Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Godsdiens—Watter nut het dit?

Godsdiens—Watter nut het dit?

Godsdiens—Watter nut het dit?

“EK KAN ’n goeie mens wees sonder om godsdienstig te wees!” Dit is ’n algemene gevoel onder mense. Talle eerlike, medelydende, verantwoordelike mense word nie deur godsdiens aangetrek nie. Byvoorbeeld, min Wes-Europeërs is kerkgangers, hoewel die meeste sê dat hulle aan God glo. a Selfs in Latyns-Amerika gaan net 15 tot 20 persent van Katolieke gereeld kerk toe.

Soos baie ander, voel jy moontlik dat daar geen verband tussen godsdiens en ’n beter lewe is nie. Maar miskien is jy ook bewus daarvan dat die meeste mense dekades gelede, in jou oupa en ouma se tyd, baie godsdienstiger was as wat hulle vandag is. Hoe het godsdiens sy universele aantrekkingskrag verloor? Kan jy ’n goeie mens wees sonder om godsdienstig te wees? Is daar ’n godsdiens wat jou tot voordeel kan strek?

Waarom baie hulle van godsdiens afgekeer het

Die meeste mense in die Christendom het eeue lank geglo dat God gehoorsaamheid vereis. Hulle het kerk toe gegaan om God se guns te verkry, óf deur ritusse wat deur ’n priester uitgevoer is óf deur leiding wat deur ’n predikant voorsien is. Baie was natuurlik bewus van die huigelary in godsdiens. Die rol van godsdiens in oorloë was algemeen bekend, asook die verdorwe gedrag van party geestelikes. Maar die meeste mense het gevoel dat godsdiens op sigself goed is. Ander het gehou van die geheimsinnige atmosfeer, die tradisie en die musiek; party het selfs iets goeds gesien in die leerstelling van ewige verdoemenis in die hel, ’n leerstelling wat nie in die Skrif gevind word nie. Maar toe het verskeie verwikkelinge baie mense se beskouing van die kerke verander.

Die evolusieteorie het gewild geword. Party het oortuig geraak dat lewe toevallig ontstaan het—sonder God. Die meeste godsdienste het versuim om oortuigende bewys te voorsien dat God die Bron van die lewe is (Psalm 36:9). Boonop het tegnologiese vooruitgang tot groot prestasies in die geneeskunde, vervoer en kommunikasie gelei, sodat mense die indruk gekry het dat enige probleem deur die wetenskap opgelos kan word. Verder is daar gemeen dat sosioloë en sielkundiges beter leiding voorsien as die kerke. Wat die kerke betref, hulle het versuim om duidelike bewyse te voorsien dat diegene wat volgens God se wet lewe, die beste lewenswyse geniet.—Jakobus 1:25.

In reaksie hierop het baie kerke hulle boodskap verander. Priesters en predikante het nie meer geleer dat God gehoorsaamheid vereis nie. Baie het eerder geleer dat elke individu self moet besluit wat reg en wat verkeerd is. Om gewildheid te probeer verkry, het party godsdiensleiers beweer dat God jou aanvaar ongeag hoe jy lewe. Sulke leringe herinner ’n mens aan wat die Bybel voorspel het: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word.”—2 Timoteus 4:3.

Sulke leringe het mense eerder afgestoot as aangetrek. Hulle het natuurlikerwys gewonder: ‘As die kerke twyfel aan God se krag om te skep en God se wysheid om wette te maak, wat baat dit my dan om kerk toe te gaan? Waarom moet ek die moeite doen om vir my kinders godsdiens te leer?’ Persone wat maar net ’n goeie lewe probeer lei het, het godsdiens as betekenisloos begin beskou. Hulle het die kerke verlaat, en godsdiens was nie meer vir hulle belangrik nie. Waar het iets wat reg behoort te wees, so verkeerd geloop? Die Bybel voorsien ’n oortuigende verduideliking.

Godsdiens vir bose oogmerke gebruik

Die apostel Paulus het die vroeë Christene gewaarsku dat party mense die Christelike godsdiens vir bose oogmerke sou gebruik. Hy het gesê: “Onderdrukkende wolwe [sal] onder julle . . . inkom en die kudde nie met teerheid . . . behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Een persoon wat “verdraaide dinge” gespreek het, was die Rooms-Katolieke teoloog Augustinus. Jesus het sy volgelinge geleer om ander te oortuig deur uit die Skrif te redeneer. Maar Augustinus het Jesus se woorde in Lukas 14:23: “Dwing hulle om in te kom”, verdraai om te beteken dat dit aanvaarbaar was om dwang te gebruik in die werk om mense te bekeer (Matteus 28:19, 20; Handelinge 28:23, 24). Augustinus het godsdiens gebruik om mense te beheer.

