Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geestelike skatte word gevind in Guinee

Geestelike skatte word gevind in Guinee

Geestelike skatte word gevind in Guinee

ONTDEKKINGSREISIGERS het eeue lank hulle lewe gewaag op soek na skatte en rykdom. Die moediges wat Guinee, in Wes-Afrika, bereik het, het twee soorte rykdom gevind wat hemelsbreed van mekaar verskil—materiële en geestelike rykdom. Die land, wat ryk is aan diamante, goud, ystererts en hoëgehalte-bauxiet (waaruit aluminium verkry word), is die tuiste van meer as negemiljoen Guineërs.

Hoewel godsdienste van die Christendom nie oorheersend is in die land nie, word aanbidding as belangrik beskou, en baie mense heg groot waarde aan geestelike skatte. Wat is hierdie skatte presies? Hulle is Jehovah se getroue knegte, wat in Haggai 2:7 beskryf word as “die begeerlike dinge van al die nasies”.

Geestelike skatte

Om diep in die aarde te delf op soek na verborge skatte, verg groot inspanning. Net so is ywerige inspanning in die Christelike bediening nodig om geestelike rykdom te vind. Die Koninkrykspredikingswerk in Guinee het in die vroeë 1950’s in die hartjie van die land begin en het eers in die vroeë 1960’s die hoofstad, Conakry, bereik. Tans is daar landwyd ongeveer 900 Getuies van Jehovah in 21 gemeentes en groepe.

Sendelinge het in 1987 daar aangekom en saam met die enigste gemeente in Conakry gewerk. Tans is daar meer as 20 sendelinge in die hoofstad en in die binneland. Hulle bou die gemeentes ywerig op en werk saam met die plaaslike broers in die bediening.

Vir Luc, wat in Conakry woon, was dit ’n groot vreugde om die Bybel met Albert, ’n jong dokter, te studeer. Albert het by verskeie kerke na godsdienswaarheid gesoek, en hy was betrokke by spiritistiese gebruike. Hy het ’n ring gedra wat ’n geestemedium vir hom gegee het met die versekering dat dit hom geluk sou bring. Teleurgesteld dat sy soeke na die ware geloof niks opgelewer het nie, het Albert sy ring weggegooi en gebid: “God, as u bestaan, maak dit vir my moontlik om u te ken en te dien. Anders sal ek my lewe maar volgens my eie begeertes lei.” Kort daarna het Albert by sy suster gekuier en gehoor hoe een van Jehovah se Getuies ’n Bybelstudie met sy susterskind hou. Weldra is reëlings getref sodat Luc die Bybel met hom kon studeer.

Luc het glad nie omgegee om elke week meer as tien kilometer heen en weer te loop om die studie te hou nie. Hoewel Luc nie baie skoolopleiding ontvang het nie, was Albert, wat ’n universiteitsgraad gehad het, baie beïndruk deur sy sterk geloof in die Skrif en die manier waarop hy die materiaal prakties toegepas het. Hoe bly was Albert tog om uit te vind dat God nie vir die mensdom se lyding verantwoordelik is nie, maar dat dit Jehovah se voorneme is om alle lyding te beëindig en hierdie aarde in ’n paradys te omskep (Psalm 37:9-11). Bybelwaarhede sowel as die goeie gedrag wat hy onder lede van die gemeente waargeneem het, het Albert se hart geraak.

Maar net soos ’n onbewerkte diamant met groot sorg deur ’n vakman gesny moet word voordat dit skitter, moes Albert talle wêreldse gebruike laat vaar sodat hy sy lewe met God se regverdige standaarde in ooreenstemming kon bring. Hy het opgehou om geestemediums te raadpleeg, alkohol te misbruik en te dobbel. Om op te hou rook, was vir Albert baie moeiliker. Toe hy uiteindelik vurig tot Jehovah om hulp gebid het, het hy daarin geslaag. Ses maande later het hy sy huwelik gewettig. Sy vrou het die Bybel begin studeer. Al twee is nou toegewyde knegte van Jehovah.

Martin is nog so ’n geestelike diamant. Toe hy 15 jaar oud was, het hy die Bybel in Guékedou begin studeer. Sy Katolieke ouers was daarteen gekant dat hy vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon. Hulle het Martin se Bybellektuur vernietig, hom geslaan en uit die huis gejaag. Net soos ’n diamant gevorm word wanneer koolstof aan groot druk blootgestel word, het Martin weens teenstand standvastig geword in sy liefde vir Bybelwaarheid. Mettertyd het sy ouers se gesindheid versag en het hy weer by hulle gaan woon. Waarom het hulle gesindheid verander? Hulle het gesien hoeveel Martin se gedrag verskil van dié van sy jonger broers en suster, wat ’n opstandige gees ontwikkel het en by geslagsonsedelikheid betrokke geraak het. Martin se pa, wat oortuig was dat sy nuwe geloof hom goed gedoen het, het gemeentelede in die huis verwelkom. Martin se ma het die broers al dikwels bedank vir alles wat hulle gedoen het om haar seun te help. Martin, wat op 18 gedoop is, het later die Bedieningsopleidingskool bygewoon en dien nou as ’n spesiale pionierbedienaar.

