Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moed word deur liefde versterk

Moed word deur liefde versterk

Moed word deur liefde versterk

“God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand.”—2 TIMOTEUS 1:7.

1, 2. (a) Wat kan liefde ’n persoon beweeg om te doen? (b) Waarom was Jesus se moed uitsonderlik?

 ’N PAS getroude paartjie het naby ’n dorp aan die ooskus van Australië gaan skubaduik. Hulle was op die punt om na die oppervlak te swem toe ’n witdoodshaai op die vrou afgepyl het. Die man het sy vrou dapper eenkant toe gestoot sodat die haai hom eerder kon aanval. “Hy het sy lewe vir my gegee”, het die weduwee by die begrafnis gesê.

2 Ja, liefde kan mense beweeg om buitengewone moed aan die dag te lê. Jesus Christus het self gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:13). Skaars 24 uur nadat Jesus hierdie woorde geuiter het, het hy sy eie lewe afgelê, nie net vir een persoon nie, maar vir die hele mensdom (Matteus 20:28). Verder het Jesus nie sy lewe op die ingewing van die oomblik opgeoffer om ’n heldedaad te verrig nie. Hy het vooraf geweet dat hy gespot en mishandel sou word, ’n onregverdige vonnis sou ontvang en aan ’n folterpaal sou sterf. Hy het selfs sy dissipels op hierdie uiteinde voorberei en gesê: “Ons gaan nou op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal hom ter dood veroordeel en hom aan mense van die nasies oorlewer, en hulle sal met hom die spot dryf en sal op hom spoeg en hom gesel en hom doodmaak.”—Markus 10:33, 34.

3. Wat het tot Jesus se buitengewone moed bygedra?

3 Wat het tot Jesus se buitengewone moed bygedra? Geloof en godvrugtige vrees het ’n groot rol gespeel (Hebreërs 5:7; 12:2). Maar Jesus se moed het bowenal voortgespruit uit sy liefde vir God sowel as vir sy medemens (1 Johannes 3:16). As ons benewens geloof en godvrugtige vrees sulke liefde aankweek, sal ons ook moed soos dié van Christus kan openbaar (Efesiërs 5:2). Hoe kan ons sulke liefde aankweek? Ons moet die Bron daarvan erken.

“Liefde kom van God”

4. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah die Bron van liefde is?

4 Jehovah is die verpersoonliking van liefde sowel as die Bron daarvan. “Geliefdes”, het die apostel Johannes geskryf, “laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en doen die kennis van God op. Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:7, 8). Goddelike liefde kan dus slegs in ’n persoon ontwikkel wanneer hy nader aan Jehovah kom deur juiste kennis op te doen en hy daardie kennis in hartgrondige gehoorsaamheid toepas.—Filippense 1:9; Jakobus 4:8; 1 Johannes 5:3.

5, 6. Wat het Jesus se vroeë volgelinge gehelp om Christelike liefde aan te kweek?

5 In Jesus se laaste gebed saam met sy 11 getroue apostels het hy die verband tussen kennis van God en ’n toename in liefde getoon, deur te sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle” (Johannes 17:26). Jesus het sy dissipels gehelp om die soort liefde aan te kweek wat tussen hom en sy Vader bestaan het, en hy het deur woord en voorbeeld geopenbaar wat God se naam verteenwoordig—God se wonderlike eienskappe. Gevolglik kon Jesus sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9, 10; 17:8.

6 Christelike liefde is ’n produk van God se heilige gees (Galasiërs 5:22). Toe die vroeë Christene die beloofde heilige gees op Pinkster 33 G.J. ontvang het, het hulle nie net die talle dinge onthou wat Jesus hulle geleer het nie, maar ook ’n beter begrip van die Skrif verkry. Hierdie dieper insig het klaarblyklik hulle liefde vir God vergroot (Johannes 14:26; 15:26). Die gevolg? Hulle het selfs hulle lewe gewaag om die goeie nuus met vrymoedigheid en ywer te verkondig.—Handelinge 5:28, 29.

