Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om die “Hoorder van die Gebed” te nader

Hoe om die “Hoorder van die Gebed” te nader

Hoe om die “Hoorder van die gebed” te nader

“O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom.”—PSALM 65:2.

1. Wat onderskei mense van die ander skepsele op aarde, en wat maak dit moontlik?

 VAN al die duisende lewende skepsele op aarde het slegs mense die vermoë om die Skepper te aanbid. Slegs mense is daarvan bewus dat hulle ’n geestelike behoefte het en het die begeerte om dit te bevredig. Dit maak dit vir ons moontlik om die wonderlike voorreg te geniet om ’n persoonlike verhouding met ons hemelse Vader te hê.

2. Watter nadelige uitwerking het sonde op die mens se verhouding met sy Skepper gehad?

2 God het die mens geskep met die vermoë om sy Maker te nader. Adam en Eva is sonder sonde geskep. Hulle kon God dus net so vryelik nader as wat ’n kind sy vader nader. Maar hulle het hierdie wonderlike voorreg weens sonde verbeur. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en het hulle hegte verhouding met hom verloor (Genesis 3:8-13, 17-24). Beteken dit dat Adam se onvolmaakte nakomelinge nie meer met God kan kommunikeer nie? Nee, Jehovah laat hulle nog steeds toe om hom te nader, maar slegs as hulle aan sekere vereistes voldoen. Wat is daardie vereistes?

Vereistes om God te nader

3. Hoe moet sondige mense God nader, en watter voorbeeld lig dit toe?

3 ’n Gebeurtenis waarby twee van Adam se seuns betrokke was, help ons om te sien wat God van ’n onvolmaakte mens vereis wat Hom wil nader. Beide Kain en Abel het God probeer nader deur aan hom offerandes te bring. Abel se offerande is aangeneem, maar nie Kain s’n nie (Genesis 4:3-5). Waarom die verskil? Hebreërs 11:4 sê: “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, en deur hierdie geloof het hy getuienis aangaande homself ontvang dat hy regverdig is.” Dit is dus duidelik dat geloof ’n voorvereiste is om toegang tot God te verkry. Nog ’n voorvereiste word gesien in Jehovah se woorde aan Kain: “As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan nie ’n verheffing wees nie?” Ja, as Kain hom daartoe gewend het om goed te doen, sou sy poging om God te nader vir Hom aanvaarbaar gewees het. Maar Kain het God se raad verwerp, Abel doodgemaak en uiteindelik ’n uitgeworpene geword (Genesis 4:7-12). Die belangrikheid daarvan om God in geloof te nader asook goeie werke te doen, is dus vroeg reeds beklemtoon.

4. Wat moet ons erken as ons God wil nader?

4 Dit is noodsaaklik dat ons ons eie sondige toestand erken as ons God wil nader. Almal is sondig, en sonde is ’n hindernis wanneer ons God nader. Die profeet Jeremia het aangaande Israel geskryf: “Ons het oortree . . . U het toegang tot u met ’n wolkmassa versper, sodat gebed nie kan deurdring nie” (Klaagliedere 3:42, 44). Nogtans het God deur die mensegeskiedenis heen getoon dat hy bereid is om die gebede aan te neem van diegene wat hom in geloof en met die regte hartstoestand nader en wat sy gebooie bewaar (Psalm 119:145). Wie was sommige van hierdie mense, en wat kan ons uit hulle gebede leer?

5, 6. Wat kan ons leer uit die manier waarop Abraham God genader het?

5 Een van hulle was Abraham. Hy het God op ’n aanneemlike manier genader, want God het Abraham “my vriend” genoem (Jesaja 41:8). Wat kan ons leer uit die manier waarop Abraham God genader het? Hierdie getroue aartsvader het Jehovah in verband met ’n erfgenaam gevra: “Wat sal u my gee, aangesien ek kinderloos heengaan?” (Genesis 15:2, 3; 17:18). By ’n ander geleentheid het hy sy besorgdheid uitgespreek oor wie gered sou word wanneer God oordeel voltrek aan die goddeloses in Sodom en Gomorra (Genesis 18:23-33). Abraham het ook smeekbedes ten behoewe van ander gedoen (Genesis 20:7, 17). En soos in Abel se geval, het Abraham God soms genader deur ’n offerande aan Jehovah te bring.—Genesis 22:9-14.

