Spring na inhoud

Aanvaar altyd Jehovah se dissipline

Aanvaar altyd Jehovah se dissipline

“Moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie.”—SPREUKE 3:11.

1. Waarom moet ons goddelike dissipline aanvaar?

KONING SALOMO van eertydse Israel gee elkeen van ons ’n goeie rede om dissipline wat van God kom, te aanvaar. “O my seun, moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie”, sê Salomo, “en moenie sy teregwysing verafsku nie, want Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:11, 12). Ja, jou hemelse Vader dissiplineer jou omdat hy jou liefhet.

2. Hoe word “dissipline” gedefinieer, en hoe kan ’n mens gedissiplineer word?

2 “Dissipline” verwys na kastyding, teregwysing, onderrigting en opvoeding. “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend”, het die apostel Paulus geskryf, “tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). As jy goddelike dissipline aanvaar en toepas, kan dit jou help om ’n regverdige weg te volg en jou sodoende nader aan die heilige God, Jehovah, bring (Psalm 99:5). ’n Mens kan tereggewys word deur medegelowiges, deur dinge wat by Christelike vergaderinge geleer word en deur jou studie van God se Woord en die publikasies van “die getroue bestuurder” (Lukas 12:42-44). Hoe dankbaar kan jy tog wees wanneer iets wat reggestel moet word, op dié wyse onder jou aandag gebring word! Maar watter dissipline is dalk nodig as ernstige sonde gepleeg word?

Waarom party uitgesit word

3. Wanneer word iemand uitgesit?

3 God se knegte bestudeer die Bybel en Christelike publikasies. Jehovah se standaarde word by hulle vergaderinge en by hulle kring- en streekbyeenkomste bespreek. Christene is  dus in ’n posisie om te weet wat Jehovah van hulle vereis. ’n Lid van die gemeente word slegs uitgesit as hy growwe sonde pleeg en onberouvol is.

4, 5. Watter skriftuurlike voorbeeld van uitsetting word hier genoem, en waarom is die gemeente aangespoor om die man te herstel?

4 Kom ons kyk na ’n skriftuurlike voorbeeld van uitsetting. Die gemeente in Korinte het ‘hoerery van so ’n aard geduld as wat nie eens onder die nasies voorgekom het nie, dat ’n sekere man die vrou van sy vader gehad het’. Paulus het die Korintiërs aangespoor om ‘so iemand aan Satan oor te gee vir die vernietiging van die vlees, sodat die gees gered kan word’ (1 Korintiërs 5:1-5). Toe die sondaar uitgesit is en sodoende aan Satan oorgegee is, was hy weer deel van die Duiwel se wêreld (1 Johannes 5:19). Sy uitsetting het ’n bose vleeslike element uit die gemeente verwyder en die goddelike “gees”, of oorheersende gesindheid, daarvan bewaar.— 2 Timoteus 4:22; 1 Korintiërs 5:11-13.

5 Nie te lank daarna nie het Paulus die Christene in Korinte aangespoor om die oortreder te herstel. Waarom? Sodat “Satan nie die oorhand oor” hulle sou kry nie, het die apostel gesê. Die sondaar het klaarblyklik berou getoon en sy lewe in orde gebring (2 Korintiërs 2:8-11). As die Korintiërs geweier het om die berouvolle man te herstel, sou Satan die oorhand oor hulle gekry het in die sin dat hulle so ongevoelig en onvergewensgesind sou wees soos die Duiwel wou hê hulle moes wees. Hulle het heel waarskynlik die berouvolle man kort daarna “vergewe en vertroos”.—2 Korintiërs 2:5-7.

6. Wat kan deur uitsetting bereik word?

6 Wat word deur uitsetting bereik? Dit voorkom dat Jehovah se heilige naam oneer aangedoen word en dit beskerm die goeie reputasie van sy volk (1 Petrus 1:14-16). Wanneer ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente verwyder word, word God se standaarde gehandhaaf en die gemeente se geestelike reinheid bewaar. Dit kan ook die onberouvolle persoon tot sy sinne bring.

Waarom het die apostel Paulus vir die Korintiërs instruksies oor uitsetting gestuur?

