Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoop op Jehovah, en wees moedig

Hoop op Jehovah, en wees moedig

Hoop op Jehovah, en wees moedig

“Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah.”—PSALM 27:14.

1. Hoe belangrik is hoop, en hoe word die woord in die Skrif gebruik?

 WARE hoop is soos ’n helder lig. Dit help ons om verder te sien as die huidige beproewinge en om die toekoms met moed en blydskap tegemoet te gaan. Slegs Jehovah kan ons ’n vaste hoop gee, en hy doen dit deur middel van sy geïnspireerde Woord (2 Timoteus 3:16). Trouens, die woorde “hoop” en “gehoop” kom meer as 160 keer in die Bybel voor en verwys na die gretige en vaste verwagting van iets goeds sowel as na dit wat verwag word. a Hierdie hoop is baie meer as net ’n wens, waarvoor daar geen grondslag of vooruitsig op vervulling is nie.

2. Watter rol het hoop in Jesus se lewe gespeel?

2 Toe Jesus voor beproewinge en ontberinge te staan gekom het, het hy verder as die hede gekyk en op Jehovah gehoop. “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Hebreërs 12:2). Omdat sy blik stip gerig was op die vooruitsig om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en Sy naam te heilig, het Jesus nooit afgewyk van sy weg van gehoorsaamheid aan God nie, ongeag wat dit van hom geverg het.

3. Watter rol speel hoop in die lewe van God se knegte?

3 Koning Dawid toon die verband tussen hoop en moed, waar hy sê: “Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah” (Psalm 27:14). As ons wil hê dat ons hart sterk moet wees, moet ons nooit toelaat dat ons hoop vervaag nie, maar moet ons dit altyd helder in ons verstand en na aan ons hart hou. Dit sal ons help om Jesus na te volg deur moedig en ywerig deel te neem aan die werk wat hy sy dissipels beveel het om te doen (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ja, hoop word saam met geloof en liefde genoem as ’n noodsaaklike, blywende eienskap wat die lewe van God se knegte kenmerk.—1 Korintiërs 13:13.

Is jy ‘oorvloedig in hoop’?

4. Waarna sien gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “ander skape”, gretig uit?

4 God se volk het ’n wonderlike toekoms wat vir hulle voorlê. Gesalfde Christene wag gretig daarop om saam met Christus in die hemel te dien, terwyl die “ander skape” die hoop het om “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak [te] word en die glorieryke vryheid van die [aardse] kinders van God [te] hê” (Johannes 10:16; Romeine 8:19-21; Filippense 3:20). Daardie “glorieryke vryheid” sluit bevryding van sonde en die verskriklike gevolge daarvan in. Jehovah—die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”—sal beslis niks minder vir sy lojale knegte gee nie.—Jakobus 1:17; Jesaja 25:8.

5. Hoe word ons ‘oorvloedig in hoop’?

5 Hoe groot moet die rol wees wat Christelike hoop in ons lewe speel? In Romeine 15:13 lees ons: “Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vervul deurdat julle glo, sodat julle oorvloedig kan wees in hoop met krag van die heilige gees.” Ja, hoop kan vergelyk word, nie met ’n kers in die donker nie, maar met die helder strale van die oggendson, wat ’n mens se lewe met vrede, geluk, ’n doel en moed vul. Let op dat ons “oorvloedig kan wees in hoop” wanneer ons God se geskrewe Woord glo en sy heilige gees ontvang. Romeine 15:4 sê: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.” Vra jou dus af: ‘Hou ek my hoop helder deur ’n goeie student van die Bybel te wees, dit daagliks te lees? Bid ek dikwels vir God se gees?’—Lukas 11:13.

6. Waarteen moet ons waak as ons ons hoop helder wil hou?

6 Jesus, ons Voorbeeld, is versterk deur God se Woord. As ons noukeurig op hom let, sal ons nie “moeg word en in [ons] siel beswyk nie” (Hebreërs 12:3). Maar as ons godgegewe hoop in ons verstand en hart vervaag of as ons ons blik op iets anders toespits—dalk op materiële dinge of sekulêre doelwitte—kan geestelike moegheid ons kort voor lank oorval, wat uiteindelik daartoe sal lei dat ons ons sedelike krag en moed verloor. In so ’n toestand kan ons selfs ‘skipbreuk ly wat ons geloof betref’ (1 Timoteus 1:19). Daarenteen versterk ware hoop ons geloof.

