Is die Bybel te beperkend?
Is die Bybel te beperkend?
“AS KIND is ek geen Bybelstandaarde geleer nie. God is nooit eens genoem nie”, sê ’n jong man in Finland. Vandag is so ’n agtergrond algemeen. Baie mense, veral die jeug, beskou die Bybel as hopeloos te outyds en die raad daarin as te beperkend. Diegene wat die Bybel wil volg, word deur ander beskou as onderdrukte mense wat met beperkings en gebooie belas is. Daarom meen baie dat dit beter is om die Bybel op die boekrak te los en elders leiding te soek.
Hierdie beskouing wat mense van die Bybel het, is in groot mate die gevolg van die lang geskiedenis van onderdrukking deur die kerke van die Christendom. Byvoorbeeld, gedurende die tydperk wat sommige geskiedkundiges die Donker Eeue noem, het die Katolieke Kerk in Europa feitlik elke aspek van mense se lewens beheer. Enigeen wat dit gewaag het om met die kerk te verskil, het gevaar geloop om gemartel en selfs tereggestel te word. Die Protestantse kerke, wat later op die toneel verskyn het, het ook persoonlike vryheid beperk. Vandag laat terme soos “Calvinis” of “Puritein” ’n mens nie net dink aan die aanhangers van sekere godsdienste nie, maar ook aan die streng dissipline wat met sulke groepe geassosieer word. Omdat die kerke onderdrukkend was, kom mense dus verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat die leringe van die Bybel seker ook onderdrukkend is.
In onlangse eeue het die kerke in groot mate hulle houvas op mense se lewens verloor, ten minste in sommige lande. Tradisionele godsdiensoortuigings is vervang met die opvatting dat mense die reg het om self te besluit wat reg en wat verkeerd is. Met watter gevolg? Ahti Laitinen, ’n professor in kriminologie en regssosiologie, verduidelik: “Respek vir gesag het afgeneem, en mense se begrip van wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is, word al hoe vaer.” Ironies genoeg, selfs kerkleiers het hierdie denkwyse aangeneem. ’n Prominente Lutherse biskop het gesê: “Ek verwerp oor die algemeen die beskouing dat sedelike kwessies opgelos word deur jou tot die Bybel of die een of ander godsdiensgesag te wend.”
Is onbeperkte vryheid begeerlik?
Die idee van onbeperkte vryheid klink dalk aantreklik, veral vir jongmense. Min mense hou daarvan om soos kinders behandel te word of om volgens ’n lys moets en moenies te lewe. Maar moet almal vry wees om te doen net wat hulle wil? Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons na ’n illustrasie kyk. Stel jou ’n stad voor waar daar geen verkeerswette is nie. Geen bestuurderslisensie of bestuurstoets is nodig nie. Mense kan bestuur net soos hulle wil, selfs onder die invloed, sonder om besorg te wees oor spoedbeperkings, stoptekens,
verkeersligte, eenrigtingstrate of voetoorgange. Sou sulke “vryheid” begeerlik wees? Beslis nie! Dit sal chaos, verwarring en rampspoed tot gevolg hê. Hoewel verkeerswette mense se vryheid beperk, besef ons dat hierdie wette bestuurders sowel as voetgangers beskerm.Op soortgelyke wyse gee Jehovah leiding oor hoe ons moet lewe. Dit strek ons tot voordeel. Sonder hierdie leiding sal ons deur dure ondervinding moet leer, wat onsself en ander kan benadeel. So ’n atmosfeer van sedelike anargie sal net so ongewens en gevaarlik wees soos om in ’n stad sonder verkeerswette te bestuur. Die waarheid is, ons het reëls en wette van die een of ander aard nodig—’n feit wat die meeste mense geredelik erken.
“My vrag is lig”
Verkeerswette behels dalk ’n lang en breedvoerige lys regulasies—op party plekke is die aantal parkeerreëls eenvoudig verstommend. Die Bybel daarenteen sit nie ’n lang lys reëls uiteen nie. Dit sit eerder basiese beginsels uiteen, en dit is nie swaar of onderdrukkend nie. Jesus Christus het ’n aantreklike uitnodiging aan sy tydgenote gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28, 30). In ’n brief aan die Christengemeente in Korinte het die apostel Paulus geskryf: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.”—2 Korintiërs 3:17.
