Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe ons werklik in “die laaste dae”?

Lewe ons werklik in “die laaste dae”?

Lewe ons werklik in “die laaste dae”?

VERWIKKELINGE op twee gebiede help ons om die tydperk te identifiseer wat die Bybel die laaste dae noem. Die Skrif voorspel gebeure wat gedurende die tyd van “die voleinding van die stelsel van dinge” sal plaasvind (Matteus 24:3). Die Bybel praat ook van veranderinge in die gesindhede en optrede van mense wat in “die laaste dae” lewe.—2 Timoteus 3:1.

Wêreldgebeure tesame met die gedrag en karaktertrekke van mense bewys dat ons in die laaste dae lewe en dat God se Koninkryk binnekort ewige seëninge sal bring vir diegene wat God liefhet. Kom ons kyk eerstens na drie kenmerke wat Jesus gesê het die laaste dae sou aandui.

“’n Begin van weë van benoudheid”

“Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk”, het Jesus gesê, “en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.” Hy het bygevoeg: “Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid” (Matteus 24:7, 8). Kom ons ondersoek “hierdie dinge” een op ’n slag.

Ontstellend baie mense is gedurende die afgelope eeu in oorloë en etniese konflikte doodgemaak. “Drie keer soveel mense het in [die 20ste] eeu in oorloë omgekom as in al die oorloë van die eerste eeu n.C. tot 1899”, sê ’n vakkundige verslag van die Worldwatch-instituut. In sy boek Humanity—A Moral History of the Twentieth Century skryf Jonathan Glover: “Na skatting het 86 miljoen mense in die tydperk van 1900 tot 1989 weens oorlog gesterf. . . . Sterftes in twintigste-eeuse oorloë was so hoog dat dit die verstand te bowe gaan. Om die gemiddelde van die aantal sterftes te bereken, weerspieël nie die werklikheid nie, aangesien omtrent twee derdes (58 miljoen) in die twee wêreldoorloë omgekom het. Maar as hierdie sterftes eweredig oor die tydperk versprei was, sou dit beteken het dat oorloë elke dag sowat 2 500 lewens geëis het; dit is meer as 100 mense per uur, dag en nag, negentig jaar lank.” Kan jy jou voorstel watter smart en pyn dit moes veroorsaak het vir die miljoene familielede en vriende van dié wat gesterf het?

Ondanks die feit dat die wêreld baie voedsel produseer, is voedseltekorte een van die dinge waardeur die laaste dae gekenmerk word. Navorsers sê dat voedselproduksie oor die afgelope 30 jaar vinniger as die bevolking toegeneem het. Nietemin kom voedseltekorte in groot gebiede van die wêreld voor omdat baie mense te min grond het waarop hulle voedsel kan kweek of te min geld het om voedsel te koop. In ontwikkelende lande lewe sowat 1,2 miljard mense van een dollar of minder per dag. Ongeveer 780 miljoen van hierdie mense ly chronies honger. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie speel ondervoeding ’n groot rol in die sterftes van meer as vyfmiljoen kinders elke jaar.

Wat kan gesê word oor die voorspelde aardbewings? Volgens die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames het daar sedert 1990 alleen gemiddeld 17 aardbewings per jaar voorgekom wat kragtig genoeg was om geboue te verwoes. En gemiddeld een keer per jaar was daar ’n aardbewing wat kragtig genoeg was om geboue byna heeltemal te verwoes. “Aardbewings het honderdduisende lewens in die afgelope 100 jaar geëis”, sê ’n ander bron. Een rede hiervoor is dat talle groot bevolkingsentrums sedert 1914 in aardbewingsones ontwikkel het.

Ander betekenisvolle verwikkelinge

‘Daar sal op die een plek na die ander pessiektes wees’, het Jesus gesê (Lukas 21:11). Die mediese wetenskap is vandag meer gevorderd as ooit tevore. Nietemin teister ou sowel as nuwe siektes steeds die mensdom. ’n Dokument van die Amerikaanse Nasionale Intelligensieraad sê: “Twintig welbekende siektes—waaronder tuberkulose (TB), malaria en cholera—het sedert 1973 weer kop uitgesteek of geografies versprei, dikwels in hewiger vorme en vorme wat bestand is teen geneesmiddels. Ten minste 30 siekteagense wat voorheen onbekend was, is sedert 1973 geïdentifiseer, onder andere MIV, Ebola, hepatitis C en die Nipah-virus, waarvoor daar geen genesing is nie.” Volgens ’n Rooikruisverslag van 28 Junie 2000 het omtrent 160 keer meer mense gedurende die vorige jaar weens besmetlike siektes gesterf as weens natuurrampe.

