Vrees Jehovah—Wees gelukkig!
Vrees Jehovah—Wees gelukkig!
“Gelukkig is die man wat Jehovah vrees.”—PSALM 112:1.
1, 2. Wat kan die vrees vir Jehovah ons verskaf?
GELUK word nie maklik verkry nie. Ware geluk hang daarvan af dat ’n mens die regte keuses maak, doen wat reg is en jou afkeer van wat verkeerd is. Ons Maker, Jehovah, het ons sy Woord, die Bybel, gegee om ons te leer hoe om die allerbeste lewenswyse te geniet. Deur Jehovah se leiding te soek en te volg, en sodoende die vrees van God te openbaar, kan ons werklik vergenoeg en gelukkig wees.—Psalm 23:1; Spreuke 14:26.
2 In hierdie artikel sal ons Bybelse en hedendaagse voorbeelde bespreek wat toon hoe ware vrees vir God ons die krag gee om druk te weerstaan om te doen wat verkeerd is, en ons die moed gee om te doen wat reg is. Ons sal sien dat godvrugtige vrees ons geluk kan verskaf deur ons te beweeg om ’n verkeerde weg reg te stel, soos koning Dawid moes doen. Ons sal ook sien dat die vrees van Jehovah ’n werklik kosbare erfenis is wat ouers aan hulle kinders kan oordra. Ja, God se Woord verseker ons: “Gelukkig is die man wat Jehovah vrees.”—Psalm 112:1.
Herwin verlore geluk
3. Wat het Dawid gehelp om van sy sondes te herstel?
3 Soos in die vorige artikel gemeld is, het Dawid by drie belangrike geleenthede versuim om gepaste godvrugtige vrees te toon en het hy gesondig. Maar sy reaksie op Jehovah se dissipline het getoon dat hy in werklikheid ’n godvresende mens was. Sy ontsag en respek vir God het hom beweeg om sy skuld te erken, sy weg reg te stel en weer ’n goeie verhouding met Jehovah te verkry. Hoewel sy foute vir hom en vir ander lyding tot gevolg gehad het, het sy opregte berou Jehovah se volgehoue ondersteuning en seën meegebring. Dawid se voorbeeld kan Christene wat vandag in ernstige sonde verval, beslis moed gee.
4. Hoe kan die vrees van God ’n mens help om jou geluk te herwin?
4 Neem byvoorbeeld die geval van Sonja. a Hoewel sy ’n voltydse evangeliedienaar was, het Sonja in slegte geselskap beland, haar aan onchristelike gedrag skuldig gemaak en moes sy uit die Christengemeente gesit word. Sonja het tot besinning gekom en alles gedoen wat nodig was om haar verhouding met Jehovah te herstel. Na verloop van tyd is sy in die gemeente herstel. Deur dit alles heen het Sonja nooit haar begeerte verloor om Jehovah te dien nie. Sy het uiteindelik weer die voltydse pionierbediening betree. Later het sy met ’n voorbeeldige Christen- ouer man getrou, en nou dien sy vreugdevol saam met hom in die gemeente. Hoewel Sonja jammer is dat sy tydelik van die Christelike weg afgedwaal het, is sy bly dat haar vrees vir God haar gehelp het om terug te kom.
Ly eerder as om te sondig
5, 6. Verduidelik hoe en waarom Dawid twee keer Saul se lewe gespaar het.
5 Dit is natuurlik baie beter wanneer die vrees van God verhoed dat ’n mens in die eerste plek sondig. Dit was die geval met Dawid. By een geleentheid het Saul, terwyl hy Dawid met drieduisend man agtervolg het, in ’n grot ingegaan—dieselfde grot waar Dawid en sy manne weggekruip het. Dawid se manne het hom aangespoor om Saul dood te maak. Gee Jehovah nie Dawid se doodsvyand in sy hand nie? Dawid het stilletjies tot by Saul gesluip en die slip van sy kleed afgesny. Omdat Dawid God gevrees het, het selfs hierdie betreklik onskadelike daad sy gewete gekwel. Dawid het sy opgewonde manne weggestuur en gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, dat ek dit aan my heer, die gesalfde van Jehovah, sou doen.” b—1 Samuel 24:1-7.
