Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Jesaja—I

Glanspunte uit die boek Jesaja—I

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Jesaja—I

“WIE sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” hierdie uitnodiging van Jehovah God antwoord Jesaja, die seun van Amos, soos volg: “Hier is ek! Stuur my” (Jesaja 1:1; 6:8). Daarop ontvang hy ’n toewysing as profeet. Jesaja se profetiese bedrywighede is opgeteken in die Bybelboek wat sy naam dra.

Die boek Jesaja is deur die profeet self geskryf en dek ’n tydperk van 46 jaar, van ongeveer 778 v.G.J. tot die een of ander tyd ná 732 v.G.J. Hoewel die boek uitsprake teen Juda, Israel en die omliggende nasies bevat, is die hooftema nie oordeel nie. Dit is eerder ‘die redding deur Jehovah God’ (Jesaja 25:9). Trouens, Jesaja se naam beteken “Redding van Jehovah”. Hierdie artikel sal glanspunte uit Jesaja 1:1–35:10 bespreek.

“NET ’N OORBLYFSEL SAL TERUGKEER”

(Jesaja 1:1–12:6)

Die Bybel sê nie of die profetiese boodskap wat in die eerste vyf hoofstukke van die boek Jesaja opgeteken is, oorgedra is voor of ná Jesaja se aanstelling as profeet nie (Jesaja 6:6-9). Wat egter duidelik is, is dat Juda en Jerusalem “van die voetsool tot die kop” geestelik siek is (Jesaja 1:6). Afgodediens is aan die orde van die dag. Leiers is verdorwe. Vroue het hoogmoedig geword. Mense dien nie die ware God op ’n aanneemlike wyse nie. Jesaja word beveel om “keer op keer” te gaan praat met diegene wat nie verstaan of enige kennis wil hê nie.

Israel en Sirië se gekombineerde strydmagte dreig om Juda in te val. Jehovah gebruik Jesaja en sy kinders as “tekens en wonderwerke” en verseker Juda dat die Siro-Israelitiese bondgenootskap nie sukses sal behaal nie (Jesaja 8:18). Eindelose vrede sal egter slegs deur die heerskappy van die “Vredevors” kom (Jesaja 9:6, 7). Jehovah sal ook Assirië, die nasie wat hy as “die roede vir [sy] toorn” gebruik, tot verantwoording roep. Juda sal uiteindelik in gevangenskap weggevoer word, maar “net ’n oorblyfsel sal terugkeer” (Jesaja 10:5, 21, 22). Ware geregtigheid sal ’n werklikheid word onder die heerskappy van ’n figuurlike “takkie uit die stomp van Isai”.—Jesaja 11:1.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:8, 9—Hoe sal die dogter van Sion “[oorbly] soos ’n hut in ’n wingerd, soos ’n uitkykhut in ’n komkommerland”? Jerusalem sal gedurende die Assiriese inval uiters kwesbaar lyk, soos ’n blote hut in ’n wingerd of ’n uitkykhut in ’n komkommerland, iets wat maklik inmekaar kan stort. Maar Jehovah kom haar te hulp en laat sodoende nie toe dat sy soos Sodom en Gomorra word nie.

1:18—Wat word bedoel met die woorde: “Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons”? Dit is nie ’n uitnodiging om sake uit te praat en tot ’n skikking te kom deur besprekings te hê waarin daar wedersyds toegewings gemaak word nie. Die vers verwys eerder na ’n forum vir geregtigheid waar die regverdige Regter, Jehovah, Israel ’n geleentheid gee om te verander en haar te reinig.

6:8a—Waarom word die voornaamwoorde “ek” en “ons” hier gebruik? Die voornaamwoord “ek” verwys na Jehovah God. Die meervoudige voornaamwoord “ons” dui aan dat daar ’n ander persoon by Jehovah is. Dit is natuurlik sy “enigverwekte Seun”.—Johannes 1:14; 3:16.

6:11—Wat het Jesaja bedoel toe hy gevra het: “Hoe lank, o Jehovah?” Jesaja wou nie weet hoe lank hy Jehovah se boodskap aan onontvanklike mense sou moes verkondig nie. Hy wou eerder weet hoe lank die geestelik siek toestand van die mense sou aanhou om oneer op God se naam te bring.

7:3, 4—Waarom het Jehovah goddelose koning Agas gered? Die konings van Sirië en Israel het beplan om koning Agas van Juda te onttroon en ’n skynheerser, die seun van Tabeël—’n man wat nie ’n nakomeling van Dawid was nie—in sy plek te kroon. Die gevolg van hierdie duiwelse plan sou wees dat die Koninkryksverbond met Dawid onderbreek sou word. Jehovah het Agas gered om die geslagslyn waardeur die beloofde “Vredevors” sou kom, te beskerm.—Jesaja 9:6.

