Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek vind baat by die lojaliteit van my geliefdes

Ek vind baat by die lojaliteit van my geliefdes

Lewensverhaal

Ek vind baat by die lojaliteit van my geliefdes

SOOS VERTEL DEUR KATHLEEN COOKE

IN 1911, terwyl my ouma Mary Ellen Thompson by familie in Glasgow, Skotland, gekuier het, het sy na ’n toespraak gaan luister deur Charles Taze Russell, ’n vername lid van die Bybelstudente, wat later as Jehovah se Getuies bekend gestaan het. My ouma was verheug oor die dinge wat sy gehoor het. Toe sy weer terug was in Suid-Afrika, het sy met plaaslike Bybelstudente in aanraking gekom. In April 1914 was sy een van 16 wat by die Bybelstudente se eerste byeenkoms in Suid-Afrika gedoop is. My ouma se dogter Edith, wat my ma geword het, was toe ses jaar oud.

Ná die dood van broer Russell in 1916 was daar wêreldwyd verdeeldheid onder die Bybelstudente. In Durban het dié wat getrou gebly het, van 60 tot ongeveer 12 afgeneem. My ouma aan vaderskant, Ingeborg Myrdal, en haar seun Henry, ’n tiener wat kort tevore gedoop is, het hulle by die lojales geskaar. In 1924 het Henry ’n kolporteur geword, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hy het die volgende vyf jaar in baie dele van Suider-Afrika getuig. In 1930 is Henry en Edith getroud, en drie jaar later is ek gebore.

’n Uitgebreide familie

Ons het ’n ruk lank in Mosambiek gebly, maar in 1939 het ons by my ouma en oupa Thompson ingetrek wat in Johannesburg gewoon het. My oupa het glad nie in Bybelwaarheid belanggestel nie en het my ouma soms teëgestaan, maar hy was nogtans baie gasvry. My suster, Thelma, is in 1940 gebore, en ek en sy het geleer om na die behoeftes van ouer mense om te sien. Ons familie het dikwels ná aandete nog lank gesit en gesels oor die dag se gebeure en oor die verlede.

Ons familie het die geselskap van besoekende Getuies geniet, veral van dié in die voltydse bediening. Hulle het in die aand saam met ons om die etenstafel gekuier, en wat hulle gesê het, het ons waardering vir ons geestelike erfenis vergroot. Dit het my en Thelma se begeerte versterk om ook pioniers te word soos hulle.

Van ’n baie jong ouderdom af is ’n liefde vir lees by ons ingeboesem. My ma, pa en ouma het almal vir ons uit goeie storieboeke of direk uit die Bybel gelees. Christelike vergaderinge en die bediening was ’n onafskeidbare deel van ons lewe. My pa was die groepkneg (wat nou die presiderende opsiener genoem word) van die Johannesburg-gemeente, en daarom moes ons almal vroeg by die vergaderinge wees. Wanneer daar ’n byeenkoms gehou is, het my pa gehelp met die administrasie, terwyl my ma byeenkomsgangers met hulle akkommodasie gehelp het.

’n Spesiale byeenkoms vir ons

Die byeenkoms wat in 1948 in Johannesburg gehou is, was spesiaal. Dit was die eerste byeenkoms wat deur lede van die hoofkantoorpersoneel van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, bygewoon is. My pa is gevra om Nathan Knorr en Milton Henschel tydens hulle besoek met sy motor rond te neem. Ek is by daardie byeenkoms gedoop.

Kort daarna, tot my pa se verbasing, het sy pa vir hom gesê dat hy baie spyt is dat hy ná die dood van broer Russell toegelaat het dat hy beïnvloed is deur diegene wat die Bybelstudente verlaat het. Hy is ’n paar maande later oorlede. Ouma Myrdal het egter getrou gebly totdat sy haar aardse loopbaan in 1955 voltooi het.

