Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eerlikheid is lonend

Eerlikheid is lonend

Eerlikheid is lonend

ONEERLIKHEID bestaan al sedert die tuin van Eden. Tog stel die meeste kulture en gemeenskappe eerlikheid op prys en beskou hulle leuens en bedrog as ongewens en afkeurenswaardig. Om as betroubaar beskou te word, is iets om op trots te wees. Maar die beskouing dat oneerlikheid noodsaaklik is om in die hedendaagse samelewing te oorleef, word al hoe algemener. Hoe voel jy daaroor? Is dit die moeite werd om eerlikheid aan te kweek? Watter standaard volg jy om te besluit wat eerlike of oneerlike gedrag is?

As ons God wil behaag, moet ons in ons spraak en in ons lewenswyse eerlik wees. Die apostel Paulus het mede-Christene vermaan: “Julle [moet] die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste” (Efesiërs 4:25). Paulus het ook geskryf: “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra” (Hebreërs 13:18). Die beweegrede vir ons eerlikheid is nie om lof van ander mense te ontvang nie. Ons is eerlik omdat ons eerbied vir ons Skepper het en hom wil behaag.

Moenie verberg wat jy is nie

In baie lande stel mense hulle anders voor as wat hulle is sodat hulle voordele in die lewe kan kry. Hulle verkry vervalste dokumente, diplomas en identiteitsdokumente om ’n land onwettig binne te gaan of om ’n werk of ’n posisie te kry waarvoor hulle nie bekwaam is nie. Party ouers vervals hulle kinders se geboortesertifikate sodat die kinders langer kan skoolgaan.

Maar as ons God wil behaag, kan ons nie bedrieglik optree nie. Die Bybel sê dat Jehovah “die God van waarheid” is en dat hy eerlikheid verwag van dié wat intimiteit met hom geniet (Psalm 31:5). As ons ’n hegte verhouding met Jehovah wil behou, kan ons nie “mense van onwaarheid”, dié wat “verberg wat hulle is”, navolg nie.—Psalm 26:4.

Dit is ook iets algemeens dat mense die waarheid verberg wanneer die moontlikheid bestaan dat hulle vir oortreding gedissiplineer sal word. Selfs in die Christengemeente kan iemand in die versoeking kom om dit te doen. In een gemeente het ’n jong man byvoorbeeld aan die ouer manne erken dat hy hom aan sekere sondes skuldig gemaak het. Maar hy het nie erken dat hy gesteel het nie, hoewel daar bewyse teen hom was. Dit het later aan die lig gekom, en hy moes uit die gemeente gesit word. Sou dit nie verstandiger van hom gewees het om heeltemal eerlik te wees en hulp te ontvang om sy kosbare verhouding met Jehovah te herstel nie? Die Bybel sê immers: “Moenie die dissipline wat van Jehovah kom, geringag nie, en moet ook nie beswyk wanneer jy deur hom tereggewys word nie; want Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet.”—Hebreërs 12:5, 6.

Soms probeer ’n broer wat na verantwoordelikheid in die gemeente streef, dalk om persoonlike probleme of vorige wangedrag te verberg. Wanneer hy byvoorbeeld ’n aansoek om ’n spesiale diensvoorreg invul, verskaf hy miskien nie volledige antwoorde op vrae oor gesondheid en sedes nie, omdat hy dink dat hy afgekeur kan word as hy die ware feite verstrek. Hy redeneer moontlik: ‘Ek het nie regtig gelieg nie’, maar was hy werklik openhartig en eerlik met ander? Dink aan die punt wat in Spreuke 3:32 gestel word: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.”

Eerlikheid beteken allereers dat ons met onsself eerlik moet wees. Ons glo dikwels wat ons wíl glo en nie wat reg of waar is nie. Hoe maklik is dit tog vir ons om die skuld op iemand anders te skuif! Koning Saul het byvoorbeeld sy ongehoorsaamheid probeer regverdig deur die skuld op ander te pak. Gevolglik het Jehovah hom as koning verwerp (1 Samuel 15:20-23). Hy vorm ’n skerp teenstelling met koning Dawid, wat tot Jehovah gebid het: “My sonde het ek uiteindelik aan u bely, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: ‘Ek sal aan Jehovah belydenis doen van my oortredings.’ En u het die ongeregtigheid van my sondes vergewe.”—Psalm 32:5.

