Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees wys—Vrees God!

Wees wys—Vrees God!

Wees wys—Vrees God!

“Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid.”—SPREUKE 9:10.

1. Waarom vind baie die begrip “vrees vir God” moeilik om te verstaan?

 DAAR was ’n tyd toe dit as ’n kompliment beskou is as jy iemand as godvresend beskryf het. Vandag vind baie die begrip “vrees vir God” nogal buitengewoon en moeilik om te verstaan. ‘As God liefde is’, vra hulle miskien, ‘waarom moet ek hom vrees?’ Vir hulle is vrees ’n negatiewe, selfs verlammende, emosie. Ware vrees vir God het egter ’n baie breër betekenis en is, soos ons sal sien, nie net ’n gevoel of ’n emosie nie.

2, 3. Wat sluit ware vrees vir God in?

2 In die Bybelse konteks is die vrees van God ’n positiewe begrip (Jesaja 11:3). Dit is diepe eerbied en groot respek vir God, ’n sterk begeerte om hom nie te mishaag nie (Psalm 115:11). Dit sluit die aanvaarding van God se sedelike standaarde en streng gehoorsaamheid daaraan in, asook ’n begeerte om te lewe volgens wat God sê reg of verkeerd is. Een naslaanwerk wys daarop dat so ’n heilsame vrees bewys lewer van “’n fundamentele gesindheid teenoor God wat tot verstandige gedrag en die vermyding van elke vorm van boosheid lei”. God se Woord sê tereg vir ons: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid.”—Spreuke 9:10.

3 Ja, die vrees van God speel ’n rol in ’n groot verskeidenheid van die mens se bedrywighede. Dit word nie net met wysheid verbind nie, maar ook met blydskap, vrede, voorspoed, langlewendheid, hoop en vertroue (Psalm 2:11; Spreuke 1:7; 10:27; 14:26; 22:4; 23:17, 18; Handelinge 9:31). Dit hou ten nouste verband met geloof en liefde. Trouens, dit raak alle aspekte van ons verhouding met God en met ander mense (Deuteronomium 10:12; Job 6:14; Hebreërs 11:7). Vrees vir God sluit die vaste oortuiging in dat ons hemelse Vader persoonlik vir ons omgee en bereid is om ons oortredings te vergewe (Psalm 130:4). Slegs die onberouvolle goddeloses het rede om vreesbevange te wees voor God. aHebreërs 10:26-31.

Leer om Jehovah te vrees

4. Wat kan ons help om te ‘leer om Jehovah te vrees’?

4 Hoe kan ons ‘leer om Jehovah te vrees’ op die gepaste wyse, aangesien die vrees van God noodsaaklik is om verstandige besluite te neem en God se seëninge te ontvang? (Deuteronomium 17:19). Daar is baie voorbeelde van godvresende mans en vroue in die Skrif opgeteken “tot ons onderrigting” (Romeine 15:4). Om ons te help verstaan wat dit werklik beteken om God te vrees, gaan ons kyk na die lewe van een van hierdie voorbeelde, koning Dawid van eertydse Israel.

5. Hoe het die feit dat Dawid skape opgepas het, hom gehelp om Jehovah te vrees?

5 Jehovah het Israel se eerste koning, Saul, verwerp weens sy vrees vir die volk en sy gebrek aan vrees vir God (1 Samuel 15:24-26). Daarenteen toon Dawid se lewenswyse en sy intieme verhouding met Jehovah dat hy werklik ’n godvresende man was. Van jongs af het Dawid dikwels sy vader se skape opgepas (1 Samuel 16:11). Die nagte wat hy onder die sterre deurgebring het terwyl hy die skape opgepas het, het Dawid ongetwyfeld gehelp om die vrees van Jehovah te verstaan. Hoewel Dawid slegs ’n fraksie van die ontsaglikheid van die heelal kon sien, het hy tot die regte slotsom gekom—God verdien ons eerbied en aanbidding. “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het”, het hy later geskryf, “wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?”—Psalm 8:3, 4.

