Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het my gehelp om die lewe se uitdagings die hoof te bied

Jehovah het my gehelp om die lewe se uitdagings die hoof te bied

Lewensverhaal

Jehovah het my gehelp om die lewe se uitdagings die hoof te bied

SOOS VERTEL DEUR DALE IRWIN

“AGT IS GENOEG! VIERLING VERDUBBEL DIE VERANTWOORDELIKHEID.” So het ’n plaaslike koerantopskrif gelui wat die toevoeging van ’n vierling tot ons gesin van vier dogters aangekondig het. Toe ek jonk was, was ek glad nie van plan om te trou nie, om nie eens te praat van kinders te hê nie. Maar hier was ek—die vader van agt!

EK IS in 1934 gebore in die dorp Mareeba, Australië. Ek was die jongste van drie kinders. Ons gesin het later na Brisbane verhuis, waar my ma Sondagskool by die Metodistekerk gehou het.

Vroeg in 1938 het plaaslike koerante berig dat Joseph F. Rutherford van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dalk toegang tot Australië geweier sou word. “Waarom behandel hulle hom so?” het my ma die volgende Getuie gevra wat aan ons deur geklop het. Die Getuie het geantwoord: “Het Jesus nie gesê dat mense sy volgelinge sou vervolg nie?” My ma het toe die boekie Cure geneem, wat baie verskille tussen ware en valse godsdiens uiteengesit het. a Die boekie het my ma beïndruk, en daarom het sy ons kinders die volgende Sondag na ’n vergadering van Jehovah se Getuies geneem. Aanvanklik het my pa hewig beswaar gemaak, maar nou en dan het hy Bybelvrae neergeskryf wat my ma vir een van die broers moes gee. Die broer het op sy beurt skriftuurlike antwoorde vir my ma neergeskryf om vir my pa te gee.

Een Sondag het my pa saam met ons na die vergadering toe gegaan, met die doel om sy ontevredenheid oor die Getuies te lug. Maar nadat my pa gepraat het met die reisende opsiener wat op daardie stadium die gemeente besoek het, het sy gesindheid verander en het hy selfs toegelaat dat ons huis gebruik word vir ’n weeklikse Bybelstudie, wat deur belangstellendes in ons omgewing bygewoon is.

In September 1938 is my ouers gedoop. Ons kinders is in Desember 1941 gedoop by ’n nasionale streekbyeenkoms wat by Hargreave Park in Sydney, Nieu-Suid-Wallis, gehou is. Ek was sewe jaar oud. Daarna het ek gereeld saam met my ouers aan die veldbediening deelgeneem. Destyds het die Getuies draagbare grammofone van deur tot deur geneem en vir huisbewoners opnames van Bybeltoesprake gespeel.

Een Getuie wat ek nog baie goed onthou, is Bert Horton. Hy het ’n klankmotor gehad—’n voertuig wat toegerus was met ’n kragtige klankversterker en ’n groot luidspreker wat op die dak vasgemaak was. Dit was opwindend om saam met Bert te werk, veral vir ’n seun van my ouderdom. Wanneer ons byvoorbeeld ’n Bybeltoespraak van die top van ’n heuwel af uitgesaai het, het ons dikwels ’n polisiemotor in ons rigting sien ry. Bert het dan vinnig sy toerusting afgeskakel, na ’n ander heuwel kilometers daarvandaan gery en nog ’n opname gespeel. Ek het baie by Bert en ander lojale, moedige broers soos hy geleer oor vertroue in Jehovah en vrymoedigheid.—Matteus 10:16.

Toe ek 12 jaar oud was, het ek gereeld ná skool op my eie getuig. By een geleentheid het ek die Adshead-gesin ontmoet. Mettertyd het albei ouers, hulle agt kinders en baie kleinkinders tot ’n kennis van die waarheid gekom. Ek dank Jehovah dat hy my, ’n blote kind, toegelaat het om Bybelwaarheid aan hierdie dierbare gesin bekend te maak.—Matteus 21:16.