Eerlikheid bring seëninge mee

Eerlikheid, of ’n gebrek daaraan, beïnvloed ander se beskouing van jou. As mense uitvind dat jy hulle selfs net een keer bedrieg het, sal jy hulle vertroue verloor, en dít kan nie maklik herwin word nie. As jy andersyds betroubaar en eerlik is, sal jy ’n goeie reputasie opbou as ’n onkreukbare persoon, wat ander se vertroue waardig is. Jehovah se Getuies het so ’n reputasie verwerf. Kyk na ’n paar voorbeelde.

’n Bestuurder van ’n maatskappy het besef dat baie van sy werknemers die maatskappy besteel, en daarom het hy gevra dat die polisie ingryp. Toe hy uitvind dat ’n werknemer wat een van Jehovah se Getuies is, ook in hegtenis geneem is, het hy na die polisie toe gegaan sodat die Getuie dadelik vrygelaat kon word. Waarom? Omdat die bestuurder geweet het dat hierdie man ’n eerlike werker is en dat hy onskuldig is. Die Getuie het sy werk behou, terwyl ander afgedank is. Sy mede-Getuies het hulle verheug in die wete dat sy gedrag Jehovah se naam tot eer gestrek het.

Goeie gedrag word deur ander raakgesien. In ’n gemeenskap in Afrika moes ’n brug oor ’n groot afvoersloot herstel word omdat party van die planke gesteel is. Plaaslike inwoners het besluit om geld in te samel om die planke te vervang, maar wie kon vertrou word om na die geld om te sien? Almal het saamgestem dat dit een van Jehovah se Getuies moet wees.

Toe ’n Afrikaland politieke en etniese onrus ondervind het, is ’n Getuie wat as ’n rekenmeester vir ’n internasionale maatskappy gewerk het, deur sy firma verplaas omdat sy lewe in gevaar was. Die maatskappy het gereël dat hy maande lank op hulle koste in ’n ander land werk totdat die situasie bedaar het. Waarom? Omdat hy vroeër geweier het om saam te werk met diegene wat planne gemaak het om die maatskappy te besteel. Die bestuur was bewus van sy reputasie as iemand wat volkome eerlik is. Sou hulle bereid gewees het om hierdie werknemer te help as hy bekend was vir oneerlike gedrag?

“Die regverdige wandel in sy onkreukbaarheid”, sê Spreuke 20:7. Iemand wat eerlik is, is onkreukbaar. Hy kul of bedrieg nooit sy medemens nie. Is dit nie hoe jy wil hê dat ander jou moet behandel nie? Eerlikheid hang ten nouste saam met ware aanbidding. Dit is ’n blyk van ons liefde vir God en ons naaste. Deur eerlik te wees, toon ons dat ons die gedragsreël wil volg wat Jesus gegee het: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12; 22:36-39.

Dit verg dalk soms opofferinge om te alle tye eerlik te wees, maar die skoon gewete wat dit meebring, is baie meer werd as enige opofferinge wat miskien gemaak moet word. Op die lange duur hou eerlikheid en opregtheid die grootste voordele in. ’n Goeie verhouding met Jehovah is werklik van onskatbare waarde. Waarom sal ’n mens dit skaad deur iets oneerliks te doen om jou aansien te red of die een of ander onwettige voordeel te kry? Ongeag voor watter uitdaging ons te staan kom, ons kan vertroue stel in die woorde van die psalmis: “Gelukkig is die man wat Jehovah sy vertroue gemaak het en wat nie sy aangesig na uitdagende mense gekeer het nie, of na dié wat in leuens verval nie.”—Psalm 40:4.

[Prente op bladsy 18]

Ware Christene koop of gebruik nie vervalste dokumente nie