Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy Jehovah se beskouing van heilige dinge?

Het jy Jehovah se beskouing van heilige dinge?

Het jy Jehovah se beskouing van heilige dinge?

“Terwyl julle sorgvuldig toesien . . . dat daar geen hoereerder is of enigeen wat heilige dinge nie waardeer nie.”—HEBREËRS 12:15, 16.

1. Watter heersende gesindheid het Jehovah se knegte nie?

 DIE wêreld oor die algemeen skenk al hoe minder aandag aan heilige dinge. Die Franse sosioloog Edgar Morin het gesê: “Al die grondslae waarop sedes berus—God, die natuur, die vaderland, die geskiedenis, die rede—het hulle onbetwisbaarheid verloor. . . . Mense kies self hulle waardes.” Dit weerspieël “die gees van die wêreld”, of “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2). Diegene wat hulle aan Jehovah toegewy het en wat hulle gewillig aan sy regmatige soewereiniteit onderwerp, het nie hierdie oneerbiedige gees nie (Romeine 12:1, 2). Inteendeel, God se knegte besef watter noodsaaklike rol heiligheid in hulle aanbidding van Jehovah speel. Watter dinge in ons lewe moet heilig wees? Hierdie artikel sal vyf dinge bespreek wat vir al God se knegte heilig is. Die volgende artikel sal die aandag vestig op die heiligheid van ons Christelike vergaderinge. Maar wat beteken die woord “heilig” werklik?

2, 3. (a) Hoe beklemtoon die Skrif Jehovah se heiligheid? (b) Hoe toon ons dat ons Jehovah se naam as iets heiligs beskou?

2 In Bybelse Hebreeus bevat die woord “heilig” die gedagte van afgeskeidenheid. In aanbidding slaan “heilig” op dinge wat afgeskeie is van alledaagse gebruik, of as gewyd beskou word. Jehovah is heilig in die absolute sin. Hy word “die Allerheiligste” genoem (Spreuke 9:10; 30:3). In eertydse Israel het die hoëpriester ’n tulband gedra waaraan ’n goue plaat vasgemaak is met die woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” daarop gegraveer (Eksodus 28:36, 37). Volgens ’n beskrywing in die Skrif roep hemelse gerubs en serafs wat rondom Jehovah se troon staan, uit: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah” (Jesaja 6:2, 3; Openbaring 4:6-8). Hierdie herhaling beklemtoon dat Jehovah in die hoogste graad heilig, rein en suiwer is. Trouens, hy is die Bron van alle heiligheid.

3 Jehovah se naam is heilig. Die psalmis het uitgeroep: “Laat hulle u naam prys. Groot en vreesinboesemend, heilig is dit” (Psalm 99:3). Jesus het ons leer bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word [of, “as heilig beskou word; as heilig behandel word”, voetnoot in NW]” (Matteus 6:9). Jesus se aardse moeder, Maria, het gesê: “My siel maak Jehovah groot, . . . die Magtige [het] groot dade vir my gedoen . . . , en heilig is sy naam” (Lukas 1:46, 49). As knegte van Jehovah beskou ons sy naam as iets heiligs en doen ons niks wat hierdie heilige naam oneer kan aandoen nie. Daarbenewens het ons Jehovah se beskouing van heiligheid, dit wil sê, ons ag die dinge heilig wat hy as heilig beskou.—Amos 5:14, 15.

Waarom ons diep respek vir Jesus het

4. Waarom beskryf die Bybel Jesus as “die Heilige”?

4 As die “enigverwekte seun” van die heilige God, Jehovah, is Jesus heilig geskep (Johannes 1:14; Kolossense 1:15; Hebreërs 1:1-3). Daarom word hy “die Heilige van God” genoem (Johannes 6:69). Hy het sy heiligheid behou toe sy lewe van die hemel na die aarde oorgeplaas is, want Maria het onder die krag van die heilige gees aan Jesus geboorte gegee. ’n Engel het vir haar gesê: “Heilige gees sal oor jou kom, . . . wat gebore word, [sal] heilig, God se Seun, genoem word” (Lukas 1:35). In gebed tot Jehovah het Christene in Jerusalem twee keer na God se Seun as “u heilige kneg Jesus” verwys.—Handelinge 4:27, 30.