Vroeë diensvoorregte

Toe ek 18 was, het ek ’n voltydse pionierbedienaar geword en is ek na Maitland, Nieu-Suid-Wallis, gestuur. In 1956 is ek genooi om by die Australiese takkantoor in Sydney te gaan dien. Ongeveer ’n derde van die personeel van 20 was van die gesalfdes, wat die hoop het om saam met Christus in sy hemelse Koninkryk te regeer. Wat ’n voorreg was dit tog om saam met hulle te werk!—Lukas 12:32; Openbaring 1:6; 5:10.

My voorneme om ongetroud te bly, het soos mis voor die son verdwyn toe ek Judy Helberg ontmoet het, ’n aantreklike pioniersuster wat genooi is om tydelik by die takkantoor te dien om my met ’n groot projek te help. Ek en Judy het verlief geraak, en twee jaar later is ons getroud. Daarna het ons in die kringwerk begin, wat behels het dat ons elke week een gemeente van Jehovah se Getuies besoek om die broers aan te moedig.

In 1960 het Judy aan ons eerste dogter, Kim, geboorte gegee. Vandag sal ’n egpaar die kringwerk moet verlaat en hulle êrens moet vestig as hulle ’n baba sou hê. Maar tot ons groot verbasing is ons genooi om voort te gaan om gemeentes te besoek. Nadat ons baie hieroor gebid het, het ons die uitnodiging aanvaar, en die volgende sewe maande het Kim 13 000 kilometer saam met ons per bus, vliegtuig en trein gereis terwyl ons gemeentes in die uithoeke van Queensland en die Noordelike Gebied bedien het. Ons het op daardie stadium nie ’n motor gehad nie.

Ons het altyd in die huise van die broers en susters gebly. Weens die tropiese klimaat het die slaapkamers destyds gewoonlik gordyne in plaas van deure gehad, wat ons meer gespanne laat voel het wanneer Kim snags gehuil het. Die verantwoordelikheid om vir ’n baba te sorg en na ons toewysing om te sien, was uiteindelik te moeilik vir ons. Daarom het ons in Brisbane gaan bly, en ek het sierverfwerk begin doen, ’n soort kommersiële kuns. Twee jaar ná Kim se geboorte, het ons nog ’n dogter gehad, Petina.

’n Tragedie

In 1972, toe die meisies 12 en 10 jaar oud was, is Judy oorlede aan Hodgkin se siekte, ’n soort limfoom. Hierdie verlies was vir ons gesin byna ondraaglik. Jehovah het ons nietemin gedurende Judy se siekte en ná haar dood deur middel van sy Woord, sy heilige gees en die broederskap vertroos. Ons het ook krag geput uit ’n Wagtoring wat ons net ná die tragedie ontvang het. Dit het ’n artikel bevat wat gehandel het oor persoonlike beproewinge, onder andere die dood van ’n geliefde, en het getoon hoe beproewinge ons kan help om godvrugtige eienskappe, soos volharding, geloof en onkreukbaarheid, te ontwikkel. bJakobus 1:2-4.

Ná Judy se dood het ek en die meisies baie nader aan mekaar gekom. Maar ek moet erken dat dit ’n stryd was om die rol van pa én ma te probeer vul. My twee wonderlike dogters het die taak egter baie makliker gemaak.

’n Tweede huwelik en ’n groter gesin

Later is ek weer getroud. Ek en my nuwe vrou, Mary, het baie in gemeen gehad. Sy het ook haar huweliksmaat weens Hodgkin se siekte verloor. Sy het ook twee dogters gehad—Colleen en Jennifer. Colleen was ongeveer drie jaar jonger as Petina. Daar was dus nou vier dogters in ons gesin—14, 12, 9 en 7 jaar oud.

Ek en Mary het besluit dat ons aan die begin ons eie biologiese kinders sou dissiplineer totdat die kinders bereid was om leiding van die stiefouer te aanvaar. In ons eie verhouding as man en vrou het ek en Mary twee belangrike reëls gehad. Een, ons het nooit meningsverskille voor die kinders gehad nie, en twee, in ooreenstemming met die Bybelbeginsel wat in Efesiërs 4:26 opgeteken is, het ons probleme uitgepraat—selfs as dit ure geduur het!