Moed en liefde in aksie

7. Wat het Paulus en Barnabas op hulle sendingreis saam verduur?

7 Die apostel Paulus het geskryf: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand” (2 Timoteus 1:7). Paulus het uit persoonlike ondervinding gepraat. Let op wat hy en Barnabas tydens hulle sendingreis saam deurgemaak het. Hulle het in ’n aantal stede, waaronder Antiogië, Ikonium en Listra, gepreek. In elke stad het van die mense gelowiges geword, maar ander het vyandige teenstanders geword (Handelinge 13:2, 14, 45, 50; 14:1, 5). In Listra het ’n woedende skare Paulus selfs gestenig en hom vir dood agtergelaat! “Toe die dissipels egter rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en in die stad ingegaan. En die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek.”—Handelinge 14:6, 19, 20.

8. Hoe het die moed wat Paulus en Barnabas aan die dag gelê het, hulle innige liefde vir mense weerspieël?

8 Het hierdie aanslag op Paulus se lewe hom en Barnabas bang laat word sodat hulle die handdoek wou ingooi? Inteendeel! Nadat die twee manne in Derbe “’n hele paar dissipels gemaak het”, het hulle “na Listra en na Ikonium en na Antiogië teruggekeer”. Waarom? Om die nuwelinge aan te moedig om sterk in die geloof te bly. “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan”, het Paulus en Barnabas gesê. Dit is duidelik dat hulle moed voortgespruit het uit hulle innige liefde vir Christus se “skapies” (Handelinge 14:21-23; Johannes 21:15-17). Nadat hulle ouer manne in al die nuwe gemeentes aangestel het, het die twee broers gebid en “hulle opgedra aan Jehovah, in wie hulle begin glo het”.

9. Hoe het die ouer manne van Efese op Paulus se liefde vir hulle gereageer?

9 Paulus was so ’n liefdevolle en moedige man dat baie van die vroeë Christene hom innig liefgekry het. Dink aan wat gebeur het by ’n vergadering wat Paulus gehou het met die ouer manne van Efese, waar hy drie jaar deurgebring het en baie teenstand ondervind het (Handelinge 20:17-31). Nadat hy hulle aangespoor het om as herders toesig te hou oor die kudde van God wat aan hulle sorg toevertrou is, het Paulus saam met hulle neergekniel en gebid. Toe het daar “’n groot gehuil onder hulle almal ontstaan, en hulle het Paulus om die hals geval en hom teer gesoen, want hulle was veral bedroef oor die woord wat hy gespreek het, dat hulle sy gesig nie meer sou sien nie”. Hoe lief was hierdie broers tog vir Paulus! Ja, toe die tyd aanbreek om te vertrek, moes Paulus en sy reisgenote ‘hulle van hulle losskeur’, omdat die plaaslike ouer manne hulle nie wou laat gaan nie.—Handelinge 20:36–21:1.

10. Hoe het Jehovah se hedendaagse Getuies moedige liefde vir mekaar geopenbaar?

10 Vandag is reisende opsieners, gemeentelike ouer manne en talle ander baie geliefd weens die moed wat hulle ten behoewe van Jehovah se skape aan die dag lê. Byvoorbeeld, in lande wat deur burgeroorlog geteister word of waar die predikingswerk verbied is, het reisende opsieners en hulle vrouens al hulle lewe en vryheid op die spel geplaas om gemeentes te besoek. Baie Getuies het eweneens onder vyandige heersers en hulle trawante gely omdat hulle geweier het om hulle mede-Getuies te verraai of te vertel waar hulle hulle geestelike voedsel kry. Duisende ander is vervolg, gemartel en selfs doodgemaak omdat hulle nie wou ophou om die goeie nuus te verkondig of om by Christelike vergaderinge met medegelowiges te assosieer nie (Handelinge 5:28, 29; Hebreërs 10:24, 25). Mag ons die geloof en liefde van hierdie moedige broers en susters navolg!—1 Tessalonisense 1:6.

Moenie toelaat dat jou liefde verkoel nie

11. Op watter maniere voer Satan ’n geestelike oorlog teen Jehovah se knegte, en wat verg dit van hulle?

11 Toe Satan na die aarde toe neergewerp is, was hy daarop uit om sy woede op Jehovah se knegte te koel omdat hulle ‘die gebooie van God bewaar en van Jesus getuig’ (Openbaring 12:9, 17). Een taktiek wat die Duiwel gebruik, is vervolging. Maar hierdie strategie misluk dikwels omdat dit God se volk nog nader aan mekaar bring in hulle band van Christelike liefde en baie van hulle tot groter ywer aanspoor. Nog ’n taktiek van Satan is om sondige menslike neigings uit te buit. Om dié set te weerstaan, verg dat ’n mens op ’n ander manier moed aan die dag lê, want hierdie stryd is innerlik, teen ongepaste begeertes in ons eie ‘verraderlike en desperate’ hart.—Jeremia 17:9; Jakobus 1:14, 15.