Berou maak ’n verskil

7. Watter uitwerking het dit op Dawid gehad toe hy nie sy oortredings bely het nie?

7 Die meeste van dié wat ernstig sondig, toon ware berou en word nie uit die gemeente gesit nie. Dit is natuurlik nie altyd maklik om opregte berou te toon nie. Neem die voorbeeld van Israel se koning Dawid, die skrywer van Psalm 32. Hierdie lied toon dat Dawid ’n ruk lank nie sy ernstige sondes, waarskynlik dié waarby Batseba betrokke was, bely het nie. Die gevolg was dat benoudheid oor sy sondes hom uitgeput het, net soos die droë somerhitte vog uit ’n boom trek. Dawid het fisies en verstandelik gely, maar toe hy ‘sy oortredings bely het, het Jehovah hom vergewe’ (Psalm 32:3-5). Toe het Dawid gesing: “Gelukkig is die mens aan wie Jehovah die oortreding nie toereken nie” (Psalm 32:1, 2). Hoe wonderlik was dit tog om God se barmhartigheid te ontvang!

8, 9. Hoe word berou getoon, en hoe belangrik is dit wanneer ’n uitgesette persoon herstel wil word?

8 Dit is dus duidelik dat ’n sondaar berou moet toon om barmhartigheid te ontvang. Maar berou is nie ’n gevoel van skaamte of vrees dat jou oortreding bekend gaan word nie. “Om berou te toon” beteken “om van gedagte te verander” wat slegte gedrag betref omdat jy spyt is daaroor. ’n Berouvolle persoon het “’n gebroke en verbryselde hart” en wil, indien moontlik, ‘die oortreding regstel’.—Psalm 51:17; 2 Korintiërs 7:11.

9 Berou is ’n baie belangrike faktor om in die Christengemeente herstel te word. ’n Uitgesette persoon word nie outomaties in die gemeente teruggeneem nadat ’n sekere hoeveelheid tyd verloop het nie. Voordat hy herstel kan word, moet daar ’n groot verandering in sy hartstoestand plaasvind. Hy moet besef hoe ernstig sy sonde is en watter oneer hy Jehovah en die gemeente aangedoen het. Die sondaar moet berou toon, ernstig om vergifnis bid en  God se regverdige vereistes nakom. Wanneer hy versoek om herstel te word, moet hy bewys kan lewer dat hy berou getoon het en “werke . . . wat by berou pas”, voortbring.—Handelinge 26:20.

Waarom oortredings bely?

10, 11. Waarom moet ons sondes nie eenvoudig probeer wegsteek nie?

10 Sommige wat gesondig het, redeneer dalk: ‘As ek vir enigiemand van my sonde vertel, sal ek dalk vrae moet beantwoord wat my in die verleentheid gaan stel, en sal ek dalk uitgesit word. Maar as ek stilbly, kan dit vermy word, en niemand in die gemeente sal ooit daarvan weet nie.’ Iemand wat so redeneer, sien ’n paar belangrike faktore oor die hoof. Watter faktore?

11 Jehovah is “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe”. Maar hy wys sy volk wel “in die regte mate” tereg (Eksodus 34:6, 7; Jeremia 30:11). As jy ernstig gesondig het, hoe kan jy God se barmhartigheid ontvang as jy jou sonde probeer wegsteek? Jehovah weet daarvan, en hy sluit nie eenvoudig sy oë vir oortredings nie.—Spreuke 15:3; Habakuk 1:13.

12, 13. Wat kan die gevolg wees as ’n mens oortreding probeer wegsteek?

12 As jy ’n ernstige sonde gepleeg het, kan dit jou help om weer ’n goeie gewete te verkry as jy bely (1 Timoteus 1:18-20). Maar as ’n mens nie jou sonde bely nie, kan dit ’n verontreinigde gewete tot gevolg hê wat tot nog sondes kan lei. Onthou dat jou sonde nie net teen ’n ander mens of die gemeente is nie. Dit is teen God. Die psalmis het gesing: “Jehovahin die hemel is sy troon. Sy oë sien, sy stralende oë ondersoek die mensekinders. Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose.”—Psalm 11:4, 5.

