Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die antichris aan die kaak gestel

Die antichris aan die kaak gestel

Die antichris aan die kaak gestel

HOE sal jy jou beskerm as jy weet dat daar ’n dodelike epidemie in julle omgewing woed? Jy sal waarskynlik jou immuunstelsel opbou en wegbly van mense wat besmet is. Ons moet dit ook in geestelike sin doen. Die Skrif sê vir ons dat die antichris “reeds in die wêreld” is (1 Johannes 4:3). As ons “besmetting” wil voorkom, moet ons die “draers” identifiseer en hulle vermy. Gelukkig werp die Bybel heelwat lig op die onderwerp.

“Antichris” beteken “teen (of in die plek van) Christus”. In die breedste sin verwys die woord dus na almal wat valslik beweer dat hulle die Christus of sy verteenwoordigers is of wat hulle teëstaan. Jesus self het gesê: “Hy wat nie aan my kant is nie, is teen my [of is ’n antichris], en hy wat nie saam met my bymekaarmaak nie, verstrooi.”—Lukas 11:23.

Johannes het natuurlik meer as 60 jaar nadat Jesus gesterf het en na die hemel opgewek is oor die antichris geskryf. Die antichris se bedrywighede moet dus verstaan word in die lig van hoe dit Jesus se lojale volgelinge op aarde raak.—Matteus 25:40, 45.

Die antichris is anti-Christelik

Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat die wêreld oor die algemeen hulle sou haat. Hy het gesê: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees. En talle valse profete sal opstaan en baie mislei.”—Matteus 24:9, 11.

Omdat Jesus se dissipels “weens [Jesus se] naam” vervolg word, is die vervolgers beslis antichriste, teen Christus. Die “valse profete”, waarvan sommige vroeër Christene was, val ook in dié kategorie (2 Johannes 7). Hierdie “baie antichriste”, het Johannes geskryf, “het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons soort nie; want as hulle van ons soort was, sou hulle by ons gebly het”.—1 Johannes 2:18, 19.

Jesus sowel as Johannes se woorde toon duidelik dat die antichris nie ’n enkele persoon is nie, maar uit baie individuele antichriste bestaan. En omdat hulle valse profete is, is godsdiensbedrog een van hulle vernaamste oogmerke. Watter taktiek gebruik hulle?

Godsdiensleuens

Die apostel Paulus het sy medewerker Timoteus gewaarsku om te waak teen die leringe van afvalliges, soos Himeneus en Filetus, wie se “woord . . . soos kanker [sal] versprei”. Paulus het bygevoeg: “Dié manne het van die waarheid afgewyk deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het; en hulle ondermyn die geloof van party” (2 Timoteus 2:16-18). Himeneus en Filetus het blykbaar verkondig dat die opstanding simbolies is en dat Christene reeds in geestelike sin opgewek is. Wanneer iemand ’n ware dissipel van Jesus word, word hy weliswaar in God se oë lewend, soos Paulus dit duidelik gestel het (Efesiërs 2:1-5). Maar die lering van Himeneus en Filetus het Jesus se belofte van ’n letterlike opstanding van die dooies onder God se Koninkryksheerskappy buite rekening gelaat.—Johannes 5:28, 29.

Idees van ’n suiwer simboliese opstanding is later ontwikkel deur ’n groep wat die Gnostici genoem is. Die Gnostici het geglo dat kennis (gnoʹsis in Grieks) op ’n mistieke manier verkry kan word en het die afvallige Christelike godsdiens met Griekse filosofie en Oosterse mistisisme vermeng. Hulle het byvoorbeeld geglo dat alle materie boos is, en dat Jesus dus nie in die vlees gekom het nie, maar dat dit net gelyk het of hy ’n menseliggaam het—’n opvatting wat Dosetisme genoem word. Soos ons gesien het, is dit presies waarteen die apostel Johannes gewaarsku het.—1 Johannes 4:2, 3; 2 Johannes 7.

