Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom sê die Nuwe Wêreld-vertaling in Deuteronomium 31:2 dat Moses nie meer as Israel se leier sou “mag uitgaan en inkom nie”, terwyl ander vertalings te kenne gee dat hy nie meer daartoe in staat was nie?

Hoewel die betrokke Hebreeuse woord op albei maniere vertaal kan word, dui die manier waarop party Bybelvertalings dit weergee dat Moses teen die einde van sy lewe swak was en fisies nie meer in staat was om die verantwoordelikhede van leierskap te dra nie. Byvoorbeeld, volgens The New English Bible het Moses gesê: “Ek is nou honderd-en-twintig jaar oud, en ek kan nie meer rondbeweeg soos ek wil nie.” The New American Bible sê eweneens: “Ek is . . . nie meer in staat om vryelik rond te beweeg nie.”

Deuteronomium 34:7 toon egter dat Moses nie swak was nie, al was hy gevorderd in jare. Dit sê: “Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het. Sy oog het nie dof geword nie en sy lewenskrag het nie gewyk nie.” Moses was dus fisies daartoe in staat om die nasie te lei, maar dit was nie Jehovah se wil vir hom om voort te gaan om dit te doen nie. Dit kan duidelik gesien word uit Moses se verdere woorde: ‘Jehovah het vir my gesê: “Jy sal nie deur hierdie Jordaan trek nie.”’ Jehovah het blykbaar sy besluit wat hy by die waters van Meriba geneem het, herbevestig.—Numeri 20:9-12.

Moses het ’n lang en merkwaardige lewe gehad, wat in drie tydperke ingedeel kan word. Hy het 40 jaar lank in Egipte gebly, waar hy “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” is en “kragtig in sy woorde en dade” was (Handelinge 7:20-22). Hy het nog 40 jaar lank in Midian gewoon. Daar het hy die geestelike eienskappe aangekweek wat nodig was om Jehovah se volk te lei. Uiteindelik het Moses die Israeliete 40 jaar lank gerig en gelei. Nou het Jehovah egter besluit dat Josua, nie Moses nie, die nasie oor die Jordaanrivier in die Beloofde Land sou inlei.—Deuteronomium 31:3.

Die Nuwe Wêreld-vertaling gee dus die regte betekenis van Deuteronomium 31:2 weer. Moses sou nie meer die leier van Israel wees nie, nie omdat hy nie fisies daartoe in staat was nie, maar omdat Jehovah hom nie toegelaat het om dit te doen nie.