Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verenigde bouwerk tot eer van God

Verenigde bouwerk tot eer van God

Verenigde bouwerk tot eer van God

MENSE op een van die Salomon-eilande het ’n nuwe Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gesien. Een vrou het gesê: “In ons kerk hou ons baie geldinsamelings. Ons vra ons lidmate om geld te gee, maar ons het nog altyd nie genoeg fondse om ’n nuwe kerk te bou nie. Hoe maak julle Getuies geld bymekaar?” Die Getuie met wie sy gepraat het, het geantwoord: “Ons aanbid Jehovah as ’n wêreldwye gesin. Ons gemeente en ons broers regoor die wêreld het gegee wat nodig was vir die nuwe Koninkryksaal. Jehovah het ons geleer om in alle dinge verenig te wees.”

Jy sien eenheid onder Jehovah se Getuies in al hulle bedrywighede, insluitende die bou van duisende Koninkryksale. Sulke eenheid in die uitvoering van hierdie projekte is niks nuuts nie. Dit bestaan al duisende jare lank onder God se volk. Hoe so?

Bouwerk aan die tabernakel en die tempel

Jehovah het die nasie Israel in gedagte gehad toe hy meer as 3 500 jaar gelede vir Moses gesê het: “Hulle moet vir my ’n heiligdom maak” (Eksodus 25:8). Aangaande die ontwerp vir hierdie konstruksieprojek het Jehovah verder gesê: “Volgens alles wat ek jou [Moses] wys as die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van al sy toebehore, so moet julle [die hele nasie] dit maak” (Eksodus 25:9). Toe het Jehovah uitvoerige planne uiteengesit vir die struktuur, toebehore en bykomstighede van die heiligdom (Eksodus 25:10–27:19). Hierdie “tabernakel”, of tent, sou die middelpunt van ware aanbidding vir die hele Israel wees.

Ons weet nie hoeveel mense aan die projek gewerk het nie, maar al die Israeliete is genooi om dit te ondersteun. Moses het vir hulle gesê: “Samel onder julle ’n bydrae vir Jehovah in. Laat elkeen wat gewillig van hart is, dit as Jehovah se bydrae bring” (Eksodus 35:4-9). Hoe het die Israeliete gereageer? Eksodus 36:3 sê: “Toe het hulle die hele bydrae voor Moses weggeneem wat die kinders van Israel gebring het vir die heilige dienswerk, om dit te doen, en wat die laasgenoemdes betref, hulle het nog oggend na oggend vir hom ’n vrywillige gawe gebring.”

Kort voor lank was daar hope geskenkte goedere, en die mense het al hoe meer bly bring. Die ambagsmanne wat die werk gedoen het, het uiteindelik vir Moses gesê: “Die volk bring baie meer as wat nodig is vir die diens, om die werk te doen wat Jehovah beveel het.” Daarom het Moses die opdrag gegee: “Manne en vroue, moenie nog materiaal vir die heilige bydrae vervaardig nie.” Wat was die resultaat? “Die materiaal was genoeg vir al die werk wat gedoen moes word, ja, oorgenoeg.”—Eksodus 36:4-7.

Danksy die vrygewigheid van die Israeliete is die tabernakel binne ’n jaar voltooi (Eksodus 19:1; 40:1, 2). Deur ware aanbidding te ondersteun, het God se volk Jehovah vereer (Spreuke 3:9). Mettertyd sou hulle ’n veel groter bouprojek aanpak. En weer eens sou almal wat wou, daaraan kon deelneem, of hulle bouvaardighede gehad het of nie.

Byna vyf eeue nadat die tabernakel gebou is, het Israel die tempel in Jerusalem begin bou (1 Konings 6:1). Dit sou ’n pragtige, permanente struktuur van klip en hout wees (1 Konings 5:17, 18). Jehovah het die bouplanne vir die tempel “deur inspirasie” aan Dawid gegee (1 Kronieke 28:11-19). Maar hy het Dawid se seun Salomo gekies om die bouwerk te lei (1 Kronieke 22:6-10). Dawid het sy heelhartige ondersteuning aan hierdie projek gegee. Hy het klip, balke en ander materiaal versamel en groot hoeveelhede van sy eie goud en silwer bygedra. Hy het ook sy mede-Israeliete aangemoedig om vrygewig te wees en hulle gevra: “Wie bied hom vrywillig aan om vandag sy hand met ’n geskenk vir Jehovah te vul?” Hoe het die volk gereageer?—1 Kronieke 29:1-5.

Teen die tyd dat Salomo die tempel begin bou het, het hy duisende tonne goud en silwer beskikbaar gehad. Daar was soveel koper en yster dat daar geen manier was om dit te weeg nie (1 Kronieke 22:14-16). Met Jehovah se steun en die ondersteuning van die hele Israel is die projek in net sewe en ’n half jaar voltooi.—1 Konings 6:1, 37, 38.