“Die toename in wetteloosheid” is nog ’n opmerkenswaardige kenmerk van die laaste dae (Matteus 24:12). Regoor die wêreld hou mense op die meeste plekke deesdae hulle huis gesluit of voel hulle saans nie veilig op straat nie. En wat van die lug-, water- en grondbesoedeling wat ons sien, wat dikwels weens onwettige praktyke plaasvind? Ook dít is ter vervulling van wat die Bybel voorspel het. Die boek Openbaring praat van God se vasgestelde tyd om “die verderwers van die aarde te verderf”.—Openbaring 11:18.

Die soort mense wat in die laaste dae lewe

Slaan asseblief jou Bybel oop by 2 Timoteus 3:1-5 en lees dit. Die apostel Paulus skryf dat daar “in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”. Dan noem hy 20 karaktertrekke wat goddelose mense sou openbaar. Het jy al party van hierdie karaktertrekke gesien in mense wat in jou omgewing woon? Kyk wat in onlangse tye oor die mense van vandag gesê is.

“Liefhebbers van hulleself” (2 Timoteus 3:2). “[Mense] dring soos nog nooit tevore nie daarop aan om hulle eie ding te doen. [Hulle] is besig om gode te word en verwag dat ander hulle so behandel.”—Financial Times, koerant, Engeland.

“Liefhebbers van geld” (2 Timoteus 3:2). “Die selfsugtige gees van materialisme het in onlangse tye die gees van beskeidenheid oorweldig. Tensy jy in die gemeenskap as ryk beskou word, is jou lewe nie die moeite werd nie.”—Jakarta Post, koerant, Indonesië.

“Ongehoorsaam aan ouers” (2 Timoteus 3:2). “Ouers is verstom wanneer hulle 4-jarige hulle hiet en gebied asof hy [die Franse koning] Lodewyk XIV is of wanneer hulle 8-jarige skreeu: ‘Ek haat jou!’”—American Educator, tydskrif, Verenigde State.

“Dislojaal” (2 Timoteus 3:2). “Die feit dat mans dit al hoe makliker vind om hulle huweliksmaat en kinders te verlaat, is moontlik dié grootste verandering in sedelike waardes gedurende die [afgelope 40 jaar].”—Wilson Quarterly, tydskrif, Verenigde State.

“Sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:3). “Gesinsgeweld is die oorheersende faktor in die daaglikse lewe van gemeenskappe regoor die wêreld.”—Journal of the American Medical Association, tydskrif, Verenigde State.

“Sonder selfbeheersing” (2 Timoteus 3:3). “Baie van die berigte wat elke oggend op die voorblad van die koerant verskyn, weerspieël denkpatrone wat getuig van ’n gebrek aan selfbeheersing, sedelike waardes en barmhartigheid teenoor ander en hulleself. . . . As ons samelewing voortgaan om aggressiewe gedrag goed te keur, soos tans die geval is, sal dit binnekort ’n fase van sedelike verval binnegaan.”—Bangkok Post, koerant, Thailand.

“Wreedaardig” (2 Timoteus 3:3). “Redelose woede en onbeheerste toorn [word] gesien op paaie, in gesinsgeweld, . . . en [in] die oënskynlik sinlose en onnodige geweld wat dikwels met misdaad gepaardgaan. Geweld tref enigiemand te eniger tyd en dit laat mense alleen en weerloos voel.”—Business Day, koerant, Suid-Afrika.

“Liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:4). “Seksuele bevryding het ’n sedelike kruistog geword, waarin Christelike sedelikheid die vyand is.”—Boundless, ’n Internettydskrif.

“[Mense] wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Timoteus 3:5). “[’n Gewese prostituut in Nederland] het erken dat teenstand teen die wettiging [van prostitusie] hoofsaaklik van godsdiensgroepe kom. Sy het gepouseer, en toe het sy met ’n glimlag gesê dat heelwat geestelikes onder haar gereelde klante was toe sy ’n prostituut was. ‘Prostitute sê altyd dat hulle beste klante uit die godsdiensgemeenskap kom’, het sy gelag.”—National Catholic Reporter, koerant, Verenigde State.

