Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan ons God werklik leer ken?

Kan ons God werklik leer ken?

Kan ons God werklik leer ken?

“DÍT BETEKEN DIE EWIGE LEWE, DAT HULLE KENNIS INNEEM VAN . . . DIE ENIGSTE WARE GOD.”—JOHANNES 17:3.

“O DIE diepte van God se rykdom en wysheid en kennis!” het die apostel Paulus uitgeroep. Hy het bygevoeg: “Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33). Moet ons uit hierdie woorde aflei dat die mens nie in staat is om die wysheid en kennis van God te vind nie, en dat dit dus onmoontlik is om hom en sy voornemens te leer ken?

Volgens aanhangers van die godsdiensfilosofie wat bekend staan as via negativa, is die antwoord ja. The Encyclopedia of Religion sê aangaande hierdie filosofie: “God oortref alles wat ons van hom kan weet. . . . God kan nie ’n naam gegee word of gedefinieer word nie. Enige naam of definisie stel perke, en God is verhewe bo . . . perke. . . . Hy is nie ’n voorwerp van kennis nie, want hy is bo kennis verhewe.” a

Volgens die tydskrif Newsweek is baie mense in ongodsdienstige gemeenskappe geneig tot “’n nuwe soort ortodoksie” wat in werklikheid aanvoer dat “daar net een waarheid is, en daardie waarheid is dat daar geen waarheid is nie”.

Nogtans het baie mense onbeantwoorde vrae oor die doel van die lewe. Hulle sien hartverskeurende probleme soos armoede, siekte en geweld. Vir hulle is die onsekerheid van die lewe dalk uiters frustrerend. Hulle wil dalk baie graag antwoorde vind, maar wanneer dit hulle ontwyk, kom hulle dalk tot die slotsom dat daar geen antwoorde is nie. Gevolglik het baie van hierdie mense hulle aan georganiseerde godsdiens onttrek, en hulle soek na hulle eie manier om God te nader—as hulle nog enigsins glo dat hy bestaan.

Die Bybel se beskouing

Diegene wat ’n positiewe beskouing van die Bybel het en bereid is om Jesus Christus as God se Woordvoerder te aanvaar, behoort daarin belang te stel om te weet wat die Bybel se beskouing is. Jy onthou dalk dat Jesus eenkeer van twee paaie gepraat het, een wat “breed en wyd is . . . [en] na die vernietiging lei” en ’n “smal . . . pad wat na die lewe lei”. Hy het verduidelik hoe om diegene te identifiseer wat op elke pad is en gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken.” Watter soort vrugte? Nie deur wat hulle sê nie, maar deur wat hulle doen, soos Jesus verduidelik het: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Dit is nie genoeg om net te sê dat ons in God glo nie. Ons moet God se wil doen. Dit is logies dat ons eers juiste kennis moet hê van wat God se wil is.—Matteus 7:13-23.

Jesus het duidelik getoon dat dit wel vir mense moontlik is om kennis van God te verkry. Hy het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, ons kan die wysheid en die kennis opdoen wat deur God openbaar gemaak word—maar net as ons ons inspan om daarna te soek. Hierdie soektog is nietemin die moeite werd, want God se gawe aan diegene wat dit doen, is die ewige lewe.

[Voetnoot]

a Soortgelyke beskouings word in die Oosterse godsdienstradisies van Hindoeïsme, Taoïsme en Boeddhisme gevind.

[Prent op bladsy 4]

Jesus het gesê dat ’n smal pad na die lewe lei