5. Watter heilige opdrag het Jesus op die aarde uitgevoer, en waarom is sy bloed kosbaar?

5 Jesus het ’n heilige opdrag gehad om uit te voer terwyl hy op die aarde was. By sy doop in 29 G.J. is Jesus as die Hoëpriester van Jehovah se groot geestelike tempel gesalf (Lukas 3:21, 22; Hebreërs 7:26; 8:1, 2). Daarbenewens moes hy ’n offerdood sterf. Sy vergote bloed sou die losprys voorsien waardeur menslike sondaars gered kon word (Matteus 20:28; Hebreërs 9:14). Ons beskou dus Jesus se bloed as iets heiligs, as ‘kosbaar’.—1 Petrus 1:19.

6. Wat is ons gesindheid teenoor Christus Jesus, en waarom?

6 Die apostel Paulus het getoon dat ons diep respek het vir ons Koning en Hoëpriester, Christus Jesus, toe hy geskryf het: “God [het sy Seun] tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:9-11). Ons toon dat ons Jehovah se beskouing van heilige dinge het deur ons vreugdevol te onderwerp aan ons Leier en heersende Koning, Christus Jesus, die Hoof van die Christengemeente.—Matteus 23:10; Kolossense 1:18.

7. Hoe toon ons ons onderdanigheid aan Christus?

7 Onderdanigheid aan Christus sluit ook in dat ons gepaste respek toon vir die manne wat hy gebruik om die leiding te neem in die werk wat hy nou rig. Die rol van die geesgesalfdes wat die Bestuursliggaam uitmaak en van die opsieners wat deur hulle in die takkantore, streke, kringe en gemeentes aangestel word, moet as ’n heilige verantwoordelikheid beskou word. Hierdie reëling vereis dus ons diep respek en onderdanigheid.—Hebreërs 13:7, 17.

’n Heilige volk

8, 9. (a) In watter opsig was die Israeliete ’n heilige volk? (b) Hoe het Jehovah die Israeliete die beginsel van heiligheid op die hart gedruk?

8 Jehovah het ’n verbond met Israel gesluit. Hierdie verhouding het aan daardie nuwe nasie ’n spesiale status verleen. Hulle is geheilig, of afgesonder. Jehovah self het vir hulle gesê: “Julle moet vir my heilig wees, want ek, Jehovah, is heilig; en ek sonder julle van die volke af om myne te word.”—Levitikus 19:2; 20:26.

9 Reeds met die vorming van die nasie Israel het Jehovah die Israeliete die beginsel van heiligheid op die hart gedruk. Hulle mag, op straf van die dood, nie eens aan die berg geraak het waar die Tien Gebooie gegee is nie. Die berg Sinai is dus in sekere sin as heilig beskou (Eksodus 19:12, 23). Die priesterdom, die tabernakel en sy toebehore moes ook as heilig beskou word (Eksodus 30:26-30). Wat is die situasie in die Christengemeente?

10, 11. Waarom kan daar gesê word dat die Christengemeente van gesalfdes heilig is, en watter uitwerking het dit op die “ander skape”?

10 Die Christengemeente van gesalfdes is heilig in Jehovah se oë (1 Korintiërs 1:2). Trouens, die hele groep gesalfde Christene wat op enige gegewe tyd op die aarde is, word met ’n heilige tempel vergelyk, hoewel hulle nie Jehovah se groot geestelike tempel uitmaak nie. Jehovah bewoon daardie tempel deur middel van sy heilige gees. Die apostel Paulus het geskryf: “In eenheid met [Christus Jesus] groei die hele gebou, wat harmonies saamgevoeg is, tot ’n heilige tempel vir Jehovah. In eenheid met hom word julle ook saam opgebou tot ’n plek vir God om deur gees te bewoon.”—Efesiërs 2:21, 22; 1 Petrus 2:5, 9.

