Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Prediker

Glanspunte uit die boek Prediker

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Prediker

“DIE mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis”, het die aartsvader Job gesê (Job 14:1). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons nie ons kort lewe op nuttelose belange en strewes verkwis nie! Aan watter strewes moet ons ons tyd, energie en middele bestee? Watter strewes moet ons vermy? Die wyse woorde wat in die Bybelboek Prediker opgeteken is, gee betroubare leiding in dié verband. Die boodskap wat dit oordra, “kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” en kan ons help om ’n sinvolle lewe te lei.—Hebreërs 4:12.

Die boek Prediker, wat geskryf is deur ’n man wat bekend is vir sy wysheid, koning Salomo van eertydse Israel, bevat praktiese raad oor wat werklik die moeite werd is in die lewe en wat nutteloos is. Aangesien Salomo verwys na party van die bouprojekte wat hy onderneem het, het hy Prediker waarskynlik geskryf nadat hy hierdie projekte voltooi het en voordat hy van ware aanbidding afgewyk het (Nehemia 13:26). Dit beteken dat die boek voor 1000 v.G.J., teen die einde van Salomo se 40 jaar lange heerskappy, geskryf is.

WAT IS NIE NIETIGHEID NIE?

(Prediker 1:1–6:12)

“Alles is nietigheid!” sê die byeenbringer en vra: “Watter voordeel is daar vir ’n mens in al sy harde werk waaraan hy hard werk onder die son?” (Prediker 1:2, 3). Die uitdrukkings “nietigheid” en “onder die son” verskyn herhaaldelik in Prediker. Die Hebreeuse woord vir “nietigheid” beteken letterlik “asem” of “damp” en dui op ’n gebrek aan vastigheid, duursaamheid of blywende waarde. Die uitdrukking “onder die son” beteken “op hierdie aarde” of “in hierdie wêreld”. Gevolglik is alles—dit wil sê alle mensestrewes wat God se wil buite rekening laat—nietigheid.

“Gee ag op jou voete wanneer jy na die huis van die ware God gaan”, sê Salomo, “en kom nader om te hoor” (Prediker 5:1). Om die ware aanbidding van Jehovah God te beoefen, is nie nietigheid nie. Trouens, die sleutel tot ’n sinvolle lewe is om aandag te gee aan ons verhouding met hom.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:4-10—Wat omtrent die natuurlike kringlope is “vermoeiend”? Die byeenbringer noem net drie van die basiese dinge wat lewe op aarde moontlik maak—die son, die windpatroon en die waterkringloop. Daar is in werklikheid baie natuurlike kringlope, en hulle is baie kompleks. ’n Mens kan ’n leeftyd aan ’n studie daarvan wy en hulle nog steeds nie ten volle verstaan nie. Dit kan beslis “vermoeiend” wees. Dit is ook frustrerend om ons kort lewensduur te vergelyk met die nimmereindigende herhaling van hierdie kringlope. Selfs pogings om nuwe ontdekkings te doen, is vermoeiend. Nuwe uitvindings is immers net toepassings van beginsels wat die ware God daargestel en reeds in die skepping gebruik het.

2:1, 2—Waarom word gelag “waansin” genoem? Gelag help ons dalk om ons probleme tydelik te vergeet, en pretmakery kan maak dat ons ons probleme ligtelik opneem. Maar gelag laat nie ons probleme verdwyn nie. Daarom word die strewe na geluk deur middel van gelag “waansin” genoem.

3:11—Wat het God “mooi gemaak op die tyd daarvoor”? Party van die dinge wat Jehovah God “mooi”, of gepas en goed, gemaak het op die regte tyd daarvoor, is die skepping van Adam en Eva, die reënboogverbond, die verbond met Abraham, die Dawidiese verbond, die koms van die Messias en die kroning van Jesus Christus as die Koning van God se Koninkryk. Maar daar is iets anders wat Jehovah in die nabye toekoms “mooi” sal maak. Ons kan vol vertroue wees dat die regverdige nuwe wêreld ’n werklikheid sal word op die regte tyd daarvoor.—2 Petrus 3:13.

3:15b—In watter sin ‘bly die ware God soek wat nagejaag word’? “Wat nagejaag word” kan verwys na wat God van voorneme is om te doen. Terwyl die herhalende kringlope van geboorte en dood en van oorlog en vrede die mens dalk magteloos laat voel en hom laat dink dat die geskiedenis hom bly herhaal, kan die ware God soek en teweegbring wat Hy ook al wil (Prediker 3:1-10, 15a). “Wat nagejaag word” kan ook van toepassing wees op die regverdiges, wat dikwels deur die goddeloses vervolg word. In dié geval bly Jehovah die regverdiges soek om “sy krag te toon” ten behoewe van hulle.—2 Kronieke 16:9.

5:9—In watter sin is “die voordeel van die aarde onder hulle almal”? Alle bewoners van die aarde is afhanklik van “die voordeel van die aarde”—dit wat die grond voortbring. ’n Koning is geen uitsondering nie. Om die opbrengs van sy landerye te ontvang, moet die koning gedien word deur sy hardwerkende knegte wat die land bewerk.

