Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Betroubare raad oor die grootmaak van kinders

Betroubare raad oor die grootmaak van kinders

Betroubare raad oor die grootmaak van kinders

“EK WAS 19 jaar oud, het ver van enige familielede af gewoon en was heeltemal onvoorbereid”, sê Ruth van haar eerste swangerskap. Sy was self ’n enigste kind en het nie veel gedink aan wat dit beteken om ’n ouer te wees nie. Waar sou sy betroubare raad kon kry?

Jan daarenteen, nou die pa van twee volwasse kinders, onthou: “Ek was aanvanklik baie selfversekerd. Maar kort voor lank het ek besef dat ek nie veel praktiese kennis het nie.” Hetsy ouers van die begin af of eers later onseker voel, waar kan hulle hulp kry met die grootmaak van hulle kinders?

Vandag soek al hoe meer mense na antwoorde op die Internet. Maar jy wonder dalk hoe betroubaar die inligting kan wees wat daar gevind word. Daar is goeie rede om versigtig te wees. Weet jy werklik wie dit is wat jou op die Internet raad gee? Hoeveel sukses het hulle met hulle eie kinders gehad? Jy moet ongetwyfeld versigtig wees wanneer dit kom by dinge wat jou gesin raak. Soms, soos die vorige artikel gesê het, is selfs die raad van deskundiges teleurstellend. Waarheen kan jy jou dus wend?

Die beste Bron van raad oor die grootmaak van kinders is Jehovah God, die Insteller van die gesinsreëling (Efesiërs 3:15). Hy is die enigste ware deskundige. In sy Woord, die Bybel, voorsien hy betroubare, praktiese onderrigting wat waarlik werk (Psalm 32:8; Jesaja 48:17, 18). Dit is egter ons verantwoordelikheid om dit toe te pas.

Etlike egpare is gevra om te vertel wat hulle geleer het terwyl hulle hulle kinders grootgemaak het om goed aangepaste en godvresende volwassenes te wees. Hulle sukses, het hulle gesê, is hoofsaaklik te danke aan die toepassing van Bybelbeginsels. Hulle het gevind dat die Bybel se raad vandag nog net so betroubaar is as toe die Bybel geskryf is.

Bring tyd saam met hulle deur

Toe Catherine, ’n ma van twee, gevra is watter raad haar die meeste gehelp het, het sy onmiddellik na Deuteronomium 6:7 verwys. Daardie vers sê: “Jy moet [Bybelbeginsels] by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” Catherine het besef dat sy tyd saam met haar kinders sou moes deurbring as sy hierdie raad wou volg.

‘Dis makliker gesê as gedaan’, dink jy dalk. Hoe kan besige ouers meer tyd saam met hulle kinders deurbring, aangesien baie gesinne twee inkomstes nodig het om die pot aan die kook te hou? Torlief, wie se seun nou al sy eie gesin grootmaak, sê die sleutel is om die raad in Deuteronomium te volg. Neem jou kinders saam met jou oral waar jy gaan, en geleenthede om te gesels, sal heel natuurlik opduik. “Ek en my seun het saam aan huishoudelike projekte gewerk”, sê Torlief. “Ons het as ’n gesin saam gereis. En ons het saam geëet.” Gevolglik, sê hy, “het ons seun altyd gevoel dat hy sy gedagtes vryelik kon uitspreek.”

Maar sê nou kommunikasieprobleme ontstaan en dit word moeilik om met mekaar te praat? Dit gebeur soms wanneer die kinders ouer word. Weer eens kan dit help as jy meer tyd saam met hulle deurbring. Catherine se man, Ken, onthou dat hulle dogter, toe sy ’n tiener geword het, gekla het dat hy nie na haar luister nie. Dit is ’n algemene klagte van tieners. Wat kon hy doen? Ken vertel: “Ek het besluit om meer tyd alleen saam met haar deur te bring en met haar te praat oor haar gedagtes, gevoelens en frustrasies. Dit het regtig gehelp” (Spreuke 20:5). Maar Ken glo die rede waarom hierdie benadering gewerk het, is omdat kommunikasie in hulle huis niks nuuts was nie. “Ek en my dogter het nog altyd ’n goeie verhouding gehad”, sê hy, “en daarom het sy gevoel dat sy vryelik met my kon praat.”

Interessant genoeg, een onlangse studie het getoon dat tieners drie keer meer geneig is as hulle ouers om te sê dat ouers en kinders nie genoeg tyd saam deurbring nie. Volg dus gerus die Bybel se raad. Bring soveel tyd moontlik saam met jou kinders deur—wanneer jy rus en wanneer jy besig is, wanneer jy by die huis is en wanneer jy op die pad is, soggens wanneer jy opstaan en saans voor jy gaan slaap. Indien moontlik, neem hulle met jou saam oral waar jy gaan. Soos Deuteronomium 6:7 te kenne gee, is daar geen plaasvervanger daarvoor om tyd saam met jou kinders deur te bring nie.

