Uiteindelik is ons gesin verenig!
Lewensverhaal
Uiteindelik is ons gesin verenig!
SOOS VERTEL DEUR SOEMIKO HIRANO
Ek het die beste lewenswyse gevind, en ek wou hê dat my man dit saam met my moet geniet. Twee-en-veertig jaar het verbygegaan voordat dit gebeur het.
EK EN my man is in 1951 getroud, toe ek 21 jaar oud was. Binne vier jaar het ons twee seuns gehad, en dit het gelyk asof my lewe in elke opsig geseënd is.
Eendag in 1957 het my ouer suster my vertel dat ’n sendeling van Jehovah se Getuies haar besoek. Hoewel sy ’n Boeddhis was, het my suster die Bybel saam met die sendeling begin studeer en my aangespoor om ook die Bybel te bestudeer. Ek het daartoe ingestem. Ek het die dienste van ’n Protestantse kerk bygewoon en sou die foute van Jehovah se Getuies kon uitwys—altans, dis wat ek gedink het.
Ek het gou uitgevind hoe min ek van die Bybel weet. Ek moes die sendeling vra: “Wie is Jehovah?” Ek het nog nooit tevore gehoor dat daardie naam in my kerk gebruik is nie. Die sendeling, Daphne Cooke (later Pettitt), het my na Jesaja 42:8 verwys, waar dit duidelik sê dat Jehovah die naam van God die Almagtige is. Daphne het al my vrae beantwoord deur die Bybel te gebruik.
Ek het my predikant hierdie selfde vrae gevra. Hy het vir my gesê: “Dit is ’n sonde om vrae te vra. Glo net wat daar vir jou gesê word.” Hoewel ek nie geglo het dat dit verkeerd is om vrae te vra nie, het ek ses maande lank elke Sondagoggend kerk toe gegaan en in die middag die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon.
Die uitwerking op my huwelik
Ek was verheug oor wat ek uit die Bybel geleer het, en ek het my man, Kazoehiko, daarvan vertel. Ná elke studie en vergadering het ek hom vertel wat ek geleer het. Gevolglik het ’n “koue wind” tussen ons begin waai. Hy wou nie hê dat ek een van Jehovah se Getuies moet word nie. Maar dit was so bevredigend om die Bybel te bestudeer dat ek aangehou het om te studeer en met die Getuies te assosieer.
Voordat ek die huis op vergaderingaande verlaat het, het ek Kazoehiko se gunstelingmaaltye vir hom gemaak, maar hy het begin uiteet. Wanneer ek ná die vergaderinge by die huis aangekom het, was hy in ’n slegte bui en het hy geweier om met my te praat. Ná twee of drie dae het sy bui verbeter, maar dan was dit weer tyd vir die volgende vergadering.
Ongeveer hierdie tyd het ek tuberkulose opgedoen, ’n siekte wat toe reeds etlike sterftes in my man se familie veroorsaak het. Kazoehiko het baie bekommerd geword en vir my gesê dat ek kan doen net wat ek wil wanneer ek weer gesond is. My enigste versoek was dat hy nie beswaar maak wanneer ek die weeklikse vergaderinge bywoon nie. Hy het daartoe ingestem.
Dit het my ses maande geneem om te herstel, en gedurende daardie tyd het ek ’n diep studie van die Bybel gemaak. Ek het na teenstrydighede in die leringe van die Getuies gesoek en gedink dat ek my studie sou staak as ek net een sou vind. Ek kon nie ’n enkele een vind nie. Maar die dwalinge van die Protestantse Kerk het wel duidelik geword. Ek het Jehovah se liefde en regverdigheid leer ken en gesien watter voordele dit inhou wanneer ’n mens in ooreenstemming met sy wette lewe.
Nadat ek herstel het, het my man sy belofte gehou en my nie teëgestaan wanneer ek die vergaderinge bygewoon het nie. Ek het geestelik bly groei, en in Mei 1958 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Ek het daarna gesmag dat my gesin die ware God saam met my moet aanbid.