Nog ’n versinsel waarmee daar eeue later vorendag gekom is, is die leerstelling van die sogenaamde heilige Drie-eenheid, waarvolgens Jesus na bewering God die Almagtige sowel as die Seun van God is. In sy boek The Church of the First Three Centuries sê dr. Alvan Lamson dat die leerstelling van die Drie-eenheid “uit ’n heeltemal ander bron kom as dié van die Joodse en Christelike Geskrifte; dat dit deur die Platoniserende Vaders ontwikkel en op die Christelike godsdiens geënt is”. Wie was hierdie “Platoniserende Vaders”? Hulle was afvallige geestelikes wat behep was met die leerstellings van die heidense Griekse filosoof Plato.

Die oorenting van die Drie-eenheid was ’n meesterlike plan van die antichris, want hierdie leerstelling het God in verborgenheid gehul en sy verhouding met die Seun verduister (Johannes 14:28; 15:10; Kolossense 1:15). Dink ’n bietjie, hoe kan ’n mens ‘nader aan God kom’, soos die Skrif ons aanspoor om te doen, as God ’n verborgenheid is?—Jakobus 4:8.

Baie Bybelvertalers het tot die verwarring bygedra deur God se naam, Jehovah, uit hulle vertalings te verwyder, al kom dit meer as 7 000 keer in die oorspronklike teks voor! Dit ly geen twyfel nie dat pogings om die Almagtige nie net in ’n verborgenheid nie, maar in ’n naamlose verborgenheid te verander, ’n daad van growwe minagting vir ons Skepper en sy geïnspireerde Woord is (Openbaring 22:18, 19). En om die goddelike naam met titels soos Here en God te vervang, is in stryd met Jesus se modelgebed, wat gedeeltelik sê: “Laat u naam geheilig word.”—Matteus 6:9.

Antichriste verwerp God se Koninkryk

Antichriste het veral gedurende “die laaste dae”, die tyd waarin ons nou lewe, bedrywig geraak (2 Timoteus 3:1). ’n Vername oogmerk van hierdie hedendaagse bedrieërs is om mense te mislei aangaande Jesus se rol as Koning van God se Koninkryk, ’n hemelse regering wat binnekort oor die ganse aarde gaan heers.—Daniël 7:13, 14; Openbaring 11:15.

Sommige godsdiensleiers verkondig byvoorbeeld dat God se Koninkryk ’n toestand in die harte van mense is, ’n beskouing wat geen grondslag in die Skrif het nie (Daniël 2:44). Ander beweer dat Christus deur menseregerings en -instellings werk. Maar Jesus het gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Ja, Satan, en nie Christus nie, is “die heerser van die wêreld” en “die god van hierdie stelsel van dinge” (Johannes 14:30; 2 Korintiërs 4:4). Dit verklaar waarom Jesus binnekort alle menseregerings gaan verwyder en die aarde se enigste Heerser gaan word (Psalm 2:2, 6-9; Openbaring 19:11-21). Mense bid hiervoor wanneer hulle in die Onse Vader sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied . . . op die aarde.”—Matteus 6:10.

Omdat baie godsdiensleiers die politieke stelsels van die wêreld ondersteun, het hulle diegene wat die waarheid oor God se Koninkryk verkondig, teëgestaan, selfs vervolg. Die Bybelboek Openbaring maak, interessant genoeg, melding van ’n simboliese hoer—“Babilon die Grote”—wat “dronk [is] van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Openbaring 17:4-6). Sy pleeg ook geestelike hoerery deur, in ruil vir gunste, haar steun aan die aarde se “konings”, of politieke heersers, te verleen. Hierdie simboliese vrou is niemand anders nie as die valse godsdienste van die wêreld. Sy is ’n vername deel van die antichris.—Openbaring 18:2, 3; Jakobus 4:4.

Die antichris ‘streel ore’

Baie sogenaamde Christene het nie net Bybelwaarheid verwerp nie, maar ook die Bybel se gedragstandaarde prysgegee ten gunste van gewilde sedes. God se Woord het hierdie verwikkeling voorspel en gesê: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle [mense wat beweer dat hulle God dien] nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word” (2 Timoteus 4:3). Hierdie godsdiensbedrieërs word ook beskryf as “valse apostels, bedrieglike werkers, wat hulleself in apostels van Christus verander”. Die Bybel sê verder: “Hulle einde sal volgens hulle werke wees.”—2 Korintiërs 11:13-15.