Gebeure wat my lewe gevorm het

Ek het op 1 Februarie 1949 as ’n gewone pionier begin dien. Toe die aankondiging gemaak is dat ’n internasionale byeenkoms die volgende jaar in die stad New York gehou sou word, het die opgewondenheid spoedig begin hoog loop. Ons wou baie graag gaan, maar ons kon dit glad nie bekostig nie. Toe is my oupa Thompson in Februarie 1950 oorlede, en my ouma het die geld wat sy geërf het, gebruik om ons vyf se reisgeld te betaal.

’n Paar weke voor ons vertrek het ek ’n brief van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, ontvang. Dit was ’n uitnodiging om die 16de klas van die Gileadsendingskool by te woon. Hoe opwindend tog, aangesien ek nog nie eers 17 was nie! Toe die klas begin, was ek onder die tien studente van Suid-Afrika wat hierdie groot voorreg geniet het.

Nadat ons in Februarie 1951 gegradueer het, het agt van ons na Suid-Afrika teruggekeer om as sendelinge te dien. Gedurende die volgende paar jaar het ek en my maat meestal in kleiner dorpies getuig waar Afrikaans gepraat is. Aan die begin kon ek nie Afrikaans praat nie, en ek onthou nog hoe ek eendag al huilende op my fiets huis toe gery het omdat ek so min welslae in die bediening behaal het. Ek het egter met verloop van tyd vordering gemaak, en Jehovah het my pogings geseën.

Die huwelik en reisende werk

In 1955 het ek John Cooke leer ken. Hy het voor en ná die Tweede Wêreldoorlog gehelp om die predikingswerk in Frankryk, Portugal en Spanje aan die gang te kry en het ’n sendeling in Afrika geword die jaar toe ek hom ontmoet het. Hy het later geskryf: “Ek het drie verrassings in een week gekry . . . ’n Baie vrygewige broer het vir my ’n klein motor gegee; ek is as streekkneg aangestel; en ek was verlief.” a Ons is in Desember 1957 getroud.

Terwyl hy my die hof gemaak het, het John my die versekering gegee dat die lewe saam met hom nooit vervelig sou wees nie, en hy was reg. Ons het gemeentes regoor Suid-Afrika besoek, meestal in swart gebiede. Elke week moes ons toestemming verkry net sodat ons by sulke gebiede kon ingaan, wat nog te sê om daar te oornag. Ons het nou en dan op die vloer van ’n leë winkel in ’n nabygeleë wit gebied geslaap, waar ons uit die oog probeer bly het sodat verbygangers ons nie sou sien nie. Ons moes gewoonlik by die naaste wit Getuies bly, wat dikwels kilometers daarvandaan gewoon het.

Nog ’n uitdaging was om byeenkomste in die bos te hou waar die fasiliteite maar eenvoudig was. Ons het mense rolprente gewys wat deur Jehovah se Getuies vervaardig is en hulle gehelp het om waardering vir ons wêreldwye broederskap op te bou. Ons het ons eie kragopwekker saamgeneem, aangesien daar gewoonlik geen elektrisiteit in daardie gebiede was nie. Ons moes ook struikelblokke in Britse protektorate oorkom waar ons lektuur destyds verbied is, en dan moes ons boonop nog Zulu leer. Tog was ons verheug om ons broers te kon dien.

In Augustus 1961 het John die eerste instrukteur geword om die vier week lange kursus van die Koninkryksbedieningskool in Suid-Afrika aan te bied, wat saamgestel is om gemeentelike opsieners te help. Hy was ’n bekwame onderrigter en het harte bereik met sy eenvoudige logika en duidelike illustrasies. Ons het amper ’n jaar en ’n half lank van plek tot plek gereis om opeenvolgende Engelse klasse by te woon. Terwyl John klas gegee het, het ek saam met plaaslike Getuies aan die veldbediening deelgeneem. Tot ons verbasing ontvang ons toe ’n brief waarin ons genooi is om vanaf 1 Julie 1964 by die Suid-Afrikaanse takkantoor naby Johannesburg te dien.