Lesse vir ons:

1:15. Dit is tevergeefs om tyd en energie daaraan te bestee om die onderdrukking en onregverdigheid wat ons vandag sien, te probeer regstel. Slegs God se Koninkryk kan goddeloosheid uit die weg ruim.—Daniël 2:44.

2:4-11. Kulturele bedrywighede, soos argitektuur, tuinbou en musiek, sowel as ’n luukse lewenstyl is “’n gejaag na wind” omdat dit nie ’n waarlik sinvolle lewe of blywende geluk meebring nie.

2:12-16. Wysheid is voordeliger as dwaasheid omdat dit sekere probleme kan help oplos. Maar wat die dood betref, het mensewysheid geen voordeel nie. En selfs al het iemand roem verwerf omdat hy hierdie wysheid het, word daar kort voor lank van hom vergeet.

2:24; 3:12, 13, 22. Dit is nie verkeerd om die vrugte van ons arbeid te geniet nie.

2:26. Goddelike wysheid, wat vreugde meebring, word gegee aan ‘die mens wat goed is voor Jehovah’. Dit is onmoontlik om hierdie wysheid te verkry sonder om ’n goeie verhouding met God te geniet.

3:16, 17. Dit is onrealisties om regverdigheid in elke saak te verwag. Pleks van angstig te wees oor wat vandag in die wêreld gebeur, moet ons eerder op Jehovah wag om sake reg te stel.

4:4. Harde werk wat op bedrewe wyse verrig is, kan tevredenheid meebring. Maar harde werk wat slegs verrig word om bo ander uit te blink, bevorder mededinging en kan kwade gevoelens en jaloesie aanwakker. Ons harde werk in die Christelike bediening moet uit die regte beweegredes voortspruit.

4:7-12. Menseverhoudings is belangriker as materiële besittings en moenie in die najaging van rykdom opgeoffer word nie.

4:13. Status en ouderdom dwing nie noodwendig respek af nie. Diegene in verantwoordelike posisies moet verstandig optree.

4:15, 16. “Die kind, wat tweede is”—die koning se opvolger—het dalk aanvanklik die ondersteuning van ‘al die mense voor hom’, maar ‘daarna is hulle nie bly oor hom nie’. Ja, gewildheid is gewoonlik van korte duur.

5:2. Ons gebede moet weldeurdag en eerbiedig wees, en nie omslagtig nie.

5:3-7. Beheptheid met materiële strewes kan ’n mens laat dagdroom oor selfsugtige belange. Dit kan jou snags ook in ’n rustelose, dromerige geestestoestand laat verkeer, wat jou van soete slaap beroof. ’n Oorvloed woorde kan iemand dwaas laat lyk in ander se oë en kan veroorsaak dat hy God iets plegtig belowe sonder dat hy daaroor nagedink het. ‘Vrees vir die ware God’ voorkom dat ons enige van hierdie dinge doen.

6:1-9. Van watter waarde is rykdom, roem, ’n lang lewe en selfs ’n groot gesin as omstandighede ons verhinder om dit te geniet? En “die aanskouing met die oë”, of om die werklikheid onder die oë te sien, “is beter as die rondwandeling van die siel [“sielsbegeerte”, voetnoot in NW]”, dit wil sê om begeertes te probeer bevredig wat onmoontlik is om te vervul. Die beste lewenswyse is dus om tevrede te wees met “voedsel, klere en onderdak” terwyl ons heilsame dinge in die lewe geniet en ons daarop toespits om ’n hegte verhouding met Jehovah te behou.—1 Timoteus 6:8.

RAAD AAN DIE WYSES

(Prediker 7:1–12:8)

Hoe kan ons ons goeie naam, of reputasie, bewaar? Wat moet ons gesindheid wees teenoor menseleiers en onregte wat ons dalk sien? Hoe moet ons ons lewe nóú gebruik, aangesien die dooies bewus is van niks nie? Hoe kan jongmense hulle tyd en energie wyslik gebruik? Die byeenbringer se betroubare raad in verband met dié en ander sake is vir ons opgeteken in hoofstukke 7 tot 12 van Prediker.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

7:19—In watter sin is wysheid sterker as “tien maghebbers”? Wanneer die syfer tien figuurlik in die Bybel gebruik word, stel dit volkomenheid voor. Salomo sê dat wysheid ’n groter beskerming is as ’n volledige getal krygsmanne wat ’n stad bewaak.

10:2—Wat beteken dit dat iemand se hart “aan sy regterhand” of “aan sy linkerhand” is? Aangesien die regterhand dikwels die posisie van guns aandui, beteken dit dat iemand wie se hart aan sy regterhand is, deur sy hart beweeg word om goed te doen. As dit hom egter beweeg om ’n verkeerde weg in te slaan, word daar gesê dat sy hart aan sy linkerhand is.