“Die huis van die ware God”

Die tabernakel sowel as die tempel is “die huis van die ware God” genoem (Rigters 18:31; 2 Kronieke 24:7). Jehovah het nog nooit nodig gehad om in ’n huis te woon nie (Jesaja 66:1). Hy het hierdie geboue laat oprig vir die onthalwe van mense. Trouens, by die inwyding van die tempel het Salomo gevra: “Sal God waarlik op die aarde woon? Kyk! Die hemel, ja, die hemel der hemele, kan u nie bevat nie; hoeveel minder dan hierdie huis wat ek gebou het!”—1 Konings 8:27.

Jehovah het deur sy profeet Jesaja gesê: “My huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke” (Jesaja 56:7). Die offerandes en gebede wat by die tempel gedoen is, sowel as die seremonies wat daar gehou is, het godvrugtige mense—Jode en nie-Jode—toegelaat om nader aan die ware God te kom. Hulle het Jehovah se vriendskap en beskerming verkry deur by sy huis te aanbid. Die gebed wat Salomo by die toewyding van die tempel gedoen het, beklemtoon hierdie waarheid. Jy kan sy roerende woorde tot God in 1 Konings 8:22-53 en 2 Kronieke 6:12-42 lees.

Daardie eertydse huis van die ware God is lank gelede vernietig, maar God se Woord het na ’n tyd gewys wanneer mense van alle nasies versamel sou word om Jehovah by ’n veel groter geestelike tempel te aanbid (Jesaja 2:2). Die eenmalige volmaakte offerande van God se enigverwekte Seun, wat deur die diereoffers by die tempel voorafgeskadu is, sou die manier wees om tot Jehovah te nader (Johannes 14:6; Hebreërs 7:27; 9:12). Jehovah se Getuies aanbid God nou op daardie beter manier, en hulle help baie ander om dit ook te doen.

Hedendaagse bouprojekte

Regoor die wêreld dien Jehovah se Getuies die ware God. Hulle maak “’n magtige nasie” uit, waarvan die bevolking aanhou groei (Jesaja 60:22). Die vernaamste vergaderplek van Jehovah se Getuies is die Koninkryksaal. a Duisende van hierdie geboue is in gebruik, en daar is nog duisende nodig.

Jehovah se Getuies ‘bied hulle gewillig aan’ om die nodige Koninkryksale te bou (Psalm 110:3). Maar dikwels het plaaslike Getuies nie die nodige bouvaardighede nie, en in party streke waar daar goeie vermeerdering is, heers ernstige armoede. In 1999 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ’n program vir Koninkryksaalkonstruksie ingestel om te help om hierdie hindernisse te bowe te kom. Deur hierdie program het Getuies wat vaardig is in bouambagte, na afgeleë plekke gereis om hulle broers en susters op te lei om Koninkryksale te bou. Die werkers wat opgelei is, het dan die bouwerk in daardie streek voortgesit. Wat was die resultaat van hierdie spesiale poging?

Teen Februarie 2006 is meer as 13 000 nuwe Koninkryksale gebou vir Jehovah se Getuies in lande met beperkte middele. Lees die woorde van party wat die nuwe Koninkryksale gebruik:

“Die gemeente het ’n gemiddelde bywoning van 160 gehad. By die eerste vergadering nadat die nuwe Koninkryksaal gebou is, het die bywoning tot 200 gestyg. Nou, ses maande later, het hulle ’n bywoning van 230. Jehovah se seën op die konstruksie van hierdie beskeie maar funksionele geboue kan duidelik gesien word.”—’n Kringopsiener in Ecuador.

“Mense het ons jare lank gevra: ‘Wanneer gaan julle ’n Koninkryksaal hê soos dié wat ons in julle publikasies sien?’ Ons dank Jehovah dat ons uiteindelik ’n ordentlike plek van aanbidding het. Ons het altyd die vergaderinge in ’n broer se winkel gehou, met ’n gemiddelde bywoning van 30. By die eerste vergadering in die nuwe Koninkryksaal was daar 110 mense.”—’n Gemeente in Uganda.

“Twee susters wat gewone pioniers is, vertel dat dit aangenamer is om in die gebied te werk vandat die Koninkryksaal gebou is. Mense is meer bereid om te luister in die deur-tot-deur-bediening sowel as in informele omstandighede. Hierdie susters hou nou 17 Bybelstudies, en baie van hierdie Bybelstudente woon die vergaderinge by.”—Takkantoor in die Salomon-eilande.