Satan, ’n opstandige engel, sit agter die misbruik en verderwing van godsdiens. Hy het godsdienstige manne in die eerste eeu aangehits om Christengemeentes te probeer verderf. Die Bybel sê van daardie manne: “Sulke mense is valse apostels, bedrieglike werkers, wat hulleself in apostels van Christus verander. En geen wonder nie, want Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander. Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om hulle in bedienaars van regverdigheid te verander nie.”—2 Korintiërs 11:13-15.

Satan gebruik nog steeds godsdiens wat voorgee dat dit Christelik, sedelik en verligtend is om mense so ver te kry om eerder volgens sy standaarde as God s’n te lewe (Lukas 4:5-7). Jy het waarskynlik al gesien dat baie geestelikes van vandag godsdiens gebruik om hulleself met hoogdrawende titels te verhef en om geld uit hulle kuddes te kry. Regerings het godsdiens ook al gebruik om burgers te oorreed om hulle lewe in oorloë op te offer.

Die Duiwel maak op groter skaal van godsdiens gebruik as wat die meeste mense besef. Jy dink dalk dat net ’n paar godsdiensekstremiste Satan se belange bevorder. Maar die Bybel sê dat “die een wat Duiwel en Satan genoem word, . . . die hele bewoonde aarde mislei”. Die Bybel sê ook: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (Openbaring 12:9; 1 Johannes 5:19). Hoe voel God oor godsdiens wat gebruik word deur leiers wat mense bloot agter hulleself wil aantrek?

“Waarom sou Ek omgee?”

As jy geskok is deur die gedrag van party kerke van die Christendom, weet dan dat God die Almagtige baie ontevrede met hulle is. Die Christendom beweer dat hulle ’n verbond met God gesluit het; eertydse Israel het ’n soortgelyke bewering gemaak. Albei was ontrou. Jehovah se veroordeling van Israel is dus net soveel van toepassing op die Christendom van vandag. Jehovah het gesê: “Hulle het hulle nie aan my woorde gesteur nie, hulle het verwerp wat Ek hulle geleer het. Waarom sou Ek omgee vir wierook uit Skeba? . . . Ek hou nie van julle offers nie” (Jeremia 6:19, 20, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). God het nie dade van aanbidding aanvaar wat deur huigelaars verrig is nie. Hy het nie belanggestel in hulle rituele en gebede nie. Hy het vir Israel gesê: “Julle feestye het my siel gehaat. Hulle het vir my ’n las geword; ek het moeg geword om hulle te dra. En wanneer julle julle palms uitstrek, verberg ek my oë vir julle. Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie.”—Jesaja 1:14, 15.

Is Jehovah ingenome met feeste wat deur die kerke as Christelik voorgestel word, maar wat oorspronklik ter ere van valse gode gehou is? Luister hy na die gebede van geestelikes wat Christus se leringe verderf? Aanvaar God enige godsdiens wat sy wet verwerp? Jy kan daarvan seker wees dat hy vandag dieselfde reageer op kerkgebruike as wat hy gereageer het op die offerandes van Israel van ouds, waarvan hy gesê het: “Waarom sou Ek omgee?”

Aanbidding wat in waarheid deur opregte mense beoefen word, is nietemin vir Jehovah baie belangrik. Dit behaag God wanneer mense hulle waardering uitspreek vir alles wat hulle van hom ontvang (Maleagi 3:16, 17). Kan jy dus ’n goeie mens wees as jy God nie aanbid nie? Iemand wat niks vir sy liefdevolle ouers doen nie, kan homself nouliks met reg as goed beskou, nie waar nie? Kan iemand wat niks vir God doen nie, goed wees? Ons moet redelikerwys ’n daadwerklike belangstelling in die ware God toon, by wie lewe self ontstaan het. In die volgende artikel sal ons sien hoe ware aanbidding nie net God vereer nie, maar ook tot ons voordeel is.

[Voetnoot]

a “Die 1960’s . . . het in baie lande die ineenstorting van die godsdienskultuur as ’n geheel ingelui.”—The Decline of Christendom in Western Europe, 1750-2000.

[Prent op bladsy 4]

Het die kerke mense se aandag gevestig op die bewyse dat God alles geskep het?

[Prent op bladsy 4, 5]

Hoort ’n verteenwoordiger van God in hierdie situasie?

[Prent op bladsy 5]

Hoe beskou God hierdie soort feeste?

[Erkenning]

AP Photo/Georgy Abdaladze