Daardie vryheid is egter nie onbeperk nie. Jesus het dit duidelik gestel dat God se vereistes ’n paar eenvoudige gebooie insluit. Jesus het byvoorbeeld vir sy dissipels gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Stel jou voor hoe die lewe sou gewees het as almal daardie gebod toegepas het! Die vryheid wat Christene geniet, is dus nie sonder beperkings nie. Die apostel Petrus het geskryf: “Wees soos vry mense, maar behou julle vryheid, nie as ’n dekmantel vir slegtheid nie, maar as slawe van God.”—1 Petrus 2:16.
Al word Christene dus nie deur ’n breedvoerige lys wette ingeperk nie, tree hulle nie op volgens hulle eie idees van wat reg en verkeerd is nie. Mense het die leiding nodig wat slegs God hulle kan gee. Die Bybel sê eenvoudig: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). As ons God se riglyne gehoorsaam, sal ons grootliks daarby baat vind.—Psalm 19:11.
Een van die voordele is geluk. Die jong man wat aan die begin genoem is, was byvoorbeeld ’n dief en ’n leuenaar. Hy het ook ’n promiskue lewe gelei. Toe hy die Bybel se hoë standaarde geleer het, het hy sy lewenswyse in ooreenstemming daarmee verander. “Hoewel ek nie onmiddellik al die Bybel se standaarde kon volg nie”, het hy gesê, “het ek die waarde daarvan besef. My vorige lewenswyse het nie vir my die vreugde gebring wat ek nou geniet
nie. ’n Mens se lewe word vereenvoudig wanneer jy volgens Bybelstandaarde lewe. Jy weet waarheen jy op pad is, en wat reg en wat verkeerd is.”Miljoene mense het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Die leiding in die Bybel het hulle onder andere gehelp om beter menseverhoudings te geniet, om ’n gebalanseerde beskouing van werk aan te kweek, om skadelike gewoontes te vermy en sodoende ’n gelukkiger lewe te lei. Markus, a ’n jong man wat op ’n stadium nie volgens Bybelstandaarde gelewe het nie, sê nou van sy lewe: “Deur volgens die Bybel te lewe, kon ek my selfrespek vergroot.” b
Wat is jou keuse?
Is die Bybel dus beperkend? Die antwoord is ja—tot ons almal se voordeel. Maar is die Bybel te beperkend? Die antwoord is nee. Onbeperkte vryheid lei slegs tot probleme. Die Bybel se standaarde is gebalanseerd, en dit bevorder ons welsyn en geluk. Markus sê: “Mettertyd het ek besef hoe wys dit is om God se Woord in die lewe toe te pas. Hoewel my lewe in baie opsigte verskil van dié van mense oor die algemeen, dink ek nie vir ’n oomblik dat ek enigiets wat die moeite werd is in die lewe, ontsê is nie.”
Wanneer jy die seëninge begin ondervind wat dit meebring om volgens Bybelstandaarde te lewe, sal jou waardering vir God se Woord toeneem. Dit sal lei tot ’n selfs groter seëning—jy sal die goddelike Bron daarvan, Jehovah God, leer liefkry. “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 Johannes 5:3.
Jehovah is ons Skepper sowel as ons hemelse Vader. Hy weet wat die beste vir ons is. Hy beperk ons nie, maar gee ons eerder liefdevolle leiding vir ons beswil. In digterlike taal spoor Jehovah ons aan: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:18.
[Voetnote]
a Die naam is verander.
b Vir meer inligting oor die lewenswyse wat in die Bybel uiteengesit word, sien hoofstuk 12 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 9]
Jesus het gesê dat God se vereistes verkwikkend sal wees
[Prent op bladsy 10]
Dit bring geluk en selfrespek mee as ons God se leiding gehoorsaam