11 Paulus het verder aan gesalfde Christene geskryf: “Weet julle nie dat julle God se tempel is en dat die gees van God in julle woon nie? . . . Die tempel van God is heilig, en julle is daardie tempel” (1 Korintiërs 3:16, 17). Deur middel van sy gees “woon” Jehovah onder die gesalfdes en ‘wandel hy onder hulle’ (2 Korintiërs 6:16). Hy lei voortdurend sy getroue “slaaf” (Matteus 24:45-47). Die “ander skape” waardeer hulle voorreg om met die “tempel”-klas verenig te wees.—Johannes 10:16; Matteus 25:37-40.

Heilige dinge in ons Christelike lewe

12. Watter dinge is heilig in ons lewe, en waarom?

12 Dit is nie verbasend dat baie dinge met betrekking tot die lewe van gesalfde lede van die Christengemeente en hulle metgeselle as heilig beskou word nie. Ons verhouding met Jehovah is iets heiligs (1 Kronieke 28:9; Psalm 36:7). Dit is vir ons so kosbaar dat ons niks en niemand toelaat om tussen ons en ons God, Jehovah, te kom nie (2 Kronieke 15:2; Jakobus 4:7, 8). Gebed speel ’n belangrike rol daarin om ’n hegte verhouding met Jehovah te behou. Gebed was so heilig vir die profeet Daniël dat hy getrou volgehou het met sy gewoonte om tot Jehovah te bid, al het dit sy lewe in gevaar gestel (Daniël 6:7-11). “Die gebede van die heiliges”, of gesalfde Christene, word vergelyk met reukwerk wat in tempelaanbidding gebruik is (Openbaring 5:8; 8:3, 4; Levitikus 16:12, 13). Hierdie simboliek beklemtoon die heiligheid van gebed. Wat ’n voorreg is dit tog om met die Soewerein van die heelal te kan kommunikeer! Geen wonder dat gebed as heilig in ons lewe beskou word nie!

13. Watter krag is heilig, en hoe moet ons dit in ons lewe laat werk?

13 Daar is ’n krag in die lewe van gesalfde Christene en hulle metgeselle wat hulle beslis as heilig beskou—die heilige gees. Hierdie gees is Jehovah se werkende krag, en aangesien dit altyd in ooreenstemming met die wil van die heilige God werk, word dit gepas “die heilige gees”, of “die gees van heiligheid”, genoem (Johannes 14:26; Romeine 1:4). Deur middel van die heilige gees voorsien Jehovah aan sy knegte die krag om die goeie nuus te verkondig (Handelinge 1:8; 4:31). Jehovah gee sy gees aan dié “wat hom as heerser gehoorsaam”, aan dié wat ‘aanhou om deur gees te wandel’, nie volgens vleeslike begeertes nie (Handelinge 5:32; Galasiërs 5:16, 25; Romeine 8:5-8). Hierdie sterk krag stel Christene in staat om “die vrugte van die gees”—voortreflike eienskappe—en “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” voort te bring (Galasiërs 5:22, 23; 2 Petrus 3:11). As die heilige gees vir ons iets heiligs is, sal ons niks doen wat hierdie gees sal bedroef, of die werking daarvan in ons lewe sal belemmer nie.—Efesiërs 4:30.

14. Watter voorreg beskou die gesalfdes as heilig, en hoe deel die ander skape in hierdie voorreg?

14 Die voorreg wat ons het om die naam van die heilige God, Jehovah, te dra en om sy Getuies te wees, is nog iets wat ons as heilig beskou (Jesaja 43:10-12, 15). Gesalfde Christene is deur Jehovah bekwaam gemaak “om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees” (2 Korintiërs 3:5, 6). As sodanig het hulle die opdrag om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig en om “dissipels van mense van al die nasies” te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hulle voer hierdie opdrag getrou uit, en miljoene skaapgeaarde mense reageer gunstig en sê simbolies aan die gesalfdes: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Hulle dien met vreugde in geestelike sin as “landbouers” en “wingerdarbeiders” vir die gesalfde “dienaars van ons God”. Op hierdie manier help die ander skape die gesalfdes grootliks om hulle bediening op ’n wêreldwye skaal uit te voer.—Jesaja 61:5, 6.

