Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag

Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag

Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag

“MY TROUDAG was een van die betekenisvolste en vreugdevolste dae van my lewe”, het Gordon gesê, wat al byna 60 jaar getroud is. Wat maak die troudag vir ware Christene so betekenisvol? Dit is ’n dag waarop hulle ’n plegtige belofte maak aan persone wat hulle innig liefhet—hulle huweliksmaat en Jehovah God (Matteus 22:37; Efesiërs 5:22-29). Ja, paartjies wat beplan om te trou, wil hulle troudag geniet, maar hulle wil ook die Insteller van die huwelik eer.—Genesis 2:18-24; Matteus 19:5, 6.

Hoe kan ’n bruidegom die waardigheid van hierdie vreugdevolle geleentheid vergroot? Wat kan ’n bruid doen om haar man en Jehovah te eer? Hoe kan ander wat teenwoordig is, tot die vreugde van die troudag bydra? As ons na ’n paar Bybelbeginsels kyk, sal dit ons help om hierdie vrae te beantwoord, en as ons daardie beginsels toepas, sal dit moontlike probleme verminder wat afbreuk kan doen aan hierdie spesiale geleentheid.

Wie is verantwoordelik?

In baie lande kan ’n bedienaar van Jehovah se Getuies die huwelik wetlik voltrek. Selfs op plekke waar die wetlike aspek deur ’n staatsamptenaar behartig moet word, kan ’n paartjie besluit om ’n Bybeltoespraak te hê. In so ’n toespraak word die bruidegom gewoonlik gevra om na te dink oor die godgegewe rol van die gesinshoof (1 Korintiërs 11:3). Die bruidegom het dus die vernaamste verantwoordelikheid vir wat by die troue gebeur. Natuurlik word die reëlings vir die huwelikseremonie en vir enige geselligheid wat dalk daarop volg, gewoonlik lank voor die tyd getref. Waarom kan dit uitdagings bied?

Een rede is dat familielede aan die een of die ander kant dalk te veel met die troureëlings wil inmeng. Rodolfo, wat al baie huwelike voltrek het, sê: “Soms oefen familielede geweldige druk op die bruidegom uit, veral as hulle vir die huweliksonthaal help betaal. Hulle het dalk sterk menings oor wat gedurende die huwelikseremonie en by die onthaal moet gebeur. Dit kan die bruidegom se skriftuurlike rol as die een wat vir die geleentheid verantwoordelik is, ondermyn.”

Max, wat al meer as 35 jaar lank huwelikseremonies behartig, sê: “Ek het die neiging opgemerk dat die bruid al hoe meer die leiding neem wat besluite in verband met die troue en die onthaal betref, terwyl die bruidegom minder seggenskap het.” David, wat al baie paartjies in die huwelik bevestig het, sê: “Bruidegomme is dalk nie daaraan gewoond om die leiding te neem nie en is oor die algemeen nie genoeg betrokke by die voorbereidings vir die troue nie.” Hoe kan die bruidegom sy verantwoordelikheid behoorlik nakom?

Kommunikasie vergroot die vreugde

As die bruidegom sy verantwoordelikheid in verband met die voorbereidings vir die troue met welslae wil uitvoer, moet hy doeltreffend kommunikeer. Die Bybel sê reguit: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie” (Spreuke 15:22). Baie frustrasie kan egter voorkom word as die bruidegom die voorbereidings vir die troue eers bespreek met die bruid, familielede en ander wat goeie Bybelraad kan gee.

Ja, dit is noodsaaklik dat ’n verloofde paartjie eers die planne en moontlikhede met mekaar bespreek. Waarom? Wel, luister na ’n paar kommentare van Ivan en sy vrou, Delwyn, wat al jare lank gelukkig getroud is, maar wat uit verskillende kulturele agtergronde kom. Ivan sê van hulle trouplanne: “Ek het besliste idees gehad oor wat ek vir my troue wou hê, onder meer ’n onthaal saam met al my vriende, ’n troukoek en my bruid in ’n wit trourok. Delwyn, daarenteen, wou ’n klein, eenvoudige troue hê sonder ’n troukoek. Sy het dit selfs oorweeg om iets anders as ’n trourok te dra.”

Hoe het hierdie paartjie hierdie verskille uitgestryk? Deur liefdevolle, openhartige kommunikasie (Spreuke 12:18). Ivan sê verder: “Ons het skriftuurlike artikels oor troues bestudeer, soos dié wat in Die Wagtoring van 1 Mei 1984 verskyn het. a Hierdie materiaal het ons gehelp om ’n geestelike beskouing van die geleentheid te verkry. Weens ons verskillende agtergronde moes ons op verskeie gebiede toegee wat persoonlike keuses betref. Ons het mekaar halfpad ontmoet.”