7:8—Hoe is Efraim binne 65 jaar “verpletter”? Die wegvoering van die mense van die tienstammeryk en die herbevolking van die land deur uitlanders het “in die dae van Peka, die koning van Israel,” begin, kort nadat Jesaja hierdie profesie geuiter het (2 Konings 15:29). Dit het lank daarna voortgeduur tot die dae van die Assiriese koning Esar-Haddon, ’n seun en opvolger van Sanherib (2 Konings 17:6; Esra 4:1, 2; Jesaja 37:37, 38). Hierdie voortgesette Assiriese verplasing van mense na en uit Samaria verklaar waarom die tydperk van 65 jaar in Jesaja 7:8 gemeld word.

11:1, 10—Hoe kan Jesus Christus “’n takkie uit die stomp van Isai” sowel as “die wortel van Isai” wees? (Romeine 15:12). Jesus was in vleeslike sin “uit die stomp van Isai”. Hy was ’n nakomeling van Isai deur Isai se seun Dawid (Matteus 1:1-6; Lukas 3:23-32). Maar die feit dat Jesus koninklike mag ontvang het, beïnvloed sy verhouding met sy voorouers. Omdat Jesus die mag en gesag gegee is om aan die gehoorsame mensdom ewige lewe op aarde te gee, word hy hulle “Ewige Vader” (Jesaja 9:6). Gevolglik is hy ook “die wortel” van sy voorouers, onder meer Isai.

Lesse vir ons:

1:3. As ons weier om volgens ons Skepper se vereistes te lewe, weet ons minder as ’n bul of ’n esel. As ons daarenteen waardering opbou vir alles wat Jehovah vir ons gedoen het, sal dit ons keer om onverstandig op te tree en hom te verlaat.

1:11-13. Skynheilige godsdiensseremonies en formalistiese gebede mishaag Jehovah. Ons optrede en gebede moet voortspruit uit die regte beweegrede.

1:25-27; 2:2; 4:2, 3. Slawerny en die verwoeste toestand van Juda sou tot ’n einde kom wanneer die berouvolle oorblyfsel na Jerusalem terugkeer en ware aanbidding herstel. Jehovah is barmhartig teenoor berouvolle oortreders.

2:2-4. Ons ywerige deelname aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk help mense van baie nasies om die weë van vrede te leer en vrede met mekaar na te streef.

4:4. Jehovah sal sedelike vuilheid en bloedskuld verwyder, of afwas.

5:11-13. As iemand nie selfbeheersing aan die dag lê en matigheid voor oë hou wat sy keuse van ontspanning betref nie, weier hy om in ooreenstemming met kennis op te tree.—Romeine 13:13.

5:21-23. Christen- ouer manne, of opsieners, moenie “in hulle eie oë wys” wees nie. Hulle moet ook matigheid voor oë hou wat “wyndrinkery” betref en hulle daarvan weerhou om partydig te wees.

11:3a. Jesus se voorbeeld en leringe toon dat daar vreugde in die vrees van Jehovah is.

“JEHOVAH SAL BARMHARTIGHEID AAN JAKOB BEWYS”

(Jesaja 13:1–35:10)

Hoofstukke 13 tot 23 is uitsprake teen die nasies. Maar “Jehovah sal barmhartigheid aan Jakob bewys” deur al die stamme van Israel toe te laat om terug te keer huis toe (Jesaja 14:1). Die boodskap in hoofstukke 24 tot 27 wat verwoesting vir Juda voorspel het, gaan gepaard met die belofte van herstelling. Jehovah spreek sy woede uit teenoor “die dronkaards van Efraim [Israel]” omdat hulle ’n bondgenootskap met Sirië gesluit het en teenoor die ‘priesters en profete’ van Juda omdat hulle ’n bondgenootskap met Assirië wou sluit (Jesaja 28:1, 7). Weë word oor “Ariël [Jerusalem]” uitgespreek omdat hulle “vertrek om na Egipte af te gaan” vir beskerming (Jesaja 29:1, voetnoot in NW; 30:1, 2). Redding word nietemin voorspel vir individue wat geloof in Jehovah beoefen.

Soos ‘’n jong maanhaarleeu wat oor sy prooi grom’, sal Jehovah oor “die berg Sion” waak (Jesaja 31:4). Daar is ook ’n belofte: “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer” (Jesaja 32:1). Hoewel die bedreiging wat Assirië vir Juda inhou, selfs “die boodskappers van vrede” bitterlik laat huil, belowe Jehovah dat sy volk genees sal word, dat hulle “vergifnis van hulle oortreding [sal] ontvang” (Jesaja 33:7, 22-24). “Die verontwaardiging van Jehovah is teen al die nasies, en sy woede teen hulle hele leër” (Jesaja 34:2). Juda sal nie altyd woes lê nie. “Die wildernis en die waterlose streek sal jubel, en die woestynvlakte sal bly wees en bloei soos die saffraan.”—Jesaja 35:1.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

13:17—In watter opsig het die Mede silwer as niks geag nie en in goud geen behae geskep nie? Die Mede en die Perse het meer waarde geheg aan die roem wat uit ’n oorwinning voortgespruit het, as aan die oorlogsbuit. Dit was die geval met Kores, wat vir die terugkerende ballinge die goue en silwervoorwerpe gegee het wat Nebukadnesar uit Jehovah se tempel buitgemaak het.

