewe! Ware tevredenheid word gevind in die vrees van Jehovah—in ons verhouding met hom—nie in materiële besittings nie.—1 Timoteus 6:6-8.

Salomo beklemtoon dat ’n goeie verhouding met ander waardevoller as materiële oorvloed is en sê: “’n Bak groente waar daar liefde is, is beter as ’n vetgemaakte bul en haat daarby” (Spreuke 15:17). Ja, ’n liefdevolle atmosfeer in ’n huis is begeerliker as ’n oorvloed ryk voedsel. In ’n enkelouergesin moet ’n mens dalk met min klaarkom. In party lande kan daar moontlik net eenvoudige kos voorgesit word. Nogtans floreer die gesin waar daar liefde en geneentheid is.

Selfs in gesinne waar daar oor die algemeen ’n liefdevolle atmosfeer heers, kan moeilike situasies ontstaan. Een gesinslid sê of doen dalk iets wat ’n ander een seermaak. Hoe moet die gekrenkte gesinslid reageer? Spreuke 15:18 sê: “’n Woedende man verwek twis, maar die een wat nie gou toornig word nie, bring ’n rusie tot bedaring.” ’n Sagte antwoord, nie ’n toornige een nie, bevorder rus en vrede. Die raad van hierdie spreuk is net soveel van toepassing op ander gebiede van die lewe, wat gemeentelike bedrywighede en die openbare bediening insluit.

Wanneer ’n pad “’n verhoogde weg” is

Die volgende spreuk toon die verskil tussen iemand wat glad nie op wysheid ag slaan nie, en dié wat wel daarop ag slaan. “Die weg van die luiaard is soos ’n doringheining”, sê die wyse koning, “maar die pad van die regskapenes is ’n verhoogde weg.”Spreuke 15:19.

’n Luiaard stel hom allerhande struikelblokke voor en gebruik dit as ’n verskoning om te regverdig waarom hy nie met ’n taak begin nie. Aan die ander kant kwel die regskapenes hulle nie oor hindernisse wat hulle dalk sal teëkom nie. Hulle werk hard en gee aandag aan die taak wat hulle moet verrig. So vermy hulle talle netelige probleme wat hulle sou ondervind het indien hulle nalatig was. Hulle is op ’n “verhoogde”, oftewel progressiewe, weg. Hulle werk vorder en hulle verbly hulle daarin.

Neem byvoorbeeld die doelwit om juiste kennis van God se Woord in te neem en tot geestelike rypheid te vorder. Dit verg inspanning. Iemand kan maklik beperkte skoolopleiding, die onvermoë om goed te lees of ’n swak geheue as ’n verskoning gebruik om hom nie op ywerige persoonlike Bybelstudie toe te lê nie. Hoeveel beter is dit tog dat ’n mens hierdie dinge nie as struikelblokke op die weg na kennis beskou nie! Selfs met beperkte vermoëns kan ons ons inspan om ons leesvaardigheid sowel as ons begrip van wat ons lees, te verbeter, dalk deur ’n woordeboek te gebruik wanneer nodig. ’n Positiewe gesindheid help ons om kennis in te neem en geestelike vooruitgang te maak.

Wanneer “’n vader bly” is

“’n Wyse seun maak ’n vader bly”, sê die koning van Israel, “maar ’n dwase mens verag sy moeder” (Spreuke 15:20). Maak dit ouers nie bly wanneer hulle kinders wys optree nie? Dit verg weliswaar ouerlike opleiding en dissipline om sulke goeie resultate te behaal (Spreuke 22:6). Maar wat ’n bron van vreugde is ’n wyse seun tog vir sy ouers! ’n Dwase seun veroorsaak egter eindelose droefheid vir hulle.