Aret en Penny het iets soortgelyks gedoen. Aret sê van hulle troudag: “Ek en Penny het ons verskillende wense vir die troue bespreek, en ons kon toe saam tot ’n vergelyk kom. Ons het gebid dat Jehovah die dag seën. Ek het ook ons ouers en ander ryp egpare in die gemeente geraadpleeg. Hulle wenke was baie nuttig. Gevolglik het ons ’n pragtige troue gehad.”

Waardige kleredrag en persoonsversorging

Dit is te verstane dat die bruid sowel as die bruidegom goed geklee wil wees vir hulle troue (Psalm 45:8-15). Dit verg dalk tyd, moeite en geld om gepaste klere te kry. Watter Bybelbeginsels kan hulle help om iets te kies wat waardig sowel as mooi is?

Neem byvoorbeeld wat die bruid vir die geleentheid dra. Hoewel smaak van persoon tot persoon en van land tot land verskil, is die Bybel se raad oral van toepassing. Vroue moet “hulle met goed versorgde kleredrag . . . versier, met beskeidenheid en gesonde verstand”. Dit geld te alle tye vir Christenvroue, en dit sluit beslis die troudag in. Die feit is dat ’n vreugdevolle troue nie “baie duur klere” vereis nie (1 Timoteus 2:9; 1 Petrus 3:3, 4). Hoe bevredigend is dit tog wanneer hierdie raad toegepas word!

David, wat vroeër genoem is, sê: “Die meeste paartjies probeer om Bybelbeginsels te volg, en hulle moet geprys word. Maar daar was al gevalle waar die bruid en die strooimeisies se rokke nie beskeie was nie, waar die rokke ’n baie lae hals gehad het of deurskynend was.” Een ryp Christen- ouer man vergader voor die tyd met die bruid en bruidegom om hulle te help om ’n geestelike uitkyk te behou. Hoe? Deur hulle te vra of die klere wat hulle van plan is om te dra, beskeie genoeg sal wees om na ’n Christelike vergadering te dra. Ja, die styl van die klere verskil moontlik van gewone vergaderingklere, en wat vir ’n troue gedra word, weerspieël dalk die plaaslike gebruike, maar dit moet nog steeds beskeie genoeg wees dat dit met waardige Christelike standaarde ooreenstem. Selfs as party in die wêreld die Bybel se sedewette as beperkend beskou, is ware Christene tevrede om die wêreld se pogings te weerstaan om hulle in sy vorm te druk.—Romeine 12:2; 1 Petrus 4:4.

“Ek en Aret het nie die klere of die onthaal as die belangrikste deel beskou nie”, sê Penny, “maar ons het eerder op die seremonie, die geestelike deel van die geleentheid, gekonsentreer. Dit was die belangrikste deel van die dag. Die spesiale dinge wat ek onthou, is nie wat ek gedra of geëet het nie, maar saam met wie ek die dag deurgebring het, en hoe verheug ek was om te trou met die man wat ek liefhet.” Dit sal goed wees as ’n Christenpaartjie hierdie dinge in gedagte hou wanneer hulle hulle troue beplan.

Die Koninkryksaal—’n waardige plek

Baie Christenegpare wil graag hulle huwelikseremonie in ’n Koninkryksaal hou, as daar een is. Waarom verkies hulle dit? Een paartjie het verduidelik hoe hulle geredeneer het: “Ons het besef dat die huwelik ’n heilige reëling is wat deur Jehovah ingestel is. Om in die Koninkryksaal, ons plek van aanbidding, te trou, het ons van die begin af die erns laat besef dat Jehovah deel van ons huwelik moet wees. Nog ’n voordeel daarvan om die seremonie in die Koninkryksaal en nie op ’n ander plek te hê nie, was dat dit vir ons ongelowige familielede wat teenwoordig was, getoon het hoe belangrik die aanbidding van Jehovah vir ons is.”

As die gemeentelike ouer manne wat vir die Koninkryksaal verantwoordelik is, toestemming gee dat die troue daar gehou kan word, moet die paartjie hulle vroegtydig inlig oor die voorbereidings wat oorweeg word. Een manier waarop die bruid en bruidegom die nodige respek kan toon vir diegene wat na die troue genooi word, is deur hulle vas voor te neem om nie laat te wees nie. En hulle sal beslis wil hê dat alles op ’n waardige manier moet geskied (1 Korintiërs 14:40). b Daarom sal hulle die oordadige vertoon vermy wat kenmerkend is van talle wêreldse troues.—1 Johannes 2:15, 16.