Almal het verbasend goed aangepas by die lewe in ’n stiefgesin, maar ons het nie oornag vergeet wat ons verloor het nie . Maandagaand het byvoorbeeld Mary se “huilaand” geword. Ná ons gesinstudie, wanneer die meisies bed toe is, het Mary dikwels uiting gegee aan haar opgekropte emosies.

Mary wou hê dat ons ’n kind van ons eie moes hê. Ongelukkig het sy ’n miskraam gehad. Toe Mary weer swanger raak, het daar ’n groot verrassing op ons gewag. ’n Ultraklankskandering het aan die lig gebring dat daar nie een baba was nie, maar vier! Ek was uit die veld geslaan. Hier was ek, ’n 47-jarige man wat binnekort die vader van agt sou wees! Die vierling is op 14 Februarie 1982, op 32 weke, deur middel van ’n keisersnee gebore. Hulle was, in volgorde van geboorte, Clint, 1,6 kilogram; Cindy, 1,9 kilogram; Jeremy, 1,4 kilogram; en Danette, 1,7 kilogram. Hulle het glad nie na mekaar gelyk nie.

Net ná die geboorte het Mary se dokter langs my kom sit.

“Is jy bekommerd oor hoe jy na die kinders gaan omsien?” het hy gevra.

“Wel”, het ek gesê, “ek was nog nooit vantevore in hierdie situasie nie.”

Sy volgende woorde het my werklik verbaas en bemoedig.

“Julle gemeente sal julle nie in die steek laat nie”, het hy gesê. “Jy hoef maar net te nies, en hulle sal regstaan met ’n duisend snesies!”

Dit was grootliks te danke aan hierdie uitstekende verloskundige en sy mediese span dat vier redelik gesonde babas binne slegs twee maande huis toe kon gaan.

Die uitdaging om ’n vierling groot te maak

Ter wille van ordelikheid het ek en Mary ’n 24-uur-rooster opgestel. Die vier ouer meisies was baie behulpsame kinderoppassers. En die dokter was reg—net ’n “nies” en die gemeente was daar om ons te help. Vroeër het ’n jarelange vriend, John MacArthur, gereël dat Getuies wat vakmanne was, ons huis vergroot. Toe die babas opdaag, het ’n span susters in die babakamer gehelp. Al hierdie goedhartigheid was ’n bewys van Christelike liefde in aksie.—1 Johannes 3:18.

Die vierling was in ’n sekere opsig “gemeentebabas”. Hulle beskou vandag nog die talle liefdevolle broers en susters wat ons gehelp het, as familie. Wat Mary betref, sy was nog altyd ’n baie goeie vrou en moeder wat onbaatsugtig na haar kinders omgesien het. Sy het werklik toegepas wat sy uit God se Woord en by sy organisasie geleer het. Daar is geen beter raad nie!—Psalm 1:2, 3; Matteus 24:45.

Christelike vergaderinge en die predikingswerk was steeds ’n belangrike deel van ons weeklikse roetine, hoewel dit nogal ’n stryd was om met vier babas reg te kom. Op daardie stadium was ons geseën om twee Bybelstudies te hou met egpare wat so gaaf was om na ons huis toe te kom. Hoewel dit dinge vir ons vergemaklik het, was Mary soms so moeg dat sy gedurende die studie ingesluimer het, met ’n slapende baba in haar arms. Mettertyd het albei egpare ons geestelike broers en susters geword.