Die wyse koning sê vervolgens: “Dwaasheid is ’n vreugde vir iemand wat nie ’n verstandige hart het nie, maar die man met onderskeidingsvermoë is iemand wat reguit vorentoe gaan” (Spreuke 15:21). Dié wat nie ’n verstandige hart het nie, verbly hulle in verspotte gelag en pret wat geen ware tevredenheid of geluk bring nie. Die man met onderskeidingsvermoë sien egter hoe dwaas dit sal wees om ’n ‘liefhebber van genot eerder as ’n liefhebber van God’ te word (2 Timoteus 3:1, 4). Die toepassing van goddelike beginsels help hom om regskape te bly en sy weg reguit te hou.

Wanneer ‘iets tot stand kom’

As ’n mens volgens goddelike beginsels lewe, bring dit voordele in ander aspekte van die lewe mee. Spreuke 15:22 sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.”

Vertroulike gesprekke beteken private maar openhartige kommunikasie tussen mense. Die Hebreeuse woord wat met “vertroulike gesprekke” vertaal word, word in Psalm 89:7 weergegee met “intieme groep”. Dit dui op intiemheid in kommunikasie. Vertroulike gesprekke is meer as net oppervlakkige geselsery—dit is ’n uitwisseling van wat ons werklik dink en voel. Wanneer mans en hulle vrouens sowel as ouers en hulle kinders vryelik op hierdie wyse met mekaar kommunikeer, is daar vrede en eenheid onder hulle. Maar ’n gebrek aan vertroulike gesprekke lei tot frustrasie en probleme in die gesin.

Wanneer ons belangrike besluite neem, is dit verstandig om ag te slaan op dié raad: “In die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” Sal dit byvoorbeeld nie wys wees om, wanneer ons mediese behandeling moet kies, ’n tweede of derde opinie te kry nie, veral as dit ernstige kwessies behels?

Die waarde van baie raadgewers kan nie genoeg beklemtoon word wanneer ’n mens na geestelike sake omsien nie. Wanneer ouer manne mekaar raadpleeg en hulle gesamentlike wysheid gebruik, “kom iets tot stand”. Wat meer is, nuut aangestelde opsieners moenie huiwer om raad van ouer en meer ervare ouer manne te vra nie, veral as daar na ’n moeilike saak omgesien word.

Wanneer iemand “blydskap in die antwoord” vind

Watter goeie uitwerking het woorde wat met insig geuiter word? “’n Man vind blydskap in die antwoord van sy mond”, sê die koning van Israel, “en hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” (Spreuke 15:23). Is ons nie bly wanneer iemand ons antwoord of raad volg en dit goeie gevolge het nie? Maar as ons wil hê dat ons raad doeltreffend moet wees, moet dit aan twee vereistes voldoen.

Eerstens moet die raad geheel en al op God se Woord, die Bybel, gegrond wees (Psalm 119:105; 2 Timoteus 3:16, 17). Verder moet dit op die regte tyd gespreek word. Selfs woorde van waarheid wat op die verkeerde tyd gespreek word, kan skadelik wees. Byvoorbeeld, dit is nie wys of nuttig om iemand raad te gee voordat ons gehoor het wat hy op die hart het nie. Hoe noodsaaklik is dit tog om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat”!—Jakobus 1:19.

“Die pad van die lewe loop boontoe”

Spreuke 15:24 sê: “Die pad van die lewe loop boontoe vir iemand wat met insig optree, om hom af te keer van Sjeool daar onder.” ’n Persoon wat met insig optree, is op die pad wat weg van Sjeool af loop, die gemeenskaplike graf van die mensdom. Hy vermy skadelike gebruike soos promiskue seks, dwelmmisbruik en dronkenskap—en vermy dus ’n vroeë dood. Sy pad lei na die lewe.

Let daarenteen op die pad van dié sonder insig: “Jehovah sal die huis afbreek van dié wat hulle verhef, maar hy sal die grens van die weduwee vasstel. Die planne van die slegte is vir Jehovah iets verfoeiliks, maar aangename woorde is rein. Wie onregverdige wins maak, stort sy eie huis in die ongeluk, maar wie [omkoop]geskenke haat, sal bly lewe.”—Spreuke 15:25-27.