6. Hoe het ’n begrip van Jehovah se grootheid Dawid laat voel?

6 Dawid was tereg beïndruk toe hy sy nietigheid met die ontsaglike sterrehemel vergelyk het. Hierdie kennis het hom nie bevrees gemaak nie, maar hom eerder beweeg om Jehovah te loof en te sê: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:1). Hierdie eerbied vir God het Dawid nader aan Jehovah laat kom en het by Dawid die begeerte gewek om Sy volmaakte weë te leer en te volg. Stel jou voor hoe Dawid gevoel het toe hy tot Jehovah gesing het: “U is groot en doen wonderbare dinge; u is God, u alleen. Onderrig my, o Jehovah, aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel. Verenig my hart om u naam te vrees.”—Psalm 86:10, 11.

7. Hoe het vrees vir God Dawid gehelp om teen Goliat te veg?

7 Toe die Filistyne die land van Israel binnegeval het, het hulle baasvegter, Goliat, wat omtrent drie meter lank was, die Israeliete uitgetart en in wese gesê: ‘Kies ’n man om teen my te kom veg, net ons twee! As hy wen, sal ons julle dien’ (1 Samuel 17:4-10). Saul en sy hele leër was doodbang—maar nie Dawid nie. Hy het geweet dat Jehovah gevrees moet word, nie enige mens nie, al is hy ook hoe sterk. “Ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs”, het Dawid vir Goliat gesê, “en hierdie hele gemeente sal weet dat Jehovah nie met swaard en ook nie met spies red nie, want die stryd behoort aan Jehovah.” Met sy slinger en ’n enkele klip—en met Jehovah se hulp—het Dawid die reus verslaan.—1 Samuel 17:45-47.

8. Wat leer Bybelvoorbeelde van godvresende mense ons?

8 Ons het miskien te kampe met struikelblokke of vyande wat net so gedug is as dié waarvoor Dawid te staan gekom het. Wat kan ons doen? Ons kan hulle op dieselfde wyse hanteer as wat Dawid en ander getroues van die ou tyd gedoen het—met godvrugtige vrees. Die vrees van God kan mensevrees oorwin. God se getroue kneg Nehemia het sy mede-Israeliete, wat druk van teenstanders ondervind het, aangespoor: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan Jehovah, groot en vreesinboesemend” (Nehemia 4:14). Met Jehovah se ondersteuning het Dawid, Nehemia en ander getroue knegte van God daarin geslaag om hulle godgegewe toewysings uit te voer. Met godvrugtige vrees kan ons dit ook doen.

Bied probleme die hoof met godvrugtige vrees

9. Onder watter omstandighede het Dawid vrees vir God geopenbaar?

9 Nadat Dawid Goliat doodgemaak het, het Jehovah hom nog oorwinnings gegee. Maar die jaloerse Saul het—eers impulsief, toe op slinkse wyse en uiteindelik met ’n leër—probeer om Dawid dood te maak. Hoewel Jehovah Dawid verseker het dat hy koning sou wees, moes Dawid jare lank vlug, veg en wag op Jehovah se tyd om hom koning te maak. Deur dit alles heen het Dawid getoon dat hy die ware God vrees.—1 Samuel 18:9, 11, 17; 24:2.

10. Hoe het Dawid vrees vir God te midde van gevaar getoon?

10 By een geleentheid het Dawid skuiling gesoek by Agis, die koning van die Filistynse stad Gat, waar Goliat vandaan gekom het (1 Samuel 21:10-15). Die koning se knegte het Dawid aan die kaak gestel as ’n vyand van hulle nasie. Hoe het Dawid in hierdie gevaarlike situasie gereageer? Hy het sy hart in gebed voor Jehovah uitgestort (Psalm 56:1-4, 11-13). Hoewel hy moes voorgee dat hy kranksinnig is sodat hy kon wegkom, het Dawid geweet dat dit in werklikheid Jehovah was wat hom verlos het deur sy pogings te seën. Die feit dat Dawid heelhartig op Jehovah vertrou het en op hom staatgemaak het, het getoon dat Dawid werklik godvresend was.—Psalm 34:4-6, 9-11.

11. Hoe kan ons, soos Dawid, godvrugtige vrees tydens beproewing openbaar?

11 Soos Dawid, kan ons vrees vir God toon deur vertroue te stel in sy belofte om ons te help om ons probleme die hoof te bied. “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree”, het Dawid gesê (Psalm 37:5). Dit beteken nie dat ons eenvoudig ons probleme aan Jehovah oorlaat sonder om te doen wat ons kan en dan van hom verwag om ten behoewe van ons op te tree nie. Dawid het nie tot God gebid om hulp en sake dan daar gelaat nie. Hy het die fisiese en intellektuele vermoëns gebruik wat Jehovah hom gegee het en die probleem aangepak. Maar Dawid het geweet dat mensepogings op sigself nie tot sukses sou lei nie. Dit moet ook met ons die geval wees. Nadat ons alles in ons vermoë gedoen het, moet ons die res aan Jehovah oorlaat. Trouens, ons kan dikwels niks anders doen nie as om op Jehovah te vertrou. Dit is waar die vrees van God in ’n baie persoonlike sin belangrik is. Ons kan vertroosting put uit Dawid se opregte woorde: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.”—Psalm 25:14.