Wat lê voor?

Die wêreld van vandag is vol probleme, net soos die Bybel voorspel het. Maar die profesie oor “die teken van [Christus se] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” bevat ’n positiewe aspek. “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies”, het Jesus gesê (Matteus 24:3, 14). Die goeie nuus van God se Koninkryk word in meer as 230 lande verkondig. Meer as sesmiljoen mense wat uit “alle nasies en stamme en volke en tale” kom, neem ywerig deel aan die Koninkrykspredikingswerk (Openbaring 7:9). Wat is deur hulle ywerige werk bereik? Die volgende: Die boodskap van wat die Koninkryk is, wat dit sal doen en hoe mense die seëninge daarvan kan ontvang, is beskikbaar vir feitlik almal op die aarde. Trouens, ‘die ware kennis het in die tyd van die einde oorvloedig geword’.—Daniël 12:4.

Jy het dus goeie rede om hierdie kennis in te neem. Dink aan wat sal gebeur nadat die goeie nuus na Jehovah se goeddunke verkondig is. Jesus het gesê: “Dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Dit sal God se tyd wees om van alle goddeloosheid op die aarde ontslae te raak. Spreuke 2:22 sê: “Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.” Wat van Satan en sy demone? Hulle sal in ’n afgrond gewerp word, waar hulle die nasies nie meer sal kan mislei nie (Openbaring 20:1-3). Dan ‘sal die regskapenes en die onberispelikes op die aarde oorbly’. En hulle sal wonderlike Koninkrykseëninge geniet.—Spreuke 2:21; Openbaring 21:3-5.

Wat kan jy doen?

Dit ly geen twyfel nie. Die einde van Satan se stelsel is op hande. Diegene wat die bewyse ignoreer dat ons in die laaste dae lewe, sal onverhoeds betrap word wanneer die einde kom (Matteus 24:37-39; 1 Tessalonisense 5:2). Daarom het Jesus vir sy toehoorders gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:34-36.

Slegs diegene wat ’n goedgekeurde posisie voor die Seun van die mens, Jesus, geniet, sal die vooruitsig hê om die einde van hierdie stelsel van dinge te oorleef. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons die oorblywende tyd gebruik om die goedkeuring van Jehovah God en Jesus Christus te verkry! Jesus het in gebed tot God gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Dit sal dus verstandig van jou wees om meer omtrent Jehovah God en sy vereistes te leer. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help om te verstaan wat die Bybel leer. Ons nooi jou hartlik uit om met hulle in aanraking te kom of aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.

[Venster/Prente op bladsy 7]

KENMERKE VAN DIE LAASTE DAE

VERNAME VERWIKKELINGE:

▪ Oorloë.—Matteus 24:6, 7.

▪ Voedseltekorte.—Matteus 24:7.

▪ Aardbewings.—Matteus 24:7.

▪ Pessiektes.—Lukas 21:11.

▪ Toename in wetteloosheid.—Matteus 24:12.

▪ Aarde word verderf.—Openbaring 11:18.

MENSE:

▪ Liefhebbers van hulleself.—2 Timoteus 3:2.

▪ Liefhebbers van geld.—2 Timoteus 3:2.

▪ Hoogmoedig.—2 Timoteus 3:2.

▪ Ongehoorsaam aan ouers.—2 Timoteus 3:2.

▪ Ondankbaar.—2 Timoteus 3:2.

▪ Dislojaal.—2 Timoteus 3:2.

▪ Sonder natuurlike geneentheid.—2 Timoteus 3:3.

▪ Sonder selfbeheersing.—2 Timoteus 3:3.

▪ Wreedaardig.—2 Timoteus 3:3.

▪ Liefhebbers van genot.—2 Timoteus 3:4.

▪ Godsdienshuigelaars.—2 Timoteus 3:5.

WARE AANBIDDERS:

▪ Besit oorvloedige kennis.—Daniël 12:4.

▪ Verkondig die goeie nuus in die hele wêreld.—Matteus 24:14.

[Erkenning]

UNITED NATIONS/Photo by F. GRIFFING