Ek help my kinders op geestelike gebied
My seuns was altyd saam met my by die vergaderinge en in die predikingswerk, maar ’n paar dinge wat gebeur het, het vir my getoon dat hulle Bybelkennis toeneem. Eendag het Masahiko, my sesjarige seun, buite gespeel. Ek het ’n harde slag gehoor en iemand hoor gil. ’n Buurvrou het by my huis ingestorm en geskreeu dat my seun deur ’n motor raakgery is. Was hy dood? Ek het my gedwing om kalm te bly terwyl ek buitentoe gehardloop het. Toe ek sy opgefrommelde fiets sien, het ek begin bewe, maar toe sien ek hom na my toe loop, met net geringe beserings. Terwyl hy aan my geklou het, het hy gesê: “Mamma, Jehovah het my gehelp, nè?” Die feit dat ek hom lewend gesien het, asook sy pragtige woorde, het my laat huil.
’n Ander keer, toe ons in die bediening was, het ons ’n bejaarde man ontmoet wat geskreeu het: “Hoe kan jy ’n jong kind so saamsleep? Ek kry hom jammer.” Voordat ek kon antwoord, het my agtjarige seun, Tomojosji, gesê: “Oom,
my ma dwing my nie om te getuig nie. Ek getuig omdat ek Jehovah wil dien.” Die bejaarde man het net na ons gestaar en kon niks sê nie.Geestelik gesproke was my kinders vaderlose seuns. Ek moes hulle Bybelwaarhede leer, hoewel ek self baie gehad het om te leer. Ek het my eie liefde, geloof en ywer opgebou en ’n goeie voorbeeld probeer stel. Ek het Jehovah elke dag voor die kinders gedank. Ek het hulle vertel van my ondervindinge in die predikingswerk. Dit het hulle bemoedig. Toe hulle later gevra is waarom hulle pioniers, of voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, geword het, het hulle geantwoord: “Ons het gesien dat ons ma gelukkig is om as ’n pionier te dien, en ons wou ook gelukkig wees.”
Ek was baie versigtig om nie sleg te praat van hulle pa of enigiemand in die gemeente nie. Ek het besef dat negatiewe praatjies ’n skadelike invloed op my kinders kon hê. Hulle sou dalk nie net hulle respek verloor vir die een waarteen daar gepraat word nie, maar ook vir die een wat die praatwerk doen.
Ek oorkom struikelblokke in die weg van vooruitgang
In 1963 moes ons gesin weens my man se werk na Taiwan trek. Hy het gesê dat ek aanstoot sou gee as ek vir die Japannese gemeenskap daar getuig. Ons sou teruggestuur word na Japan, en dit sou probleme vir sy maatskappy veroorsaak. Hy wou ons van die Getuies afsonder.
In Taiwan, waar al die vergaderinge in Chinees gehou is, het die Getuies ons hartlik verwelkom. Ek het besluit om Chinees te leer sodat ek vir die plaaslike mense kon getuig pleks van vir die Japannese. Op hierdie manier kon ek die probleme vermy wat my man gemeld het.
Ons vriendskap met die Getuies in Taiwan het ons versterk. Een sendelingegpaar, Harvey en Kathy Logan, het ons regtig baie gehelp. Broer Logan het ’n geestelike vader vir my seuns geword. Hy het hulle gehelp om te sien dat diens aan Jehovah nie ’n vreugdelose, streng lewe beteken nie. Ek dink dat my seuns hulle besluit om Jehovah te dien, in Taiwan geneem het.
Tomojosji en Masahiko het na ’n Amerikaanse skool toe gegaan waar hulle Engels sowel as Chinees geleer het. Daardie opleiding het hulle toegerus vir toekomstige diens as bedienaars van die ware God, Jehovah. Ek is innig dankbaar teenoor Jehovah dat hy hierdie tydperk, wat vir ons moeilik kon gewees het, in ’n tyd van blywende seëninge verander het. Ná ’n onvergeetlike drie en ’n half jaar in Taiwan het ons gesin na Japan teruggekeer.