6 By al hierdie geleenthede het Abraham die vrymoedigheid gehad om met Jehovah te praat. Maar sy vrymoedigheid van spraak het gepaardgegaan met ’n nederige beskouing van sy posisie voor sy Skepper. Let op sy eerbiedige woorde in Genesis 18:27: “Asseblief, kyk, ek het dit op my geneem om met Jehovah te praat, hoewel ek stof en as is.” Wat ’n goeie gesindheid om na te volg!

7. Oor watter sake het die aartsvaders tot Jehovah gebid?

7 Die aartsvaders het oor verskeie sake gebid, en hulle is deur Jehovah verhoor. Jakob het ’n gebed gedoen in die vorm van ’n gelofte. Nadat hy God se ondersteuning gevra het, het hy plegtig belowe: “Van alles wat u my sal gee, sal ek vir seker ’n tiende daarvan aan u gee” (Genesis 28:20-22). Later, net voordat Jakob sy broer sou ontmoet, het hy Jehovah gesmeek om hom te beskerm en gesê: “Verlos my uit my broer se hand, uit Esau se hand, want ek is bang vir hom” (Genesis 32:9-12). Die aartsvader Job het Jehovah namens sy gesin genader en offerandes ten behoewe van hulle gebring. Toe Job se drie metgeselle in woord gesondig het, het Job vir hulle gebid, en “Jehovah [het] Job se aangesig aangeneem” (Job 1:5; 42:7-9). Hierdie verslae help ons om sake te identifiseer waaroor ons tot Jehovah kan bid. Ons sien ook dat Jehovah bereid is om die gebede te aanvaar van diegene wat hom op die regte manier nader.

Onder die Wetsverbond

8. Hoe is sake onder die Wetsverbond ten behoewe van die volk voor Jehovah gebring?

8 Nadat Jehovah die nasie Israel uit Egipte verlos het, het hy hulle die Wetsverbond gegee. Die Wet het die reëling voorgeskryf waarvolgens God deur middel van ’n aangestelde priesterdom genader kon word. Party Leviete is toegewys om as priesters ten behoewe van die volk op te tree. Wanneer sake van nasionale belang ontstaan het, het ’n verteenwoordiger van die volk—soms ’n koning of ’n profeet—die saak in gebed voor God gebring (1 Samuel 8:21, 22; 14:36-41; Jeremia 42:1-3). Byvoorbeeld, tydens die toewyding van die tempel het koning Salomo Jehovah in hartgrondige gebed genader. Op sy beurt het Jehovah getoon dat hy Salomo se gebed aanneem deur die tempel met Sy heerlikheid te vul en te sê: “My ore [sal] ag gee op gebed in hierdie plek.”—2 Kronieke 6:12–7:3, 15.

9. Wat is vereis om Jehovah op aanneemlike wyse by die tempel te nader?

9 In die Wet wat aan Israel gegee is, het Jehovah ’n vereiste ingesluit om hom op aanneemlike wyse by die tempel te nader. Wat was dit? Elke oggend en elke aand moes die hoëpriester, benewens om diereofferandes te bring, ook welriekende reukwerk voor Jehovah brand. Later het onderpriesters ook hierdie diens verrig, behalwe op die Versoendag. As die priesters nie op hierdie respekvolle wyse eer aan Jehovah betoon het nie, sou hy nie met hulle diens tevrede wees nie.—Eksodus 30:7, 8; 2 Kronieke 13:11.

10, 11. Watter bewys het ons dat Jehovah die gebede van individue aangeneem het?