10:15—In watter sin ‘maak die harde werk van die sotte hulle moeg’? As iemand nie onderskeidingsvermoë besit nie, bring sy harde werk niks voort wat werklik die moeite werd is nie. Hy vind geen voldoening daarin nie. Hierdie eindelose geswoeg maak hom net moeg.

11:7, 8—Wat beteken die woorde: “Die lig is ook soet, en dit is goed vir die oë om die son te sien.” Die lig en die son is daar vir die genot van die lewendes. Salomo sê hier dat dit goed is om te lewe en dat ons ons moet “verbly” voordat die dae van duisternis, of bejaardheid, ons van ons lewenskrag beroof.

11:10—Waarom is “jeug en die bloei van die lewe” nietigheid? As dit nie reg gebruik word nie, is dit nietigheid, want die dae van jeugdige krag verdwyn vinnig, soos ’n damp.

Lesse vir ons:

7:6. Gelag op ’n ongepaste tyd is so irriterend en waardeloos soos die geknetter van brandende dorings onder ’n pot. Dit sal verstandig wees as ons dit vermy.

7:21, 22. Ons moet ons nie te veel kwel oor wat ander sê nie.

8:2, 3; 10:4. Wanneer ons deur ’n opsiener of ’n werkgewer gekritiseer of tereggewys word, is dit verstandig om kalm te bly. Dit is beter om dit te doen as om ons te ‘haas om van hom af weg te gaan’, dit wil sê oorhaastig uit ons werk te bedank.

8:8; 9:5-10, 12. Ons lewe kan net so onverwags tot ’n einde kom as wat visse in ’n net of voëls in ’n valstrik gevang word. Daarbenewens kan niemand die lewenskrag teëhou wat by die dood uitgaan nie, en niemand kan vrygestel word van die oorlog wat die dood teen die mensdom voer nie. Daarom moet ons nie tyd verkwis deur ledig te wees nie. Jehovah wil hê dat ons die lewe as kosbaar moet beskou en dit op ’n heilsame manier moet geniet. Om dit te doen, moet ons Jehovah se diens eerste in ons lewe stel.

8:16, 17. Ons kan nie die volle omvang begryp van alles wat God onder die mensdom gedoen het en toegelaat het om plaas te vind nie, al het ons slapelose nagte daaroor. As ons ons bekommer oor al die oortredings wat gepleeg is, sal dit ons net ons vreugde in die lewe ontneem.

9:16-18. Wysheid moet kosbaar geag word selfs wanneer daar ’n algemene gebrek aan waardering daarvoor is. Die kalm woorde van ’n wyse persoon word verkies bo die uitbundige geskreeu van ’n sot.

10:1. Ons moet versigtig wees wat ons sê en doen. Net een onbesonne handeling, soos ’n woedeuitbarsting, die misbruik van alkohol by een geleentheid of ’n geval van onkuise seksuele gedrag, is genoeg om die goeie reputasie van ’n gerespekteerde persoon te bederf.

10:5-11. Moenie afgunstig wees op ’n onbekwame persoon in ’n hoë posisie nie. Onbekwaamheid om selfs ’n eenvoudige taak te verrig, kan nadelige gevolge hê. Dit is voordelig om eerder die vermoë te ontwikkel om ‘wysheid te gebruik om sukses te behaal’. Hoe belangrik is dit tog dat ons bedrewe raak in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk!

11:1, 2. Ons moet heelhartige vrygewigheid beoefen. Dan sal ander vrygewigheid aan ons bewys.—Lukas 6:38.

11:3-6. Die onsekerhede van die lewe moet ons nie besluiteloos maak nie.

11:9; 12:1-7. Jongmense is aanspreeklik teenoor Jehovah. Daarom moet hulle hulle tyd en energie in God se diens gebruik voordat bejaardheid hulle van hulle lewenskrag beroof.

“DIE WOORDE VAN DIE WYSES” OM ONS TE LEI

(Prediker 12:9-14)

Hoe moet ons “die welgevallige woorde” beskou wat die byeenbringer probeer vind en neergeskryf het? In teenstelling met die “baie boeke” wat mensewysheid bevat, is “die woorde van die wyses . . . soos osprikkels, en soos ingeslane spykers is dié wat hulle aan versamelings van spreuke wy; hulle is deur een herder gegee” (Prediker 12:10-12). Die wyse woorde wat deur die “een herder”, Jehovah, gegee is, het ’n stabiliserende uitwerking op ons lewe.

As ons die wyse raad toepas wat in die boek Prediker gevind word, sal dit ons inderdaad help om ’n sinvolle en gelukkige lewe te lei. Boonop het ons die versekering dat “dit goed sal afloop met dié wat die ware God vrees”. Laat ons dan vasbeslote wees om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou’.—Prediker 8:12; 12:13.

[Prent op bladsy 15]

Een van God se mooiste skeppingswerke sal op die regte tyd daarvoor ’n werklikheid word

[Prent op bladsy 16]

God se gawes sluit voedsel en drank in, asook om die goeie vir al ons harde werk te sien