Diegene wat die troue bywoon, kan ook toon dat hulle Jehovah se beskouing van die huwelik het. Hulle sal byvoorbeeld nie verwag dat die troue ander Christelike troues moet oortref, asof daar die een of ander kompetisie is oor wie se troue die spoggerigste was nie. Ryp Christene besef ook dat dit belangriker en voordeliger is om die Bybeltoespraak by die Koninkryksaal by te woon as om na die huweliksfees of geselligheid te gaan wat dalk daarop volg. As ’n Christen weens tyd of omstandighede net een van die twee kan bywoon, sal dit beslis verkieslik wees om by die Koninkryksaal te wees. ’n Ouer man met die naam William sê: “As gaste sonder goeie rede wegbly van die Koninkryksaal, maar later by die onthaal teenwoordig is, toon dit ’n gebrek aan waardering vir die heiligheid van die geleentheid. Selfs as ons nie na die onthaal genooi is nie, kan ons die bruid en bruidegom ondersteun en vir ongelowige familielede by die troue ’n uitstekende getuienis gee deur die seremonie by die Koninkryksaal by te woon.”

Vreugde wat langer duur as die troudag

Die kommersiële wêreld het troues in ’n enorme industrie verander. Die gemiddelde troue in die Verenigde State “kos $22 000 [R145 000], of die helfte van die gemiddelde [jaarlikse] inkomste van ’n Amerikaanse huishouding”, sê ’n onlangse verslag. Talle pasgetroudes of hulle familielede word deur kommersiële propaganda beïnvloed om vir daardie een dag ’n swaar skuldlas aan te gaan, wat hulle jare lank dra. Is dit ’n verstandige manier om jou huwelik te begin? Diegene wat Bybelbeginsels nie ken nie of hulle nie daaraan steur nie, verkies dalk sulke oordadigheid, maar hoe verskil ware Christene tog!

Deur die grootte van hulle troue te beperk tot wat redelik en bekostigbaar is en deur op die geestelike aspek van die geleentheid te konsentreer, kon baie Christenpaartjies hulle tyd en middele gebruik in ooreenstemming met hulle toewyding aan God (Matteus 6:33). Neem die voorbeeld van Lloyd en Alexandra, wat al 17 jaar sedert hulle troue in die voltydse diens is. Lloyd sê: “Ons troue was seker vir sommige ’n redelik eenvoudige geleentheid, maar ek en Alexandra was baie tevrede. Ons het gevoel dat ons troudag nie ’n finansiële las moet wees nie, maar ’n viering van Jehovah se reëling wat groot geluk aan twee mense moet verskaf.”

Alexandra voeg by: “Ek was in die pionierdiens voordat ons getroud is, en ek wou nie hierdie voorreg prysgee sodat ek ’n spoggerige troue kon hê nie. Ons troudag was baie spesiaal. Maar dit was net die eerste dag van die res van ons lewe saam. Ons het die raad toegepas om nie te veel op die huweliksdag te konsentreer nie en het Jehovah se leiding in ons huwelikslewe probeer verkry. Dit het beslis Jehovah se seën meegebring.” c

Ja, julle troudag is ’n spesiale geleentheid. Julle gesindheid en optrede op daardie dag kan ’n aanduiding wees van die gesindheid wat julle in die jare daarna in julle getroude lewe sal openbaar. Vertrou dus op Jehovah vir leiding (Spreuke 3:5, 6). Hou die geestelike betekenis van die dag duidelik voor oë. Ondersteun mekaar in julle godgegewe rolle. Sodoende kan julle ’n vaste grondslag vir julle huwelik lê, en met Jehovah se seën sal julle lank ná julle troudag nog gelukkig wees.—Spreuke 18:22.

[Voetnote]

a Verdere inligting het verskyn in die Ontwaak! van 8 Februarie 2002, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b As die paartjie wil hê dat iemand van die seremonie by die Koninkryksaal foto’s moet neem of ’n video-opname daarvan moet maak, moet hulle voor die tyd seker maak dat niks wat gedoen word, afbreuk sal doen aan die waardigheid van die troue nie.

c Sien bladsy 26 van die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 29]

’n Paartjie moet openhartig maar met respek kommunikeer wanneer hulle hulle troue beplan

[Prent op bladsy 31]

Hou die geestelike betekenis van julle troudag duidelik voor oë