Maar teen hierdie tyd het ons ons oor John se gesondheid begin bekommer. In 1948 het hy tuberkulose gehad en daarna het hy dikwels nie baie stamina gehad nie. Hy het simptome soortgelyk aan dié van griep gehad en was soms dae lank buite aksie—hy kon niks doen of enigiemand sien nie. Die dokter wat ons geraadpleeg het net voordat ons gevra is om na die takkantoor te kom, het John se probleem as depressie gediagnoseer.

Dit was vir ons ondenkbaar om die pas van ons lewe te verander, soos die dokter aanbeveel het. By die takkantoor is John na die Diensafdeling toegewys, en ek het proefleeswerk gedoen. En watter seën was dit tog om ons eie kamer te hê! Omdat John in Portugese gebiede gedien het voordat ons getroud is, is ons in 1967 gevra om die enigste plaaslike Portugese Getuiegesin te help om vir die groot Portugese gemeenskap in en om Johannesburg te getuig. Dit het beteken dat ek nóg ’n taal moes leer.

Aangesien die Portugese gemeenskap oor ’n groot gebied versprei was, het ons baie gereis—soms tot 300 kilometer om verdienstelikes te vind. Teen hierdie tyd het Portugeessprekende Getuies van Mosambiek ons tydens byeenkomste begin besoek, wat ’n groot hulp vir die nuwelinge was. Gedurende die 11 jaar wat ons saam met die Portugeessprekendes gedien het, het ons gesien hoe ons klein groepie van omtrent 30 tot vier gemeentes gegroei het.

Veranderinge tuis

Intussen het my ouers se omstandighede verander. In 1960 is my suster, Thelma, met John Urban getroud, ’n pionier van die Verenigde State. In 1965 het hulle die 40ste klas van Gilead bygewoon en 25 jaar lank getrou as sendelinge in Brasilië gedien. In 1990 het hulle na Ohio teruggekeer om na John se siek ouers om te sien. Ten spyte van die uitdagings wat hiermee gepaardgegaan het, is hulle tot vandag toe nog in die voltydse diens.

In 1965 het my ouma Thompson haar aardse loopbaan voltooi, nog steeds getrou aan God op 98-jarige leeftyd. My pa het daardie selfde jaar afgetree. Toe ek en John gevra is om in die plaaslike Portugese veld te help, het my pa en ma dus aangebied om by ons aan te sluit. Hulle het ’n stabiliserende invloed op die groep gehad, en ’n paar maande later is die eerste gemeente gestig. Kort daarna het my ma die gevolge van kanker begin ervaar, wat haar lewe in 1971 geëis het. My pa is sewe jaar later oorlede.

Hoe ek met John se siekte saamgeleef het

Teen die 1970’s het dit duidelik geword dat John se gesondheid nie verbeter nie. Hy moes geleidelik van sy kosbare diensvoorregte opgee, onder andere om die leiding te neem by die Bethelgesin se weeklikse Wagtoring-studie en Bybelbesprekings in die oggend. Hy is van die Diensafdeling na die Posafdeling verskuif, en later het hy in die tuin gewerk.

John se veggees het dit vir hom moeilik gemaak om veranderinge aan te bring. Wanneer ek hom bly vra het om rustiger te wees, het hy my spottenderwys sy ou remskoen genoem—en my gewoonlik dan ’n liefdevolle drukkie gegee. Ons het uiteindelik gevoel dat dit beter sou wees om die Portugese veld te verlaat en saam met die gemeente te dien wat in die Koninkryksaal by die takkantoor bymekaargekom het.

