Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Menswaardigheid—vir almal moontlik

Menswaardigheid—vir almal moontlik

Menswaardigheid—Vir almal moontlik

“Ons moet ’n nuwe wêreld bou—’n baie beter wêreld—een waarin die ewige waardigheid van die mens gerespekteer word.”—AMERIKAANSE PRESIDENT HARRY TRUMAN, SAN FRANCISCO, KALIFORNIË, VSA, 25 APRIL 1945.

SOOS baie mense gedurende die jare ná die Tweede Wêreldoorlog, het president Truman geglo dat die mens uit sy verlede kon leer en “’n nuwe wêreld” met waardigheid vir almal tot stand kon bring. Ongelukkig toon die moderne geskiedenis dat die werklikheid heeltemal anders is. “Die ewige waardigheid van die mens” word voortdurend geskend, want die oorsaak van die probleem lê nie by die mens nie, maar by die mens se grootste vyand.

Die oorsaak van die probleem

Die Bybel identifiseer hierdie vyand as Satan die Duiwel, ’n bose geesskepsel wat van die begin van die mensegeskiedenis af God se reg om te regeer, betwis het. Sedert Satan se kontak met Eva in die tuin van Eden is dit sy doelwit om mense daarvan af te keer om hulle Skepper te dien (Genesis 3:1-5). Dink aan watter rampspoedige gevolge dit vir Adam en Eva ingehou het toe hulle voor die Duiwel se druk geswig het! Die onmiddellike gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God se wet aangaande die verbode vrug was dat hulle hulle “vir die aangesig van Jehovah God gaan verberg” het. Waarom? Adam het erken: “Ek was bang omdat ek naak is, en daarom het ek weggekruip” (Genesis 3:8-10). Adam se verhouding met sy hemelse Vader en sy beskouing van homself het verander. Hy het hom geskaam en het nie meer op sy gemak in Jehovah se teenwoordigheid gevoel nie.

Waarom wou die Duiwel hê dat Adam sy selfrespek moes verloor? Omdat die mens na God se beeld geskep is, en Satan verlustig hom daarin om te sien dat die mens só optree dat hy nie God se heerlikheid weerspieël nie (Genesis 1:27; Romeine 3:23). Dit verklaar waarom die mensegeskiedenis deurtrek is van dade waar mense ander verneder het. As “die god van hierdie stelsel van dinge” het Satan hierdie gees bevorder “gedurende die tyd dat die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel” (2 Korintiërs 4:4; Prediker 8:9; 1 Johannes 5:19). Beteken dit dat mense nooit ware menswaardigheid sal kan geniet nie?

Jehovah verleen waardigheid aan sy skepping

Dink weer aan die toestande in die tuin van Eden voordat Adam en Eva gesondig het. Hulle het ’n oorvloed kos gehad, asook sinvolle werk en die vooruitsig op gesonde, oneindige lewe vir hulle en hulle nakomelinge (Genesis 1:28). Elke aspek van hulle bestaan het God se liefdevolle, waardige voorneme vir die mensdom beklemtoon.

Het Jehovah se beskouing van menswaardigheid verander toe Adam en Eva gesondig het? Nee. Hy het die skaamte wat hulle gevoel het omdat hulle naak was, in ag geneem. God het hulle liefdevol voorsien van “lang kledingstukke van vel” om die lendebedekkings van vyeblare te vervang wat hulle vir hulle aanmekaargewerk het (Genesis 3:7, 21). God het hulle nie in skaamte laat voortgaan nie, maar het hulle eerder met waardigheid behandel.

Later, toe Jehovah met die nasie Israel gehandel het, het hy medelye betoon aan wese, weduwees en inwonende vreemdelinge—lede van die gemeenskap wat baie dikwels sleg behandel word (Psalm 72:13). Daar is byvoorbeeld vir die Israeliete gesê dat wanneer hulle hulle graangewasse, olywe en druiwe geoes het, hulle nie vir die oorblyfsels moes terugkeer nie. God het eerder beveel dat dit moet “bly vir die inwonende vreemdeling, vir die vaderlose seun en vir die weduwee” (Deuteronomium 24:19-21). Wanneer hierdie wette toegepas is, was daar geen rede om te bedel nie, en waardige werk is vir selfs die armste mense voorsien.

Jesus het waardigheid aan ander verleen

Terwyl hy op aarde was, het God se Seun, Jesus Christus, getoon dat hy die waardigheid van ander in ag neem. Toe hy byvoorbeeld in Galilea was, het ’n melaatse hom genader wie se siekte al ver gevorderd was. Die Mosaïese Wet het vereis dat die melaatse “onrein, onrein!” moes uitroep sodat hy ander nie besmet nie (Levitikus 13:45). Maar hierdie man het versuim om ’n waarskuwing uit te roep toe hy Jesus genader het. Hy het eerder op sy gesig geval en Jesus gesmeek: “Here, as u net wil, kan u my rein maak” (Lukas 5:12). Hoe het Jesus gereageer? Jesus het nie die man berispe omdat hy die Wet verbreek het nie, en Hy het ook nie die man geïgnoreer of vermy nie. Hy het eerder waardigheid aan die melaatse verleen deur hom aan te raak en te sê: “Ek wil. Word gereinig.”—Lukas 5:13.