14:1, 2—Hoe het Jehovah se volk “die gevangenemers [geword] van dié wat hulle gevange [gehou het]” en “dié wat hulle gedryf het om te werk, in onderworpenheid [gehad]”? Dit is vervul in die geval van mense soos Daniël, wat onder die Mede en die Perse ’n hoë posisie in Babilon beklee het; Ester, wat ’n Persiese koningin geword het, en Mordegai, wat as eerste minister van die Persiese Ryk aangestel is.

20:2-5—Het Jesaja werklik drie jaar lank heeltemal naak rondgeloop? Jesaja het moontlik net sy bokleed uitgetrek en “lig geklee” rondgeloop.—1 Samuel 19:24, voetnoot in NW.

21:1—Watter gebied word “die wildernis van die see” genoem? Hoewel Babilon glad nie naby die werklike see was nie, word daar op hierdie manier daarna verwys. Dit is omdat die waters van die Eufraat- en die Tigrisrivier jaarliks hierdie gebied oorstroom het en ’n vleierige “see” gevorm het.

24:13-16—Hoe sou die Jode “onder die volke [word] soos wanneer die olyfboom afgeslaan word, soos wanneer die oesoorblyfsels ingesamel word as die druiweoes tot ’n einde gekom het”? Net soos daar ná die oes vrugte aan ’n boom of ’n wingerd oorbly, sou slegs ’n paar die vernietiging van Jerusalem en Juda oorleef. Waarheen die oorlewendes ook al weggevoer is, of dit nou na “die streek van die lig [Babilon in die Ooste]” of na “die eilande van die [Middellandse] see” is, hulle sou Jehovah verheerlik.

24:21—Wie is “die leër van die hoogte” en “die konings van die aarde”? “Die leër van die hoogte” kan heel moontlik na die bose geesmagte verwys. Dan is “die konings van die aarde” die aardse heersers, oor wie die demone ’n kragtige invloed het.—1 Johannes 5:19.

25:7—Wat is “die omhulling . . . wat al die volke omhul, en die weefsel wat oor al die nasies geweef is”? Hierdie vergelyking vestig die aandag op twee groot vyande van die mens—sonde en die dood.

Lesse vir ons:

13:20-22; 14:22, 23; 21:1-9. Jehovah se profetiese woord word altyd bewaarheid, soos in die geval van Babilon.

17:7, 8. Hoewel die meeste in Israel nie geluister het nie, het sommige individue hulle tot Jehovah gewend. Net so reageer sommige in die Christendom op die Koninkryksboodskap.

28:1-6. Israel sal voor Assirië val, maar God sal toesien dat getroue individue dit oorleef. Jehovah se oordele laat nie die regverdige sonder hoop nie.

28:23-29. Jehovah help opregte mense reg volgens hulle spesifieke behoeftes en omstandighede.

30:15. As ons deur Jehovah gered wil word, moet ons geloof toon deur te “rus”, of ons daarvan te weerhou om deur mensestrewes redding te soek. As ons “rustig bly”, of nie bevrees is nie, toon ons ook vertroue in Jehovah se vermoë om ons te beskerm.

30:20, 21. Ons “sien” Jehovah en “hoor” sy stem van redding deur ag te slaan op wat hy sê deur middel van sy geïnspireerde Woord, die Bybel, en “die getroue en verstandige slaaf”.—Matteus 24:45.

Jesaja se profesie versterk ons vertroue in God se Woord

Hoe dankbaar kan ons tog wees vir God se boodskap in die boek Jesaja! Die profesieë wat reeds vervul is, versterk ons vertroue dat die ‘woord wat uit Jehovah se mond uitgaan, nie sonder resultate na hom toe sal terugkeer nie’.—Jesaja 55:11.

Wat van die Messiaanse profesieë, soos dié in Jesaja 9:7 en 11:1-5, 10? Versterk dit nie ons geloof in Jehovah se voorsiening vir ons redding nie? Die boek bevat ook profesieë waarvan die hoofvervulling in ons dag plaasvind of nog sal plaasvind (Jesaja 2:2-4; 11:6-9; 25:6-8; 32:1, 2). Ja, die boek Jesaja lewer verdere bewys dat “die woord van God . . . lewend” is!—Hebreërs 4:12.

[Prent op bladsy 8]

Jesaja en sy kinders was “tekens en wonderwerke in Israel”

[Prent op bladsy 8, 9]

Jerusalem sou “soos ’n hut in ’n wingerd” word

[Prent op bladsy 10]

Hoe word mense van die nasies gehelp om ‘van hulle swaarde ploegskare te smee’?