12. Hoe gebruik Satan “die gees van die wêreld” in sy pogings om ons liefde vir God te laat verflou?

12 Daar is nog ’n kragtige wapen in Satan se arsenaal—“die gees van die wêreld”, dit wil sê die oorheersende gesindheid of beweegredes van die wêreld, wat reëlreg in stryd is met God se heilige gees (1 Korintiërs 2:12). Die gees van die wêreld bevorder gierigheid en materialisme—“die begeerte van die oë” (1 Johannes 2:16; 1 Timoteus 6:9, 10). Hoewel materiële dinge en geld nie op sigself skadelik is nie, behaal Satan ’n oorwinning as ons liefde vir hierdie dinge groter word as ons liefde vir God. Die mag, of “gesag”, van die wêreld se gees lê in die feit dat dit die sondige vlees aantrek, dat dit subtiel is, altyd daar is en, soos lug, alles deurdring. Moenie toelaat dat die gees van die wêreld jou hart verderf nie!—Efesiërs 2:2, 3; Spreuke 4:23.

13. Hoe kan ons sedelike moed op die proef gestel word?

13 Dit verg egter sedelike moed om die bose gees van die wêreld te weerstaan en te verwerp. Moed is byvoorbeeld nodig om op te staan en by ’n teater uit te loop of om die rekenaar of die TV af te skakel wanneer onwelvoeglike beelde vertoon word. Dit verg moed om jou standpunt in te neem teen negatiewe portuurdruk en om slegte omgang die rug toe te keer. Moed is eweneens nodig om God se wette en beginsels te onderhou ondanks bespotting, hetsy van skoolmaats, werksmaats, bure of familielede.—1 Korintiërs 15:33; 1 Johannes 5:19.

14. Wat moet ons doen as ons deur die gees van die wêreld besmet word?

14 Hoe belangrik is dit dan tog dat ons ons liefde vir God en vir ons geestelike broers en susters versterk! Neem tyd om jou doelwitte en lewenswyse te ondersoek om te sien of die wêreld se gees jou in enige opsig besmet het. As dit die geval is—selfs net in geringe mate—moet jy tot Jehovah bid vir die moed om dit met wortel en tak uit te roei en dit heeltemal uit te hou. Jehovah sal sulke opregte versoeke nie ignoreer nie (Psalm 51:17). Wat meer is, sy gees is baie kragtiger as dié van die wêreld.—1 Johannes 4:4.

Bied persoonlike beproewinge moedig die hoof

15, 16. Hoe kan Christelike liefde ons help om persoonlike beproewinge die hoof te bied? Meld ’n voorbeeld.

15 Ander uitdagings waarvoor Jehovah se knegte te staan kom, sluit die gevolge van onvolmaaktheid en bejaardheid in, wat dikwels tot siekte, gestremdheid, depressie en baie ander probleme lei (Romeine 8:22). Christelike liefde kan ons help om hierdie beproewinge die hoof te bied. Kyk na die voorbeeld van Namangolwa, wat in ’n Christengesin in Zambië grootgemaak is. Toe Namangolwa twee jaar oud was, het sy gestremd geraak. “Ek was selfbewus”, sê sy, “en het gedink dat my voorkoms mense sou afskrik. Maar my geestelike broers het my gehelp om sake anders te beskou. Gevolglik het ek my selfbewustheid oorkom en is ek later gedoop.”

16 Hoewel Namangolwa ’n rystoel het, moet sy dikwels op haar hande en knieë kruip wanneer sy op ’n sandpad is. Maar sy neem aan die bediening deel en dien elke jaar ten minste twee maande as ’n hulppionier. Een huisbewoner het gehuil toe Namangolwa vir haar getuig het. Waarom? Omdat ons suster se geloof en moed haar diep getref het. Vyf van Namangolwa se Bybelstudente is al gedoop, en een dien as ’n gemeentelike ouer man, wat ’n bewys is van Jehovah se ryk seën. “Dikwels pyn my bene verskriklik”, sê sy, “maar ek laat nie toe dat dit my keer nie.” Hierdie suster is net een van baie Getuies regoor die wêreld wat liggaamlik swak is, maar geestelik kragtig is weens hulle liefde vir God en hulle naaste. Hoe begeerlik is al hierdie persone tog in Jehovah se oë!—Haggai 2:7.