Die seuns was toe tieners en wou meer onafhanklikheid hê. Ek het baie ure lank met hulle
oor skriftuurlike beginsels geredeneer, en Jehovah het hulle deur daardie moeilike tyd gehelp. Nadat Tomojosji sy hoërskoolloopbaan voltooi het, het hy die pionierdiens betree. Hy het gedurende sy eerste paar jaar van pionierdiens vier mense gehelp om tot toewyding en doop te vorder. Masahiko het sy broer se voorbeeld gevolg en ná hoërskool dadelik as ’n pionier begin dien. Tydens sy eerste vier jaar in die pionierdiens het hy vier jongmense gehelp om Getuies te word.Daarna het Jehovah die kinders selfs meer geseën. Tomojosji het gestudeer met die man van ’n vrou wat ek gehelp het om Bybelwaarhede te leer. Hulle twee dogters het ook Getuies geword. Later het Tomojosji met die ouer meisie, Noboeko, getrou, en Masahiko het met die jonger een, Masako, getrou. Tomojosji en Noboeko dien tans by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. En Masahiko en Masako is sendelinge in Paraguay.
My man verander geleidelik
Tydens daardie jare het dit gelyk of my man onverskillig staan teenoor ons geloof, maar ons het aanduidings gesien dat hy verander. Wanneer ander my teëgestaan het, het hy my oortuigings en eintlik Bybelwaarhede verdedig sonder om dit te besef. Hy het materiële hulp aan behoeftige Getuies voorsien. By die troue van een van ons seuns het hy in ’n kort toespraak gesê: “Om mense te leer om die regte lewensweg te volg, is die beste werk wat daar is, en die moeilikste. My seuns en hulle vrouens het hierdie baie moeilike pad as hulle loopbaan gekies. Help hulle asseblief.” Dit alles het my laat dink dat hy Jehovah beslis saam met ons sal dien.
Ek het reëlings getref vir assosiasie met mede-Getuies by ons huis. Ek het Kazoehiko na Christelike vergaderinge en byeenkomste sowel as na die Herdenking van Christus se dood genooi. Wanneer sy werk hom nie verhinder het nie, het hy dit bygewoon, al was dit teësinnig. Ek het baie keer gedink dat hy dalk ’n Bybelstudie sou aanvaar, en ek het dus Christen- ouer manne na die huis toe genooi. Maar hy het geweier om te studeer. Ek het gewonder wat fout is.
Die apostel Petrus se woorde het by my opgekom: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). Ek het besef dat ek nie altyd daardie raad gevolg het nie. Om ten volle daaraan gehoor te gee, moes ek aan my geestelikheid werk.
In 1970 het ek as ’n pionier begin dien met die doel om ’n geesteliker persoon te word. Tien jaar het verbygegaan, en toe 20. Maar ek het geen verandering in my man se geestelikheid gesien nie. ’n Bybelstudent het eenkeer die opmerking gemaak: “Dit is seker moeilik om ander mense te help as jy nie eens jou eie man kan help nie.” Dit was ontmoedigend, maar ek het nie tou opgegooi nie.
Teen die laat 1980’s het ons ouers die einde van hulle lewe genader. Dit was uitputtend en stresvol om na hulle om te sien en ook my ander pligte na te kom. Hulle het almal jare lank my geloof in Jehovah teëgestaan, maar ek het probeer om soveel liefde aan hulle te betoon as wat ek kon. Kort voor haar dood het my 96-jarige ma vir my gesê: “Soemiko, as ek ’n opstanding kry, sal ek by jou godsdiens aansluit.” Ek het besef dat my pogings nie tevergeefs was nie.
My man het opgemerk wat ek alles ten behoewe van ons ouers gedoen het. Om sy waardering te toon, het hy die vergaderinge gereeld begin bywoon. Hy het dit jare lank gedoen sonder om werklik geestelike vordering te maak. Ek het aanhou probeer om hom tevrede te stel. Ek het sy vriende en selfs sy oorsese kollegas na maaltye by ons huis genooi. Ek het saam met hom aan ontspanningsaktiwiteite deelgeneem. Toe die uurvereiste vir pionierdiens na 70 uur per maand verlaag is, het ek meer tyd saam met hom deurgebring.
