Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Romeinse paaie—monumente van die antieke ingenieurswese

Romeinse paaie—monumente van die antieke ingenieurswese

Romeinse paaie—Monumente van die antieke ingenieurswese

WATTER Romeinse monument is die belangrikste? Sou jy sê dat dit die Kolosseum is, waarvan die ruïnes in Rome gesien kan word? As ons wil kyk na die Romeinse bouwerk wat die langste bestaan of wat die geskiedenis help vorm het, sal ons aan die paaie moet dink.

Meer as net goedere en leërs het oor die Romeinse paaie beweeg. Die epigrafis Romolo A. Staccioli sê dat “idees, artistieke invloede sowel as filosofiese en godsdiensleringe”, insluitende dié van die Christelike geloof, met die paaie langs versprei het.

In die ou tyd is Romeinse paaie as monumente beskou. Oor ’n tydperk van eeue het die Romeine ’n doeltreffende netwerk gebou wat uiteindelik oor ’n afstand van meer as 80 000 kilometer gestrek het en ’n gebied beslaan het wat nou aan meer as 30 lande behoort.

Die eerste belangrike via publica, of hoofpad soos dit vandag genoem sou word, was die Via Appia, of die Appiese Weg. Dit was bekend as die koningin van paaie en het Rome verbind met Brundisium (nou Brindisi), die hawestad wat die poort na die Ooste was. Hierdie pad is vernoem na Appius Claudius Caecus, die Romeinse amptenaar wat dit in omstreeks 312 v.G.J. begin bou het. Rome is ook deur die Via Salaria en die Via Flaminia bedien, wat albei in ’n oostelike rigting na die Adriatiese See geloop het, en dit het die weg geopen na die Balkan sowel as na die gebiede om die Ryn en die Donau. Die Via Aurelia het noordwaarts na Gallië en die Iberiese Skiereiland geloop, en die Via Ostiensis na die hawestad Ostia, wat Rome by voorkeur gebruik het vir reise na en van Afrika.

Rome se grootste bouprojek

Paaie was belangrik vir Rome nog voordat hierdie stad se inwoners nuwes begin bou het. Die stad het ontstaan waar antieke roetes by die enigste bestaande drif deur die Tiberrivier se benedeloop ontmoet het. Volgens bronne uit die ou tyd het die Romeine die paaie wat hulle gevind het, verbeter deur die Kartagers na te boots. Maar die ware voorlopers van die Romeine wat die bou van paaie betref, was waarskynlik die Etruskers. Die oorblyfsels van hulle paaie kan nog steeds gesien word. Wat meer is, voor die Romeinse tye was daar talle goed gebruikte paadjies in die gebied. Dit is moontlik gebruik om diere van een weiveld na ’n ander te neem. Die paaie was egter moeilik begaanbaar, aangesien dit stowwerig was in die droë seisoen en modderig in die nat seisoen. Die Romeine het dikwels hulle paaie oor hierdie paadjies gebou.

Romeinse paaie is noukeurig ontwerp en is gebou om solied, prakties en pragtig te wees. Die paaie het ideaal gesproke ’n beginpunt met ’n bestemming verbind deur middel van die kortste moontlike roete, wat verklaar waarom baie van hulle lang, reguit gedeeltes het. Maar dikwels moes die paaie die natuurlike kontoere van die terrein volg. In heuwelagtige en bergagtige gebiede het die Romeinse ingenieurs, waar moontlik, hulle paaie halfpad teen die hange op gebou, aan die sonkant van die berg. Dit het enige ongerief wat reisigers moontlik weens slegte weerstoestande sou ondervind, tot ’n minimum beperk.

Presies hoe het die Romeine hulle paaie gebou? Daar was variasies, maar hier is basies wat argeologiese opgrawings onthul het.

Die loop van die pad is eers bepaal. Hierdie werk is aan die landmeters van daardie tyd gegee. Dan is die uitputtende graafwerk aan legioensoldate, arbeiders of slawe oorgelaat. Twee parallelle slote is uitgegrawe. Die minimum afstand tussen die slote was ongeveer 2,4 meter, maar gewoonlik was die afstand 4 meter, en selfs breër by draaie. Die voltooide pad kon tot 10 meter breed wees, insluitende voetpaadjies aan elke kant. Die grond tussen die twee slote is dan verwyder, wat ’n holte gevorm het. Wanneer ’n soliede basis bereik is, is die holte met drie of vier lae van verskillende materiaal gevul. Daar is moontlik eers ’n laag groot klippe of puin neergelê. Dit is gevolg deur spoelklippe of plat klippe, wat dalk deur beton gebind is. Daarna is geperste gruis of vergruisde klip daarop gegooi.

Die oppervlak van party Romeinse paaie was niks meer as gekompakteerde gruis nie. Maar dit was die geplaveide paaie wat die mense van die ou tyd met bewondering vervul het. Die boonste oppervlak van hierdie paaie het bestaan uit groot, plat stene, gewoonlik van plaaslike rots. Die stene is effens gerond sodat reënwater van die padkruin af tot in die vore aan weerskante van die pad kon dreineer. Hierdie konstruksie het tot die duursaamheid van hierdie monumente bygedra sodat party daarvan vandag nog bestaan.

Sowat 900 jaar nadat die Appiese Weg gebou is, het die Bisantynse geskiedkundige Procopius dit as “wonderlik” beskryf. Aangaande die stene wat vir die oppervlak gebruik is, het hy geskryf: “Ten spyte van die lang tyd wat al verloop het en die baie rytuie wat dag ná dag daaroor gery het, het die toestand geensins agteruitgegaan nie en het dit ook nie die gladde afwerking daarvan verloor nie.”