17, 18. Wat help baie om siekte en ander beproewinge te verduur? Meld ’n paar plaaslike voorbeelde.

17 Chroniese siekte kan ook ontmoedigend wees en ’n mens selfs neerslagtig laat voel. “In die boekstudiegroep wat ek bywoon”, sê ’n gemeentelike ouer man, “ly een suster aan suikersiekte en nierversaking, een het kanker, twee het ernstige gewrigsontsteking en een het lupus sowel as fibromialgie. Soms voel hulle terneergedruk. Maar hulle bly slegs van ’n vergadering af weg as hulle baie siek of in die hospitaal is. Hulle almal neem gereeld aan die veldbediening deel. Hulle herinner my aan Paulus, wat gesê het: ‘Wanneer ek swak is, dan is ek sterk.’ Ek bewonder hulle liefde en hulle moed. Dalk gee hulle situasie hulle ’n beter beskouing van die lewe en van wat werklik saak maak.”—2 Korintiërs 12:10.

18 As jy worstel met kwale, siekte of ’n ander probleem, moet jy ‘onophoudelik bid’ vir hulp sodat jy nie ’n slagoffer van ontmoediging word nie (1 Tessalonisense 5:14, 17). Jy sal natuurlik jou goeie en slegte dae hê, maar probeer om te konsentreer op positiewe, geestelike dinge, veral ons kosbare Koninkrykshoop. “Vir my is die veldbediening soos terapie”, het een suster gesê. As sy ander van die goeie nuus vertel, help dit haar om ’n positiewe beskouing te behou.

Liefde help oortreders om tot Jehovah terug te keer

19, 20. (a) Wat kan diegene wat in sonde verval het, help om die moed bymekaar te skraap om tot Jehovah terug te keer? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Baie wat geestelik swak geword het of wat deur sonde oorval is, vind dit moeilik om tot Jehovah terug te keer. Maar hulle sal die nodige moed kry as hulle waarlik berouvol is en weer hulle liefde vir God opbou. Neem byvoorbeeld Mario, a wat in die Verenigde State woon. Mario het die Christengemeente verlaat, ’n alkoholis en dwelmverslaafde geword en, ná 20 jaar, in die tronk beland. “Ek het diep oor my toekoms begin nadink en het weer die Bybel begin lees”, sê Mario. “Ek het mettertyd waardering vir Jehovah se eienskappe opgebou, veral vir sy barmhartigheid, waarvoor ek dikwels gebid het. Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek my ou vriende vermy, Christelike vergaderinge bygewoon en is ek uiteindelik in die gemeente herstel. Liggaamlik maai ek wat ek gesaai het, maar nou het ek ten minste ’n wonderlike hoop. Ek kan Jehovah nie genoeg bedank vir sy medelye en vergifnis nie.”—Psalm 103:9-13; 130:3, 4; Galasiërs 6:7, 8.

20 Dit verg natuurlik harde werk van diegene in situasies soortgelyk aan Mario s’n om tot Jehovah terug te keer. Maar hulle hernieude liefde—’n resultaat van Bybelstudie, gebed en bepeinsing—sal hulle die nodige moed en vasbeslotenheid gee. Mario is ook deur die Koninkrykshoop versterk. Ja, tesame met liefde, geloof en godvrugtige vrees, kan hoop ’n krag ten goede in ons lewe wees. In die volgende artikel sal ons hierdie kosbare geestelike gawe van naderby ondersoek.

[Voetnoot]

a Die naam is verander.

Kan jy antwoord?

• Hoe is Jesus se uitsonderlike moed deur liefde versterk?

• Hoe het liefde vir die broers Paulus en Barnabas buitengewone moed gegee?

• Wat gebruik Satan om Christelike liefde te probeer ondermyn?

• Liefde vir Jehovah kan ons die moed gee om watter beproewinge te verduur?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Paulus se liefde vir mense het hom die moed gegee om te volhard

[Prent op bladsy 24]

Dit verg moed om God se standaarde te handhaaf

[Prent op bladsy 24]

Namangolwa Sututu