Hoop—onontbeerlik vir geloof

7. In watter opsig is hoop onontbeerlik vir geloof?

7 “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie”, sê die Bybel (Hebreërs 11:1). Hoop is dus nie net iets wat terloops met geloof saamgaan nie; dit is ’n onontbeerlike element van geloof. Dink aan Abraham. Uit ’n menslike oogpunt was hy en sy vrou, Sara, te oud om kinders te hê toe Jehovah hulle ’n erfgenaam beloof het (Genesis 17:15-17). Hoe het Abraham gereageer? “Hoewel daar nie meer hoop was nie, het hy tog op grond van hoop geloof gehad, dat hy die vader van baie nasies kon word” (Romeine 4:18). Ja, Abraham se godgegewe hoop het ’n stewige grondslag voorsien vir sy geloof dat hy ’n nageslag sou hê. Sy geloof het weer sy hoop helderder en sterker gemaak. Abraham en Sara het immers selfs die moed gehad om hulle huis en hulle familielede te verlaat en die res van hulle lewe in tente in ’n vreemde land te woon!

8. Hoe word hoop deur getroue volharding versterk?

8 Abraham het ’n vaste hoop behou deur Jehovah onvoorwaardelik te gehoorsaam, selfs wanneer dit moeilik was om dit te doen (Genesis 22:2, 12). As ons gehoorsaam is en in Jehovah se diens volhard, kan ons eweneens seker wees van ons beloning. “Volharding”, het Paulus geskryf, lei tot “’n goedgekeurde toestand”, wat weer hoop voortbring, “en die hoop lei nie tot teleurstelling nie” (Romeine 5:4, 5). Daarom het Paulus ook geskryf: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê” (Hebreërs 6:11). So ’n positiewe uitkyk, wat op ’n hegte verhouding met Jehovah gegrond is, kan ons help om enige ontbering met moed, selfs vreugde, te verduur.

“Verbly julle in die hoop”

9. Wat moet ons gereeld doen om ons te “verbly . . . in die hoop”?

9 Ons godgegewe hoop is oneindig ver verhewe bo enigiets wat die wêreld kan aanbied. Psalm 37:34 sê: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.” Ja, ons het alle rede om ons te “verbly . . . in die hoop” (Romeine 12:12). Maar om dit te doen, moet ons ons hoop helder hou in ons verstand. Dink jy gereeld na oor jou godgegewe hoop? Kan jy jouself in die Paradys sien, blakend gesond, vry van sorge, omring deur mense wat jy liefhet en besig met waarlik bevredigende werk? Peins jy oor die Paradystonele wat in ons publikasies uitgebeeld word? Wanneer jy gereeld hieroor peins, is dit amper soos om ’n venster skoon te maak wat ’n pragtige uitsig bied. As ons nie die glas skoonhou nie, sal dit kort voor lank so stowwerig en vuil wees dat ons die toneel nie meer duidelik sal kan sien en aantreklik sal vind nie. Ander dinge kan dan ons aandag aflei. Mag ons nooit toelaat dat dit gebeur nie!

10. Hoe toon dit dat ons ’n goeie verhouding met Jehovah het as ons uitsien na die beloning?

10 Die hoofrede waarom ons Jehovah dien, is natuurlik omdat ons hom liefhet (Markus 12:30). Nietemin moet ons gretig uitsien na die beloning. Trouens, Jehovah verwag dit van ons! Hebreërs 11:6 sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.” Waarom wil Jehovah hê dat ons hom as die Beloner moet beskou? Want wanneer ons dit doen, toon ons dat ons ons hemelse Vader goed ken. Hy is vrygewig en het sy kinders lief. Dink net hoe ongelukkig ons sou wees en hoe maklik ons ontmoedig sou word as ons nie “’n toekoms en ’n hoop” gehad het nie.—Jeremia 29:11.