10 Kon God slegs deur middel van aangewese verteenwoordigers in eertydse Israel genader word? Nee, die Skrif toon dat Jehovah behae daarin geskep het om die persoonlike gebede van individue aan te neem. In Salomo se inwydingsgebed by die tempel het hy Jehovah gesmeek: “Watter gebed, watter versoek om guns daar ook al mag wees van enige mens of van u hele volk Israel, . . . wanneer hy sy palms na hierdie huis toe uitstrek, mag u dan hoor vanuit die hemel” (2 Kronieke 6:29, 30). Toe Sagaria, die vader van Johannes die Doper, reukwerk in die tempel geoffer het, het ’n menigte niepriesterlike aanbidders van Jehovah volgens Lukas se verslag “buite gebid”. Dit het blykbaar ’n gebruik onder die mense geword om buite die tempel bymekaar te kom en te bid terwyl reukwerk op die goue altaar aan Jehovah geoffer is.—Lukas 1:8-10.

11 Wanneer Jehovah dus op die regte manier genader is, het hy met graagte geluister na die versoeke van diegene wat die hele nasie verteenwoordig het en van individue wat hom persoonlik wou nader. Vandag lewe ons nie meer onder die Wetsverbond nie. Ons kan nietemin belangrike lesse in verband met gebed leer uit die maniere waarop die eertydse Israeliete God genader het.

Onder die Christelike reëling

12. Watter reëling is daar vir Christene om Jehovah te nader?

12 Ons lewe nou onder die Christelike reëling. Daar is nie meer ’n fisiese tempel waarin priesters al God se knegte verteenwoordig of waarheen ons ons kan draai wanneer ons tot God bid nie. Jehovah het nietemin nog steeds ’n reëling waardeur ons hom moet nader. Wat is dit? In 29 G.J., toe Christus gesalf en as Hoëpriester aangestel is, het ’n geestelike tempel in werking getree. a Hierdie geestelike tempel was die nuwe reëling om Jehovah op grond van die soenoffer van Jesus Christus in aanbidding te nader.—Hebreërs 9:11, 12.

13. Wat gebed betref, wat is een ooreenkoms tussen die tempel in Jerusalem en die geestelike tempel?

13 Baie kenmerke van die tempel in Jerusalem is goeie voorstellings van voorsienings wat deur middel van die geestelike tempel gemaak word, insluitende dié wat met gebed verband hou (Hebreërs 9:1-10). Wat is byvoorbeeld deur die reukwerk voorgestel wat soggens en saans op die reukaltaar in die Heilige van die tempel geoffer is? Volgens die boek Openbaring ‘beteken die reukwerk die gebede van die heiliges’ (Openbaring 5:8; 8:3, 4). Dawid is geïnspireer om te skryf: “Mag my gebed soos reukwerk voor u berei word” (Psalm 141:2). Onder die Christelike reëling stel die welriekende reukwerk dus gepas aanneemlike gebede en lofbetuigings voor wat tot Jehovah gerig word.—1 Tessalonisense 3:10.

14, 15. Wat kan gesê word oor toegang tot Jehovah in die geval van (a) gesalfde Christene? (b) die “ander skape”?

14 Wie kan God by hierdie geestelike tempel nader? By die fisiese tempel het die priesters en Leviete die voorreg gehad om in die binneste voorhof te dien, maar slegs die priesters kon in die Heilige ingaan. Gesalfde Christene met die hemelse hoop geniet ’n unieke geestelike toestand wat deur die binneste voorhof en die Heilige voorafgeskadu is en wat hulle in staat stel om tot God te bid en hom te loof.

15 Wat van diegene met ’n aardse hoop, die “ander skape”? (Johannes 10:16). Die profeet Jesaja het aangedui dat mense van baie nasies “aan die einde van die dae” sou kom om Jehovah te aanbid (Jesaja 2:2, 3). Hy het ook geskryf dat “uitlanders” hulle met Jehovah sou verbind. As ’n aanduiding van God se gewilligheid om hulle toe te laat om hom te nader, het hy gesê: “Hulle sal ek . . . in my huis van gebed vreugde gee” (Jesaja 56:6, 7). Openbaring 7:9-15 gee verdere besonderhede en vertel van “’n groot menigte” uit “alle nasies” wat “dag en nag” bymekaarkom om God te aanbid en gebede tot hom te rig terwyl hulle in die buitenste voorhof van die geestelike tempel staan. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat al God se hedendaagse knegte God vryelik kan nader met die volle vertroue dat hy hulle hoor!