“’n Predikant wat naby die nuwe Koninkryksaal woon, sê dat dit die hele buurt verbeter en dat die plaaslike mense trots is daarop. Baie verbygangers praat oor hoe mooi die saal is. Dit gee die broers goeie geleenthede om te getuig. Al hoe meer mense wil weet van ons wêreldwye broederskap. Baie wat jare lank nie vergaderinge bygewoon het nie, is beweeg om weer gereeld met die gemeente om te gaan.”—Takkantoor in Mianmar.

“’n Suster het ’n belangstellende man na die bouterrein in sy buurt genooi. Die man het later gesê: ‘Ek het gedink dat die werkers my nie sou inlaat nie. Tot my verbasing het die Getuies my vriendelik gegroet. Mans en vroue het hard gewerk en nie tyd gemors nie. Daar het harmonie en ’n goeie gees geheers.’ Die man het ’n Bybelstudie aanvaar en die vergaderinge begin bywoon. Hy het later gesê: ‘Ek dink nou anders. Noudat ek God gevind het, sal ek hom nie verlaat nie.’”—Takkantoor in Colombia.

Ons ondersteuning is belangrik

Dit is ’n belangrike deel van ons heilige diens om Koninkryksale te bou. Die manier waarop Jehovah se Getuies hierdie werk wêreldwyd ondersteun—finansieel sowel as op ander maniere—is werklik prysenswaardig. Maar ons moet onthou dat ander aspekte van heilige diens ook noodsaaklik is. Van tyd tot tyd is Christene slagoffers van natuurrampe en het hulle ons hulp nodig. Die produksie van Bybellektuur speel ’n sleutelrol in die ondersteuning van heilige diens. Die meeste van ons het gesien hoe kragtig ’n tydskrif of boek wat op die Bybel gebaseer is, in die hande van ’n persoon met die regte gesindheid kan wees. Daarbenewens is ondersteuning vir sendelinge en ander in spesiale voltydse diens baie belangrik. Sulke selfopofferende Christene speel ’n sleutelrol in die uitbreiding van die predikingswerk in hierdie laaste dae.

Diegene wat tot die tempelbouwerk bygedra het, het hulle grootliks verbly (1 Kronieke 29:9). Vandag bring dit ook vir ons groot geluk mee as ons ware aanbidding met ons bydraes ondersteun (Handelinge 20:35). Ons ervaar daardie geluk wanneer ons ons bydraes in die bussie vir die Koninkryksaalfonds sit en wanneer ons ’n bydrae vir die wêreldwye werk gee, en sodoende ander projekte ondersteun wat met die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk verband hou. Jehovah se Getuies is vandag op ’n wonderlike manier verenig in ware aanbidding. Mag ons almal vervul word met die geluk wat voortspruit uit die ondersteuning van daardie aanbidding!

[Voetnoot]

a Vir die oorsprong van die term “Koninkryksaal”, sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsy 319, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 20, 21]

MANIERE WAAROP PARTY VERKIES OM TE GEE

BYDRAES VIR DIE WÊRELDWYE WERK

Baie sit ’n bedrag opsy wat hulle in die bydraebussies gooi wat gemerk is “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”.

Gemeentes stuur hierdie bydraes elke maand na die takkantoor van Jehovah se Getuies in hulle land. Vrywillige geldelike bydraes kan ook direk aan die Rekeningafdeling, Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou, gestuur word. Tjeks wat na die bogenoemde adres gestuur word, moet uitgemaak word aan “Watch Tower”. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort brief wat meld dat dit ’n regstreekse skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.

BEPLANDE SKENKINGS

Benewens regstreekse geldskenkings is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit sluit in:

Versekering: Watch Tower kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word.

Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan aan Watch Tower geskenk word as ’n regstreekse skenking.

Vaste eiendom: Verkoopbare vaste eiendom kan regstreeks geskenk word of dit kan, in die geval van residensiële eiendom, geskenk word op voorwaarde dat die skenker lewensreg daarop het. Tree in verbinding met die takkantoor in die land waar jy woon voordat enige vaste eiendom oorgedra word.

Testamente: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan Watch Tower bemaak word.

As jy meer inligting wil hê, tree asseblief skriftelik of per telefoon met die Rekeningafdeling in verbinding by die adres hiernaas of by die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor jou land toesig hou.

Rekeningafdeling

Watch Tower Bible and Tract Society of South Africa

Privaatsak X2067

Krugersdorp

1740

Suid-Afrika

Telefoon: (011) 761-1000

[Prent op bladsy 18]

Ons verenigde pogings maak dit moontlik om wêreldwyd pragtige Koninkryksale te bou

[Prent op bladsy 18]

Nuwe Koninkryksaal in Ghana