6 By ’n latere geleentheid het Saul vir die nag kamp opgeslaan, en hy en al sy manne het in “’n diep slaap van Jehovah” geval. Dawid en sy dapper susterskind Abisai het tot in die middel van die kamp gesluip en reg langs die slapende Saul gestaan. Abisai wou hom eens en vir altyd van kant maak. Dawid het Abisai gekeer en gevra: “Wie het sy hand teen die gesalfde van Jehovah uitgesteek en onskuldig gebly?”—1 Samuel 26:9, 12.
7. Wat het Dawid daarvan weerhou om te sondig?
7 Waarom het Dawid Saul nie doodgemaak toe hy twee keer die geleentheid gehad het nie? Omdat hy Jehovah meer gevrees het as wat hy Saul gevrees het. Uit gepaste vrees vir God was Dawid bereid om te ly, indien nodig, eerder as om te sondig (Hebreërs 11:25). Hy het volle vertroue gehad dat Jehovah besorg is oor Sy volk en oor hom persoonlik. Dawid het geweet dat gehoorsaamheid aan God en vertroue in hom geluk en baie seëninge sou meebring, terwyl dit hom God se onguns op die hals sou haal as hy God ignoreer (Psalm 65:4). Hy het ook geweet dat God Sy belofte sou vervul om Dawid koning te maak en dat Hy Saul op Sy tyd en manier sou verwyder.—1 Samuel 26:10.
Vrees vir God bring geluk mee
8. Hoe dien Dawid se gedrag toe hy onder druk verkeer het, as ’n voorbeeld?
8 As Christene kan ons bespotting, vervolging en ander beproewinge verwag (Matteus 24:9; 2 Petrus 3:3). Ons sal soms dalk selfs probleme met medegelowiges ondervind. Maar ons weet dat Jehovah alles sien, ons gebede hoor en op die regte tyd sake volgens sy wil sal uitstryk (Romeine 12:17-21; Hebreërs 4:16). Ons vrees dus nie ons teenstanders nie, maar vrees God eerder en vertrou op hom om ons te verlos. Soos Dawid, neem ons nie wraak nie, en ons gee ook nie regverdige beginsels prys om lyding te vermy nie. Op die ou end bring dit geluk mee. Maar hoe?
9. Gee ’n voorbeeld van hoe vrees vir God geluk kan meebring ondanks vervolging.
9 “Ek dink aan ’n sekere ma en haar tienerdogter wat weens hulle Christelike neutraliteit geweier het om politieke partykaarte te koop”, vertel ’n sendeling wat al lank in Afrika dien. “Hulle is wreed aangerand deur ’n skare mans en toe aangesê om huis toe te gaan. Terwyl hulle geloop het, het die ma haar huilende dogter, wat nie mooi kon verstaan waarom dit gebeur het nie, probeer troos. Hulle was nie op daardie tydstip vreugdevol nie, maar hulle het ’n skoon gewete gehad. Later was hulle baie bly dat hulle God gehoorsaam het. As hulle die partykaarte gekoop het, sou die skare in hulle noppies gewees het. Die mans sou hulle bottels koeldrank gegee het en heelpad huis toe om hulle gedans het. Maar die meisie en haar moeder sou die ongelukkigste mense in die wêreld gewees het, wetende dat hulle hulle geloof prysgegee het.” Hulle vrees vir God het hulle dit alles gespaar.
10, 11. Watter goeie resultate het een vrou se vrees vir God gehad?
10 Godvrugtige vrees kan ook geluk meebring wanneer ’n mens voor beproewinge te staan kom in verband met respek vir die heiligheid van lewe. Toe Mary haar derde kind verwag het, het die dokter haar aangespoor om ’n aborsie te ondergaan. “Jou toestand is gevaarlik”, het hy gesê. “Daar kan enige tyd komplikasies ontstaan, en jy kan binne 24 uur dood wees. Dan sal die baba ook doodgaan. Daar is in elk geval geen versekering dat die baba normaal sal wees nie.” Mary het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar sy was nog nie gedoop nie. Mary sê: “Ek het nietemin al besluit om Jehovah te dien, en ek was vasbeslote om aan hom gehoorsaam te bly, ongeag wat gebeur.”—Eksodus 21:22, 23.
11 Gedurende haar swangerskap het Mary haar besig gehou met ’n studie van die Bybel en die versorging van haar gesin. Uiteindelik is die baba gebore. “Die geboorte was bietjie moeiliker as die eerste twee, maar daar was geen ernstige komplikasies nie”, vertel Mary. Vrees vir God het Mary gehelp om ’n goeie gewete te behou, en sy is kort daarna gedoop. Terwyl daardie baba grootgeword het, het hy ook geleer om Jehovah te vrees, en hy dien vandag by een van die takkantore van Jehovah se Getuies.