Leer hulle goeie waardes

Mario, ’n pa van twee, beveel ook aan: “Gee kinders baie liefde, en lees vir hulle.” Jy moet egter nie net jou kinders se verstandelike vermoëns stimuleer nie. Jy moet hulle ook leer hoe om tussen reg en verkeerd te onderskei. Mario voeg by: “Hou ’n Bybelstudie met hulle.”

Met hierdie doel vermaan die Bybel ouers: “Moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil” (Efesiërs 6:4, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Nadruk op sedelike onderrigting ontbreek vandag in baie huise. Party glo dat kinders, wanneer hulle ouer is, self sal kan besluit watter waardes hulle moet aanvaar. Maak dit vir jou sin? Net soos jong liggame behoorlike voeding nodig het om sterk en gesond groot te word, het jong verstande en harte onderrigting nodig. As jou kinders nie by die huis sedelike waardes by jou leer nie, sal hulle waarskynlik die beskouings van hulle skoolmaats en onderwysers of dié van die massamedia aanneem.

Die Bybel kan ouers help om hulle kinders te leer hoe om tussen reg en verkeerd te onderskei (2 Timoteus 3:16, 17). Jeff, ’n ervare Christen- ouer man wat twee kinders grootgemaak het, beveel aan dat die Bybel gebruik word om kinders goeie waardes te leer. Hy sê: “As jy die Bybel gebruik, help dit kinders om te besef hoe die Skepper oor iets voel, nie net hoe Ma en Pa daaroor voel nie. Ons het die Bybel se unieke uitwerking op die verstand en hart gesien. Om verkeerde gedrag of gedagtes reg te stel, het ons die tyd geneem om ’n gepaste teks te vind. Op ’n private plek het ons die kind dan die teks laat lees. Dit het dikwels gelei tot ’n traan of selfs trane wat oor die wange rol. Ons was verstom. Die Bybel het groter trefkrag gehad as enigiets wat ons kon dink om te sê of doen.”

Hebreërs 4:12 verduidelik: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit . . . en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei.” Die boodskap van die Bybel is dus nie bloot die persoonlike beskouings of ondervindinge van die mense wat God gebruik het om dit neer te skryf nie. Dit verteenwoordig eerder God se denke oor sedelike sake. Dit onderskei dit van alle ander raad. Deur die Bybel te gebruik om jou kinders te onderrig, help jy hulle om God se denke oor sake te kry. Jou opleiding dra meer gewig, en jy het ’n groter kans om jou kind se hart te bereik.

Catherine, wat vroeër genoem is, stem saam. Sy sê: “Hoe moeiliker die situasie, hoe meer het ons raad in God se Woord gesoek—en dit het gewerk!” Kan jy die Bybel meer gebruik wanneer jy jou kinders leer om tussen reg en verkeerd te onderskei?

Wees redelik

Die apostel Paulus wys op ’n ander belangrike beginsel wat nuttig is in die grootmaak van kinders. Hy het mede-Christene aangespoor: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Dit sluit sekerlik in dat ons ons kinders laat sien dat ons redelik is. En onthou, redelikheid weerspieël “die wysheid van bo”.—Jakobus 3:17.

Maar hoe hou redelikheid verband met die opleiding van ons kinders? Terwyl ons hulle sover moontlik wil help, beheer ons nie alles wat hulle doen nie. Byvoorbeeld, Mario, wat vroeër aangehaal is, is een van Jehovah se Getuies en hy sê: “Ons het altyd doop, die voltydse bediening en ander geestelike doelwitte voor ons kinders gestel. Maar ons het dit duidelik gemaak dat hulle self moet kies wanneer die tyd aanbreek.” Die resultaat? Albei hulle kinders dien nou as voltydse evangeliedienaars.

Die Bybel waarsku vaders in Kolossense 3:21: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.” Catherine waardeer hierdie vers. Wanneer ’n ouer se geduld opraak, is dit maklik om kwaad of veeleisend te word. Maar, sê sy, “moenie soveel van jou kind verwag as wat jy van jouself verwag nie”. Catherine is ook een van Jehovah se Getuies en sy voeg by: “Maak dit aangenaam om Jehovah te dien.”

Jeff, wat vroeër genoem is, maak hierdie praktiese opmerking: “Toe ons kinders ouer geword het, het ’n goeie vriend vir ons gesê dat hy besef het hoe dikwels hy moes nee sê wanneer sy kinders iets gevra het. Dit het hulle gefrustreer en hulle laat voel dat hulle onderdruk word. Om dit te voorkom, het hy voorgestel dat ons maniere soek waarop ons kan ja sê.