Ingevoerde geestelike rykdom

Hoewel Guinee baie van sy natuurlike hulpbronne uitvoer, is van sy geestelike rykdom “ingevoer”. Baie mense het uit ander Afrikalande geëmigreer, gewoonlik weens ekonomiese redes. Ander het soontoe gegaan om van lang en gewelddadige oorloë weg te kom.

Ernestine, van Kameroen, het 12 jaar gelede na Guinee gekom. Sy het met Jehovah se Getuies gestudeer en jare lank vergaderinge bygewoon sonder om gedoop te word. In 2003 het trane in haar oë opgewel toe sy by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies gesien het hoe ander gedoop word. Sy het baie skuldig gevoel en het tot Jehovah gebid: “Ek is nou 51 jaar oud en het nog niks goeds vir u gedoen nie. Ek wil u dien.” Ernestine het daarna in ooreenstemming met haar nederige gebed opgetree. Sy het vir die man saam met wie sy gebly het, verduidelik dat hulle slegs bymekaar kon bly as hulle wettig trou. Hy het ingestem, en in November 2004 het sy trane van vreugde gestort toe sy gedoop is.

Sedert die vroeë 1990’s het duisende vlugtelinge uit Liberië en Sierra Leone in Guinee ingestroom, waaronder honderde knegte van Jehovah. Kort ná die broers in ’n vlugtelingkamp aankom, reël hulle dat vergaderinge gereeld gehou word, organiseer hulle die predikingswerk en bou hulle ’n Koninkryksaal. Sommige in die vlugtelingkampe het knegte van Jehovah geword. Isaac is een van hulle. Ná sy doop het Isaac die geleentheid gehad om sy pos by ’n groot Liberiese maatskappy terug te kry. Hy het besluit om eerder as ’n gewone pionier in die Lainé-vlugtelingkamp aan te bly. Hy verduidelik: “Ek hoef nie meer ’n baas se toestemming te kry om vergaderinge of ’n byeenkoms by te woon nie. Ek is vry om Jehovah te dien.” In Desember 2003 is ’n streekbyeenkoms vir die 150 Getuies in daardie afgeleë kamp met 30 000 vlugtelinge gehou. Die byeenkoms is deur 591 mense bygewoon, insluitende 9 dowes wat die program in gebaretaal gevolg het. Twaalf is gedoop. Die broers het die pogings wat aangewend is om hulle van ’n geestelike feesmaal te voorsien, baie waardeer.

“Begeerlike dinge” maak die nodige veranderinge

Dit lyk nie of enige struikelblok te groot is vir dié wat na goud en diamante soek nie. Dit is egter hartverblydend om die pogings te sien wat nuwelinge aanwend om alle struikelblokke te oorkom sodat hulle Jehovah kan dien. Neem die geval van Zainab.

Toe sy 13 jaar oud was, is Zainab gedwing om ’n slaaf te word. Sy is uit haar huis in ’n ander Wes-Afrikaland geneem en na Guinee gebring. Toe sy 20 jaar oud was, het sy die Bybel se boodskap gehoor. Sy was gretig om die dinge toe te pas wat sy geleer het.

Zainab het dit moeilik gevind om Christelike vergaderinge vir aanbidding by te woon. Maar sy het die vergaderinge baie waardeer en was vasbeslote om nie van hulle af weg te bly nie (Hebreërs 10:24, 25). Sy het haar boeke buite weggesteek waar sy dit op pad na die vergaderinge kon kry. Haar “eienaars” het haar etlike kere wreed geslaan omdat sy hierdie geestelike samekomste bygewoon het.

Omstandighede het later verander, en Zainab is vrygelaat. Sy het onmiddellik begin om al die vergaderinge by te woon, wat haar gehelp het om vinnig geestelike vooruitgang te maak. Sy het ’n goed besoldigde werk van die hand gewys, aangesien dit haar sou verhinder om die vergaderinge by te woon waar sy Christelike onderrigting ontvang. Sy het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, ’n ongedoopte Koninkryksverkondiger geword en later haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Direk daarna het sy aan die hulppionierdiens deelgeneem. Ses maande later het sy aansoek gedoen om as ’n gewone pionierbedienaar te dien.

Nadat een belangstellende ’n paar vergaderinge bygewoon het, het hy gesê: “Wanneer ek hier is, voel ek nie arm nie.” Hoewel baie mense net in Guinee se materiële rykdom belangstel, is diegene wat Jehovah liefhet, gretig op soek na geestelike rykdom. Ja, “die begeerlike dinge van al die nasies” wend hulle vandag na Jehovah se rein aanbidding!

[Venster op bladsy 8]

GUINEE - 2005

Verkondigerhoogtepunt: 883

Bybelstudies: 1 710

Gedenkmaalbywoning: 3 255

[Kaarte op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GUINEE

Conakry

SIERRA LEONE

LIBERIË

[Prent op bladsy 9]

Albert en Luc

[Prent op bladsy 9]

Koninkryksaal in Conakry

[Prent op bladsy 10]

Ernestine

[Prent op bladsy 10]

Martin

[Prent op bladsy 10]

Zainab

[Foto-erkenning op bladsy 8]

USAID