Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak goed gebruik daarvan want jy kan dit nie opgaar nie

Maak goed gebruik daarvan want jy kan dit nie opgaar nie

Maak goed gebruik daarvan, want jy kan dit nie opgaar nie

TYD is geld. So lui ’n ou spreuk. In werklikheid is daar ’n groot verskil tussen tyd en geld of ander materiële dinge. Jy kan nie tyd vir toekomstige gebruik opsysit, soos wat jy met geld, voedsel, brandstof en baie ander dinge kan doen nie. Enige poging om tyd op te gaar deur dit nie te gebruik nie, is tevergeefs. Wat sou gebeur as jy agt uur lank slaap en die res van die dag probeer spaar deur niks te doen nie? Aan die einde van die dag is die ongebruikte ure vir altyd verlore.

Tyd kan met ’n groot, snelvloeiende rivier vergelyk word. Dit loop altyd vorentoe. ’n Mens kan dit nie laat stilstaan nie, en jy kan ook nie elke druppel wat verbyvloei, gebruik nie. Eeue gelede het mense waterwiele op rivieroewers begin bou. Daarmee het hulle energie van die vloeiende water benut om hulle meulstene, saagmeule, pompe en slaanhamers aan te dryf. Net so kan jy tyd benut, nie deur dit op te gaar nie, maar deur dit te gebruik om goeie werk te doen. Maar om dit reg te kry, moet jy op jou hoede wees teen twee groot tydrowers—uitstellery, en iets wat ten nouste daarmee verband hou, onnodige besittings. Kom ons kyk eers na uitstellery.

Vermy uitstellery

’n Bekende spreuk lui: Moenie uitstel tot môre wat jy vandag nog kan besôre. Maar party mense stel dit graag anders en sê: Moenie uitstel tot môre wat jy tot volgende week kan uitstel nie. Wanneer hulle ’n moeilike taak moet doen, kies hulle die maklikste uitweg deur dit uit te stel. Uitstellery beteken om iets doelbewus en uit gewoonte tot later te verskuif of om iets wat gedoen moet word, doelbewus tot later te verskuif. Vir die uitsteller het dit ’n gewoonte geword om dinge tot later te laat oorstaan. Wanneer die spanning en druk opbou, vind hy verligting deur die taak op die agtergrond te stel, en hy verlustig hom in sy nuutgevonde “vrye tyd”—totdat die druk weer opbou.

Soms vereis ons fisiese en emosionele toestand dalk dat ons ’n deel van, of dalk al ons werk, uitstel. En almal het ook van tyd tot tyd ’n blaaskans van die daaglikse roetine nodig. Nie eers die Seun van God was ’n uitsondering nie. Jesus het baie besig gebly in sy bediening, maar hy het ook vrye tyd vir homself en vir sy dissipels opsygesit (Markus 6:31, 32). Dit is voordelig om sulke rusperiodes te hê. Maar uitstellery is iets anders; dit is gewoonlik skadelik. Kyk na ’n voorbeeld.

’n Tiener het drie weke om vir ’n wiskundetoets te leer. Daar is baie aantekeninge en boeke wat sy moet hersien. Sy voel die druk. Sy kom in die versoeking om uit te stel, en sy swig daarvoor. In plaas van te studeer, kyk sy televisie. Dag ná dag stel sy uit wat sy moet doen om die toets te slaag. Dan, op die aand voor die toets, moet sy die hele taak uiteindelik aanpak. Sy sit by haar lessenaar en begin deur haar aantekeninge en boeke gaan.

Ure gaan verby. Terwyl die res van die gesin slaap, dwing sy haarself tydens ’n maratonsessie om vergelykings, kosinusse en vierkantswortels te memoriseer. Die volgende dag by die skool worstel sy met vrae wat haar moeë verstand nie kan antwoord nie. Haar punte is swak, en sy druip die vak. Sy moet die materiaal weer bestudeer en sal dalk nie na die volgende graad oorgesit word nie.

Uitstellery het hierdie leerder baie duur te staan gekom. Maar daar is ’n Bybelbeginsel wat mense kan help om so ’n situasie te vermy. “Let dan voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop”, het die apostel Paulus geskryf (Efesiërs 5:15, 16). Paulus het Christene aangespoor om hulle tyd wyslik te gebruik terwyl hulle na geestelike belange omsien, maar die beginsel kan nuttig te pas kom in talle belangrike bedrywighede van die lewe. Aangesien ons gewoonlik kan besluit wanneer om ’n taak te doen, sal ons beter resultate hê en die taak vinniger afhandel as ons op die “geleë”, of beste, tyd daarmee begin. Dit is ’n kenmerk van “wyses”, soos die teks sê.