Die koning van Israel toon hoe om ’n algemene strik te vermy en sê: “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord, maar die mond van die goddeloses laat slegte dinge uitborrel” (Spreuke 15:28). Hoe waardevol is die raad van hierdie spreuk tog! Onsinnige en dwase antwoorde wat sommer net uit die mond uitborrel, lei selde tot enigiets goeds. As ons die verskeie faktore in ag neem wat ’n saak kan beïnvloed, waaronder die omstandighede en gevoelens van ander, is dit onwaarskynlik dat ons iets sal sê waaroor ons later spyt sal wees.

Watter voordeel hou dit dan in om God te vrees en sy dissipline te aanvaar? Die wyse man antwoord: “Jehovah is ver van die goddeloses af, maar die gebed van die regverdiges hoor hy” (Spreuke 15:29). Die ware God is nie na aan die goddeloses nie. “Hy wat sy oor afwend om die wet nie te hoor nie”, sê die Bybel, “selfs sy gebed is iets verfoeiliks” (Spreuke 28:9). Dié wat God vrees en daarna streef om te doen wat reg is in sy oë, kan hom vryelik nader, met volle vertroue dat hy hulle sal hoor.

Wat ‘die hart bly maak’

Salomo gebruik ’n gedagteprikkelende vergelyking en sê: “Die glans van die oë maak die hart bly; ’n goeie berig maak die gebeente vet” (Spreuke 15:30). Die gebeente word “vet” gemaak wanneer dit vol murg is. Dit versterk die hele liggaam en verbly die hart. En die vreugde van hart word weerspieël in die glans van die oë. Dít is die uitwerking wat ’n goeie berig het!

Is berigte oor die wêreldwye uitbreiding van die aanbidding van Jehovah nie ’n bron van ware bemoediging vir ons nie? Wanneer ons hoor van alles wat in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk uitgerig word, versterk dit ons inderdaad om ’n groter aandeel aan die bediening te hê (Matteus 24:14; 28:19, 20). Die ondervindinge van dié wat Jehovah hulle God maak en ware aanbidding aanneem, vul ons harte met vreugde. Aangesien “’n goeie berig uit ’n ver land” so ’n kragtige uitwerking het, is dit uiters belangrik dat ons akkuraat en pligsgetrou rapporteer wat ons in die bediening doen!—Spreuke 25:25.

“Nederigheid gaan heerlikheid vooraf”

Die wyse koning beklemtoon die waarde daarvan om dissipline in sy verskeie vorme te aanvaar en sê: “Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, vertoef onder wyses. Iemand wat dissipline vermy, verwerp sy eie siel, maar wie na teregwysing luister, verkry ’n verstandige hart” (Spreuke 15:31, 32). Teregwysing, of dissipline, bereik ’n persoon se hart en laat dit verander, wat hom verstandig maak. Geen wonder dit is “die roede van dissipline” wat ontslae raak van die ‘dwaasheid wat vassit in die hart van ’n seun’ nie! (Spreuke 22:15). Die een wat na dissipline luister, verkry ook ’n verstandige hart, dit wil sê, goeie beweegredes. Maar iemand wat dissipline verwerp, verwerp die lewe.

Ja, dit is beslis voordelig om die dissipline van wysheid te verwelkom en dit nederig te aanvaar. As ons dit doen, lei dit nie net tot tevredenheid, vooruitgang, vreugde en sukses nie, maar ook tot heerlikheid en lewe. Spreuke 15:33 sluit af: “Die vrees van Jehovah is dissipline tot wysheid, en nederigheid gaan heerlikheid vooraf.”

[Voetnoot]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van Spreuke 15:1-15, sien Die Wagtoring van 1 Julie 2006, bladsye 13-16.

[Prent op bladsy 17]

’n Liefdevolle atmosfeer in ’n huis is begeerliker as ’n oorvloed ryk voedsel

[Prent op bladsy 18]

Selfs al het ons beperkings, help ’n positiewe gesindheid ons om kennis in te neem

[Prent op bladsy 19]

Vertroulike gesprekke is ’n uitwisseling van wat ons werklik dink en voel

[Prent op bladsy 20]

Weet jy hoe ‘’n goeie berig die gebeente vet maak’?