11. Hoe het Moses se godgegewe hoop hom gehelp om wyse besluite te neem?

11 ’n Uitstekende voorbeeld van iemand wat sy blik op sy godgegewe hoop gerig gehou het, is Moses. As “die seun van Farao se dogter” het Moses mag, aansien en die rykdom van Egipte tot sy beskikking gehad. Sou hy hierdie dinge nastreef, of sou hy Jehovah dien? Moses het moedig laasgenoemde gekies. Waarom? Want hy “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” (Hebreërs 11:24-26). Ja, Moses was beslis nie onverskillig teenoor die hoop wat Jehovah voor hom gestel het nie.

12. Waarom is Christelike hoop soos ’n helm?

12 Die apostel Paulus het hoop met ’n helm vergelyk. Ons figuurlike helm beskerm ons verstandelike vermoëns, wat ons in staat stel om wyse besluite te neem, die regte prioriteite vas te stel en ons onkreukbaarheid te handhaaf (1 Tessalonisense 5:8). Dra jy te alle tye jou figuurlike helm? Indien wel, sal jy soos Moses en Paulus jou hoop “nie op onsekere rykdom . . . vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf”. Dit verg weliswaar moed om teen die stroom te gaan deur jou rug op selfsugtige strewes te draai, maar dit is beslis die inspanning werd! Waarom sou jy immers enigiets minder kies as “die werklike lewe”, wat wag op diegene wat op Jehovah hoop en hom liefhet?—1 Timoteus 6:17, 19.

“Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat . . . nie”

13. Watter versekering gee Jehovah sy lojale knegte?

13 Mense wat hulle hoop op die huidige stelsel van dinge vestig, voel ongetwyfeld baie onseker oor die dag van môre terwyl die wêreld steeds toenemende “weë van benoudheid” ondervind (Matteus 24:8). Maar diegene wat op Jehovah hoop, het glad nie sulke vrese nie. Hulle sal voortgaan om “in veiligheid [te] woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spreuke 1:33). Omdat hulle hoop nie op die huidige stelsel gevestig is nie, gehoorsaam hulle met blydskap Paulus se raad: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’”—Hebreërs 13:5.

14. Waarom moet Christene hulle nie uitermate kwel oor hulle materiële behoeftes nie?

14 “Hoegenaamd nie” en “ooit”—hierdie nadruklike verklarings laat geen twyfel dat God vir ons sal sorg nie. Jesus het ons ook van God se liefdevolle besorgdheid verseker deur te sê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge [die materiële noodsaaklikhede van die lewe] sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê” (Matteus 6:33, 34). Jehovah weet dat dit vir ons ’n uitdaging is om ywerig vir sy Koninkryk te wees en terselfdertyd ons volle verantwoordelikheid na te kom om in ons fisiese behoeftes te voorsien. Laat ons dus ons volle vertroue stel in sy vermoë en begeerte om na ons behoeftes om te sien.—Matteus 6:25-32; 11:28-30.

15. Hoe hou Christene hulle ‘oog eenvoudig’?

15 Ons toon ons vertroue op Jehovah wanneer ons ons ‘oog eenvoudig’ hou (Matteus 6:22, 23). ’n Eenvoudige oog is opreg, het suiwer beweegredes en is vry van gierigheid en selfsugtige ambisie. Om ons oog eenvoudig te hou, beteken nie dat ons in volslae armoede moet lewe of nie na ons Christelike verantwoordelikhede moet omsien nie. Dit beteken eerder dat ons “gesonde verstand” aan die dag moet lê terwyl ons Jehovah se diens eerste stel.—2 Timoteus 1:7.

16. Waarom is geloof en moed nodig om ons oog eenvoudig te hou?

16 Dit vereis geloof en moed om ons oog eenvoudig te hou. Sal jy byvoorbeeld die moed hê om by jou geestelike prioriteite te bly as ’n werkgewer gereeld daarop aandring dat jy op tye vir Christelike vergaderinge moet werk? As ’n persoon twyfel of Jehovah Sy belofte sal hou om vir Sy knegte te sorg, hoef Satan net aan te hou om druk uit te oefen en so iemand sal dalk heeltemal ophou om vergaderinge by te woon. Ja, as ons ’n gebrek aan geloof openbaar, kan dit Satan ’n houvas op ons gee sodat hý ons prioriteite vasstel, en nie Jehovah nie. Wat ’n tragedie sal dit tog nie wees nie!—2 Korintiërs 13:5.