13 Jehovah sal niemand seën wat growwe sonde wegsteek en in die rein Christengemeente probeer bly nie (Jakobus 4:6). As jy dus in sonde verval het en wil doen wat reg is, moet jy nie huiwer om ’n eerlike belydenis te doen nie. Anders sal jy ’n skuldige gewete hê, veral wanneer jy raad oor sulke ernstige sake lees of hoor. Sê nou Jehovah onttrek sy gees van jou, soos hy in die geval van koning Saul gedoen het? (1 Samuel 16:14). Sonder God se gees kan jy in selfs ernstiger sonde verval.

Vertrou jou getroue broers

14. Waarom moet ’n oortreder die raad in Jakobus 5:14, 15 volg?

14 Wat moet ’n berouvolle oortreder dus doen? “Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig” (Jakobus 5:14, 15). Om die ouer manne te nader, is een manier waarop iemand ‘vrugte kan voortbring wat by berou pas’ (Matteus 3:8). Hierdie getroue en goedhartige manne sal “oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf”. Hulle Bybelraad sal, soos strelende olie, vertroostend wees vir enigeen wat werklik berouvol is.—Jeremia 8:22.

15, 16. Hoe volg Christen- ouer manne God se voorbeeld, soos opgeteken in Esegiël 34:15, 16?

15 Wat ’n liefdevolle voorbeeld het ons Herder, Jehovah, tog gestel toe hy die Jode in 537 v.G.J. uit Babiloniese gevangenskap en geestelike Israel in 1919 G.J. uit “Babilon die Grote” bevry het! (Openbaring 17:3-5; Galasiërs 6:16). Hy het sodoende sy belofte vervul: “Ek sal my skape laat wei, en ek sal hulle laat lê . . . Die een wat verlore is, sal ek soek en die een wat weggedryf is, sal ek terugbring en die een wat gewond is, sal ek verbind en die sieke sal ek versterk.”—Esegiël 34:15, 16.

16 Jehovah het sy figuurlike skape laat wei, hulle in veiligheid laat lê en dié wat verlore was, gesoek. Christenherders sorg eweneens dat God se kudde in geestelike sin goed gevoed  en veilig is. Die ouer manne soek na skape wat van die gemeente af wegdwaal. Net soos God ‘die een wat gewond was, verbind het’, “verbind” opsieners skape wat deur iemand se woorde of deur hulle eie toedoen gewond is. En soos God ‘die sieke versterk het’, help die ouer manne dié wat geestelik siek geword het, moontlik omdat hulle hulle aan oortreding skuldig gemaak het.

Hoe herders hulp voorsien

17. Waarom moet ons nie huiwer om geestelike hulp by die ouer manne te soek nie?

17 Die ouer manne gee met graagte gehoor aan hierdie raad: “Hou aan om barmhartigheid . . . te bewys, en dít met vrees” (Judas 23). Party Christene het ernstig gesondig deur hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Maar as hulle werklik berouvol is, kan hulle verwag om op ’n barmhartige, liefdevolle wyse behandel te word deur ouer manne wat gretig is om hulle geestelik te help. Paulus het met verwysing na homself en sulke manne gesê: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde” (2 Korintiërs 1:24). Moet dus nooit huiwer om geestelike hulp by hulle te soek nie.

18. Hoe behandel ouer manne medegelowiges wat oortree het?

18 Waarom kan jy vertroue in die ouer manne hê as jy ernstig gesondig het? Omdat hulle hoofsaaklik herders van God se kudde is (1 Petrus 5:1-4). Geen liefdevolle herder slaan ’n mak, blêrende lam omdat hy homself seergemaak het nie. Wanneer ouer manne medegelowiges wat oortree het, probeer help, is dit dus nie ’n geval van misdaad en straf nie, maar van sonde en geestelike herstel, waar dit moontlik is (Jakobus 5:13-20). Ouer manne moet in regverdigheid oordeel en ‘die kudde met teerheid behandel’ (Handelinge 20:29, 30; Jesaja 32:1, 2). Soos alle ander Christene, moet ouer manne ‘geregtigheid beoefen, goedhartigheid liefhê en beskeie wandel met God’ (Miga 6:8). Sulke eienskappe is noodsaaklik wanneer besluite geneem word waarby die lewe en heilige diens van “die skape van [Jehovah se] weiding” betrokke is.—Psalm 100:3.