Aftrede bring ’n verandering mee
My man het in 1993 afgetree. Ek het gedink dat hy nou uiteindelik die tyd sou hê om die Bybel te bestudeer. Maar hy het gesê dat dit godslasterlik sou wees om God te aanbid net omdat hy die tyd daarvoor het. Hy het gesê dat hy God eerder sal aanbid wanneer sy hart hom beweeg om dit te doen en dat ek nie druk op hom moet plaas nie.
Eendag het Kazoehiko my gevra of ek nou die res van my lewe sou gebruik om vir hom te lewe. Dit het my seergemaak, want vandat ek met hom getrou het, het ek alles vir hom gedoen wat ek kon. Ek het baie hard probeer om hom gelukkig te maak, maar hy het gemeen dat ek meer vir Jehovah gelewe het as vir hom. Nadat ek ’n ruk daaroor gedink het, het ek vir hom gesê dat ek niks meer vir hom kan doen nie. Maar as hy by my sou aansluit in die werk wat ek doen, kan ons ’n wonderlike nuwe lewe saam begin wat, nie net ’n paar jaar sal voortduur nie, maar vir ewig. My man het dae lank geen antwoord gehad nie. Uiteindelik het hy gevra: “Sal jy dan die Bybel met my studeer?” Elke keer wanneer ek aan daardie woorde dink, bons my hart van blydskap.
Ek het eers gereël dat ’n Christen- ouer man met my man studeer, maar hy het vir my gesê: “Ek sal saam met niemand behalwe jou studeer nie.” Ons het dus met ’n daaglikse Bybelstudie begin. Aangesien ek in ’n Chinese gemeente is en my man daardie taal vlot kan praat, het ons in Chinees gestudeer. Ons het ook die hele Bybel in minder as ’n jaar saam deurgelees.
Gedurende hierdie tyd het ’n ouer man in die Chinese gemeente, sowel as sy vrou, belangstelling in ons as ’n egpaar getoon. Hoewel hulle jonger as ons kinders is, het hulle ons ware vriende geword. Baie ander Getuies het ook spesiale belangstelling in my man getoon. Hulle het gasvryheid aan ons betoon en het met Kazoehiko gesels asof hy hulle pa is. Dit het hom baie gelukkig gemaak.
Eendag is ’n uitnodiging na ’n troue in die gemeente by ons huis afgelewer, en dit was aan my man geadresseer. Daardie erkenning as die hoof van die gesin het hom diep getref, en hy het besluit om dit by te woon. Hy het kort voor lank vriende gemaak met die Getuies en die Bybel saam met ’n Christen- ouer man begin studeer. Sy Bybelstudie, vergaderingbywoning en die liefde van die gemeente het hom gehelp om goeie geestelike vooruitgang te maak.
Uiteindelik ’n verenigde gesin
In Desember 2000 is my man gedoop as simbool van sy toewyding aan Jehovah. My seuns en hulle vrouens het van ver af gekom om hierdie hedendaagse “wonderwerk” te sien. Dit het 42 jaar geneem, maar uiteindelik is ons ’n verenigde gesin.
Nou bespreek ons twee elke oggend die dagteks en lees ons die Bybel saam. Ons geniet elke dag geestelike gesprekke en neem deel aan geestelike bedrywighede. My man is nou ’n bedieningskneg in die gemeente, en hy het onlangs ’n openbare Bybeltoespraak in Chinees gehou. Ek dank Jehovah omdat hy ons verenig het. Tesame met almal wat ek liefhet, sien ek daarna uit om Jehovah se naam en soewereiniteit vir ewig te ondersteun.
[Kaart op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
CHINA
DEMOKRATIESE VOLKSREPUBLIEK VAN KOREA
REPUBLIEK VAN KOREA
See van Japan
JAPAN
Tokio
Oos-Chinese See
TAIWAN
Taipei
[Prent op bladsy 12]
Vandag is my gesin verenig in ware aanbidding
[Prente op bladsy 13]
Saam met my gesin in 1958, die jaar toe ek gedoop is
[Prent op bladsy 15]
Ons is geestelik versterk deur vriende soos Harvey en Kathy Logan toe ons van Tokio na Taipei verhuis het