By ander geleenthede het Jesus sy vermoë getoon om mense sonder enige fisiese kontak te genees—soms van ’n afstand af. Maar in hierdie geval het hy besluit om die man aan te raak (Matteus 15:21-28; Markus 10:51, 52; Lukas 7:1-10). Omdat die man “vol melaatsheid” was, het hy ongetwyfeld jare laas enige fisiese kontak met ’n ander mens gehad. Hoe vertroostend moes dit tog gewees het om weer eens deur iemand aangeraak te word! Die man het ongetwyfeld net gehoop dat hy van sy melaatsheid genees sou word. Nietemin het die manier waarop Jesus hom genees het, sonder twyfel gehelp om nog iets te herstel—die man se waardigheid. Is dit realisties om te dink dat mense in vandag se samelewing werklik die waardigheid van ander in ag sal neem? Indien wel, hoe sal dit geopenbaar word?

Die reël wat waardigheid aan ander verleen

Jesus het iets gesê wat deur baie beskou word as die beroemdste riglyn wat ooit oor menseverhoudings gegee is: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Hierdie Gulde Reël, soos dit dikwels genoem word, beweeg ’n mens om jou medemens te respekteer, in die hoop dat jy op ’n soortgelyke wyse behandel sal word.

Soos die geskiedenis toon, kom die toepassing van hierdie reël nie vanself nie—heel dikwels is presies die teenoorgestelde waar. “Ek het dit eintlik geniet om ander te verneder”, sê ’n man wat ons Harold sal noem. “Met net ’n paar woorde kon ek hulle verbouereerd, verleë en soms in trane laat.” Maar iets het gebeur wat veroorsaak het dat Harold mense anders begin behandel het. “Verskeie Getuies van Jehovah het my begin besoek. As ek terugkyk, is ek skaam om te dink aan van die dinge wat ek gesê het en hoe ek hulle partykeer behandel het. Maar hulle het nie tou opgegooi nie, en Bybelwaarhede het geleidelik my hart begin raak en my beweeg om te verander.” Vandag dien Harold as ’n ouer man in die Christengemeente.

Harold is ’n lewende bewys dat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen en skerper is as enige tweesnydende swaard en deurdring selfs tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en gedagtes en bedoelings van die hart kan onderskei’ (Hebreërs 4:12). God se Woord het die krag om ’n persoon se hart te raak en sy denke en gedrag te verander. Dit bring ons by die fundamentele rede waarom ons waardigheid aan ander verleen—’n opregte begeerte om ander te help eerder as om hulle seer te maak, hulle te eer in plaas van hulle te verneder.—Handelinge 20:35; Romeine 12:10.

Behoorlike waardigheid herstel

Dit is hierdie selfde begeerte wat Jehovah se Getuies beweeg om met ander oor die Bybel se wonderlike hoop te praat (Handelinge 5:42). Daar is geen beter manier om respek aan jou medemens te betoon en aan hom waardigheid te verleen as om hom die “goeie nuus van iets beters” te vertel nie (Jesaja 52:7). “Iets beters” sluit in dat hy hom met “die nuwe persoonlikheid” beklee, wat die “skadelike begeertes” om ander te verneder, uit die weg sal ruim (Kolossense 3:5-10). Dit sluit ook Jehovah se voorneme in om binnekort die toestande en gesindhede te verwyder wat die mens van sy waardigheid beroof, tesame met die aanstigter daarvan, Satan die Duiwel (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; Openbaring 20:1, 2, 10). Slegs dan, wanneer die aarde ‘vol is van die kennis van Jehovah’, sal waardigheid vir almal ’n werklikheid wees.—Jesaja 11:9.

Ons nooi jou om van hierdie wonderlike hoop te leer. As jy met Jehovah se Getuies assosieer, sal jy self vind dat dié wat Bybelbeginsels toepas, waardigheid aan ander verleen. En jy sal kan leer hoe God se Koninkryk binnekort ‘’n nuwe en baie beter wêreld’ tot stand sal bring, ’n wêreld waarin “die ewige waardigheid van die mens” ’n werklikheid sal wees en nooit weer geskend sal word nie.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Hulle het hulle waardigheid behou deur onkreukbaarheid te handhaaf

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is meer as 2 000 van Jehovah se Getuies na Nazi-konsentrasiekampe gestuur weens hulle geloof. ’n Voormalige gevangene van Ravensbrück, Gemma La Guardia Gluck, vertel in haar boek My Story van die merkwaardige manier waarop hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het: “Op een stadium het die Gestapo aangekondig dat enige Bybelstudent wat sy godsdiensoortuigings prysgee en ’n dokument teken om dit te bevestig, vrygelaat sou word en nie meer vervolg sou word nie.” Sy skryf aangaande diegene wat geweier het om die dokument te teken: “Hulle het verkies om aan te hou ly en geduldig te wag vir die dag van bevryding.” Waarom het hulle hierdie standpunt ingeneem? Magdalena, wat aan die begin van die vorige artikel genoem is en nou in haar tagtigerjare is, verduidelik: “Om getrou aan Jehovah te bly, was belangriker as om tot elke prys aan die lewe te bly. Om ons waardigheid te behou, het beteken dat ons ons onkreukbaarheid moes handhaaf.” a

[Voetnoot]

a Vir ’n volledige verslag van die Kusserow-gesin, sien Die Wagtoring van 1 September 1985, bladsye 10-15.

[Prent op bladsy 5]

Jesus het waardigheid verleen aan diegene wat hy genees het

[Prent op bladsy 7]

Jehovah se Getuies verleen waardigheid aan ander deur hulle van die “goeie nuus van iets beters” te vertel