Soos eertydse herders, “verbind” Christen- ouer manne God se gewonde skape

19. Met watter gesindheid probeer Christen- ouer manne iemand reghelp?

19 Christenherders word deur heilige gees aangestel en probeer om daardeur gelei te word. As “iemand die een of ander misstap [begaan] voordat hy daarvan bewus is”—as ’t ware onkant gevang word—probeer geestelik  bekwame manne “so iemand in ’n gees van sagmoedigheid . . . reghelp” (Galasiërs 6:1; Handelinge 20:28). Die ouer manne probeer om sy denke in sagmoedigheid reg te stel terwyl hulle ferm bly by goddelike standaarde, net soos ’n bedagsame dokter ’n gebreekte been versigtig spalk sodat hy nie onnodige pyn veroorsaak nie, maar nogtans na die probleem omsien (Kolossense 3:12). Aangesien enige barmhartigheid ná gebed en op grond van die Skrif betoon sal word, sal die ouer manne se besluit God se beskouing van sake weerspieël.—Matteus 18:18.

20. Wanneer is dit dalk nodig om ’n aankondiging in die gemeente te maak dat iemand tereggewys is?

20 As ’n sonde algemeen bekend is of beslis algemeen bekend gaan word, sal dit waarskynlik gepas wees om ’n aankondiging in die gemeente te maak om die reputasie daarvan te beskerm. ’n Aankondiging sal ook gemaak word as die gemeente ingelig moet word. Terwyl iemand wat regterlik tereggewys is, geestelik herstel, kan hy vergelyk word met iemand wat van ’n besering herstel, waardeur sy bedrywigheid tydelik beperk word. Dit sal heel waarskynlik goed wees as die berouvolle persoon ’n ruk lank by vergaderinge luister en nie kommentaar lewer nie. Die ouer manne sal dalk reël dat iemand ’n Bybelstudie met hom hou om hom te versterk waar hy swak is sodat hy weer “gesond in geloof” kan word (Titus 2:2). Dit word alles in liefde gedoen en is nie bedoel om die oortreder te straf nie.

21. Hoe kan sommige gevalle van oortreding hanteer word?

21 Ouer manne kan op verskeie maniere geestelike hulp voorsien. Byvoorbeeld, sê nou ’n broer wat in die verlede ’n drankprobleem gehad het, het een of twee keer te veel gedrink terwyl hy alleen by die huis was. Of miskien het iemand wat lank gelede opgehou rook het, in ’n oomblik van swakheid een of twee keer gerook terwyl hy alleen was. Hoewel hy gebid het en glo dat God hom vergewe het, moet hy ’n ouer man om hulp vra sodat hierdie sonde nie ’n gewoonte word nie. Een of twee ouer manne kan die situasie hanteer. Maar die ouer man(ne) sal die presiderende opsiener hiervan in kennis stel, aangesien ander faktore daarby betrokke kan wees.

Hou aan om goddelike dissipline te aanvaar

22, 23. Waarom moet jy aanhou om goddelike dissipline te aanvaar?

22 Om God se goedkeuring te geniet, moet elke Christen ag gee op Jehovah se dissipline (1 Timoteus 5:20). Neem dus enige teregwysing ter harte wat jy ontvang wanneer jy die Skrif en Christelike publikasies bestudeer of wanneer jy raad by vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste van Jehovah se volk hoor. Bly wakker wat die uitvoering van Jehovah se wil betref. Dan sal goddelike dissipline jou help om ’n geestelike verskansing—’n sterk verdedigingsmuur teen sonde—in stand te hou.

23 As jy goddelike dissipline aanvaar, sal dit jou in staat stel om in God se liefde te bly. Party is weliswaar uit die Christengemeente gesit, maar dit hoef nie met jou te gebeur as jy ‘jou hart bewaak’ en ‘as ’n wyse wandel’ nie (Spreuke 4:23; Efesiërs 5:15). Maar as jy tans uitgesit is, kan jy gerus stappe doen om herstel te word. God wil hê dat almal wat hulle aan hom toegewy het, hom getrou en met “vreugde van hart” moet dien (Deuteronomium 28:47). Jy kan dit vir ewig doen as jy altyd Jehovah se dissipline aanvaar.—Psalm 100:2.