Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Joodse rituele reiniging—’n Voorloper van doop?

Joodse rituele reiniging—’n Voorloper van doop?

Joodse rituele reiniging—’n Voorloper van doop?

JOHANNES DIE DOPER het “doop as ’n simbool van berou” verkondig. Jesus het ook sy volgelinge beveel om dissipels te maak en hulle te doop.—Markus 1:4; Matteus 28:19.

Die Bybel toon dat Christelike doop algehele onderdompeling in water behels. “Soortgelyke ritusse”, beweer die boek Jesus and His World, “kan in baie godsdienste, van die ou tyd en vandag, oor geografiese en kulturele grense heen, gesien word.” Die boek beweer dat “Christelike doop sy oorsprong . . . in Judaïsme het”. Hoe geldig is hierdie bewering?

Joodse rituele reinigingspoele

Argeoloë wat naby Jerusalem se Tempelberg opgrawings gedoen het, het byna 100 rituele baddens, of reinigingspoele, ontdek wat uit die eerste eeu v.G.J. en die eerste eeu G.J. dateer. ’n Inskripsie by ’n sinagoge wat uit die tweede of derde eeu G.J. dateer, sê dat sulke baddens voorsien is vir “besoekers wat dit nodig het”. Ander poele is gevind in die deel van Jerusalem waar welgestelde en priesterlike families gewoon het; byna elke huis het sy eie private rituele bad gehad.

Die baddens was reghoekig en is uit klip gekap of in die grond uitgegrawe en met stene of klippe uitgelê. Dit is gepleister om te keer dat dit lek. Die meeste was sowat 1,8 meter by 2,7 meter. Reënwater het deur leikanale in die baddens ingeloop. Die water was ten minste 1,2 meter diep sodat algehele onderdompeling moontlik was as iemand gehurk het. Die trap wat in die water ingelei het, is soms deur ’n lae muurtjie verdeel. Een kant van die trap is blykbaar gebruik om in die reinigingsbad in te klim, wanneer die persoon onrein was, en die ander kant om uit te klim, om enige verontreiniging te voorkom.

Die baddens is in verband met Joodse rituele reinheid gebruik. Wat het dit behels?

Die Wet en tradisionele reiniging

Die Mosaïese Wet het beklemtoon dat God se volk rein moes wees, geestelik sowel as fisies. Die Israeliete het om verskeie redes onrein geword, waarna hulle hulle moes reinig deur hulle liggaam en hulle klere te was.—Levitikus 11:28; 14:1-9; 15:1-31; Deuteronomium 23:10, 11.

Jehovah God is absoluut rein en heilig. Daar is dus van die priesters en Leviete vereis om hulle hande en hulle voete te was voordat hulle sy altaar genader het, anders sou hulle sterf.—Eksodus 30:17-21.

Geleerdes meen dat die Joodse godsdiensstelsel teen die eerste eeu G.J. nie net reiniging van priesters vereis het nie, maar ook van nie-Leviete. Beide die Essene en die Fariseërs het gereelde reinigings ondergaan. Een bron sê aangaande Jesus se tyd: “Rituele reinheid is van ’n Jood vereis voordat hy die Tempelberg betree het, voordat hy ’n offerande gemaak het, voordat hy die voordeel van ’n priesterlike offer kon ontvang en vir ander soortgelyke doeleindes.” Talmoediese tekste sê dat algehele onderdompeling vereis is van diegene wat hulle gereinig het.

Jesus het die Fariseërs gekritiseer omdat hulle op rituele reiniging aangedring het. Hulle het klaarblyklik “verskillende dope” beoefen, waaronder die doop van “bekers en kanne en koperhouers”. Jesus het gesê dat die Fariseërs God se gebooie oortree het terwyl hulle hulle eie tradisies afgedwing het (Hebreërs 9:10; Markus 7:1-9; Levitikus 11:32, 33; Lukas 11:38-42). Geen deel van die Mosaïese Wet het algehele liggaamlike onderdompeling vereis nie.

Kan die oorsprong van Christelike doop gevind word in die rituele reiniging wat deur die Jode beoefen is? Nee!

Rituele reiniging en Christelike doop

Die Jode het reinigingsritusse op hulleself uitgevoer. Maar die doop wat Johannes uitgevoer het, was nie ’n rituele reiniging waarmee die Jode vertroud was nie. Die feit dat Johannes later as die Doper bekend gestaan het, toon dat die onderdompeling wat hy uitgevoer het, anders was. Joodse godsdiensleiers het selfs afgevaardigdes na hom gestuur om hom te vra: “Waarom doop jy?”—Johannes 1:25.

Die reiniging wat deur die Mosaïese Wet vereis is, moes elke keer herhaal word wanneer ’n aanbidder onrein geraak het. Dit was nie die geval met die doop wat Johannes uitgevoer het of die doop wat Christene later beoefen het nie. Johannes se doop het gedui op berou en ’n verwerping van ’n vorige lewenswyse. Christelike doop was ’n simbool van die feit dat ’n persoon hom aan God toegewy het. Die Christen het dit nie herhaaldelik gedoen nie, maar net een keer.

Die rituele reiniging wat in die huise van die Joodse priesters en in die openbare baddens naby die Tempelberg beoefen is, het niks meer as ’n oppervlakkige ooreenkoms met Christelike doop gehad nie. Die onderskeie betekenisse van hierdie onderdompelings het geheel en al van mekaar verskil. The Anchor Bible Dictionary sê: “Die algemene opinie onder geleerdes is dat Johannes [die Doper] nie ’n spesifieke doop uit sy milieu [dit wil sê uit Judaïsme] oorgeneem of aangeneem het nie.” Dieselfde kan gesê word van die doop wat in die Christengemeente beoefen is.

Christelike doop is sinnebeeldig van “die versoek tot God om ’n goeie gewete” (1 Petrus 3:21). Dit simboliseer ’n persoon se algehele toewyding aan Jehovah om Hom as ’n dissipel van Sy Seun te dien. Algehele onderdompeling in water is ’n gepaste simbool van so ’n toewyding. Wanneer iemand onder die water ingaan, is dit asof hy ten opsigte van sy vorige lewenswyse sterf. Wanneer hy uit die water opgelig word, simboliseer dit dat hy lewend gemaak word om God se wil te doen.

Jehovah God gee aan diegene wat so ’n toewyding maak en gedoop word, ’n goeie gewete. Die geïnspireerde apostel Petrus kon dus vir medegelowiges sê: “[Doop] red julle ook nou.” Dit is iets wat Joodse rituele reiniging nooit kon bereik het nie, ongeag hoeveel keer dit gedoen is.