Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Ons kan nie ophou praat oor Jesus nie’

‘Ons kan nie ophou praat oor Jesus nie’

“Ons moet eerder aan god as heerser gehoorsaam wees as aan mense”

‘Ons kan nie ophou praat oor Jesus nie’

DIE jaar is 33 G.J., en die plek is die indrukwekkende hofsaal van die Joodse Hoë Raad in Jerusalem. Dit is hier waar die Sanhedrin 12 van Jesus Christus se volgelinge gaan verhoor. Waarom? Omdat hulle oor Jesus getuig het. Die apostels Petrus en Johannes verskyn vir die tweede keer voor die hof. Dit is die ander apostels se eerste verhoor.

Die hoëpriester spreek die 12 apostels aan oor die bevel wat die hof vroeër uitgevaardig het. Toe hulle by daardie geleentheid beveel is om op te hou om ander van Jesus te leer, het die apostels Petrus en Johannes geantwoord: “Of dit regverdig is in God se oë om na julle eerder as na God te luister, moet julle self oordeel. Maar wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat Jesus se dissipels gebid het vir moed, het hulle voortgegaan om die goeie nuus te verkondig.—Handelinge 4:18-31.

Die hoëpriester besef dat sy vorige dreigemente nie gewerk het nie en sê by hierdie tweede verhoor: “Ons het julle uitdruklik beveel om nie voort te gaan om in hierdie naam te leer nie, en kyk! julle het Jerusalem nietemin met julle leer vervul, en julle is vasbeslote om die bloed van hierdie man oor ons te bring.”—Handelinge 5:28.

Onwankelbare vasbeslotenheid

Vol moed sê Petrus en die ander apostels: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Ja, wanneer die eise van mense met Jehovah se wette bots, moet ons eerder aan hom gehoorsaam wees as aan blote mense. a

Die apostels se woorde wat hulle getrouheid aan God bevestig, behoort besondere gewig te dra by die lede van die Sanhedrin. As hierdie leiers van die Joodse gemeenskap gevra sou word oor gehoorsaamheid aan God, behoort hulle soos een man te antwoord: “Gehoorsaam God.” Hulle glo immers dat God die Soewereine Heer van die heelal is, nie waar nie?

Petrus, wat blykbaar al die apostels verteenwoordig, sê dat hulle God eerder as mense gehoorsaam wanneer dit by hulle bediening kom. Sodoende toon hy dat die beskuldiging oor die apostels se beweerde ongehoorsaamheid ongeldig is. Die lede van die Sanhedrin weet uit hulle eie nasie se geskiedenis dat daar gevalle is wanneer dit ongetwyfeld reg is om God eerder as mense te gehoorsaam. Twee vroedvroue in Egipte het God gevrees, en nie Farao nie, deur die seuntjies te laat lewe wat vir Hebreeuse vroue gebore is (Eksodus 1:15-17). Toe daar druk op koning Hiskia geplaas is om hom oor te gee, het hy Jehovah gehoorsaam, nie koning Sanherib nie (2 Konings 19:14-37). Die Hebreeuse Geskrifte, waarmee die lede van die Sanhedrin vertroud is, beklemtoon dat Jehovah verwag dat sy volk hom moet gehoorsaam.—1 Samuel 15:22, 23.

Gehoorsaamheid word beloon

Ten minste een lid van die Hoë Raad word blykbaar geraak deur die woorde: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” Tydens ’n geslote sessie oortuig Gamaliël, ’n hooggeagte regter van die Sanhedrin, die hof om na sy wyse raad te luister. Deur voorbeelde uit die verlede aan te haal, toon Gamaliël dat dit onwys sal wees om met die werk van die apostels in te meng. Hy sluit af deur te sê: “Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle . . . ; anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:34-39.

Gamaliël se verstandige woorde oortuig die Hoë Raad dat hulle die apostels moet vrylaat. Hoewel die apostels geslaan word, laat hulle hulle geensins intimideer deur hierdie ondervinding nie. Die Bybelverslag sê eerder: “Hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.”—Handelinge 5:42.

Hoe is die apostels tog geseën omdat hulle streng daarby gehou het dat God die hoogste gesag is! Ware Christene van vandag het dieselfde gesindheid. Jehovah se Getuies hou aan om Jehovah as hulle Opperheerser te beskou. As hulle beveel word om teen God se wette op te tree, antwoord hulle soos die apostels: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2006, September/Oktober.

[Venster/Prente op bladsy 9]

HET JY AL GEWONDER?

Hoe het die Evangelieskrywer Lukas inligting verkry oor Gamaliël se stellings wat in ’n geslote sessie van die Sanhedrin gemaak is? Gamaliël se woorde is moontlik deur goddelike inspirasie aan Lukas geopenbaar. Dalk het Paulus (wat voorheen ’n student van Gamaliël was) vir Lukas gesê wat Gamaliël gesê het. Of Lukas het dalk ’n goedgesinde lid van die Hoë Raad geraadpleeg.