“Hoop op Jehovah”

17. Hoe is diegene wat op Jehovah vertrou, selfs nou geseënd?

17 Die Skrif toon herhaaldelik dat diegene wat op Jehovah hoop en vertrou, nooit teleurgestel word nie (Spreuke 3:5, 6; Jeremia 17:7). Hulle moet weliswaar soms met minder tevrede wees, maar hulle beskou dit as ’n klein opoffering in vergelyking met die seëninge wat op hulle wag. Sodoende bewys hulle dat hulle ‘op Jehovah hoop’ en vol vertroue is dat hy uiteindelik aan sy lojale knegte al die regverdige begeertes van hulle hart sal gee (Psalm 37:4, 34). Daarom is hulle selfs nou waarlik gelukkig. “Die verwagting van die regverdiges is ’n vreugde, maar die hoop van die goddeloses sal vergaan.”—Spreuke 10:28.

18, 19. (a) Watter liefdevolle versekering gee Jehovah ons? (b) Hoe hou ons Jehovah aan ons “regterhand”?

18 Wanneer ’n seuntjie sy pa se hand vashou terwyl hulle stap, voel hy veilig en geborge. Dieselfde is waar van ons terwyl ons met ons hemelse Vader wandel. “Moenie bang wees nie”, het Jehovah vir Israel gesê, “want ek is met jou. . . . Ek sal jou werklik help. . . . Want ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:10, 13.

19 Wat ’n aangrypende beeld word hier geskets—Jehovah wat jou hand vashou! “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel”, het Dawid geskryf. “Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Psalm 16:8). Hoe hou ons Jehovah aan ons “regterhand”? Ons doen dit op ten minste twee maniere. Eerstens, ons laat sy Woord ons lei in elke aspek van die lewe; en tweedens, ons hou ons blik gerig op die wonderlike prys wat Jehovah vir ons voorhou. Die psalmis Asaf het gesing: “Ek is voortdurend by u; u het my regterhand gevat. Met u raad sal u my lei, en daarna sal u my selfs tot heerlikheid voer” (Psalm 73:23, 24). Met hierdie versekering kan ons waarlik die toekoms met vertroue tegemoetgaan.

“Julle verlossing kom nader”

20, 21. Watter toekoms wag op diegene wat op Jehovah hoop?

20 Met elke dag wat verbygaan, word dit al hoe dringender dat ons Jehovah aan ons regterhand hou. Binnekort sal Satan se wêreld ’n verdrukking ondervind soos nog nooit tevore nie, wat sal begin met die vernietiging van valse godsdiens (Matteus 24:21). Vrees sal die ongelowige mensdom oorval. Maar gedurende daardie chaotiese tyd sal Jehovah se moedige knegte hulle verbly in hulle hoop! “Wanneer hierdie dinge begin gebeur”, het Jesus gesê, “staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader.”—Lukas 21:28.

21 Laat ons ons dus verbly in ons godgegewe hoop en nie bedrieg of verlok word deur Satan se listige afleidings nie. Laat ons terselfdertyd hard werk om geloof, liefde, en godvrugtige vrees aan te kweek. Sodoende sal ons die moed hê om onder alle omstandighede aan Jehovah gehoorsaam te wees en die Duiwel teë te staan (Jakobus 4:7, 8). Ja, “wees moedig, en laat julle hart sterk wees, almal wat op Jehovah wag”.—Psalm 31:24.

[Voetnoot]

a Hoewel die woord “hoop” in die Christelike Griekse Geskrifte dikwels op die hemelse beloning van gesalfde Christene toegepas word, word hoop in hierdie artikel in die algemene sin van die woord bespreek.

Kan jy antwoord?

• Hoe is Jesus se moed deur sy hoop versterk?

• Watter verband is daar tussen geloof en hoop?

• Hoe kan hoop tesame met geloof ’n Christen die moed gee om die regte prioriteite in sy lewe vas te stel?

• Waarom kan diegene wat ‘op Jehovah hoop’ die toekoms met vertroue tegemoetgaan?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Kan jy, hetsy jy jonk of oud is, jou in die Paradys sien?