15. Watter werk het die apostel Paulus as heilig beskou, en waarom het ons dieselfde beskouing?

15 Die apostel Paulus was iemand wat sy openbare bediening as iets heiligs beskou het. Hy het van homself gepraat as ‘’n openbare dienaar van Christus Jesus vir die nasies, wat aan die heilige werk van die goeie nuus van God deelneem’ (Romeine 15:16). In ’n brief aan Christene in Korinte het Paulus sy bediening ’n “skat” genoem (2 Korintiërs 4:1, 7). Deur middel van ons openbare bediening maak ons “die heilige verklarings van God” bekend (1 Petrus 4:11). Hetsy ons dus van die gesalfdes of van die ander skape is, ons beskou dit as ’n heilige voorreg om aan die getuieniswerk deel te neem.

‘Bring heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid’

16. Wat sal ons help om nie mense te word “wat heilige dinge nie waardeer nie”?

16 Die apostel Paulus het sy mede-Christene gewaarsku om nie mense te word “wat heilige dinge nie waardeer nie”. Hy het hulle vermaan om eerder ‘heiliging na te streef’, “terwyl [hulle] sorgvuldig toesien . . . dat geen giftige wortel opskiet en moeilikheid veroorsaak en dat baie daardeur verontreinig word nie” (Hebreërs 12:14-16). Die uitdrukking “giftige wortel” verwys na die paar mense in die Christengemeente wat dalk foutvind met die manier waarop dinge gedoen word. Byvoorbeeld, hulle stem miskien nie saam met Jehovah se beskouing oor die heiligheid van die huwelik of oor die nodigheid vir sedelike reinheid nie (1 Tessalonisense 4:3-7; Hebreërs 13:4). Of hulle neem dalk deel aan afvallige praatjies, “leë praatjies wat skend wat heilig is”, wat versprei word deur diegene wat “van die waarheid afgewyk” het.—2 Timoteus 2:16-18.

17. Waarom moet die gesalfdes hulle voortdurend inspan om Jehovah se beskouing van heiligheid te weerspieël?

17 Aan sy gesalfde broers het Paulus geskryf: “Geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). Hierdie woorde toon dat gesalfde Christene, “deelgenote van die hemelse roeping”, hulle voortdurend moet inspan om te bewys dat hulle Jehovah se beskouing van heiligheid in elke aspek van hulle lewe weerspieël (Hebreërs 3:1). Die apostel Petrus het eweneens sy geesverwekte broers gemaan: “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het nie, maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig.”—1 Petrus 1:14, 15.

18, 19. (a) Hoe toon die lede van die “groot menigte” dat hulle Jehovah se beskouing van heilige dinge het? (b) Watter ander heilige aspek van ons Christelike lewe sal in die volgende artikel bespreek word?

18 Wat van die lede van die “groot menigte”, wat “die groot verdrukking” sal oorleef? Hulle moet ook bewys dat hulle Jehovah se beskouing van heilige dinge het. In die boek Openbaring word hulle voorgestel as persone wat “heilige diens” aan Jehovah verrig in die aardse voorhof van sy geestelike tempel. Hulle het geloof gestel in Christus se losprysoffer en in simboliese sin “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:9, 14, 15). Dit gee hulle ’n rein posisie voor Jehovah en stel hulle onder verpligting om hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid [te] bring”.

19 ’n Belangrike aspek van die lewe van gesalfde Christene en hulle metgeselle is om gereeld te vergader om Jehovah te aanbid en sy Woord te bestudeer. Jehovah beskou samekomste van sy volk as iets heiligs. Hoe en waarom ons Jehovah se beskouing van heilige dinge op hierdie baie belangrike gebied moet verkry, sal in die volgende artikel bespreek word.

Ter hersiening

• Watter wêreldse beskouing het Jehovah se knegte nie?

• Waarom is Jehovah die Bron van alles wat heilig is?

• Hoe toon ons dat ons Christus se heiligheid respekteer?

• Watter dinge moet ons in ons lewe as heilig beskou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

In eertydse Israel moes die priesterdom, die tabernakel en sy toebehore as heilig beskou word

[Prent op bladsy 24]

Gesalfde Christene op die aarde maak ’n heilige tempel uit

[Prente op bladsy 25]

Gebed en ons openbare bediening is heilige voorregte