12. Waarom moet ons ons gebede ernstig opneem, en watter gesindheid moet ons nooit hê nie?

12 Ons moet dus ons gebede en ons verhouding met God ernstig opneem. Wanneer ons Jehovah nader, moet ons “glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6; Jakobus 1:5-8). En wanneer hy ons help, moet ons ‘toon dat ons dankbaar is’, soos die apostel Paulus ons gemaan het (Kolossense 3:15, 17). Ons moet nooit wees soos diegene wat deur ’n ervare gesalfde Christen beskryf is nie: “Hulle beskou God as ’n soort hemelse kelner”, het hy gesê. “Wanneer hulle iets nodig het, wil hulle met hulle vingers klap, en hy moet kom. En wanneer hulle gekry het wat hulle wil hê, wil hulle hê dat hy moet weggaan.” So ’n gesindheid verraai ’n gebrek aan godvrugtige vrees.

Wanneer vrees vir God afgeneem het

13. Wanneer het Dawid versuim om respek vir God se Wet te toon?

13 Die hulp wat Dawid gedurende tye van benoudheid van Jehovah ontvang het, het sy vrees vir God vergroot en sy vertroue in hom versterk (Psalm 31:22-24). Maar by drie belangrike geleenthede het Dawid se vrees vir God afgeneem, en dit het ernstige gevolge gehad. Die eerste keer het verband gehou met die reëlings wat hy getref het om Jehovah se verbondsark op ’n wa na Jerusalem te laat vervoer in plaas van op die skouers van die Leviete, soos God se Wet voorgeskryf het. Toe Ussa, wat die wa gelei het, die Ark gegryp het om te keer dat dit kantel, het hy onmiddellik gesterf weens sy “oneerbiedige daad”. Ja, Ussa het ernstig gesondig, maar dit was eintlik Dawid se versuim om behoorlike respek vir God se Wet te behou wat hierdie tragedie veroorsaak het. Om God te vrees, beteken om dinge volgens sy reëling te doen.—2 Samuel 6:2-9; Numeri 4:15; 7:9.

14. Wat het die feit dat Dawid Israel getel het, tot gevolg gehad?

14 Later het Dawid, aangehits deur Satan, Israel se krygsmanne getel (1 Kronieke 21:1). Hierdeur het Dawid getoon dat sy vrees vir God afgeneem het, en dit het tot die dood van 70- 000 Israeliete gelei. Hoewel Dawid berou getoon het voor Jehovah, het hy en dié om hom baie gely.—2 Samuel 24:1-16.

15. Wat het Dawid in seksuele sonde laat verval?

15 Nog ’n tydelike afname in vrees vir God het daartoe gelei dat Dawid by ’n onsedelike verhouding met Batseba, die vrou van Uria, betrokke geraak het. Dawid het geweet dat egbreuk en selfs net die begeerte na ’n ander se huweliksmaat verkeerd is (Eksodus 20:14, 17). Die probleem het begin toe Dawid Batseba gesien het terwyl sy gebad het. Gepaste vrees vir God moes Dawid onmiddellik beweeg het om weg te kyk en aan iets anders te dink. Maar Dawid het blykbaar eerder ‘aangehou kyk’ na haar totdat hartstog sy vrees vir God oorweldig het (Matteus 5:28; 2 Samuel 11:1-4). Dawid het die feit dat Jehovah intiem betrokke is by sy lewe, uit die oog verloor.—Psalm 139:1-7.