Geestelike opvoeding op ’n vroeë ouderdom

Nog voor die babas kon loop, het ek en Mary en die ouer meisies hulle in die veldbediening uitgeneem. Toe hulle kleuters was, het ek en Mary elkeen twee saam met ons geneem, en hulle was glad nie ’n las nie. Inteendeel, by vriendelike huisbewoners het hulle dikwels ’n gesprekspunt geword. Op ’n dag het ek ’n man ontmoet wat beweer het dat ’n mens se persoonlikheid ’n vasgestelde patroon volg as jy onder ’n sekere sterreteken op ’n spesifieke dag gebore is. Ek het nie met hom gestry nie, maar hom gevra of ek later die oggend kon terugkom. Hy het ingestem, en ek het toe met die vierling teruggegaan. Hy het verbaas toegekyk terwyl ek hulle in die volgorde waarin hulle gebore is, langs mekaar laat staan het. Toe het ons ’n vriendelike bespreking gehad, nie net oor die feit dat hulle fisies so verskil het nie, maar ook oor die groot verskille in hulle persoonlikhede, wat sy teorie verkeerd bewys het. “Dat ek nou hierdie teorie juis vir jou moes meld”, het hy gesê. “Ek sal seker meer navorsing moet doen, of hoe?”

As kleuters het die vierling niks daarvan gehou om as ’n groep gedissiplineer te word wanneer hulle stout was nie, en daarom het ons hulle individueel tereggewys. Hulle het nietemin geleer dat dieselfde reëls vir almal geld. Wanneer hulle by die skool voor gewetensake te staan gekom het, het hulle ferm by Bybelbeginsels gebly en mekaar ondersteun, met Cindy as hulle woordvoerder. Mense het gou geleer dat ’n vierling ’n spannetjie is om mee rekening te hou!

Ek en Mary het die gewone uitdagings gehad om die kinders gedurende hulle tienerjare te help om aan Jehovah lojaal te bly. Ons kan net sê dat die taak baie moeiliker sou gewees het sonder die ondersteuning van ’n liefdevolle gemeente en die oorvloed geestelike voedsel wat ons van die sigbare deel van Jehovah se organisasie ontvang het. Ons het probeer om ’n gereelde gesinsbybelstudie te hê en om die kommunikasiekanale oop te hou, hoewel dit nie altyd maklik was nie. Die inspanning was nietemin die moeite werd, want al agt van ons kinders het gekies om Jehovah te dien.

Die uitdagings van bejaardheid

Oor die jare heen het ek talle geestelike voorregte geniet: gemeentelike ouer man, stadsopsiener en waarnemende kringopsiener. Ek het ook gedien as ’n lid van die plaaslike Hospitaalskakelkomitee, wat dokters help om hulle samewerking te gee met Getuiepasiënte wanneer daar ’n geskil oor bloedoortapping ontstaan. Ek het ook al 34 jaar die voorreg om as huweliksbevestiger geregistreer te wees. Ek het al ongeveer 350 huwelikseremonies behartig, waaronder dié van my ses dogters.

Ek dank Jehovah voortdurend vir die lojale ondersteuning wat ek ontvang het, eers van Judy en nou van Mary (Spreuke 31:10, 30). Terwyl hulle my in my werk as ’n gemeentelike ouer man ondersteun het, het hulle ook ’n goeie voorbeeld gestel in die bediening en gehelp om geestelike eienskappe in die kinders in te skerp.

In 1996 is ek gediagnoseer met ’n breinversteuring wat my hande laat bewe en my balans versteur. Ek kon dus nie meer verfwerk doen nie. Maar ek put nog steeds baie vreugde uit Jehovah se diens, al is my pas stadiger. Die positiewe sy daarvan is dat ek nou groter empatie vir ander bejaardes het.

Wanneer ek oor my lewe terugkyk, dank ek Jehovah dat hy altyd daar was om my en my gesin te help om ons talle uitdagings met vreugde die hoof te bied (Jesaja 41:10). Ek en Mary, asook ons agt kinders, is ook dankbaar vir ’n wonderlike, ondersteunende familie van geestelike broers en susters. Hulle het almal hulle liefde bewys op meer maniere as wat ons ooit kan opnoem.—Johannes 13:34, 35.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Sien Die Wagtoring van 15 Junie 1972, bladsye 273-78.

[Prent op bladsy 12]

Saam met my ma, my ouer broer Garth en my suster Dawn, gereed om na die 1941-streekbyeenkoms in Sydney te vertrek

[Prent op bladsy 13]

Saam met Judy en baba Kim toe ek in Queensland kringwerk gedoen het

[Prent op bladsy 15]

Ná die geboorte van die vierling was ons vier ouer dogters en die gemeente daar om ons te help