Terwyl John se gesondheid agteruitgegaan het, was dit bemoedigend om sy intieme verhouding met Jehovah waar te neem. Wanneer John in die middel van die nag wakker geword het en diep terneergedruk gevoel het, het ons gesels totdat hy kalm genoeg was om vir Jehovah se hulp te bid. Hy het dit uiteindelik reggekry om sulke moeilike oomblikke op sy eie te hanteer deur homself te dwing om Filippense 4:6, 7 stadig te herhaal: “Moet julle oor niks kwel nie . . . ” Dan het hy kalm genoeg geword om te begin bid. Ek was dikwels wakker en het stilletjies toegekyk hoe sy lippe beweeg terwyl hy lank en ernstig tot Jehovah gebid het.

Aangesien ons takfasiliteite baie beknop geraak het, is daar met die bou van ’n groot nuwe takkantoor buite Johannesburg begin. Ek en John het hierdie rustige plek gereeld besoek, weg van die stad se geraas en besoedeling. Dit het John baie gehelp toe ons toegelaat is om in tydelike akkommodasie daar in te trek totdat die nuwe takkantoor voltooi was.

Nuwe uitdagings

Namate John se vermoë om te dink en te redeneer agteruitgegaan het, het dit moeiliker vir hom geword om sy werkstoewysings na te kom. Ek is diep geraak deur die manier waarop ander John in sy pogings ondersteun het. Wanneer ’n broer byvoorbeeld ’n openbare biblioteek besoek het om navorsing te doen, het hy John saamgeneem. John se sakke sou propvol traktate en tydskrifte vir die dag se uitstappie wees. Dit het John gehelp om ’n gevoel van voldoening en eiewaarde te behou.

Uiteindelik het Alzheimer se siekte dit vir John onmoontlik gemaak om die geskrewe woord te verstaan. Ons was dankbaar vir die kassetopnames van Bybellektuur en Koninkryksliedere. Ons het oor en oor daarna geluister. Omdat John dikwels onrustig geraak het as ek nie saam met hom gesit en luister het nie, het ek my gedurende al daardie ure met breiwerk besig gehou. Ons het geen tekort aan truie en komberse gehad nie!

Mettertyd het John se toestand vereis dat ek baie meer vir hom moes doen. Hoewel ek dikwels te moeg was om te lees of te studeer, was dit ’n voorreg om hom tot die einde toe te versorg. Dit het in 1998 gekom toe John rustig in my arms gesterf het, kort nadat hy 85 geword het—tot die einde toe onwrikbaar in sy lojaliteit. Hoe sien ek tog daarna uit om hom weer in die opstanding te sien wanneer hy fisies en verstandelik weer gesond sal wees!

Ek word verkwik

Ná John se dood was dit nie vir my maklik om alleen te wees nie. Gevolglik het ek in Mei 1999 by my suster, Thelma, en haar man in die Verenigde State gaan kuier. Hoe genotvol en verkwikkend was dit tog om weer talle lojale, dierbare vriende te sien, veral tydens ons besoek aan die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York! Dit was beslis die geestelike hupstoot wat ek nodig gehad het.

Wanneer ek nadink oor die lewe van my getroue geliefdes, herinner dit my aan soveel dinge waarby ek baat gevind het. Deur middel van hulle onderrigting, voorbeeld en hulp het ek geleer om verruim te word in my liefde vir mense van ander nasies en rasse. Ek het geleer om geduldig en aanpasbaar te wees en om te volhard. Bowenal het ek die goedheid van Jehovah, die Hoorder van gebed, ondervind. Ek voel soos die psalmis wat geskryf het: “Gelukkig is die een wat u uitkies en laat nader kom, sodat hy in u voorhowe kan woon. Ons sal beslis versadig word met die goeie van u huis.”—Psalm 65:4.

[Voetnoot]

a Sien The Watchtower van 1 Augustus 1959, bladsye 468-72.

[Prent op bladsy 8]

My ouma saam met haar dogters

[Prent op bladsy 9]

Saam met my ouers toe ek in 1948 gedoop is

[Prent op bladsy 10]

Saam met Albert Schroeder, die registrateur van Gilead, en die nege ander studente van Suid-Afrika

[Prent op bladsy 10]

Saam met John in 1984