‘Versterk jou deur middel van Jehovah’
12. Hoe het die vrees van God Dawid versterk?
12 Dawid se vrees vir Jehovah het hom nie net daarvan weerhou om te doen wat verkeerd is nie. Dit het hom ook versterk om beslissend en verstandig op te tree onder moeilike omstandighede. Dawid en sy manne het ’n jaar en vier maande lank by Siklag in die Filistynse buitedistrikte vir Saul weggekruip (1 Samuel 27:5-7). Terwyl die mans eenkeer weg was, het Amalekitiese rowerbendes die stad verbrand en al die mans se vrouens, kinders en kuddes weggevoer. Toe hulle terugkeer en sien wat gebeur het, het Dawid en sy manne gehuil. Droefheid het gou in verbittering verander, en Dawid se manne wou hom stenig. Hoewel Dawid benoud was, het hy nie wanhopig geword nie (Spreuke 24:10). Sy vrees vir God het hom beweeg om hom tot Jehovah te wend, en hy het “hom begin versterk deur middel van Jehovah”. Met God se hulp het Dawid en sy manne die Amalekiete ingehaal en alles teruggekry.—1 Samuel 30:1-20.
13, 14. Hoe het vrees vir God een Christen gehelp om goeie besluite te neem?
13 God se hedendaagse knegte kom ook voor situasies te staan wat vertroue in Jehovah verg, asook moed om beslissend op te tree. Neem Kristina as voorbeeld. Toe sy jonk was, het Kristina die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Maar sy wou ’n konsertpianis word, en sy het groot vooruitgang in daardie rigting gemaak. Boonop het sy selfbewus gevoel om die predikingswerk te doen en was sy dus bang om die verantwoordelikhede te aanvaar wat met doop gepaardgaan. Namate Kristina voortgegaan het om God se Woord te bestudeer, het sy begin besef watter krag dit het. Sy het die vrees van Jehovah leer ken, en sy het besef dat Jehovah verwag dat sy knegte hom met hulle hele hart, verstand en siel en al hulle krag moet liefhê (Markus 12:30). Dit het haar beweeg om haar aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.
14 Kristina het Jehovah gevra om haar te help om geestelike vooruitgang te maak. “Ek het geweet die lewe van ’n konsertpianis bestaan uit voortdurende reise en kontrakte om tot 400 konserte per jaar aan te bied”, verduidelik Kristina. “Ek het dus besluit om eerder ’n onderwyseres te word sodat ek my finansieel kon onderhou en as ’n voltydse evangeliedienaar kon dien.” Op daardie stadium was reëlings reeds getref vir Kristina se eerste optrede in haar land se bekendste konsertsaal. “My eerste konsert was toe ook my laaste konsert”, vertel sy. Kristina het sedertdien met ’n Christen- ouer man getrou. Hulle dien nou saam by een van die takkantore van Jehovah se Getuies. Sy is bly dat Jehovah haar die krag gegee het om die regte besluite te neem en dat sy nou haar tyd en energie in sy diens kan gebruik.
’n Kosbare erfenis
15. Wat wou Dawid aan sy kinders oordra, en hoe het hy dit gedoen?
15 “Kom, o seuns, luister na my”, het Dawid geskryf. “Die vrees van Jehovah sal ek julle leer” (Psalm 34:11). As ’n vader was Dawid vasbeslote om aan sy kinders ’n kosbare erfenis oor te dra—die opregte, gebalanseerde, heilsame vrees van Jehovah. Dawid het Jehovah deur woord en daad as ’n liefdevolle, besorgde en vergewensgesinde Vader van Sy aardse kinders uitgebeeld, en nie as ’n veeleisende en skrikwekkende God wat op die uitkyk is na ’n oortreding van Sy wette nie. “Wie kan byhou met misstappe?” het Dawid gevra. Toe het hy sy vertroue getoon dat Jehovah nie voortdurend ons foute onder ’n vergrootglas sit nie, deur te sê: “Hou my weg van verborge dinge!” Dawid was eerder seker dat sy woorde en gedagtes vir Jehovah aanneemlik kon wees as hy sy bes doen.—Psalm 19:12, 14, Byington.
