Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle weg gevind op ’n eindelose oseaan

Hulle het hulle weg gevind op ’n eindelose oseaan

Hulle het hulle weg gevind op ’n eindelose oseaan

DIE Marshall-eilande bestaan uit meer as 1 200 groot en klein eilande, waarvan die meeste net ’n paar meter bo seevlak uitsteek. As ’n mens net ’n entjie van hulle af wegvaar, kan jy hulle glad nie meer sien nie. Tog kon eertydse bewoners van die Marshall-eilande in hulle vlerkkano’s van eilandjie na eilandjie navigeer en hulle weg vind op sowat tweemiljoen vierkante kilometer van die Stille Oseaan. Hoe het hulle dit reggekry? Hulle het sogenoemde stokkaarte gebruik, wat eenvoudig, dog uiters doeltreffend was.

Navigators van die Marshall-eilande het uit ondervinding geleer dat ’n eiland golfpatrone skep wat dit moontlik maak om die ligging daarvan op ’n afstand van tot 30 kilometer te bepaal. Daar was tientalle golfpatrone wat geleer moes word, en die stokkaarte het as ’n geheuehulp gedien. Hoe het stokkaarte gelyk? Soos jy in die prentjie kan sien, was stokkies wat gemaak is van repe skroefpalmwortels of die hoofaar van kokosblare, aan mekaar vasgebind om ’n latwerk te vorm wat golfpatrone voorgestel het. Klein skulpies is daaraan vasgemaak om die relatiewe posisies van eilande aan te dui.

Navigasie met behulp van stokkaarte is jare lank geheim gehou en slegs aan sekeres bekend gemaak. Hoe het ’n jong navigator geleer om ’n stokkaart te gebruik? Slegs deur opleiding en oefening. ’n Ervare navigator het die jong man privaat opgelei, moontlik deur hom saam te neem na nabygeleë eilande. Namate die leerling die golfpatrone leer ken het, het hy groter vertroue in sy stokkaart gekry. Uiteindelik kon hy oseaan op sy eie aandurf.

Net so kan God se Woord, die Bybel, as ’n gids op ons lewensreis dien. Aanvanklik help iemand ons miskien om ’n basiese begrip van die Skrif te verkry. Namate ons dan voortgaan om God se Woord te bestudeer en die beginsels daarin toe te pas, kry ons meer vertroue in wat dit sê. Daar is vir Josua, die leier van die Israeliete, gesê om die Woord van God voortdurend te lees sodat hy “sorgvuldig [kon] handel volgens alles wat daarin geskrywe staan”. “Dan”, het God vir Josua gesê, “sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Josua 1:8). Ja, die Bybel kan vir ons ’n veilige en suksesvolle lewensweg uiteensit.

[Foto-erkenning op bladsy 32]

© Greg Vaughn