“Ons het gevind dat dit goeie raad is”, sê Jeff. “Ons het toe geleenthede gesoek waar ons kinders dinge saam met ander kon doen onder omstandighede wat ons goedgekeur het. Ons het dan na hulle toe gegaan en gesê: ‘Het julle geweet so-en-so doen dit of dat? Wil julle nie saamgaan nie?’ Of as die kinders ons gevra het om hulle iewers heen te neem, het ons ons gedwing om te gaan al was ons moeg. Ons het dit gedoen net sodat ons nie hoef nee te sê nie.” Dit is wat redelikheid werklik is—om regverdig, bedagsaam en toegewend te wees sonder om Bybelbeginsels prys te gee.

Vind baat by betroubare raad

Die meeste van hierdie egpare is nou grootouers. Hulle geniet dit om te sien hoe hierdie selfde Bybelbeginsels hulle kinders help om suksesvolle ouers te wees. Kan jy by die Bybel se raad baat vind?

Toe Ruth, wat aan die begin genoem is, ’n ouer geword het, het sy en haar man soms heeltemal alleen gevoel. Maar hulle was nie. Hulle het die wonderlike raad van God se Woord, die Bybel, gehad. Jehovah se Getuies het al talle uitstekende Bybelstudiehulpe uitgegee wat ouers kan help. Dit sluit in Leer by die Groot Onderwyser, My boek met Bybelverhale, Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en Die grootste mens wat nog geleef het. Torlief, Ruth se man, sê: “Vandag is daar ’n oorvloed Bybelse raad wat geredelik beskikbaar is vir ouers. As hulle net daarvan wil gebruik maak, kan hulle hulp kry op alle lewensgebiede terwyl ’n kind grootword.”

[Venster/Prent op bladsy 5]

Wat die DESKUNDIGES sê . . . Wat die BYBEL sê

Oor die betoning van liefde:

In The Psychological Care of Infant and Child (1928) het dr. John Broadus Watson vir ouers gesê: “Moet nooit [jou kinders] drukkies gee en soen nie.” “Moet hulle nie toelaat om ooit op jou skoot te sit nie.” Maar in onlangser tye het drr. Vera Lane en Dorothy Molyneaux in die tydskrif Our Children (Maart 1999) gesê: “Navorsing toon dat jong kinders van wie fisiese aanraking en liefdeblyke weerhou is, dikwels nie floreer nie.”

In Jesaja 66:12 word God se betoning van liefde vir sy volk egter met blyke van ouerliefde vergelyk. Toe Jesus se dissipels mense probeer keer het om jong kinders na Jesus toe te bring, het hy hulle eweneens berispe en gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Daarna het hy “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën”.—Markus 10:14, 16.

Oor die inskerping van goeie waardes:

In ’n artikel in 1969 in die New York Times Magazine het dr. Bruno Bettelheim beklemtoon dat ’n kind die reg het “om sy eie innerlike opinies te vorm, wat nie beïnvloed word deur [sy ouers se] outoritêre [gepreek] nie, maar slegs deur sy eie ondervinding in die lewe”. Maar byna 30 jaar later het dr. Robert Coles, skrywer van The Moral Intelligence of Children (1997), erken: “Kinders moet voel dat hulle ’n doel in die lewe het, ’n stel waardes” wat deur hulle ouers en ander volwassenes goedgekeur word.

Spreuke 22:6 spoor ouers aan: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Die Hebreeuse woord wat as ‘lei op’ vertaal word, beteken ook “begin met” en dui hier op die aanvang van die eerste onderrigting van die baba. Ouers word dus aangemoedig om hulle kinders van kleintyd af goeie waardes te leer (2 Timoteus 3:14, 15). Wat hulle gedurende hierdie vormingsjare leer, sal hulle waarskynlik bybly.

Oor dissipline:

Dr. James Dobson het in The Strong-Willed Child (1978) geskryf: “Lyfstraf deur die hande van ’n liefdevolle ouer is ’n onderrigmiddel waardeur skadelike gedrag beperk word.” Aan die ander kant het dr. Benjamin Spock, in ’n artikel wat verwerk is uit die sewende uitgawe van die gewilde boek Baby and Child Care (1998), gesê: “’n Pak slae leer kinders dat die groter, sterker persoon die mag het om sy sin te kry, of hy nou reg is of nie.”

Met betrekking tot dissipline sê die Bybel: “Die roede en teregwysing gee wysheid” (Spreuke 29:15). Maar nie alle kinders het lyfstraf nodig nie. Spreuke 17:10 sê vir ons: “’n Bestrawwing maak ’n dieper indruk op iemand wat begrip het as honderd houe op ’n sot.”

[Prent]

Gebruik die Bybel om die hart te bereik

[Prent op bladsy 7]

Verstandige ouers reël ontspanning vir hulle kinders