Hulle werke behels “losbandige dade”, wat ’n blatante minagting vir hoë sedelike beginsels is (2 Petrus 2:1-3, 12-14). Sien ons nie hoe al hoe meer godsdiensleiers en hulle aanhangers onchristelike gebruike, soos homoseksualiteit en buite-egtelike geslagsomgang, aanneem—of ten minste vergoelik nie? Neem asseblief ’n oomblik om hierdie algemeen aanvaarde beskouings en lewenstyle te vergelyk met wat die Bybel sê in Levitikus 18:22; Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 6:9, 10; Hebreërs 13:4 en Judas 7.

“Stel die geïnspireerde uitinge op die proef”

In die lig van die voorgaande punte moet ons ag slaan op die apostel Johannes se woorde om nie ons godsdiensopvattings ligtelik op te neem of as vanselfsprekend te aanvaar nie. “Moenie elke geïnspireerde uiting glo nie”, waarsku hy, “maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan.”—1 Johannes 4:1.

Beskou die goeie voorbeeld van sekere ‘edelmoedige’ mense wat in die eerste eeu in die stad Berea gewoon het. Hulle “het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge [wat Paulus en Silas gespreek het] so was” (Handelinge 17:10, 11). Ja, hoewel hulle gretig was om te leer, het die Bereane seker gemaak dat wat hulle gehoor en aangeneem het, stewig op die Skrif gegrond is.

Ook vandag word ware Christene nie beïnvloed deur die eb en vloed van gewilde beskouings nie, maar hulle hou stewig vas aan Bybelwaarheid. Die apostel Paulus het geskryf: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë.”Filippense 1:9.

As jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy jou dit ten doel stel om “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” te verkry deur uit te vind wat die Bybel werklik leer. Diegene wat die Bereane navolg, word nie deur die “valse woorde” van antichriste bedrieg nie (2 Petrus 2:3). Hulle word eerder vrygemaak deur die geestelike waarheid van die ware Christus en sy ware volgelinge.—Johannes 8:32, 36.

[Venster/Prent op bladsy 4]

WAT DIE BYBEL OOR DIE ANTICHRIS SÊ

“Jong kinders, dit is die laaste uur [klaarblyklik die einde van die apostoliese tydperk], en net soos julle gehoor het dat die antichris kom, het daar nou reeds baie antichriste opgestaan.”—1 Johannes 2:18.

“Wie is die leuenaar anders as die een wat ontken dat Jesus die Christus is? Dít is die antichris, die een wat die Vader en die Seun loën.”—1 Johannes 2:22.

“Elke geïnspireerde uiting wat Jesus nie bely nie, het nie sy oorsprong by God nie. Wat meer is, dít is die antichris se geïnspireerde uiting wat julle gehoor het sou kom, en dit is nou reeds in die wêreld.”—1 Johannes 4:3.

“Baie bedrieërs het in die wêreld uitgegaan, mense wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die bedrieër en die antichris.”—2 Johannes 7

[Venster/Prente op bladsy 5]

’N BEDRIEËR MET BAIE IDENTITEITE

Die woord “antichris” is van toepassing op almal wat loën wat die Bybel oor Jesus Christus sê, almal wat teen sy Koninkryk gekant is en almal wat sy volgelinge mishandel. Dit sluit ook individue, organisasies en nasies in wat valslik beweer dat hulle Christus verteenwoordig of wat hulle wederregtelik die rol van die Messias toe-eien deur verwaand te belowe om te doen wat slegs Christus kan—om ware vrede en veiligheid tot stand te bring.

[Erkenning]

Augustine: ©SuperStock/​age fotostock

[Prent op bladsy 7]

Soos die Bereane moet ons ‘die Skrif elke dag ondersoek’