Wanneer sal “die geleë tyd” vir die jong leerder wees om vir die wiskundetoets te studeer? Sy kan miskien elke aand sowat 15 minute lank die materiaal stelselmatig hersien. Op daardie manier hoef sy nie die aand voor die tyd vir die toets te blok terwyl sy liewer moet slaap nie. Op die dag van die toets sal sy uitgerus en goed voorbereid wees, en ’n goeie punt sal binne haar bereik wees.

Wanneer jy ’n taak gegee word om te doen, moet jy dus besluit wanneer “die geleë tyd” daarvoor is en dit doen. Dan sal jy die strik van uitstellery en die gevolge daarvan vermy. Jy sal ook tevrede voel omdat jy jou goed van jou taak gekwyt het. Dit is veral belangrik wanneer ander mense daardeur geraak sal word, soos in die geval van toewysings in die Christengemeente.

Verminder onnodige besittings

Soos vroeër genoem is, is die tweede faktor om ons kosbare tyd goed te gebruik om nie onnodige besittings op te gaar nie. Ons weet alte goed dat dit tyd neem om dinge te hanteer, te rangskik, te gebruik, skoon te maak, te berg en te soek. Meer dinge vereis meer tyd. Dit is meer tydrowend en frustrerend om in ’n oorvol vertrek of huis te werk as in vertrekke met oop ruimtes en netjiese oppervlakke. En namate meer en meer dinge ophoop, neem dit ook al hoe langer om dinge wat jy nodig het, te vind.

Huishoudkundiges sê dat amper die helfte van die tyd wat mense daaraan bestee om skoon te maak, vermors word deur “onnodige artikels en rommel te hanteer, om dit te beweeg en dit uit die pad uit te skuif”. Die situasie is waarskynlik dieselfde op ander gebiede van die lewe. As jy jou tyd beter wil gebruik, moet jy dus noukeurig let op jou omgewing. Word jou ruimte deur onnodige besittings opgeneem, sodat jy minder beweegruimte het, of nog erger, tyd mors? Indien wel, moet jy dit verminder.

Dit is dalk nie maklik om van onnodige besittings ontslae te raak nie. Om geliefkoosde maar onnodige artikels uit te gooi, kan moeilik wees—amper soos om ’n goeie vriend te verloor. Hoe kan jy dan besluit of jy iets moet hou of daarvan ontslae moet raak? Sommige gebruik die “een jaar”-reël. As jy iets ’n jaar lank nie gebruik het nie, gooi dit weg. Sê nou jy is ná ’n jaar nog steeds nie seker of jy dit moet uitgooi nie? Bêre dit vir nog ses maande. Wanneer jy weer daarna kyk en besef dat ’n jaar en ’n half verbygegaan het sonder dat jy dit gebruik het, sal dit dalk makliker wees om afskeid daarvan te neem. Hoe dit ook al sy, die doel is om onnodige besittings te verminder—om jou tyd beter te benut.

Onnodige dinge is natuurlik nie beperk tot dinge in ’n mens se huis of werksplek nie. Jesus het gepraat van “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” wat ‘die woord van God kan verstik’ en ’n mens “onvrugbaar” met betrekking tot die goeie nuus kan maak (Matteus 13:22). ’n Persoon se lewe kan gevul raak met soveel bedrywighede en strewes dat dit vir hom moeilik is om die nodige tyd te vind om sy geestelike roetine en balans te handhaaf, wat van die allergrootste belang is. Die gevolg is dat hy dalk geestelik daaronder ly en uiteindelik glad nie God se beloofde nuwe wêreld sal binnegaan nie, wanneer daar ’n ewigheid sal wees om te doen wat ware tevredenheid en vreugde verskaf.—Jesaja 65:17-24; 2 Petrus 3:13.

Vind jy dat jy nie tyd in jou besige rooster het vir al die dinge wat jy voel jy moet doen nie—hetsy dit verband hou met jou werk, huis, motor, stokperdjies, reise, oefenprogram, gesellighede of ’n menigte ander belangstellings? Indien wel, is dit miskien tyd om te kyk hoe jy, geestelik gesproke, onnodige dinge kan verminder.

Daar is ’n Engelse spreuk wat lui: Tyd en gety wag vir niemand nie. Ja, tyd loop onkeerbaar vorentoe, soos ’n standhoudende stroom. Dit kan nie omgekeer of opgegaar word nie; as dit eers verby is, is dit vir ewig verlore. Maar deur ’n paar eenvoudige Bybelbeginsels te volg en ’n paar praktiese stappe te neem, kan ons die tyd benut wat ons nodig het om na “die belangriker dinge” om te sien, tot ons ewige voordeel en “tot heerlikheid en lof van God”.—Filippense 1:10, 11.

[Prent op bladsy 8, 9]

Tyd kan, soos ’n snelvloeiende stroom, gebruik word om goeie werk te doen

[Prent op bladsy 9]

Wanneer is “die geleë tyd” vir haar om vir haar toets te leer?

[Prent op bladsy 10]

Dit is tydrowend en frustrerend om in ’n oorvol vertrek te werk