Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aanbidding wat goed is vir jou

Aanbidding wat goed is vir jou

Aanbidding wat goed is vir jou

“DIT is vir my goed om nader aan God te kom”, het die psalmis Asaf gesê. Hy het dit oorweeg om diegene na te volg wat onbesorg oor God geraak het sodat hulle ’n gemaklike lewe kon nastreef. Maar toe het Asaf nagedink oor die voordele wat dit inhou om nader aan God te kom en tot die slotsom gekom dat dit goed is vir hom (Psalm 73:2, 3, 12, 28). Is ware aanbidding vandag goed vir jou? Hoe kan dit jou tot voordeel strek?

Wanneer jy die ware God aanbid, help dit jou om uit te styg bo ’n lewenswyse wat heeltemal egosentries is. Weens die manier waarop ons deur “die God van liefde” gemaak is, kan diegene wat net hulle eie belange nastreef, nooit geluk vind nie (2 Korintiërs 13:11). Jesus het ons ’n grondwaarheid oor die menslike natuur geleer toe hy gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Daarom geniet ons dit om dinge vir ons vriende en familie te doen. Maar die grootste geluk word verkry wanneer ons dinge vir God doen. Hy verdien ons liefde meer as enigiemand anders. Miljoene mense uit alle agtergronde het gevind dat dit uiters bevredigend is om God te aanbid deur te doen wat hy vra.—1 Johannes 5:3.

’n Doel in die lewe

Ware aanbidding is ook goed vir jou omdat dit jou ’n doel in die lewe gee. Het jy al opgelet hoe dikwels geluk gepaardgaan met die gevoel dat jy iets bereik het wat die moeite werd is? Die meeste mense het ’n doel in die lewe, hetsy dit verband hou met hulle gesin, vriende, besigheid of plesier. Maar weens die onsekerheid van die lewe bring hierdie dinge dikwels nie vir hulle geluk mee nie (Prediker 9:11). Maar ware aanbidding help jou om ’n meer verhewe doel te vind, een wat bevredigend bly selfs wanneer ander aspekte van die lewe teleurstellend is.

Ware aanbidding behels dat ’n mens Jehovah ken en hom getrou dien. Diegene wat dit beoefen, kom baie nader aan God (Prediker 12:13; Johannes 4:23; Jakobus 4:8). Jy vind dit dalk moeilik om jou voor te stel dat jy God so goed kan ken dat hy jou vriend word. Maar wanneer jy die verslag van sy handelinge met mense ondersoek en peins oor wat hy geskep het, sal jy wel fasette van sy persoonlikheid kan onderskei (Romeine 1:20). Wat meer is, deur God se Woord te lees, kan jy verstaan waarom ons hier is, waarom God lyding toelaat, hoe hy ’n einde aan lyding gaan maak en, moontlik die beste van alles, hoe jy ’n betekenisvolle rol in God se voorneme kan speel (Jesaja 43:10; 1 Korintiërs 3:9). Hierdie begrip kan jou ’n nuwe rede gee om te lewe!

Word ’n beter mens

Ware aanbidding is goed vir jou omdat dit jou help om ’n beter mens te word. Wanneer jy ware aanbidding beoefen, ontwikkel jy ’n persoonlikheid wat tot gelukkiger verhoudings met ander lei. Jy leer by God en by sy Seun om eerlik op te tree, vriendelike woorde te gebruik en ’n verantwoordelike lewe te lei (Efesiërs 4:20–5:5). Wanneer jy God so goed leer ken dat jy hom liefkry, spoor dit jou aan om hom na te volg. Die Bybel sê: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”—Efesiërs 5:1, 2.

Sal dit nie wonderlik wees om omring te wees van mense wat God se liefde navolg nie? Gelukkig is die aanbidding van die ware God nie iets wat jy alleen beoefen nie. Dit bring jou in aanraking met ander wat lief is vir wat reg en goed is. Dalk laat die idee van georganiseerde godsdiens jou ongemaklik voel. Maar soos ons in die vorige artikel gesien het, is die probleem met die meeste godsdienste nie dat hulle georganiseerd is nie, maar dat hulle nie op die regte manier en om die regte redes georganiseer is nie. Talle georganiseerde godsdienste bevorder onchristelike oogmerke. God se volk is deur Jehovah self georganiseer vir ’n edele doel. Die Bybel sê: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korintiërs 14:33). Soos miljoene ander sal jy moontlik vind dat omgang met ’n goed georganiseerde groep Christene ’n positiewe invloed op jou beskouing kan hê.

Hoop vir die toekoms

Die Heilige Skrif toon dat God ware aanbidders so organiseer dat hulle die einde van die huidige stelsel van dinge kan oorleef en ’n nuwe aarde kan beërf waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:13; Openbaring 7:9-17). Aanbidding wat goed is vir jou, voorsien dus hoop, wat onontbeerlik is vir geluk. Party grond hulle toekomsverwagtinge op die bestendigheid van regerings, sakevooruitsigte of die hoop dat hulle goeie gesondheid en ’n gelukkige aftrede sal geniet. Maar min indien enige van hierdie dinge voorsien ’n vaste grondslag vir ’n gelukkige toekoms. In teenstelling hiermee het die apostel Paulus geskryf: “Ons [het] ons hoop gevestig . . . op ’n lewende God.”—1 Timoteus 4:10.

As jy deeglik soek, sal jy ware aanbidders vind. In vandag se verdeelde wêreld word Jehovah se Getuies duidelik onderskei weens hulle liefde en eenheid. Hulle kom uit byna elke nasie en agtergrond; en tog is hulle verenig deur liefde vir mekaar en liefde vir Jehovah (Johannes 13:35). Hulle nooi jou om self uit te vind wat hulle ervaar het. Asaf het geskryf: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom.”—Psalm 73:28.

[Prent op bladsy 7]

Jy kan God se vriend word