16. Watter gevolge moes Dawid dra weens sy oortreding?

16 Dawid se ongeoorloofde verhouding met Batseba het ’n seun voortgebring. Kort daarna het Jehovah sy profeet Natan gestuur om Dawid se sonde bloot te lê. Nadat Dawid tot besinning gebring is, het hy sy vrees vir God herwin en berou getoon. Hy het Jehovah gesmeek om hom nie weg te werp of Sy heilige gees van hom af weg te neem nie (Psalm 51:7, 11). Jehovah het Dawid vergewe en die straf versag, maar Hy het Dawid nie teen al die slegte gevolge van sy dade beskerm nie. Dawid se seun het gesterf, en hartseer en tragedie het sy gesin van toe af geteister. Wat ’n prys om te betaal omdat sy vrees vir God afgeneem het!—2 Samuel 12:10-14; 13:10-14; 15:14.

17. Lig die hartseer toe wat deur sondige dade veroorsaak word.

17 Vandag kan ’n versuim om vrees vir God in sedelike sake te toon, ook ernstige en langdurige gevolge hê. Stel jou die hartseer voor van ’n jong vrou toe sy uitgevind het dat haar Christenman ontrou aan haar was terwyl hy oorsee gewerk het. Ineengekrimp van skok en droefheid het sy haar gesig met haar hande bedek en in trane uitgebars. Hoe lank sal dit neem voordat haar man weer haar vertroue en respek wen? Sulke tragiese gevolge kan vermy word as ’n mens God werklik vrees.—1 Korintiërs 6:18.

Vrees vir God weerhou ons van sonde

18. Wat is Satan se doelwit, en hoe gaan hy te werk?

18 Satan is besig om die wêreld se sedelike waardes vinnig te ondermyn, en hy wil veral ware Christene verderf. Om dit te doen, maak hy gebruik van die kortste pad na ons harte en verstande—deur ons sintuie, veral ons oë en ore (Efesiërs 4:17-19). Hoe sal jy reageer as jy onverwags onsedelike beelde, woorde of mense teëkom?

19. Hoe het vrees vir God een Christen gehelp om versoeking te weerstaan?

19 Beskou die geval van André, b ’n Christen- ouer man, vader en mediese dokter in Europa. Toe André nagdiens in die hospitaal gedoen het, het vroulike kollegas herhaaldelik briefies—versier met harte—aan sy kussing vasgespeld waarin hulle hom genooi het om geslagsomgang met hulle te hê. André het ferm geweier om enige aandag aan hulle toenaderings te skenk. Daarbenewens het hy elders werk gekry sodat hy hom uit die slegte milieu kon verwyder. Vrees vir God was ’n baie verstandige weg en het seëninge meegebring, want vandag dien André deeltyds by die takkantoor van Jehovah se Getuies in sy land.

20, 21. (a) Hoe kan vrees vir God ons help om sonde te vermy? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 As ’n persoon aan verkeerde dinge bly dink, kan dit tot ’n gemoedstoestand lei waarin hy bereid is om sy kosbare verhouding met Jehovah prys te gee ter wille van iets waarop hy geen reg het nie (Jakobus 1:14, 15). Daarenteen sal ons, as ons Jehovah vrees, wegbly—selfs wegloop—van mense, plekke, bedrywighede en vermaak wat ons ons sedelike waaksaamheid kan laat verslap (Spreuke 22:3). Ongeag watter verleentheid of opoffering daarby betrokke is, dit is gering in vergelyking met die verlies van God se guns (Matteus 5:29, 30). Vrees vir God sluit beslis in dat ons ons nooit opsetlik blootstel aan enigiets onsedeliks nie, insluitende pornografie van enige aard, maar dat ons eerder ons ‘oë afwend, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie’. As ons dit doen, kan ons op Jehovah vertrou om ‘ons in die lewe te hou’ en alles te voorsien wat ons werklik nodig het.—Psalm 84:11; 119:37.

21 Ja, om met ware vrees vir God op te tree, is altyd die verstandige weg. Dit is ook die bron van ware geluk (Psalm 34:9). In die volgende artikel sal dít duidelik gemaak word.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Hoe kan jy ’n God van liefde vrees?” in die Ontwaak! van 8 Januarie 1998, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Die naam is verander.

Kan jy verduidelik?

• Die vrees van God sluit watter Christelike eienskappe in?

• Hoe werk vrees vir God mensevrees teë?

• Hoe kan ons toon dat ons die regte beskouing van gebed het?

• Hoe kan vrees vir God ons daarvan weerhou om te sondig?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Dawid het die vrees van God geleer toe hy Jehovah se handewerk aanskou het

[Prente op bladsy 24]

Hoe sal jy reageer wanneer jy onverwags voor ’n versoeking te staan kom?