16, 17. Hoe kan ouers kinders die vrees van Jehovah leer?
16 Dawid is ’n voorbeeld vir hedendaagse ouers. “Ons ouers het ons op so ’n manier grootgemaak dat dit lekker was om in die waarheid te wees”, sê Ralph, wat saam met sy broer by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies dien. “Toe ons jonk was, het hulle ons betrek by hulle gesprekke oor gemeentelike bedrywighede, en ons het net so geesdriftig soos hulle geword oor die waarheid. Hulle het ons grootgemaak met die gedagte dat ons goeie dinge in Jehovah se diens kan doen. Trouens, ons gesin het ’n hele paar jaar in ’n land gewoon waar Koninkryksverkondigers baie nodig is, en ons het gehelp om nuwe gemeentes te stig.
17 “Dit was nie ’n klomp streng reëls wat ons op die regte pad gehou het nie, maar die feit dat Jehovah vir ons ouers ’n werklike persoon en baie, baie liefdevol en goed was. Hulle het daarna gestreef om Jehovah beter te leer ken en om hom te behaag, en ons het geleer uit hulle opregte vrees vir God en liefde vir hom. Selfs wanneer ons iets verkeerds gedoen het, het ons ouers ons nie laat voel dat Jehovah ons nie meer liefhet nie; en hulle het ook nie uit woede onnodige beperkings aan ons opgelê nie. Hulle het meestal saam met ons gaan sit en net met ons gepraat, my ma soms met trane in haar oë, om ons hart te probeer bereik. En dit het gewerk. Ons het uit ons ouers se woorde en dade geleer dat die vrees van Jehovah iets pragtigs is en dat dit ’n vreugde en ’n genot is om een van sy Getuies te wees, nie ’n las nie.”—1 Johannes 5:3.
18. Wat sal ons verkry as ons die ware God vrees?
18 Onder “die laaste woorde van Dawid” lees ons: “Wanneer ’n heerser oor mense regverdig is, in die vrees van God heers, dan is dit soos die môrelig, wanneer die son skyn” (2 Samuel 23:1, 3, 4). Salomo, Dawid se seun en opvolger, het blykbaar die punt gesnap, want hy het Jehovah gevra om hom “’n gehoorsame hart” te gee, asook die vermoë “om tussen goed en kwaad te onderskei” (1 Konings 3:9). Salomo het besef dat vrees vir Jehovah tot wysheid en geluk lei. Later het hy die boek Prediker opgesom met die woorde: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens. Want die ware God sal elke soort werk oordeel met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed of sleg is” (Prediker 12:13, 14). As ons ag slaan op hierdie raad, sal ons inderdaad vind dat “die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah” nie net wysheid en geluk is nie, maar ook “rykdom en heerlikheid en die lewe”.—Spreuke 22:4.
19. Wat sal ons in staat stel om “die vrees van Jehovah” te verstaan?
19 Uit Bybelse voorbeelde en hedendaagse ondervindinge sien ons dat gepaste vrees vir God ’n positiewe rol in die lewe van ware knegte van Jehovah speel. Hierdie vrees kan nie net voorkom dat ons dinge doen wat ons hemelse Vader mishaag nie, maar dit kan ons ook die moed gee om voor ons teenstanders staande te bly sowel as die krag om die beproewinge en ontberinge te verduur wat oor ons kom. Laat ons, jonk en oud, ons dus ywerig daarop toelê om God se Woord te bestudeer, te peins oor wat ons leer en deur gereelde en hartgrondige gebede nader aan Jehovah te kom. As ons dit doen, sal ons nie net “die kennis van God” vind nie, maar ook “die vrees van Jehovah” verstaan.—Spreuke 2:1-5.
[Voetnote]
a Die name is verander.
b Dit is moontlik een van die ondervindinge wat Dawid beweeg het om Psalm 57 en 142 te skryf.
Kan jy verduidelik?
Hoe kan die vrees van God
• ’n mens help om van ernstige sonde te herstel?
• geluk meebring te midde van beproewinge en vervolging?
• ons versterk om God se wil te doen?
• ’n kosbare erfenis vir ons kinders wees?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 26]
Vrees vir Jehovah het Dawid daarvan weerhou om die hand aan koning Saul te slaan
[Prente op bladsy 29]
Vrees vir God is ’n kosbare erfenis wat ouers aan hulle kinders kan oordra