Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die mens se soeke na ewige lewe

Die mens se soeke na ewige lewe

Die mens se soeke na ewige lewe

VAN die vroegste tye af het die mens daarvan gedroom om vir ewig te lewe. Tog bly daardie droom onvervuld—nog niemand het ’n manier gevind om die dood te oorwin nie. Maar onlangs het mediese navorsing weer die hoop laat opvlam dat dit wel moontlik is om die mens se lewensduur aansienlik te verleng. Kyk na wat in verskeie wetenskaplike studievelde nagestreef word.

Bioloë eksperimenteer met die ensiem telomerase om die beperking te probeer oorkom wat daar blykbaar bestaan op die aantal kere wat selle hulleself hernieu. Wetenskaplikes is daarvan bewus dat ou selle wat agteruitgaan, verwyder word en deur nuwe selle vervang word. Trouens, die grootste deel van die liggaam word verskeie kere deur die loop van ’n mens se lewe hernieu. Navorsers bespiegel dat, as die hernuwingsproses verleng kan word, “die menseliggaam hom vanself oor ’n baie lang tydperk kan bly hernieu—selfs vir ewig”.

Terapeutiese kloning, ’n kontroversiële navorsingsveld, kan oorplantingspasiënte teoreties van ’n nuwe lewer, nier of hart voorsien, wat glad nie deur die liggaam verwerp sal word nie. Hierdie organe sal gekweek word deur van die pasiënt se eie stamselle gebruik te maak.

Navorsers op die gebied van nanotegnologie voorsien ’n tyd wanneer dokters robotte so groot soos selle in die bloedstroom sal plaas om kankerselle en skadelike bakterieë op te spoor en te vernietig. Party glo dat hierdie veld van die wetenskap, tesame met geenterapieë, die menseliggaam uiteindelik in staat sal stel om vir ’n onbepaalde tyd te funksioneer.

Voorstanders van kriogenika vries die liggame van dooies. Die idee is om die liggame te bewaar totdat mediese deurbrake dokters in staat stel om siektes te genees, die gevolge van veroudering om te keer en lewe en gesondheid aan die dooies terug te gee. Die American Journal of Geriatric Psychiatry noem hierdie konsep “’n hedendaagse ekwivalent van die eertydse Egiptenare se mummifikasie”.

Die mens se onvermoeibare soeke na onsterflikheid toon hoe moeilik dit is om die idee te aanvaar dat sy bestaan tot ’n einde kom. Is dit werklik moontlik vir die mensdom om ewige lewe te verkry? Wat sê die Bybel hieroor? Die volgende artikel sal die antwoorde voorsien.