Wat van natuurlike hindernisse, soos riviere? Een oplossing vir die probleem was brûe, waarvan party nog bestaan en wat bewys lewer van die eertydse Romeine se uitstekende tegniese kundigheid. Die tonnels in die Romeinse padstelsel is dalk minder bekend, maar om dit te bou, was selfs ’n groter uitdaging as ’n mens die tegnieke van daardie tyd in ag neem. Een naslaanwerk sê: “Die Romeinse ingenieurswese . . . het resultate behaal wat bestem was om eeue lank sonder gelyke te bly.” ’n Voorbeeld hiervan is die tonnel by die Furlo-bergpas op die Via Flaminia. In 78 G.J., ná noukeurige beplanning deur ingenieurs, is ’n 40 meter lange tonnel, wat 5 meter breed en 5 meter hoog is, uit soliede rots gekap. Dit was waarlik ’n indrukwekkende prestasie as ’n mens dink aan die gereedskap wat destyds beskikbaar was. Om so ’n padstelsel te bou, was een van die grootste projekte wat nog aangepak is.

Reisigers en die verspreiding van idees

Soldate en handelaars, predikers en toeriste, akteurs en gladiators het almal hierdie paaie gebruik. Dié wat te voet gereis het, kon sowat 25 tot 30 kilometer per dag aflê. Reisigers kon inligting oor afstande verkry deur die mylpale te raadpleeg. Hierdie stene, wat verskillende vorms gehad het, maar gewoonlik silindries was, is elke 1 480 meter aangebring—die lengte van ’n Romeinse myl. Daar was ook rusplekke, waar reisigers vars perde kon kry, iets te ete kon koop of, in party gevalle, kon oornag. Party van hierdie diensareas het in dorpies ontwikkel.

Kort voor die geboorte van die Christelike geloof het keiser Augustus ’n program begin om die paaie in stand te hou. Hy het amptenare aangestel om na een of meer paaie om te sien. Hy het die goue mylpaal, wat as die miliarium aureum bekend was, in die Romeinse Forum opgerig. Hierdie pilaar met goudbrons letters was die ideale eindpunt van alle Romeinse paaie in Italië. Dit het aanleiding gegee tot die spreuk: “Alle paaie lei na Rome.” Augustus het ook kaarte van die ryk se padstelsel ten toon gestel. Dit wil voorkom asof die netwerk in ’n puik toestand was vir die behoeftes en standaarde van daardie tye.

Party eertydse reisigers het selfs geskrewe gidse, of reisplanne, gebruik om hulle op hulle reise te help. Hierdie gidse het inligting voorsien soos die afstande tussen verskeie stilhouplekke en beskrywings van die dienste wat daar beskikbaar was. Die gidse was egter duur en dus nie aan almal beskikbaar nie.

Christenevangeliedienaars het nietemin talle lang reise beplan en onderneem. Die apostel Paulus het, soos sy tydgenote, gewoonlik per skip gereis wanneer hy ooswaarts gegaan het, om van die heersende winde gebruik te maak (Handelinge 14:25, 26; 20:3; 21:1-3). In die Middellandse See waai hierdie winde gedurende die somermaande uit die weste. Maar wanneer Paulus weswaarts gereis het, het hy dikwels oor land gereis en die Romeinse padstelsel gebruik. Paulus het ook hierdie patroon gevolg toe hy sy tweede en derde sendingreise onderneem het (Handelinge 15:36-41; 16:6-8; 17:1, 10; 18:22, 23; 19:1). a In ongeveer 59 G.J. het Paulus op die Appiese Weg na Rome gereis en medegelowiges ontmoet by die besige Appii Forum, oftewel die Mark van Appius, 74 kilometer suidoos van Rome. Ander het 14 kilometer nader aan Rome vir hom gewag, by ’n rusplek bekend as die Drie Herberge (Handelinge 28:13-15). Omstreeks 60 G.J. kon Paulus sê dat die goeie nuus “in die hele wêreld” van daardie tyd verkondig is (Kolossense 1:6, 23). Die padstelsel het ’n rol gespeel in die verwesenliking daarvan.

Romeinse paaie was dus uitsonderlike en duursame monumente—en monumente wat bygedra het tot die verspreiding van die goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:14.

[Voetnoot]

a Raadpleeg die kaart op bladsy 33 van ‘Sien die goeie land’, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 14]

’n Romeinse mylpaal

[Prent op bladsy 15]

Die “Via Appia” in die buitewyke van Rome

[Prent op bladsy 15]

’n Pad in eertydse Ostia, Italië

[Prent op bladsy 15]

Wielspore wat deur eertydse rytuie gemaak is, Oostenryk

[Prent op bladsy 15]

Deel van ’n Romeinse pad met mylpale, Jordanië

[Prent op bladsy 16]

Ruïnes van grafte langs die “Via Appia” buite Rome

[Prent op bladsy 16]

Furlo-tonnel op die “Via Flaminia”, in die Marke-streek

[Prent op bladsy 16, 17]

Brug van Tiberius op die “Via Emilia” by Rimini, Italië

[Prent op bladsy 17]

Paulus het medegelowiges ontmoet by die besige “Appii Forum”, oftewel die Mark van Appius

[Foto-erkennings op bladsy 15]

Heel links, Ostia: ©danilo donadoni/Marka/age fotostock; heel regs, pad met mylpale: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.