Watter gebede word aangeneem?

16. Wat kan ons by die vroeë Christene oor gebed leer?

16 Die vroeë Christene was mense van gebed. Waaroor het hulle gebid? Christen- ouer manne het leiding gevra om manne vir organisatoriese verantwoordelikhede te kies (Handelinge 1:24, 25; 6:5, 6). Epafras het vir medegelowiges gebid (Kolossense 4:12). Lede van die gemeente in Jerusalem het vir Petrus gebid toe hy in die gevangenis was (Handelinge 12:5). Die vroeë Christene het God gevra om hulle vrymoedigheid te gee te midde van teenstand en gesê: “Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek” (Handelinge 4:23-30). Die dissipel Jakobus het Christene aangespoor om tot God te bid vir wysheid wanneer hulle beproef word (Jakobus 1:5). Sluit jy sulke sake in jou versoeke tot Jehovah in?

17. Wie se gebede neem Jehovah aan?

17 God neem nie alle gebede aan nie. Hoe kan ons dan bid met die vertroue dat ons gebede aangeneem sal word? Getroue persone na wie God in vroeëre tye geluister het, het hom in opregtheid en met die regte hartstoestand genader. Hulle het geloof geopenbaar en dit deur goeie werke gerugsteun. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah sal luister na diegene wat hom vandag op dieselfde manier nader.

18. Aan watter vereiste moet Christene voldoen sodat hulle gebede verhoor kan word?

18 Daar is nog ’n vereiste. Die apostel Paulus het dit verduidelik en gesê: “Deur middel van hom het ons . . . deur een gees die toegang tot die Vader.” Na wie het Paulus verwys toe hy geskryf het “deur middel van hom”? Na Jesus Christus (Efesiërs 2:13, 18). Ja, ons kan slegs deur middel van Jesus vrye toegang tot die Vader hê.—Johannes 14:6; 15:16; 16:23, 24.

19. (a) Wanneer het die reukoffers in Israel vir Jehovah afstootlik geword? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons gebede soos welriekende reukwerk vir Jehovah is?

19 Soos reeds genoem is, stel die reukwerk wat deur die Israelitiese priesters geoffer is, die aanneemlike gebede van God se getroue knegte voor. Maar soms was die reukoffers van die Israeliete vir Jehovah walglik. Dit was die geval toe die Israeliete reukwerk in die tempel gebrand het, maar hulle terselfdertyd voor afgode neergebuig het (Esegiël 8:10, 11). Net so word die gebede van diegene wat vandag bely dat hulle Jehovah dien, maar terselfdertyd werke beoefen wat strydig met sy wette is, soos ’n afstootlike reuk vir hom (Spreuke 15:8). Laat ons dan voortgaan om alle aspekte van ons lewe rein te hou sodat ons gebede vir God soos welriekende reukwerk is. Jehovah skep behae in die gebede van diegene wat sy regverdige weë volg (Johannes 9:31). Maar daar is nog vrae wat beantwoord moet word. Hoe moet ons bid? Waarvoor kan ons bid? En hoe verhoor God ons gebede? Ons volgende artikel sal hierdie en ander vrae bespreek.

[Voetnoot]

Kan jy verduidelik?

• Hoe kan onvolmaakte mense God op aanneemlike wyse nader?

• Hoe kan ons die aartsvaders in ons gebede navolg?

• Wat leer ons uit die gebede van die vroeë Christene?

• Wanneer is ons gebede soos welriekende reukwerk vir Go

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Waarom het God Abel se offerande aangeneem, maar nie Kain s’n nie?

[Prent op bladsy 24]

‘Ek is stof en as’

[Prent op bladsy 25]

‘Ek sal vir seker ’n tiende daarvan aan u gee’

[Prent op bladsy 26]

Is jou gebede soos welriekende reukwerk vir Jehovah?